Skip to main content

Jaco Jacobs doen dit weer!

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het pas bekendgemaak dat Jaco Jacobs vanjaar se Scheepersprys vir Jeugliteratuur wen vir sy jeugroman Dinge wat ek nie van skape geweet het nie.

Die Akademie het in April reeds bekendgemaak dat Jaco Jacobs (skrywer) en Zinelda McDonald (illustreerder) ook vanjaar bekroon gaan word met die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur vir die rympiesboek Moenie hierdie boek eet nie.

Die Scheepersprys vir Jeugliteratuur is ’n letterkundige toekenning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit is ingestel in 1956 en word sedert 1974 elke drie jaar toegeken.

Vorige wenners sluit in: P.J. Schoeman, Mikro, W.A. de Klerk, Alba Bouwer, M.E.R., I.D. du Plessis, P.H. Nortjé, Anna M. Louw, Karl Kielblock, Rykie van Reenen, Freda Linde, Jan Rabie, Rona Rupert, Freda Linde, Dolf van Niekerk, Chris Barnard, Eleanor Baker, George Weideman, Leon de Villiers, Jan Vermeulen, Derick van der Walt en Marita van der Vyver.

Jaco Jacobs bly in Bloemfontein. Die webruimte Afrikaans.com noem hom “Die rock-ster van Afrikaanse kinderliteratuur”.

Meer oor Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Luan, die hoofkarakter, beland in die moeilikheid en as straf stuur sy ouers hom om saam met sy eksentrieke fotograaf-ouma te gaan reis vir die vakansie. Sy ouma wil ’n fotoboek oor windpompe publiseer.

Op pad deur die Karoo ontmoet hy vir Lana, wie se pa al die pad van Bloemfontein na Kaapstad met sy fiets ry om geld vir kankernavorsing in te samel. Lana eet nie vleis nie en sy mal is oor boeke. Lana is ook mal oor Luan en, sonder dat sy dit weet, oortuig Lana vir Luan om ’n skaap te bevry van die kerkbasaar se veiling. Dis net, wel, hy betaal nie vir die skaap nie.

Dinge ruk hand uit: Delores, die DeproSkaap, raak bekend op Facebook en Instagram, die polisie kry snuf in die neus en… die leser moet maar self uitvind wat als op die Karoo se stil agterpaaie kan gebeur.

Lesers wat vir Jaco en Delores die DeproSkaap wil gelukwens, kan dit op Facebook en Instagram doen.

Facebook: DeproSkaap
Instagram: @deproskaap