Skip to main content

Resep | Pampoenkoekies en karamelsous uit Onthoukos

Pampoenkoekies en karamelsous

Pampoenkoekies is iets wat in my kindertyd baie kere deur my ma en my ouma by ons huis gemaak is en steeds gemaak word. Vir my was dit nooit iets waarvoor mens eintlik ’n resep nodig gehad het nie, want dit hang af van hoe waterig die pampoen is, of wat ook al jy gebruik, soos botterskorsie (ek verkies botterskorsie se tekstuur). Hierdie is slegs ’n riglyn. Jy het een eier en een teelepel bakpoeier per koppie pampoen nodig, en dan so min meel as moontlik om ’n beslag te vorm.

MAAK SOWAT 12 PAMPOENKOEKIES

BESTANDDELE:

VIR DIE PAMPOENKOEKIES:
2 k (500 ml) gaar pampoen of botterskorsie
2 eiers
knippie sout
2 t (10 ml) bakpoeier
±1 k (140 g) koekmeel
olie vir vlakbraai

VIR DIE KARAMELSOUS:
½ k (100 g) suiker
½ k (125 g) botter
1 k (250 ml) room
knippie sout


METODE

VIR DIE PAMPOENKOEKIES:
Meng die pampoen of botterskorsie, eiers en sout in ’n mengbak. Voeg die bakpoeier en meel by en meng tot die mengsel ’n beslag word. Gebruik so min meel as moontlik. Vir 2 koppies pampoen niks meer as 1 koppie meel nie.
Meng dit baie stadig en moet dit nie te veel meng nie. Verhit die olie sowat 1 cm diep in ’n pan en braai lepels vol van die pampoenmengsel tot goudbruin aan weerskante. Dreineer op kombuispapier.

VIR DIE SOUS:
Verhit die suiker in ’n pan oor matige hitte tot dit smelt. Voeg eers die botter by en meng deur. Meng dan die room by en laat opkook. Geur met ’n knippie sout – dit laat die soet beter vertoon. Sit voor saam met die pampoenkoekies.