Skip to main content

Skrywersprofiel | Wendy Maartens

Wendy Maartens is op Worcester gebore en het aan die Hoërskool Outeniqua op George gematrikuleer. Wendy het al twee keer die Camino de Santiago pelgrimsroete gestap en probeer elke dag om die gestroopte eenvoud van hierdie lewenswyse na te streef. Sy skilder graag, maak tuin, hou gereeld oggendvergadering met die voëls en span die skatte wat sy strandlangs versamel in om roerbeelde mee te maak wat weer as inspirasie vir haar skryfwerk dien.

Sy het in remediërende onderrig gespesialiseer en 22 jaar lank vir meestal graad 3-leerders skoolgehou. Vir 14 van dié 22 jaar, was Wendy op Stellenbosch waar die baie spesiale kinders van Cloetesville en Kayamandi haar deeglik in die universiteit van die lewe geskool het. Hulle het ook die eerste skryfsaadjies gesaai. In 2007 bedank Wendy om voltyds te skryf.

Die skrywerslewe

Wendy is ʼn skrywer, joernalis en dromer. Elke kinderboek wat sy skryf, gebeur op ʼn sekere tyd en plek in haar lewe – ʼn bevestiging dat sy deel van ʼn veel Groter Verhaal is. Die wete dat haar woorde soms wit klippies is wat ander help om ʼn pad in hul eie verhaal te vind, is ʼn dubbele vreugde. So ook die geskenk om elke oggend na die nag se omswerwinge na haarself terug te keer … met nuwe woorde.

Wendy tree ook as motiveringspreker op, lewer gereeld praatjies by skole en boekklubs en was van 2013 tot 2016 boekredakteur van die tydskrif Lééf. Sy het ook van 2014 tot 2017 as beoordelaar van Media 24 se M.E.R.-boekprys vir jeugliteratuur opgetree. Sy skryf ook gereeld rubrieke vir die tydskrif Lééf en is vir ʼn essay as ATKV-Woordveertjie-finalis benoem.

Die dag in graad twee toe Wendy se bruin karton skooltas in een van Worcester se leivore oopgaan, het sy besef dat haar hele menswees om boeke draai. Dit is opgelê in die manier waarop daardie swart lettertjies in gelid oor die bladsye marsjeer. Die ekstase van ʼn splinternuwe skoon oop bladsy wanneer mens omblaai om verder in ʼn skoolboek te skryf. Selfs die manier waarop Wendy se wiskundeboek die geur van die geelperske in haar tas kon absorbeer.

Wendy het boeke, stories en feite nodig soos sy asem, stilte en baie stap seelangs nodig het. Die Latynse oorsprong van haar naam beteken nie verniet “wandelstaf” nie. In haar geval is dit ʼn houtwandelstaf. Wendy leef eenvoudig en met min gadgets: ʼn mandjie om mee winkel toe te stap, ʼn lappie grond om te spit en te plant en kaalvoet haar gesig na die son te draai, ʼn stoep om met ʼn biesebesem te vee, ʼn tweedehandse rocking chair waarop sy soggens haar oggendkoffie drink en saans kyk hoe die son ondergaan.

Wendy dra nie ʼn horlosie nie. Sy het lank gelede doelbewus besluit om nie te facebook, twiet of Instagram te gebruik nie. Om stil en stadig te leef sodat sy haar gedagtes behoorlik kan hoor, is belangriker. Wendy het nie DSTV nie en die TV word selde aangeskakel. Sy hou dagboek met pen op papier waarop woorde wegwysers soos klippies op haar pad is.

Wendy meen haar rykdom lê in haar ry outydse blikgieters, die watertenk waaruit sy hulle volmaak, die tuinvoëls wat sy elke oggend voer, ʼn ingelegde vy op ʼn sny vars brood, papawers en kosmos wat sommer so vanself opslaan. Blou trompettertjies en geel susannas wat deur die diefwering vleg. En in haar Vader, wat haar ʼn tweede kans op hierdie lewe gegee het, se onbeskryflike Genade.

Die ding van stories is dat Wendy dit nie kies nie. Die stories kies háár. Net soos haar kat, Pieternella, en papegaai, Lenie Blou, sommer net eendag opgedaag het en gekom het om te bly. In ʼn sekere manier, meen Wendy, sal sy seker ook nooit juffrou-wees afleer nie. Deur met skoolkinders te werk, kon Wendy voorberei op die werk wat sy nog altyd wou – haar brood met woorde verdien.

Gepubliseerde werke

Wendy het ʼn passie vir eg Suid-Afrikaanse legendes, volksrympies, heldeverhale en verhale wat kinders in moeilike sosio-ekonomiese omstandighede help om hulleself te bemagtig. Dit gee haar oneindige vreugde om ʼn volksverhaal of legende te soek en vir kinders sowel as volwassenes te laat herleef. Wendy glo ʼn mens vind makliker jou weg as jy deur verhale leer waar jy vandaan kom. Ook dat Suid-Afrikaners mekaar se harte kan leer verstaan as elkeen mekaar se stories leer ken. Daar is nie ʼn meer passievolle Suid-Afrikaner as Wendy nie. Sy wéét ons kan hierdie wonderlike land maak werk – een storie, een hart op ʼn slag.

Haar storiebundels word gereeld op RSG voorgelees en talle van haar verhale is in Maskew Miller se jongste reeks skoolhandboeke opgeneem. Haar eerste dagstukkieboek Dagstukkies vir klein hartjies het onlangs verskyn.

Sy het tans 51 kinderboeke op haar kerfstok. Lena se bottelboom was op Exclusive Books se Publisher’s Choice-lys, het eervolle vermelding by die Noma Awards for Publishing in Africa gekry en was `n ATKV-Woordveertjie finalis. Vier van haar kinderboeke is in Engels, Xhosa en Zoeloe vertaal. ‘n Volledige lys van al Wendy se titels kan hier gekry word: www.wendymaartens.co.za