'n Huis vir altyd

Uittreksel: ‘n Huis vir altyd

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Milan se lewe is ’n gemors: Haar man is oorlede; sy is vir die eerste keer in haar lewe arm, en haar enigste besitting is ’n vervalle huis op Vaalkrans. Gooi ’n liefdesdriehoek en nuuskierige bure in dié mengsel en jy het die perfekte resep vir oorbegin.

“In three hundred metres, turn left.”
Milan lig haar voet toe die groen aanwysingsbord in die motor se kopligte verskyn.
“In one hundred metres, turn left.”
By die T-aansluiting staar sy na die dorpsname. Vaalkrans links, Bitterwater regs, soos titels op ’n inryteater se fliekskerm. Sy trek ’n suur gesig. Die fliekskerm vir die tragikomedie waarin sy, Milan Stander, haar debuut maak as die verbitterde weduwee.
“Turn left.”
Ja, oukei!
Ongeduldig druk sy die motor in rat en draai links. Regs sou meer gepas wees in haar situasie. Juis daarom is sy op pad na Vaalkrans. Onvanpas. Die ratte wat gewoonlik seepglad inglip, krap toe sy oorskakel na tweede. Vaalkrans, bid jou aan. Wie gee ’n plek so ’n naam?
Iemand met visie.

Verslae staar sy na die verpotte geboue wat skugter in die geel plas van ’n straatlig verbyglip. Brandstofpompe met roestraanstrepe by ’n verlate vulstasie. Gerrie’s Gebruikte Motors, langsaan. ALGEMENE HANDELAAR in verbleikte blou letters teen die afskilferende gewel van die volgende gebou. Oorkant die straat die poskantoor en ’n PEP. Aan sy heup, soos ’n moesie, ’n donkerpers winkeltjie met UNISEX HAARKAPPER op die uithangbord.
Werktuiglik hou sy by die stopstraat stil. Onnodig, want daar is nie eers ’n straatkat in sig nie. Links van haar belowe Benna se slaghuis die beste biltong langs ’n apteek en ’n geskenkwinkel.

Die volgende dwarsstraat is Patrysweg. Ornaat gestoffeerde bedkopstukke in ’n meubelwinkel se venster. AVBOB. José’s Café. Vaalkrans Drankwinkel langs ’n dokter en ’n tandarts se spreekkamers. En op die hoek ’n tweesterhotel met vergeelde delicious monsters in asbespotte op die stoep.
Op die volgende hoek, oorkant die munisipale kantore en langs die KFC se rooi dakkie, sien sy dit waarvoor sy uitkyk: Kiewietstraat. Haar maag maak ’n vuis. Volgens die prokureur se instruksies moet sy hier links draai. Nou kry sy hartlike telefoonstem nuwe konteks; die aankoms van elke siel in hierdie gehuggie is seker ’n wonderwerk in die kleine.
“Turn left.”

Met een oog op die huisnommers en die ander een op slaggate in die pad kruie sy deur die slapende dorpie. Dit sal die toppunt van haar ellende wees as sy nou ’n pap band moet kry. Hier sal sy ongetwyfeld sit tot die son opkom voor iemand tot haar redding kom.

Dit kom van trots wees. Sy kon kies en keur uit almal wat wou saamkom om haar te help intrek. Maar hierdie ellende moet sy alleen deursien. In elk geval sal geeneen van haar vriendinne van praktiese nut wees as sy ’n pap band kry nie. Al wat hulle kan verskaf, is ondersteuning en geselskap, en dit vermy sy die afgelope maande sedert Rick se dood soos die pes. Sy wil net uitgelos wees om haar wonde in vrede te lek.

Dus sal sy maar hier sit tot die son opkom as teëspoed haar sou tref. Sy het ’n spesmaas die dorpenaars staan al voor dagbreek op. Waarmee hou ’n mens jou besig in so ’n plek? Het hulle ooit televisie hier?
’n Satellietskottel teen ’n huis se muur laat haar verlig haar asem uitblaas. Nie dat dit saak maak nie, sy gaan tog net ’n paar weke hier bly tot die huis verkoop is en tot dan sal sy nie DStv of enige ander luukse kan bekostig nie.
“In thirty metres, turn left.”

Presies soos meneer Rademan, die prokureur, beduie het, is Corrie Stander se huis regoor die laerskool, met die hoërskool “gerieflik” in die volgende straatblok en die NG kerk skuins agter haar.
Sy snork. Gerieflik se gat, ’n benouende knyptang eerder. Sy wil die verdomde huis nie pasella hê nie. Nie ’n stokou huis in ’n bonsaidorpie, vasgewig tussen ’n raserige laerskool en ’n kerk nie. Maar nou het sy hom gekry, mahala, soos Hilda, haar eertydse huishulp, sou sê. Gratis en verniet. Wham, bam, thank you ma’am. En dis wat sy op haar naam het: die huis, ’n paar tasse klere en ’n ouerige sportmotor. Sy behoort dankbaar te wees, party mense het niks. Maar sy is nie. Sy is de bliksem in.
“Turn left.”
Ja, my magtig, man, ek is nie blind nie! Moerig krink sy die stuurwiel na links om voor die geroeste diamantdraadhek met die skewe huisnommer stil te hou. Kiewietstraat 43.
“You have reached your destination.”

Verslae staar sy na die legohuisie met sy rooi driehoekdak en vier pilare wat die stoep afbaken. Liewe hemel, nee. Hoe kan dit enigiemand se bestemming wees?
Uiteindelik klim sy uit; dis nie asof sy ’n ander opsie het nie. Sy het alle deure ferm agter haar toegemaak. Nee, dankie, ek is versorg. Rick het mos vir my ’n gemeubileerde huis nagelaat. Al wat ek hoef te doen is om dit te verkoop. Een van die dae is ek weer terug. Ek is mooi groot, julle, hou nou op karring.

Genadiglik bly die vensters van die buurhuise donker toe sy die kermende hek oopstoot. Met haar handsak onder haar blad en die kleinste tas in haar hand klim sy die drie dof verligte rooi stoeptrappies uit. Dank die hemel meneer Rademan is ’n man van sy woord en die elektrisiteit is aangeskakel. Hopelik sal daar ook water in die krane wees. Warm water, want die winternag is yskoud.

Vies lig sy die vodderige klapperhaarmatjie met twee vingerpunte op om die sleutel te kry. Toe die deur oopswaai, kyk sy in ’n breë gang af wat teen vermoedelik die kombuis doodloop, te oordeel aan die heuphoogte kaste wat in die halfdonker sigbaar is. Tevergeefs voel-voel sy vir die ligskakelaar teen die muur. Eers toe sy haar selfoon se flitslig inspan, besef sy die toutjie wat uit die plafon hang, is seker die ligskakelaar.

Sy gee twee versigtige tree in die gang af en kyk misnoegd na haar stempel wat sy op die stowwerige vloer afdruk. Haar eie skuld, sy moes meneer Rademan se aanbod aanvaar het om die plek te laat skoonmaak. En die nagtelike rit om onder die donker se dekking die dorp in te sluip kon ook maar gebly het. Teen hierdie tyd weet al wat leef en beef seker Corrie Stander se huis kry ’n inwoner.

Genadiglik is die gangmure kaal. Want as sy nou teen die tradisionele familieportrette van haar oorlede man se voorvaders moes vaskyk, sou die bure beslis uit hulle slaap geruk word. En tog . . . sy is nie alleen nie, daar is iets . . . iemand . . . wat in haar nek asemhaal!
Oomblikke lank bly sy die ene hoendervleis staan, dan ruk sy haar reg. Stop dit, Milan. Dis waar jy vannag moet slaap, hoe gouer jy jou lawwigheid oorkom, hoe gouer kan jy tot ruste kom.

Sy snuiflag. Tot ruste . . . in dié plek? Wat ’n grap.
Vasberade stap sy na die eerste deuropening aan die linkerkant. Dis ’n sitkamer. Seker nie ’n sitkamer nie, dié sitkamer. Haar drieverdiepinghuis het drie gehad. Sy retireer haastig toe sy die silhoeëtte van ’n bal-en-klou-stel sien. Vyf tree verder is die eetkamer, met nog bal-en-klou-pronkstukke en die familieportrette wat sy gehoop het sy gaan vryspring waterpas bokant die buffet gespasieer.

Die oorkantste deur onthul ’n slaapkamer met twee holgeslaapte enkelbeddens en losstaande kaste. Sy trek die deur toe en maak die laaste deur oop. Bly toe verslae staan. Ongetwyfeld die hoofslaapkamer, te oordeel aan die dubbelbed tussen twee bedkassies, ’n bypassende spieëlkas, yl gordyne en ’n dungetrapte matjie voor die deuropening na ’n ander vertrek. Alles in skakerings van verbleikte piepiegeel.

Soos ’n slaapwandelaar stap sy nader en loer by die deuropening in. Dis ’n badkamer met wit muurteëls en ’n gevlekte pootjiesbad. Met ’n swaar sug draai sy om. Eers toe haar knieë die matras raak, tref dit haar: linne.
Sy het so skuldig gevoel omdat sy Hilda moes afdank dat sy al haar linne vir haar gegee het. Dit en nog ’n aardige klomp losgoed, Hilda moes iemand met ’n bakkie vra om alles te kom laai. Onwettig, het sy eers ná die tyd uitgevind. Sy kon in groot moeilikheid gekom het as die balju daarvan moes weet. En uiters kortsigtig, besef sy nou; sy moes die noodsaaklikste uitgehou en saamgebring het. Weereens te laat besef, soos soveel keer in haar lewe.
Versigtig lig sy die deken se punt op en laat dit blitsig sak toe sy die flennielakens en komberse sien. Hoe grillerig, dié huis wat so in die verlede gestol het. Asof sy oorlede inwoner enige oomblik ingeslof gaan kom en in die bed klim. Sy los haar tas net daar en stap met ’n hol rug uit om die res van haar bagasie te gaan haal.


Tien minute later staan al haar besittings in die slaapkamer. Die paar krummels wat die balju haar toegelaat het om in haar bak hand bymekaar te vee nadat hy op alles van waarde beslag gelê het. In die goeie ou dae was haar pakkasie meer wanneer sy en Rick op vakansie gegaan het.

Sy sê ’n kru woord. Goeie ou dae se agterent. As dit so goed was, het sy nie nou hier gestaan nie. Maar nee, Milan Stander dink mos nie dit kan met haar gebeur nie. Ten spyte van soveel waarskuwingstekens het sy verkies om haar gladdebekman te glo dat sy nooit op straat sal sit as hy iets sou oorkom nie. Dalk moes sy haar van die adres vergewis het en nie net aangeneem het hy bedoel haar paleis in Sandton nie.
Toe sy opkyk, spring elke haartjie op haar lyf orent. ’n Geitjie so groot soos ’n dagoudkrokodil, sy vel deurskynend van ’n leeftyd in ’n donker huis, staar met blinkswart ogies na haar. As daai ding vannag op haar val terwyl sy slaap . . . Sy sweer sy klap haarself dood.
“Sjoe! Voetsek!”

Of hy vir haar stem of haar beweging geskrik het, weet sy nie maar die gedierte vlug kombuis se kant toe, sy in die teenoorgestelde rigting. Sy moet haar motor in die motorhuis kry. Die glimmende swart sportmotortjie met sy verspotte nommerplaat sal hopeloos te veel aandag trek. Daarna kan sy ’n warm bad vat. Maar eers moet sy almal laat weet sy is veilig. Sy maak die Third Wives-WhatsApp-groep oop.
Veilig hier.
Ten spyte van die nagtelike uur reageer twee mense dadelik. Clarise met: So dankbaar. Sterkte daar. En Sue-Ann met: Bel my sodra jy gesettle is en ’n hartjie.

Sy wens sy kon die flippen groep verlaat. Maar dit sal te veel aandag trek, selfs meer as die sappige skandaal wat haar lewe geword het. Dan maar liewer haar pose hou. Op sosiale media is dit nie te moeilik nie. Sy is anyway ’n pro.


Ure later ruk ’n heksegekakel haar uit droomland. Dit duur ’n paar sekondes voor sy besef dis ’n haan wat kraai. ’n Hees langasembliksem wat nie einde kry nie. Met ’n skelwoord trek sy die kussing oor haar kop maar smyt dit dadelik weer eenkant. Goeie heiden, hoe het sy hierop aan die slaap geraak? Met stram ledemate stap sy na die badkamer en staar na haar pofferige gesig in die spieël.

Great. Danksy die stowwerige verekussings lyk sy nou soos ’n hamster. Sy gebruik die toilet en krap in ’n tas op soek na pille terwyl die haan strykdeur jubel oor die nuwe dag. Met ’n allergiepil en twee pynpille as versterking durf sy die bed opnuut aan, dié keer met ’n opgebondelde baadjie onder haar kop.
Dit duur nog etlike tandeknersende minute voor die haan tevrede is dat alles wat asemhaal wakker is. Midde-in Milan se getob oor die wettigheid van die aanhou van plaasdiere in ’n dorp dommel sy weg.


’n Paar uur later is dit die gebeier van ’n kerkklok wat haar uit haar slaap ruk.
Kommmm . . .! Sondaars, kommmm!
Sy gooi die beddegoed dat dit daar trek. Nie hierdie sondaar nie, vandag gaan sy huis skoonmaak, al is werk mos kastig verbode op die heilige dag. Maar een van die baie lesse wat Rick haar geleer het, is dat alles in die lewe ’n skuiwergat het, en sover sy onthou, is daar die een of ander verskoning van ’n kalf in die put, of so iets. In haar geval, ’n hele kudde beeste.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS