Skip to main content

Help! My kind wil nie lees nie!

Deur: Ilse Salzwedel

‘n Liefde vir lees is een van die grootste geskenke wat jy jou kind kan gee. 

En dis nie net ons by LAPA wat so sê nie. Vra enige kinderontwikkelingskenner (of sommer enige goeie onderwyser), en hulle sal vir jou verduidelik presies hoe voordelig dit vir jou kind is om van jongs af te lees.

In ‘n neutedop: lees help woordeskat en verbeelding hê en meer taalvaardig wees as maatjies wat nie lees nie. Onderwysers sê hulle kan duidelik sien wie lees – of vir wie word daar gereeld voorgelees – en wie nie. Lesers spel beter, verstaan beter wat in die klas aangaan, konsentreer beter, dink meer logies en onthou beter, wat noodwendig beteken dat hulle akademies beter vaar as nie-lesers. Boonop dui navorsing daarop dat kinders wat lief is vir lees, gewoonlik minder sukkel met dissipline en meer empatie en respek aan ander betoon.

‘n Liefde vir lees word kleintyd gevestig, en dis onwaarskynlik dat ‘n ouer kind wat nooit aan boeke blootgestel is nie, skielik in ‘n boekwurm gaan ontaard. Maar moenie moed opgee nie – die regte boek kan ook vir ‘n ouer kind die wonderlike wêreld van woorde ontsluit.

Miskien is jou kind net meer geïnteresseerd in nie-fiksie as in stories, of dalk in sekere soort stories eerder as in ander. Gelukkig is daar iets vir alle jong smake in LAPA se kinderboekafdeling (Gaan kyk sommer gou op www.lapa.co.za as jy ons nie wil glo nie.)

Dalk hou jou kind van die idee van lees, maar sukkel hy of sy met die vaardighede wat dit verg. Dit lei dan tot minder selfvertroue. Maar jy kan hierdie bose kringloop verbreek.

‘n Goeie wegspringplek is LAPA se Tippie-leesreeks, wat spesiaal ontwikkel is juis om beginnerlesers speel-speel te leer lees. (Dis geskep vir lesertjies van om en by ses jaar oud, maar ouers het al laat weet dat hulle dit met sukses vir ouer kinders gebruik het.)

Nog wenke om jou kinders aan die lees te kry: 

• Lees hardop: Die kinderboekskrywer Emilie Buchwald het gesê kinders word lesers op hul ouers se skote, maar moenie ophou om saam met en vir jou kind te lees sodra hulle te groot is om op jou skoot te sit nie.Hardop lees verskaf baie belangrike boustene, help met woordeskat, leer ‘n kind hoe klink dit as mens vlot en met uitdrukking lees en help om ‘n kind te laat besef waaroor lees vir genot behoort te gaan. Daar is ook ‘n belangrike emosionele rede vir saamlees (wat ‘n kind outomaties ook liewer vir boeke en lees sal maak), soos die wonderlike herinneringe wat julle skep. En dit hoef nie altyd boeke te wees nie – artikels en selfs interessante advertensies sorg vir lekker aanknopingspunte vir gesprekke.

• Lees daagliks en moet dit nie inprop onder leertyd nie. Leestyd is speeltyd, ontsnap-van-die-wêreld-tyd. Skep byvoorbeeld ‘n slaaptydritueel wat boeke insluit. Lees self ‘n slaaptydstorie, of laat ‘n groter kind toe om elke aand vir ‘n paar minute te lees (selfs al is dit ook net prentjies kyk) voordat jy die lig afskakel. Onthou, kinders wat lees, is ook meer ontspanne kinders as nie-lesers. Moet ook nie bang wees om soms die televisie en selfone af te skakel en die boeke nader te sleep nie.

• Lees self. As jy nie self lees nie, gaan jou kind nie ‘n voorbeeld hê om te volg nie.

• Herhaling, herhaling, herhaling. Hoe meer jy iets doen, hoe meer word dit deel van jou lewe. Nie alle kinders word oornag boekwurms nie – moet dus nie te gou opgee nie. Jy weet ook nooit watter boek die wêreld van boeke vir jou kind gaan oopsluit nie. Byt ook maar op jou tande as hy dieselfde storie aand na aand wil hoor. ʼn Gunsteling, voosgevatte boekie wat jy al uit jou kop uit kan voordra, kan lei tot ʼn lewenslange liefdesverhouding met boeke.

• Laat jou kind toe om sy eie leessmaak te ontwikkel en sy eie boeke (of tydskrifte) te kies. Nie alle dogtertjies hou van prinsesse nie, en party kinders verkies feite bo stories.

• Gee boeke as beloning vir ‘n goeie rapport of ander groot prestasie. (Die bonus is dat volgende kwartaal se rapport nog beter gaan wees!)

• Wees geduldig – lees behoort nooit afgejaag te word nie, want dan verloor dit die “ontspan” element. Sorg ook dat daar genoeg tyd is wanneer julle ‘n biblioteek of boekwinkel besoek. Gee hulle kans om rustig deur die boeke te soek na leesstof.

En wat sê ‘n kinderboekkenner? 

Jaco Jacobs is een van die gewildste kinder- en jeugboekskrywers in die land – daarvan getuig die talle AKTV-Kinderboektoekennings wat sy boeke deur die jare verwerf het (jong lesers stem self deur talle biblioteke landswyd vir hul gunstelingboeke). Jaco het al meer as ʼn 150 boeke geskryf en vertaal en van sy boeke is ook in rolprente omskep. Selfs Britse jeugboekkenners is gaande oor Jaco se stories, en hy is onlangs met die gesogte Carnegie-medalje bekroon vir die Engelse vertaling van sy boek ‘n Goeie dag vir boomklim. As daar dus iemand is wat weet hoe om kinders aan die lees te kry, is dit Jaco. Hier is sy wenke:

• Ouers wat vir plesier lees, is die beste voorbeeld wat ’n kind kan kry. Een van die redes waarom baie kinders nie lees nie, is omdat hulle in die eerste plek grootword in ’n huis waar daar nie ’n leeskultuur bestaan nie. Moenie bloot verwag die skool moet van jou kind ’n boekwurm maak nie – raak aktief betrokke by jou kind se leeswêreld. Bly op hoogte van nuwe kinderboeke wat verskyn en leer ken jou kind se leessmaak.

• Maak seker jou kind het toegang tot boeke. Dit klink dalk voor die hand liggend, maar nog ’n rede waarom soveel kinders trae lesers is, is omdat hulle nie boeke in die huis het nie en nooit na ’n biblioteek geneem word nie. As jy jou kind wil laat lees, maak seker hy/sy het ’n boekrak met genoeg eietydse, opwindende leesstof daarin.

• Gee kinders die geleentheid om self boeke te kies oor onderwerpe waarin hulle belang stel.

• Moenie ’n boekesnob wees nie. Kinders en jongmense is geneig om deur fases te gaan wat hul leessmaak betref. Moenie neerhalende opmerkings maak as jou tiener in ’n stadium net strokiesboeke of liefdesromans wil lees of as jou kind vassteek by grillers of reeksboeke nie – wees dankbaar dat hy/sy lees!

Wat sê die navorsing? 

Navorsing aan die Cincinnati Kinderhospitaal in die VSA het in 2015 bevind dat lees gedurende die belangrike fase voor kleuterskool ʼn “betekenisvolle en meetbare uitwerking het op hoe ʼn kind se brein stories verwerk”. Die kinders het MRI-skanderings ondergaan wat hul breinaktiwiteit gemeet het terwyl hulle na stories geluister het deur oorfone. Daar was meetbare aktiwiteit in die dele van die brein wat ʼn kind help om die storie te “sien” afspeel in sy kop, wat die onmisbare rol van verbeelding bevestig.

Interessante statistiek 

The Internal Publishers Association het baie interessante statistiek oor die rol wat boeke en lees in kinders se lewens speel.

* 1 jaar – dis hoe groot die voorsprong is tussen ‘n kind vir wie daar gelees word en hul maatjies wat nie met boeke en stories grootword nie.

* Net 15 minute per dag is nodig om van jou kind ‘n leser te maak.

* Slegs 1 uit 8 kinders wat aan die einde van graad een nog nie goed lees nie, sal sonder duur lesse kan inhaal op hierdie vaardigheid.

* 50% van tieners met verslawingsprobleme het leesprobleme.

Begin dus sommer vandag nog vir jou kinders lees. Gaan loer gerus op ons webwerf na die groot verskeidenheid boeke in ons kinderafdeling. Onthou, ons lewer landswyd af!