Ware noord

Uittreksel: Ware noord

Proloog

KOOP HIER | BUY HERE
Evan weet met al sy bagasie kan hy niemand naby hom toelaat nie en Anya is baie versigtig na ‘n mislukte verhouding, maar die noodlot het ander planne.

2010

Evan lag en neem ’n lang sluk van sy koue bier. Die adrenalien pomp nog deur sy lyf ná die wedstryd van die middag. Hy en van die ander spanlede sit en kuier by een van die baie restaurante in die Kaapse Waterfront. Hiervandaan het hulle ’n onbelemmerde uitsig op die liggies van die bote wat vasgemeer is in die hawe. Agter hulle lê Tafelberg ligpienk getooi in die ondergaande son.
Hy leun behaaglik terug in sy stoel. Die lewe is goed op die oomblik. Hy is nog ’n student, maar hy het reeds die provinsiale span gehaal en die Springboktrui wink vir hom. Dis net ’n kwessie van tyd.
Sy foon lui. Dis sy tweelingsus. Hy staan op en stap ’n ent weg om met haar te praat. Sy het so pas in haar eie woonstel getrek en hy moet nog gewoond raak aan die idee dat hy haar nie elke dag sien nie.
“Evan,” sê sy angstig nog voordat hy kan praat.
“Wat is fout?” vra hy en onderdruk die besorgdheid wat dadelik in hom opwel. Dis juis een van die redes hoekom sy haar eie plek wou hê. Sy en hulle ouers het gedink hy is te oorbeskermend.
“Ek . . . ek is onrustig. Ek dink hier is iemand buite my woonstel.”
Hy glimlag. Sy wil so graag op haar eie bene staan, maar hulle al twee weet sy is maar bangerig. “Ag nee man, ontspan,” lag hy. “Jou plek het diefwering reg rondom, daar is ’n sekuriteitswag by die ingang, jy kan niks oorkom nie.”
“Jy is seker reg, dis net so vreemd om alleen te wees. Ek wil ook vir jou sê, ek en Ronnie . . .”
“Ek wil regtig nie oor die vent praat nie. Ek kom maak môre ’n draai by jou. Ek kuier saam met die ouens, ons vier ons game. Gaan slaap jy nou rustig, ek maak vroeg môreoggend by jou ’n draai, oukei?”
“Oukei,” sê sy sag en druk die foon dood.
Hy stap terug na sy pelle. Miskien moet hy maar gou gaan kyk. Hy skud sy kop. Miskien moet hy onthou Marina kan maklik oordryf. En dis sag gestel. Alles wat sy sê, kan jy deur tien deel en dan kan jy maar nog ietsie aftrek. Dis goed sy het besluit om op haar eie te bly. Vir hom en vir haar.
Van kleins af het hy haar teen alles en almal probeer beskerm. Die twee minute wat hy ouer is as sy, maak hom die ouboet, ’n titel wat hy baie ernstig opneem. Maar dis tyd dat sy haar vlerke sprei. Hy weet dit. Hy hou nie daarvan nie, maar dis die regte ding.
Tussen nou en môre kan sy tog nie iets oorkom nie, hy sal vroeg gaan inloer.
“Al weer ’n girl op jou spoor?” spot een van sy spanmaats. “Het jy nog nie jou les geleer ná . . . wat is haar naam nou weer? Die een wat so graag jou kredietkaart gebruik het?”
Evan beduie na sy foon en sit dit op die tafel neer. “Dit was my suster. Jy praat van Karien Terblanche, en ja, ek het beslis my les geleer. Ek hou van vroumense, die geheim is net om nie ernstig te raak oor een nie. Hulle sien net ’n mens se beursie raak.”
“Jy het gesê Marina bly nou op haar eie. Wanneer het dit gebeur?” vra John, een van sy spanmaats wat hy al van skooldae af ken.
“Sy het gister ingetrek, dis vanaand haar eerste aand alleen in die woonstel,” sê Evan.
John klap hom op die skouer. “Sy is mooi groot, man. Sy sal regkom op haar eie. Jy kan bietjie oorbeskermend wees.”
“Ek weet, maar jy weet hoe sy is. Kry alewig iemand jammer en wil altyd almal probeer help. Veral mans. Ek weet nie waar sy aan al die losers kom wat sy huis toe bring nie, sy het juis nou weer so een op sleep wat ek nie vertrou nie. Ronnie Smit. Hy’t so ’n smooth glimlag, maar hy is so lelik met haar, ek kan nie verstaan dat sy dit nie raaksien nie.”
“En jy kon natuurlik nie stilbly nie, en daarom het sy haar eie plek gesoek?” lag John.
Evan glimlag skeef en trek sy skouers op. “Ja, oukei, ek het seker oorreageer, maar die vent manipuleer haar so, en sy kom dit nie agter nie,” sê hy, van voor af vies.
John leun oor en tel Evan se foon op. Hy sit die klank af. “Los jou suster nou uit. Ek koop vir jou nog ’n bier.”
Evan lag en druk sy foon in sy broeksak. Hy onderdruk die bekommernis wat bly knaag in sy binneste. John is reg. Marina is groot.


KOOP HIER | BUY HERE
Evan weet met al sy bagasie kan hy niemand naby hom toelaat nie en Anya is baie versigtig na ‘n mislukte verhouding, maar die noodlot het ander planne.

Evan skrik wakker. ’n Skeel pyn reg agter sy oë laat hom kreun terwyl hy regop kom. Hy het beslis een bier te veel gedrink gisteraand. Iets het hom wakker gemaak. Toe hoor hy dit weer. Iemand hamer teen sy voordeur. Brom-brom strompel hy die gang af. Dis nog donker buite – wat de . . .? Hy pluk die voordeur oop.
“Pa . . .” begin hy verras, maar sy woorde droog op. Só het hy nog nooit sy pa gesien nie. Sy gewone vrolike glimlag is vervang deur diep kepe langs sy mond. Rou hartseer lê vlak in sy oë.
Iewers is daar ’n helse fout. ’n Yskoue hand vou om sy hart. En hy weet: Marina.


Evan ry stadig in die straat af. Sy ouers en ander twee susters wou hê hy moet saam met hulle ry, maar vandag wil hy alleen wees. Haastig is hy nie. Want die eindpunt van sy bestemming is ’n kerk. Die plek waar hulle vanmiddag Marina se begrafnisdiens gaan hou.
Honderde beelde skiet deur sy gedagtes, almal van Marina: sy sus laggend op haar fiets op pad skool toe, giggelend op haar sestiende verjaardag, groot meisie op haar matriekafskeid. Sy is so lief vir die lewe en gryp elke nuwe ondervinding met albei hande aan. Hy sluk aan die knop in sy keel. Sy was en sy het. Verlede tyd.
Sy hande klem styf om die stuurwiel en hy probeer op die pad konsentreer. Uit die hoek van sy oog sien hy iets, maar eers twee verkeersligte verder dring dit tot hom deur dat wat hy gesien het, of gedink het hy sien, ’n baie vreemde gesig is. Het hy hom verbeel of . . .?
Hy maak ’n U-draai in die middel van die besige straat. Motors toet, mense skree, maar iets dring hom om te gaan kyk. Stadig ry hy terug tot op die hoek waar die pragtige ou Metodiste-kerkie al langer as ’n eeu op die hoek van Churchstraat in Somerset-Wes staan. Hy het hom nie verbeel nie. Die hele voorkant van die gebou het inmekaar geval. Mense staan oral in groepies rond en staar na die puin wat voor die gebou lê.
Verstom staar hy na die chaos. Hoe is dit moontlik? Die pyn en die woede wat hy die afgelope week probeer inhou het, stoot in sy keel op en dié keer kan hy dit nie wegsluk nie.
Hoekom, Here? Hoekom Marina? Die woorde skree in sy binneste, maar word stof in sy mond. Soos hy nou ná ’n week goed weet, niemand hoor nie, niemand antwoord nie, niemand kan help nie.
Sy blik val op ’n meisie wat eenkant staan. Lang, donkerbruin hare val in golwe oor haar rug. Haar arms is om haar lyf gevou, haar gesig opgelig na die bokant van die kerkie. Toe draai sy om en vir ’n oomblik ontmoet hulle oë. Êrens diep in sy binneste fladder iets kortstondig . . . Sy stap weg.
Evan staar haar agterna en volg haar bewegings totdat sy in ’n motor klim. Eers toe sy wegry, kyk hy weer na die inmekaargetuimelde kerkie. Te oordeel aan die mense se reaksie het dit heeltemal onverwags en sonder enige waarskuwing gebeur.
Soos Marina se dood. Hy draai weer in die straat en ry verder. Na ’n ander kerk toe. Om Marina te gaan begrawe. Want sy is dood.
Is dit waarvoor sy hier op aarde was? Om so jonk vermoor te word? Here, was dit haar pad? Dit beteken mos dan daar is nie iets soos ’n liefdevolle en besorgde Vader nie. Dis alles leuens, alles ’n illusie.
Dit voel asof ’n donkerte hom wil oorweldig, dit syfer deur sy hart en hy laat dit toe. Dis baie makliker om te hanteer as die pyn, die skuldgevoel, die verskriklike hartseer.
En hy weet. Vandag moet hy in ’n kerkgebou wees vir Marina, maar dit sal die laaste keer wees dat hy sy voete in een sit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS