Skip to main content

Resep | Mossels in witwyn-roomsous uit Onthoukos

Mossels in witwyn-roomsous

Vars mossels is vir my baie spesiaal, want dit herinner my aan seevakansies saam met familie in Bettysbaai, of net tye waar ek bietjie kon ontspan.

GENOEG VIR 4-6

BESTANDDELE

2 kg vars mossels
1 k (250 ml) witwyn
1 k (250 ml) room
hand vol gekapte vars pietersielie
sap van 2 middelslag-suurlemoene


METODE

Kry vir jou so 2 kg vars mossels en maak dit lekker skoon, met ander woorde trek die baarde uit, skrop die skulpe en spoel hulle baie goed af.

Verhit ’n groot pot oor baie warm hitte en gooi dan die mossels daarin.
Gooi die witwyn in die pot en sit dadelik die deksel op sodat die mossels kan stoom totdat die skulpe oopgaan.

Almal wat oopmaak, hou jy. Van die res kan jy ontslae raak, of as ’n mossel net effens oopmaak, kan jy dit “aanhelp” deur dit nog ’n bietjie hitte te gee. As dit te veel werk verg of hy glad nie oopmaak nie, gooi dit eerder weg.

Gooi nou die room by en dan die pietersielie en suurlemoensap. Laat die sous bietjie afkook (so 5 minute) sonder om die mossels oorgaar te maak.

Sit die mossels in ’n groot bak voor saam met baie brood om die sous mee op te vee. Die eenvoud van hierdie resep is wat dit lekker maak. Moenie probeer om dit te veel te verander nie.