Retoer – Marita van der Vyver

Op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence! Retoer: Pretoria – Provence is ’n bundel van dié bekroonde en immergewilde skrywer se beste rubrieke, sketse en essays wat nog nie voorheen in bundelformaat uitgegee is nie. Dit sluit in ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is. Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op reis deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer),en laat die leser tegelyk skater en verlang. Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”. Haar woordkuns neem die leser van die alledaagse na die eksotiese, van die skreeusnaakse na die hartverskeurende, van die lyflike na die geestelike. ’n Tema wat soos ’n paar voetspore deur Retoer loop, is dié van reis: Die reis na heerlike, onbekende plekke en die meer onstuimige, dikwels vreesaanjaende reis na die self. Retoer sal jou hardop laat lag en trane in jou oë laat opwel terwyl dit jou boei, ontroer en op ’n sielsreis neem.

Resensie – Sylvia De Kock

Marita van der Vyver weet hoe ʼn vrou se hart werk. Haar skryfwerk is helder dog nugter. Die lees van ‘Retoer’ is kenmerkend sonder leesweerstand. Die boek is egter anders as haar vorige niefiksieboeke. Die leef- en ged­agtewêreld van die skrywer word meer sponta­an in rubrieke saamgevat wat sy oor ʼn paar jaar geskryf het. Die verskille tussen ons Suid-Afri­kaanse leefwêreld en dié van die Franse word met die skrywer se unieke humorsin uitmuntend vasgevang. Die boek is in nege afdelings verdeel wat vernoem is na boeke van Van der Vyver wat voorheen gepubliseer is: Die Blou van onthou, Vergenoeg, Die dinge van ʼn kind, Bestemmings, Stiltetyd, Die hart van ons huis, Dis kouer kos, skat, Wegkomkans en Al wat ek weet. Herinnerings uit haar vroeë jeug- en studentejare, kostelike en kosbare gesinservar­ings asook haar vele reisondervindings oor die jare heen word kragtig en meelewend saamge­vat sodat dit ʼn universele aanslag verkry. Van der Vyver se lewenservarings van Pretoria tot Provence sal bepaald nie gou vergeet word nie. Hierdie is inderdaad woordkuns op sy beste.

#EkLeesLAPA 

#Maritavandervyver

#Retoer

#SoDinkSylvia

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS