Vrouedag

Vrouedag: 9 Augustus

Watter vrou het aan jou ‘n stem gegee?

Augustus is Vrouemaand. As deel van die tema het LAPA vir ‘n aantal vroue in die boekwêreld een vraag gevra: “Watter vrou het jou ‘n stem gegee?”

Hier is ‘n paar skrywers se antwoorde:


Elsa Hamersma

KOOP HIER | BUY HERE
Daar word twee moorde in een week in die Brink-familie gepleeg. Die moordenaar laat ñ boodskap by die eerste moord wat die vinger na die familie wys. Wie is dit en waarom moor hy of sy?

“Die mens wat my denke oor vrouwees en ‘n vrou se toekoms in Suid-Afrika seker die meeste gevorm het, was mej. E.C. Steijn, wat die skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria in my skooljare daar was. Alhoewel sy kort en klein was, het sy ‘n yslike persoonlikheid gehad. Daar is sterk klem gelê op eerlikheid, dissipline en die uitleef van die leuse “Ek sien haar wen”, wat uit die gedig van Jan F.C. Celliers “By die vrouebetoging” geneem is. Die vrouebetoging waarna verwys word, is reeds in 1915 gehou toe ‘n groot groep vroue na die Uniegebou opgeruk het.
Mej. Steijn se leiding en voorbeeld was ‘n sterk invloed op ‘n ouderdom toe ek baie ontvanklik was.”


Sophia Kapp

KOOP HIER | BUY HERE
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ʼn eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ʼn skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ʼn uitweg – ʼn jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.

“Ek het by my ma geleer dat ‘n vrou ‘n stem het. Ek het by haar geleer dat ‘n knap vrou selfs in ‘n diskriminerende, patriargale stelsel kan presteer. Ek het by haar geleer dat ‘n mens praat as jy reg is, selfs al is jy die enigste een wat praat. Ek het by haar geleer dat jy praat oor onreg, want as jy stilbly, raak jy aandadig. Ek het by my pa geleer dat ‘n mens ‘n vrou se stem respekteer.”


Bettina Wyngaard

Jagter

“Ek het grootgeword omring deur vroue wat hulle net nooit laat onderkry het nie. My ma is natuurlik altyd bo-aan daai lys, maar ek dink ook aan ant Fia. Sy is soos ‘n ouma vir my, ‘n vrou met ‘n hart so groot soos Tafelberg, ‘n wicked sin vir humor en ‘n vlymskerp brein. Sy is nou 89. Wie weet, teen die tyd dat sy 90 is wen ek dalk ‘n debat met haar, maar tot op vandag kon ek nog nooit. Sy is my hero.”


Chanette Paul

KOOP HIER | BUY HERE
Corali dra net wit en swart maar dis nie oor die dood van haar man wat sy rou nie. As kunstenaar treur Corali oor iets heel anders en as vrou treur sy oor soveel meer as haar huwelik. Vywervrou: Corali is die laaste in Chanette Paul se nuwe trilogie wat in 2019 en 2020 verskyn. Die eerste titel is Vywervrou: Lira en die tweede is Vywervrou: Mirre.

“Die vrou in die spieël in my vroeë veertigs. Ek het haar nie meer geken nie. Selfs haar naam was vir my vreemd.  Ek het nie meer geweet wie sy is of waarheen sy op pad was nie. Vir my selfbehoud sal ek moet probeer uitvind, het ek besef. Dit was die moeilikste besluit wat ek nog ooit geneem het. Dit was ook die heel beste een.
Geen mens kan aan jou ʼn stem gee nie. Jy moet dit in jouself vind. Daarna eers kan mense jou ondersteun en help slyp aan jou stem, en jy op jou beurt weer vir hulle.”


Elsa Winckler

KOOP HIER | BUY HERE
Evan weet met al sy bagasie kan hy niemand naby hom toelaat nie en Anya is baie versigtig na ‘n mislukte verhouding, maar die noodlot het ander planne.

“Ek moes lank oor die vraag dink, maar uiteindelik is die antwoord: my ma.
Ons twee het gereeld skouspelagtig vasgesit, veral in my tienerjare. Ma was koppig, moeilik, eienskappe wat ook deel is van my menswees. ‘Sy kook nie sag nie’, lees ek nou die dag ’n Namakwalandse beskrywing wat my so aan haar laat dink. 
Maar sy is die stem in my kop of ek dit wil weet of nie. En miskien omdat sy my so graag netjies in ’n boksie wou laat pas – en ek met die passie wat ek juis by haar gekry het, daarteen geveg het – het ek geleer om my sê te sê.
Maar ek het ook my liefde vir boeke by haar gekry. Een van my vroegste herinneringe aan haar was hoe sy, nadat die huis van bo tot onder skoongemaak is (elke dag) en die potte op die stoof staan prut, op haar bed lê en lees het. Stapels en stapels boeke. Liefdesverhale.
En so met die lees van al die honderde liefdesverhale, het ek die stemme in my kop begin hoor. Onsigbare mense wat lang gesprekke met mekaar voer en my uiteindelik gedwing het om hulle stories op papier neer te pen.
Dankie, Ma.”


Susan Cilliers

KOOP HIER | BUY HERE
Huis van gruwels is die skokverhaal van die sogenaamde “Springs-monster” wat op die wreedste manier denkbaar alles van sy gesin weggeneem het, maar ook ’n storie van hoop oor hoe ’n dapper jong vrou uiteindelik geluk en genesing vind. Landi is die oudste van vyf kinders wat uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is. Sy is nou 21 jaar oud en vertel vir die eerste keer haar verstommende verhaal. In Mei 2014 het die polisie dié huis ontdek waar ’n sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare tussen vullis en rotte aangehou, getreiter en gemartel het. In ysingwekkende besonderhede onthou Landi hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het. Sy vertel hierdie herinneringe aan Susan Cilliers, ’n ervare joernalis, wat dit met deernis weergee en dit vernuftig met die feite van die polisie-ondersoek en die hofsaak verweef.

“My ma, Marilie, is beslis die persoon in my lewe wat heel eerste vir my ‘n stem gegee het. Sy het my geleer wat liefde is, maar ook om verantwoordelikheid vir jou eie dade en lewe te neem. Daar word altyd gesê ‘n ware vriend is iemand wat alles van jou weet, en nog steeds van jou hou. My ma is daardie persoon in my lewe: sy ken my dalk beter as wat ek  myself ken. Die tyd wat ek met haar deurgebring het van so ver terug as wat ek kan onthou, was en is gevul met gesprekke waarin ons enigiets teenoor mekaar kan verwoord. Sy het my nie net my woordeskat gegee nie, maar die geskenk van vertroue in myself – om deur te druk ondanks selftwyfel en sterker ander kant uit te kom. Naas my ma, was my ouma Anna Botha die vrou wat die grootste rol in my vormingsjare gespeel het. Sy het ons altyd laat welkom voel in haar huis en ek kon altyd liefde en trots vir haar kleinkinders by haar aanvoel. Sy kon ook mooi skryf en het graag stories voorgelees, iets wat my ‘n blywende gevoel gegee het van die skoonheid en ritme van taal. Hierdie vroue in my lewe gee my tot vandag nog die krag en inspirasie om die beste te doen wat ek kan.”


Kristel Loots

KOOP HIER | BUY HERE
Jacomien is moeg vir haar man. Haar lewe lank wag sy op eendag om gelukkig te wees net om te besef dat eendag nie meer op haar wag nie. Eendag is hier - eendag is nou.Eendag is nou

“Ek was nooit die bra-verbrand tipe nie.
Nee, operasie man-soek was eerder hoog op my prioriteitslys.
Maar mans, (ek is mal oor mans !) soos ons almal weet, is visuele wesens, hulle stel nie (juis) belang in wat jy te sê het nie.
Veral nie oor rugby en politiek nie. Of die lewe in die algemeen nie.
Die stil, sexy tipe is eerder in aanvraag. 
Tog het ek ’n opinie oor als gehad, maar nie die moed om dit uit te spreek nie. Behalwe om dit in die monde van die karakters in my stories te plaas.
Ek vereer elke vroueredakteur van verhale of ander publikasies wat my toegelaat het om dit te doen.
Daar onder tel Esme Mittner wat oorspronklik by Sarie vir my ’n stem gegee het, Elmine Jordaan wat dit in die vroeëre LAPA-dae gedoen het en natuurlik die vrou wat aan my ’n megafoon gegee het en soveel van my drome waar gemaak het, Cecilia Brits. Ek salueer julle!”


Ilse Salzwedel

KOOP HIER | BUY HERE
Wat op aarde kan ’n Georgiese prins en ’n tagtigjare Topnaar-oom uit die dorre Namibwoestyn met mekaar in gemeen hê? Of ’n hedendaagse plaaswerker uit die Karoo met ’n Italiaanse sywurmboer van 200 jaar gelede? En waar pas die riel, swart Afrikaners en Boesmans in? Of die tannies van Touwsranten in die berge naby Wildernis en die Rehoboth Basters van die vlaktes van Namibië? Hierdie mense het niks met mekaar in gemeen nie - behalwe natuurlik Afrikaans. Party is Afrikaans gebore, ander moes Afrikaans word om te oorleef. Met hierdie boek wil Ilse Salzwedel stukkies van die onvertelde geskiedenis van Afrikaans help bewaar. En wys dat Afrikaans ’n taal is waarin mense van alle kleure kan lag en huil, sing en dans, oorlog maak, vrede maak, oorleef en, veral, lééf.

“My oorlede ma, Susan Herselman, was ‘n baie sterk, uitgesproke vrou. By haar het ek geleer dat mens nie alles goedsmoeds hoef te aanvaar nie. Dat jy mag praat – meer nog, dat jy móét praat, ook en veral in tye wanneer stilbly makliker sou gewees het. En dat dit jou plig is om te praat namens hulle wat nie self kan nie.
Langs my lewenspad was daar nog talle ander vroue wat my die selfvertroue gegee het om te praat. Ander se wysheid en moed het my stem verfyn, my geïnspireer en ingelig.
Om ‘n stem te hê, is een ding. Om dit effektief te gebruik, iets heeltemal anders. Soms hoef mens net te fluister om gehoor te word, ander kere moet jy skree om bo die waansin van die wêreld gehoor te word.
Ek glo vroue speel ‘n onontbeerlike rol hierin. As ma’s wat hul eie kinders kan leer, maar ook as rolmodelle en mentors vir ander se kinders, of vir kollegas of vriendinne wat dalk nog sukkel om hul stemme – of volume –  te vind. Want soms hoef jy net te sê: ek hoor jou, en ek beaam wat jy sê. Dan het jy klaar ‘n verskil gemaak. Daar is soveel dinge waaroor die mensdom behoort te praat in 2020. Dinge soos vals nuus, armoede, onverdraagsaamheid, wetteloosheid, rassisme, haat, korrupsie. Laat ons dus ons stemme gebruik. In die woorde van die inspirerende Thuli Madonsela: mens het net die lig van een enkele kersvlam nodig om donkerte te breek.”


Nanette van Rooyen

KOOP HIER | BUY HERE
Lara werk in haar vrye tyd by ’n tatoeëersalon, en wonder soms oor die pa wat sy nooit gehad het nie. Alex het in ’n kinderhuis grootgeword en het ’n vreemde fassinasie met uile. Lara weet dit nog nie, maar haar en Alex se stories is op die punt om vir ewig verstrengel te word. En alles begin met ’n boks vol briewe wat sy in ’n hoededoos op haar ma se kas ontdek.

“Ek bring graag ’n ode aan ’n woordkunstenaar. My is ode aan die vrou wat my met woorde leer omgaan het, Petra Müller. Natuurmens. Delfiese orakel. Woordguru. Talig en musikaal.
Sy het aan my uitgewys dat ’n skryfsel stip, sorgvuldig en sekuur gebou moet word.
‘Jy sit nie net ’n growwe baksteen op ’n houttafel neer nie.’
Dat ’n element van die skryfsel frappand moet wees.
Opvallend.
Dat surplus te veel is.
Dat om nederig jou woorde neer te sit, met empatie, dit iemand êrens tog sal tref.
Met dank, Petra!”


Linki Brand (Illustreerder)

KOOP HIER | BUY HERE
In Magriet die stadshoender ontmoet lesers vir Nina en Magriet. Hierdie twee het saam hope pret en gaan op hope avonture, soos om ʼn eierdief op te spoor.

“Tove Jansson. Illustreerder, skrywer en skepper van allerhande dinge – sy is veral bekend vir haar Moomin-verhale. Met die skep van die Moomin-reeks het sy ‘n alternatiewe wêreld geskep waar stereotipiese rolle en strukture van die bestaande samelewing irrelevant was en elke karakter ‘n waardigheid van hul eie gehad het – ongeag hoe obskuur! Ek was as kind, soos soveel ander, meegesleur deur Moomin en het later die kunstenaar agter die storie begin navors en biografieë oor haar lewe begin lees. Hoe sy as jong kunstenaar (en ook in haar persoonlike lewe) geworstel het om haar plek en unieke stem te vind en in die proses nooit haarself – wie sy is – verloën het nie.”


Zinelda McDonald (Illustreerder)

KOOP HIER | BUY HERE
Hierdie reeks bestaan uit drie titels: Projek Paddaprins, Projek Boontjierank en Projek Doringrosie. Al drie titels is nou saamgebundel. Angelette, Soekie en Toni is soort van maats. Hulle is nie, soos die meeste maats, saam op skool nie. Hulle bly nie eers in dieselfde buurt nie. Hulle is maats omdat hulle winkelkinders is. Hulle ouers het winkels in die winkelkompleks, Ninapark. Hier het die drie maats allerlei opwindende avonture. En elke avontuur klink amper soos ‘n sprokie …

“My ma se positiwiteit is nog altyd aansteeklik. Sy het my gewys dat dit waardevol is om oop te wees vir meer as net die status quo. Danksy haar leef ek vandag my kreatiwiteit met selfvertroue uit en haar boekrak is vol van boeke wat ek geïllustreer het.”


Karin Brynard

“Ek het eerstens ’n man gehad wat my ’n stem gegee het: Harald Pakendorf.
Hy was redakteur van Die Vaderland, waar ek ’n politieke joernalis was in die middeltagtigs. Hy’t geglo aan vrouekrag en het verkies om vroue in sy redaksies te gebruik, want hulle is harde, toegewyde werkers én onverskrokke, ’n broodnodige kwaliteit vir die politiek in daardie dae.

Hy was ook gekant teen die onregverdige behandeling wat vroue destyds in die werkplek gekry het – kleiner salarisse, geen byvoordele en dikwels moes hulle bedank as hulle swanger word. Toe ’n senior kollega ’n baba het, het Harald gesê sy bring die kind gewoon werk toe en stoot die wieg in sy kantoor – hy sal vir haar sorg. Wat sy ook gedoen het.
My grootste vroulike invloed was my politieke redakteur by Rapport: Anne-Marie Mischke, een van die slimste intellektuele wat ek ken – sonder ’n bang haar op haar kop. Sy’t my geleer hoe om my plek vierkantig vol te staan in die destydse harde manne-omgewing van die politiek – wit regses, verkramptes, nasionaliste, veiligheidspolisie-agente, chauvinistiese bevrydingsaktiviste, vakbondbase, noem maar op.  Anne-Marie se soort feminisme was vir my ’n voorbeeld: beredeneerde insig en menslikheid, maar met ’n skerp oog op ongeregtigheid.”


Lizette Rabe

KOOP HIER | BUY HERE
Deur elke dag te skryf, kan jy verhalend tot verhaal kom Probeer sin maak met sinne wat nie wil sin maak nie. Dis die wese van skryfterapie – of journalling. En dis waarmee hierdie boek jou wil help: om deur jou gebrokenheid jouself te vind. Skryfterapie is ’n bewese manier om deur verlies en trauma te werk, ongeag wat die aard of omvang van jou trauma is – om amper letterlik “tot verhaal te kom”, selfs al dink jy jy kan nie skryf nie. Of jy jou werk verloor het, of deur ’n egskeiding moes worstel, of die slagoffer van misdaad was, of met ’n ernstige siekte gediagnoseer is, of ’n geliefde verloor het. Hierdie is alles lewensveranderende, traumatiese ervarings. Die antwoord oor die pad vorentoe lê in jouself: skryfterapie. Dis boonop iets wat jy in jou eie tyd kan doen, en op verskillende maniere, van letterlik ’n dagboek hou op papier, net vir jou eie oë bedoel, tot ’n digitale dagboek soos ’n aanlyn blog. Of selfs dig, of krabbel op papier ... Of dalk selfs jou memoires skryf. Alles help jou “om tot verhaal te kom”. Hierdie boek is jou praktiese journalling-gids met van inspirasie uit die werk van vele skrywers tot praktiese “Maar hoe skryf ek?”-wenke.

“Ek was gelukkig; daar was baie vroue wat vir my gehelp het om ’n stem te kry in die nog oorweldigende mannewêreld waarin ek grootgeword het. Ek het twee sterk ouma’s gehad, een trots Duits, een trots Afrikaans. Al het ek met ’n oorwegend Duitse kulturele identiteit grootgeword (Duitse ouma het gewen), het ek van my Afrikaanse ouma genoeg erfgoed in die DNS gekry.
En natuurlik my ma. Maar oor haar kan ek nie net ’n paragraaf skryf nie. Sy is die dapperste vrou in die hele wêreld. Dan is daar ’n heerskare ander vroue. Van ’n anderste filosoof soos my Kindergarten-juffrou wat ons laat stilsit het by fyn lenteblommetjies in die veld as ons op lentewandelings gegaan het, uit ’n geborge persoonlike leefwêreld; tot ’n groot filosoof soos Hannah Arendt, uit daardie verruklike universum van boeke. As vroulike filosoof bly Arendt se geskrifte en uitsprake hoogwatermerke vir ons tyd se gebrek aan moraliteit. Soos oor die mensdom se onbeperkte vermoë om wreedhede teenoor mekaar te pleeg: “Die banale boosheid kan die hele wêreld vernietig.” Of oor ’n lewensingesteldheid: “Ek het altyd geweet dat ek net in die liefde sal kan bestaan.” Of die onvermydelike, oor droefenis en afskeid: “Die omgang met die gestorwenes – dit wil geleer wees.” En oor alles, gelukkig, wil gedink wees. “


Irma Joubert

KOOP HIER | BUY HERE
Sy is so verskriklik eensaam. So verskriklik bang. Haar hart is verskriklik stukkend. Mentje, 
’n Nederlandse oorlogswesie, beleef die Tweede Wêreldoorlog in al sy genadeloosheid in ’n geheime kamp. Terselfdertyd sluit ’n Suid-Afrikaner by die Britse Leër aan. Mentje red sy lewe by die slag van Arnhem. 

She is so terribly lonely. So terribly scared. Her heart is terribly broken. Mentje, a Dutch war orphan, experiences the Second World War in all its ruthlessness while in a secret camp. At the same time, a South African joins the British Army. Mentje saves his life during the Battle of Arnhem.

“Kleintyd het my ouma die grootste invloed op my lewe gehad. Sy was maar ‘n moeilike tannie, maar vol wonderlike ware stories uit haar eie verlede en ander historiese gebeure. Sy was ‘n sterk mens met wie niemand moeilikheid gesoek het nie. Oe, ek het haar geniet!
Later jare, veral nadat ek ‘n ma geword het, het my ma vir my ‘n rolmodel geword. ‘n Sterk, Christelike vrou, prakties, positief, liefdevol, vol pret en met raad vir byna enige probleem. Sy het ook vir ons gewys hoe word ‘n mens met waardigheid en geluk baie oud en hoe aanvaar mens jou naderende dood. Op haar sterfbed het sy gesê: ‘Ek is op pad na die grootste gebeurtenis in my lewe: ek gaan my Skepper regtig ontmoet.'”


Jana Marx

KOOP HIER | BUY HERE
Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring; hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus

“‘As ‘n ding ‘n naam het, kan jy hom hanteer,’ was die woorde wat my vlerke gegee het. Tannie Elna, wie se regte naam ek weens die aard van ons albei se beroepe nie kan bekend maak nie, ken my al vandat ek ses jaar oud is. Met hierdie woorde het sy my bemagtig om ‘n uitdaging by die horings te pak, al voel dit hóé onmoontlik. Want as ek eers ‘n ding of emosie kan verwoord, begin hy vir my sin maak. En as hy begin sin maak, kan ek kies hoe ek daarop gaan reageer. Dit het my hele benadering tot die lewe verander.”


Marilé Cloete (Alta Cloete)

KOOP HIER | BUY HERE
Sunet en Bertie se hoërskoolliefde kon nie die toets van emigrasie deurstaan nie. Nou’s hy egter terug in die Klein-Karoo en Sunet moet besluit of hierdie ontwrigte vreemdeling met twee getraumatiseerde kleuters nog die man is wat sy liefgehad het

“Watter vrou het my ’n stem gegee? Een vraag lei tot ’n ander. Hét ek ooit ’n stem? Ek moes mooi dink oor hierdie een.
Die antwoord kom uit ’n onverwagte oord. Nee, ek het nie eintlik ’n stem nie. Maar eintlik het ek baie stemme – die stemme van die karakters in my stories.
Die persoon wat my daardie stem gegee het, was Cecilia Britz. Cecilia, uitgewer van fiksie by LAPA (onder andere) tot sy verlede jaar so skielik en onverstaanbaar en te vroeg oorlede is. Cecilia wat amper vrou-alleen die Afrikaanse leserspubliek teruggelei het na lekkerleesboeke. Boeke wat jy vir  genot en ontvlugting kan lees, boeke sonder akademiese pretensie, boeke vir die hedendaagse leser in hedendaagse Afrikaans.
My eerste gesprek met haar was telefonies. Sy het in daardie kenmerkende stem gevra: “Alta, hoe jonk is jy nou?” Ek dink dit was die jaar toe ek vyftig geword het. Haar antwoord was: “Dis goed dat jy al ’n bietjie geleef het.”
Cecilia het my “toestemming” gegee om op een en vyftig my eerste boek die lig te laat sien. Daarvoor sal ek haar altyd dankbaar bly.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS