Skip to main content

Strooisuiker Liefde is boek van die week!

deur Wêreldwyd Apr 4, 2019

Soek jy verhale wat jy met jou meisiekind kan deel? Wil jou ’n boek vir jou ma of tannie gee? Strooisuikerliefde bevat agt heerlike verhale wat vars, snaaks en speels is. Dit is liefdesverhale vir alle generasies, jy kan hulle geniet en deel sonder om te bloos!

Daar is boonop drie debuutskrywers wat hier ’n buiging maak. LAPA is altyd trots op enige nuwe stem.

Ilse Salzwedel beskryf die novelles as “lekker leesstof wat mens sommer so voor slaaptyd kan verslind”.

O, en die prys? Kyk ’n bietjie wat ons vra vir agt novelles en staan verstom! Hier volg iets meer oor elkeen.

Soos hout en konfetti – Jacolet van den Berg: Max is banger vir vroue en trou as die duiwel vir ’n slypsteen, maar sy hart werk oortyd as hy Sandra Sinclair sien. Sy maak hom ongemaklik, want hy weet: Sy kan dalk net sy ondergang beteken.

Net in stories – Rika Cloete: Altyd die strooimeisie, nooit die bruid nie. Dít is Maddie Schoeman. Totdat sy een keer opkyk in ’n strooijonker, Wynand Raath, se mooi oë. Skielik is liefde nie net vir storieboeke bedoel nie, maar ook vir haar.

Gelukkige nommer 13 – Corné La Camera (’n debuutskrywer): Hoeveel mislukte afsprake neem dit voor jy meneer perfek ontmoet? Ná twaalf wou Renate ’n ferm streep trek, want die opsies van ’n spiertier tot ’n IT-nerd is maar yl. Maar dalk is dertien haar gelukkige nommer?

Kersie bo-op – Bernette Bergenthuin: Marcelle se lieflingtante skryf haar in om deel te neem aan die werklikheidsprogram Baas-van-die-plaas. Eers is sy woedend, maar nadat sy Basjan Rademan ontmoet het, moet sy erken dat haar tante dalk van beter weet.

Net drie woorde – Nadia de Bruin (debuutskrywer): Janne wen rugbykaartjies oor die radio en gaan later die aand van die Springbokspelers in hul losie ontmoet. Haar hart maak wilde draaie toe Arend, een van haar ou skoolvriende, onder die groep rugbyspelers is.

Kakie, stewels en liefde – Lizelle von Wielligh (debuutskrywer): Craig hou nie van mooi vroue nie, Lauren vertrou nie mans wat van mooi vroue hou nie. Hulle behoort pasmaats te wees, maar onwelkome gevoelens hou hulle uitmekaar. Sal hulle ooit besef dis liefdesvonke, nie irritasie nie?

Net ons twee – Petronel Louw: Een kopverlooroomblik en Rozelle en Francois se verhouding verander vir ewig. Skielik is hy nie meer haar broer se beste vriend en haar “ander ouboet” nie, maar die man wat die vlinders in haar maag energie gee om amok te maak.

Om haar pinkie − Didi Potgieter: Willem loop draaie om Melissa nadat hulle ’n soen gedeel het, want hy kan homself nie rondom haar vertrou nie. Wat is dit aan dié pragtige brunet wat so met hom toor? Waarom kan sy hom moeiteloos om haar pinkie draai?