Uittreksel: Wildekus

Proloog

KOOP HIER | BUY HERE
Elkeen wat vra, ontvang, elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop sal oopgemaak word. Vir die welgestelde sakeman, Adam Swart, kom geloof egter nie so maklik nie. Dis juis hoekom sy dogter, Lea, en haar ma van hom vervreem is; sy wêreldbeskouing laat nie plek vir wonder nie. Wanneer Lea se ma egter sterf, gryp Adam die kans om sy verhouding met sy dogter te herbou. Hulle Wildekus-wegbreek het skaars begin wanneer ’n groep rondswerwende gelowiges reg langs hulle kom laer trek met ’n versameling voos en vodde karavane. Kort daarna, onder die wakende oog van hulle jong, imposante leier, begin die luidkeelse gesanik, nagtelike kruisvure en waansinnige seedopery. Dis alles net te veel vir Adam, en sy frustrasies loop oor in ’n ernstige kopstampery met Lea. Die volgende oggend is die karavane skoonveld. Sy dogter ook. Na bykans vier jaar se gesoek, gee Adam sy weelderige lewe in die stad prys. Hy moet terug Wildekus toe, hy moet vir Lea gaan vind as hy ooit weer vrede in sy gemoed wil hê. In die diep Transkei beland hy op die spoor van Die Lewende Vlees, ’n sekte swerwers wat daar tussen die heuwels hulle eie stukkie paradys probeer staanmaak. Maar elke swerwer het sy storie, elke paradys sy slang.

Vroegoggend stop die strandkewer op die kruin van ’n Transkeise bult wat uitkyk oor die Indiese Oseaan. Die oorverdowende gebrul van die enjin vrek dadelik en ‘n stilte sak soos die Here se genade om hulle neer. Dit het byna ’n uur geneem om die doolhof van grondpaaie in die omgewing te navigeer, deur sluimerende gehuggies, verby afgeremde winkeltjies en skooltjies met kaal, stowwerige speelgronde, bultop en bultaf, tot hier.

Adam Swart het hom opnuut verstom aan hoe goed die Duitser agter die stuur dié netwerk van ongemerkte stofpaaie ken. En ook aan die hoeveelheid rondloperhonde wat in die die middel van die pad lê en sluimer, opgekrul tussen kolle beesmis. Is hulle siek, of is dit maar hoe hulle slaap? So kommervry. Van hier af is dit nie naby genoeg aan die see om die strand te kan sien nie, maar die blou lyn waar die oseaan die lug ontmoet, is vir ’n volle honderd en tagtig grade voor hulle sigbaar.

Hulle sit ’n ruk in stilte. Daar is ’n kortstondige oomblik waarin Adam wens hy kan eerder vir ewig hier vertoef, hoog op ’n bult in die middel van nêrens, sonder vorentoe of agtertoe. Net die illusie van ’n soort suspensie tussen aarde en lug, tussen hemel en hel. Hier kan hy vir altyd bly vassteek. Maar dis Matthias wat uiteindelik ongeduldig word. Die Duitser beduie na ’n holruggeryde tweespoorpaadjie wat tussen twee ou klippilare by die breër grondpad langs hulle uitdraai.

“That’s the way in, Boertjie.”

’n Ingang na nêrens, dink Adam. Daar kon eens op ’n tyd ’n hek tussen die twee pilare gehang het, maar dis lankal nie meer daar nie. Die ysterbelle waaraan die hek sou swaai, is al donkerbruin geroes en daar is geen grensdrade wat by die ingang eindig nie. Boonop lei die helling só skerp aan die ander kant van die heuwel af dat ’n mens nie kan sien hoe dit onder in die versteekte vallei lyk waar die plaasopstal moet wees nie. Al wat wel sigbaar is, is ’n klompie verlore woorde in vet, wit letters op die regterkantste klippilaar; te klein om vanuit die kewer leesbaar te wees.

Adam draai na Matthias agter die stuur. “Is jy seker dis die plek?”

Die Duitser sit nou met beide arms ferm voor hom gekruis, die skeloranje mistieke simbool op sy tie-dye T-hemp net-net sigbaar bo-oor die harige voorarms. Uitklim gaan dié uberhippie duidelik nie vanmore nie. Hy is ’n lewende cliché, dié Wildekuslieplapper, dink Adam nogmaals. Trouens, hy sal geld verwed dat die oomblik wanneer hy wat Adam is sy voete uit die beach buggie sit en met die tweespoorpaadjie onder om die draai verdwyn, die Duitser ’n vet splif gaan aansteek. Hierdie is die ideale plek om ’n zol te rook, dink Adam met ’n knypie jaloesie. Presies hier met hierdie uitsig op die ewigheid.

“This is it, dude. You’ll have to walk the rest of the way in.”

“Hoe ver is dit van hier af? Weet jy?”

“A kilometer or so along that trail, down the hill and into the valley.”

“Ek sal maar eers hier bolangs op ’n afstand bly,” sê Adam huiwerig, meer om homself te herinner aan sy plan van aksie. “Ek wil eers kyk wat ek van hier bo af kan sien.”

Die Duitser kyk hom skepties aan. “This is your last chance, Boertjie. There’s no turning back once you go through that gate. Speak now or forever hold your peace.”

“Jy laat dit soos die poorte van die hel klink.”

Matthias sug asof hy oorgee. “All I can say, is good luck. You’re a brave man, my friend.”

Adam knik.

“And don’t forget our sign, ja?” Hy beduie weer. “You cross your arms like this when you see me. Seven days from now. Seven. The holy number.”

“Ek sal nie vergeet nie.”

“Give ’em hell. High-five.” Matthias hou sy regterhand in die lug asof hy op die Bybel sweer en Adam klap dit liggies met syne, palm teen palm. “Now, go! They shouldn’t see me up here. And I want to smoke a spliff for the road back to town, ja?”

Toe die kewer uiteindelik met ’n rookwolk en ’n luide gebrul in die pad af verdwyn, gaan Adam naby genoeg langs die klippilaar staan om die woorde daarop uit te maak. Dis kru geverf, duidelik nie deur ’n kunstige hand nie. Bewerige, onsekere letters. Die Lewende Vlees.

Wie ís hierdie spul?

Met die rugsak wat aan sy skouers rem, waag hy dit ’n ent met die kronkelende tweespoorpad langs tot waar dit naderhand aan die ander kant van die bult skerp na links wegdraai en kronkelend in die vallei af verdwyn. Hier verlaat Adam die pad om te sien of hy by die kloof se rand kan uitkom. Van daar af sal hy oor die vallei kan uitkyk. Anders as die oop grasveld bo-op die kruin, is daar ook meer plantegroei hierso. Meestal struike en enkele, kleinerige bome.
By een van dié gaan hy vir ’n oomblik lank staan, reg by die gapende kloof se lip. Sy maag maak ’n wilde draai. Dis hoog hier. Maar die uitsig wat hy nou oor die eiendom in die vallei kry, sou nog meer asemrowend wees indien dit nie vir die vervalle ou plaasgeboue en die groot sirkel lendelam karavane onder op die werf was wat die prentjie bederf nie. Sy eerste indruk is dat alles daaronder uitasem voorkom. Afgerem. Iets van ’n ou skrootwerf, stof, roes, orals verbleikte, vae kleure en polle lang gras wat hier en daar kop uitsteek.

Sy pols versnel, want hy herken dadelik die vloot bakkies wat hulle ook in die Dwesa-reservaat se kampterrein teëgekom het. Dit was drie jaar gelede, honderde kilometers van hier af, skat hy. En daar het intussen ’n paar ander voertuie ook bygekom, maar daar is geen twyfel by hom nie: Dis húlle.
Die werf is nog stil. Sesuur, nou? Hy voel-voel onwillekeurig aan sy linkerpols waar sy Breitling-polshorlosie ’n bleekwit skadu op sy vel gelos het. Dit was tot gister nog aan sy arm, maar hy moes dit teen sy sin by die backpackers in Matthias se sorg los, saam met al die ander items in sy besit wat nie by sy huidige, verslonsde beeld sou pas nie. Alles was natuurlik op aanbeveling van die hippie. Hy moes versigtig wees, het Matthias gewaarsku, want ’n ware swerwer aan die Wildekus sou om die dood nie met sulke duur items aan sy persoon betrap word nie.

Hy kan nog niemand onder op die werf gewaar nie. Dalk is dit nog te vroeg. Op ’n plat klip in die donkerste deel van die boom se skadu gaan sit hy eers om die opstal dop te hou. Dalk sien hy hulle al van hier af. Indien nie, wel . . . Hy is nog nie heeltemal seker wat hom volgende te doen staan nie.
Intussen bestudeer hy die uitleg van die plaas. Die karavane staan in dieselfde formasie as op Dwesa: ’n groot sirkel, asof dit ʼn tipe laer is, op ’n oop stuk grond. Daar is nie gras in die middel van die laer nie; net rondom en tussen die woonwaens. Alles lyk vertrap en modderig van die onlangse reën. Dit moet seker stowwerig wees wanneer dié spulletjie eers uitdroog.

Daar is ’n massiewe vuurmaakplek reg in die middel van die kring en ’n ligte rokie trek nog by die hoop as en uitgebrande kole uit. Hulle moes laas nag weer vuur gemaak het. Soos hulle ook op Dwesa gedoen het. ’n Helse vagevuur wat ten hemele lek met ’n gloeiende houtkruis uit dryfhout saamgeflans, onthou hy. By dié gedagte kruip ʼn rilling opnuut teen sy ruggraat af. Dié spul is sowaar met die maan gepla. Dis nie soseer dat hulle vuurmaak nie, dis hoe hulle om die vlamme tekere gaan. Daar was iets rou daaraan. Iets waansinnig.
Hier is egter ’n gevoel van permanensie op die plaaswerf wat nie by die kampterrein die geval was nie. Die tweespoorpad wat in die vallei af na die opstal toe lei, is duidelik diep uitgedolwe, asof dit gereeld gebruik word. Maar hoe de hel kry hulle die ou karavane teen hierdie steiltes uit? En natuurlik is die plaasgeboue ook nou by, al is dié stokoud en verwaarloos. Selfs nog meer as die woonwaens.

Wat hy vermoed die oorspronklike plaashuis moet wees, het vaalgeel gepleisterde mure waarvan die onderste gedeeltes bruin gevlek is deur die stof en modder wat met die reën daarteen opspat. Die plek sou kon doen met nuwe pleisterwerk en ’n paar lae verf, want hy kan van hier af sien hoe dit plek-plek kraak en afskilfer. Onderhoud is daar nie veel sprake van nie. Van geld nog minder.
Te oordeel aan die grootte van die plaashuis se sinkdak, vaal verbleik deur jare se son en weer, skat hy daar moet omtrent vier of vyf kamers wees. Die huis het ook ’n hoë, tradisionele voorstoep, deels nog rooi gepolitoer, wat oor die woonwaens uitkyk asof die huis self die kring voltooi vir die woonwaens wat eerbiedig voor dit vergader. Afwagtend. Enkele trappies lei tot op grondvlak.

Daar is ’n stellasie of iets op die stoep wat vir Adam na ’n soort preekstoel lyk. Kru en eenvoudig uit geverfde hout aanmekaargetimmer. Of is dit van ou metaal? Hy kan nie regtig van hier af sien wat dit is nie omdat die huis nog te diep in die skadu lê.
Van ʼn tuin is daar geen teken nie. Geen groenigheid wat vir ’n desperate oog verligting op dié neerdrukkende toneel kan bied nie; buiten die boskasie wat wild groei aan die buitewyke van die laer, natuurlik. Daar is wel ’n enkele, massiewe boom aan die verste kant van die sirkel wat vir Adam van hier af soos ’n lukwart lyk. Die boom se takke sprei wyd en gretig uit asof dit die lug wil vasgryp. Dit gooi diep skadu’s oor die kaal grond. En daaronder?! Wragtig. Twee spierwit kruise. Heuphoogte. Bleddie grafte!

Verder weg, bykans versteek tussen die bome en bosse aan die agterkant van die werf, merk hy ’n halfronde, ongepleisterde muur op. Dit moet die ou plaasdam wees wat – hy sal wed – geen water meer bevat nie. Dan is daar enkele kleiner buitegeboue en ook ’n soort informele buitekombuis: ’n groterige afdak bo-oor ’n stel staaltafels en -kaste wat lyk asof dit noodgedwonge tussen die woonwaens ingedruk is.
Hy wag lank. Is dit al ’n uur? Hulle slaap nog. Of miskien is hulle al klaar op die strand doenig met hul gedopery in daardie belaglike wit gewade wat soos outydse nagrokke lyk. Die strand sou nie ver van die plaaswerf af wees nie, parallel met die kloof langs see toe. Die strook strandwoud aan die ander kant van die opstal versper egter Adam se uitsig in daardie rigting; dus is dit moeilik om te sê of hulle direkte toegang tot die see het.

Uiteindelik is daar lewe.

Adam sien een of twee karavaandeure wat oopswaai, iemand wat vinnig uitloer en weer verdwyn, gordyntjies wat roer. Later dra een van die mans ’n swaar ysterpot tot by die vuurmaakplek in die middel en begin om die smeulende kole te stook. Adam kan nie uitmaak of dit iemand is wat hy van Dwesa af herken nie.
Sou hy hulle nog kon uitken? Dis nie asof hy vantevore ’n studie van die sektelede gemaak het nie. Hy sou wel die jong leier kon eien; die prediker met die lang hare, welige baard en onwaarskynlike liggaamsbou. Soos ’n rugbyspeler het hy gelyk. Jesus op steroids, onthou hy sinies.

KOOP HIER | BUY HERE
Elkeen wat vra, ontvang, elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop sal oopgemaak word. Vir die welgestelde sakeman, Adam Swart, kom geloof egter nie so maklik nie. Dis juis hoekom sy dogter, Lea, en haar ma van hom vervreem is; sy wêreldbeskouing laat nie plek vir wonder nie. Wanneer Lea se ma egter sterf, gryp Adam die kans om sy verhouding met sy dogter te herbou. Hulle Wildekus-wegbreek het skaars begin wanneer ’n groep rondswerwende gelowiges reg langs hulle kom laer trek met ’n versameling voos en vodde karavane. Kort daarna, onder die wakende oog van hulle jong, imposante leier, begin die luidkeelse gesanik, nagtelike kruisvure en waansinnige seedopery. Dis alles net te veel vir Adam, en sy frustrasies loop oor in ’n ernstige kopstampery met Lea. Die volgende oggend is die karavane skoonveld. Sy dogter ook. Na bykans vier jaar se gesoek, gee Adam sy weelderige lewe in die stad prys. Hy moet terug Wildekus toe, hy moet vir Lea gaan vind as hy ooit weer vrede in sy gemoed wil hê. In die diep Transkei beland hy op die spoor van Die Lewende Vlees, ’n sekte swerwers wat daar tussen die heuwels hulle eie stukkie paradys probeer staanmaak. Maar elke swerwer het sy storie, elke paradys sy slang.

Dié vent sien hy nog nêrens nie. Ook nie die rietskraal meisie met die soel vel wat die jong priester op Dwesa soos ’n troetelbrakkie orals heen gevolg het nie. Miskien sal hy nog die dik vrou met die skelrooi hare ook herken wat tydens die doopseremonie in die see so onstigtelik in tale bly weeklaag het. En natuurlik die ou fossiel met die stokstywe, starende oë wat die nag in die rolstoel langs die vagevuur uit sy prewelende mond op homself bly kwyl het . . . Die sogenaamde Siener, die wit sangoma. Tóé het Adam nog nie geweet wie dit was nie, Matthias het hom eers later van dié ou man vertel.
Die res van die groep het egter al klaar in sy geheue begin vervaag.

Van Lea is daar geen teken nie. Net die blote gedagte aan sy dogter laat Adam se hart ineenkrimp. Sy dogter. Tussen dié klomp.
As hy sy posisie op ’n manier na die volgende, hoër bult aan die ánder kant van die kloof kon verskuif, sou hy miskien beter onder die stoep se dak kon inkyk en die plaashuis se voordeur kon dophou om te sien of sy daar uitkom. Regsom, vallei-op, is heeltemal onbegaanbaar en hy sal boonop soos ’n seer vinger teen die horison uitstaan. As hy nie raakgesien wil word nie, sou hy eerder aan dié kant weer agter die heuwel moes om. En dan sal hy op die een of ander wonderbaarlike manier regdeur die bleddie kloof moet klouter. Hy is geen bergklimmer of klouteraar nie.

Goeie hel! Dis net te gevaarlik, dink hy. Dit sou malligheid wees.

Dalk hou hulle vir Lea in een van die agterkamers van die verrinneweerde ou huis aan. Dalk is sy honger, en bang. Of nog erger . . . Dalk is sy doodgelukkig en tevrede. Maar wat as hy hier iewers afneuk en homself beseer? Wie sal hom kom soek? Wat as hulle in die kloof op hom afkom?
As dít gebeur, herinner hy homself, moet hy voorgee hy’s bloot ’n ou strandloper, ’n dwaler wat die pad byster geraak het. Sy verslonsde voorkoms sal daarmee help. Maar dan sal hy maar moet hoop en bid dat die afgeskeerde baard, die gebleikte hare, en die ou klere wat Matthias hom geleen het, genoeg sal wees om hulle te flous. Sal hulle hom herken?

As Lea by is, is sy simpel vermomming in elk geval daarmee heen. Natuurlik sal sy haar eie pa herken, al het hulle mekaar drie jaar laas gesien. Nogtans sal hy dan ten minste weet sy is hier en op die oog af veilig. Sý sal weet hy het nie opgegee nie, selfs nie ná meer as drie jaar se gesoek nie.
Dis darem al iets. Maar wat hy dán gaan doen, is ’n ope vraag. Dalk stuur sy hom summier weg. Dalk verwelkom almal hom met ope arms. Dalk verdrink hulle hom in die bleddie see!

Hy grinnik onwillekeurig. Die donners sal hom eers moet vang.

Adam rits sy rugsak oop en grou sy gedokterde Gideonsbybel onder die bondel klere uit. Dis ’n troos vir hom om te weet dis daar. Hy verwyder die rekkie wat die boek toebind, en slaan dit onseremonieel oop. Uit die rofgekerfde holte tussen die bladsye haal hy die duur selfoon uit en skakel dit aan. Bitter min opvangs hier bo, merk hy op. Nes die Duitser hom gewaarsku het. Twee swart lyntjies dui die flouerige seinsterkte aan; geen kans op ’n internetverbinding as hy ’n WhatsApp wil stuur nie. En dieper af in die vallei is die sein sekerlik nul.

Indien iets gebeur, sal hy eers weer hier bo moet uitkom voor hy ’n oproep kan maak. Dit mag dalk dae wees voor hy die kans kry. As hy sou voortgaan, is hy van hierdie oomblik af een honderd persent van die Port St. Johns-hippie afhanklik. Die lieplapper. Die zolroker. Die hemele behoed hom! Matthias is die enigste siel wat weet wat Adam hier kom aanvang.
Voor hy die foon weer afskakel en terugsit, bekyk hy ’n laaste keer die nota wat saam met die selfoon tussen die bladsye van die Groot Boek versteek word. Hy ken elke woord, elke hoekie en krulletjie van die bekende handskrif. Hoe kon hy ooit toelaat dat dinge so verkeerd geloop het? Dat dit so buite beheer ontwikkel het tot op hierdie punt. Hierdie bult. Hierdie woorde.
Nou loop ek my eie pad, Dad, skryf sy. Moet my asseblief nie kom soek nie.
Dis al. Net dit. Die stomp verwerping daarvan tref hom diep. Selfs nou nog, soveel jaar later. Hy het haar verloor. Sy het deur sy vingers geglip.
Adam kyk weer na die werf. Dit is meteens asof die woorde op papier sy dogter uit die niet voor hom laat manifesteer. Soos ’n hersenskim. ’n Siel wat uit die verderf opgeroep word.

Dáár staan sy, lewensgroot, tussen die karavane!

Sy hart mis ’n paar slae. Sonder twyfel is dit Lea.

Die klompie kinders rondom haar herken hy ook: dis dieselfde rumoerige reënboogbendetjie wat hulle kampterrein drie jaar gelede so op horings geneem het. Nou dra Lea selfs een van die kinders op haar heup! En sy is ouer, tref dit hom. Haar hare is langer en onversorgd, maar sy is so onmiskenbaar sy dogter soos die dag toe sy die pad gevat en hom op sy eie gelos het.

Hy merk op dat daar niemand buiten die kinders by haar is nie.
Niemand hou haar dop nie en sy word duidelik nie opgepas nie. Dis ten minste ’n goeie teken. Sy lyk egter moeg, selfs van hier af. Iets in haar houding spreek van swaarkry en ontbering. Én sy kom afgetrokke voor, bot selfs. Die manier hoe sy haar hare van haar gesig af wegvee voor sy die kind neersit. Hoe sy aan haar rug vat met die regop kom.
Sy dra ook nie meer haar bril wat sy vroeër byna nooit van haar gesig afgehaal het nie. Afgerem en verwaarloos lyk sy, net soos die karavane en geboue wat haar hier omsingel.
Sy dogter. In Adam se binneste voel dit asof iets gaan losskeur. Is dít die pad wat sy kastig self wou kom loop, hiér, tussen hiérdie spul Jesus-freaks? Kranksinnig soos hulle is.
Hier’s ek, Meis, antwoord hy op haar nota in sy kop. Of jy nou wil of nie.
Versigtig sit hy die briefie saam met die afgeskakelde foon in die Bybel terug en neem daarmee ʼn finale besluit: Hy sal ’n pad deur die kloof gaan soek sodat hy haar van nader af kan dophou.
Al is dit waansinnig.
Al kos dit hom sy lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS