Jaco_Jacobs_Virus_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Virus – Jaco Jacobs

 DEEL 1

PANDEMIE

1

KOOP HIER | BUY HERE
Bly weg van daardie goed wat in die strate ronddwaal. Selfs al lyk hulle soos jou familie en vriende, jou buurman of buurvrou, die ou of meisie op wie jy jou hart verloor het. As jy gelukkig is, verskeur hulle jou binne sekondes. As jy nie so gelukkig is nie en dit oorleef ... wel, dís die scary deel.

Jake skrik met ’n ligte rukbeweging wakker – elke spier dadelik snaarstyf gespan, sy hand op die pistool. ’n Oomblik lank lê hy net so in die stikdonkerte. Het iets hom wakker gemaak? Dis doodstil. Die enigste geluid is sy sagte asemhaling teen die koel materiaal van die slaapsak. Stadig ontspan hy.

Dis verstommend hoe vinnig ’n mens aanpas. ’n Week gelede het hy nog soggens maklik dwarsdeur die skril, deurdringende geluid van die wekker geslaap. Nou voel dit asof elke senupunt ’n fyn sneller is wat sy lyf op die geringste geluid laat reageer.

Jake blaas sy asem uit en maak sy oë weer toe.

Dis vandag Sondag, besef hy. Presies ’n week ná die uitbreking. Nie dat die dae se name meer saak maak nie. Dit voel nie asof daar net ’n week verbygegaan het nie.

As dit alles in een van sy gunsteling-comics gebeur het, sou jy net ’n paar raampies nodig gehad het om die afgelope week op te som. Hy kan dit in sy verbeelding sien …

Daar was wilde bespiegelings op die seweuurnuus oor ’n moontlike gevaarlike epidemie oorsee, iewers in Amerika. Iemand het beweer die virus het ook reeds in Suid-Afrika kop uitgesteek. Op die TV-skerm het die een ontstellende beeld ná die ander geflits: ’n dowwe video wat iemand met ’n selfoon geneem het, opgewonde wetenskaplikes wat onverstaanbare terme gebruik, internasionale lughawens wat gesluit word, staatspresidente regoor die wêreld wat mense gerusstel, spesiale nuusuitsendings wat die agtuurfliek onderbreek.

Dit was chaos; polisie oral in die strate, geweerskote, koerantopskrifte, grootoog-verslaggewers op al die TV-kanale, kragonderbrekings, die telefoon- en selfoonnetwerke buite werking soos miljoene verskrikte mense mekaar, die polisie, die nooddienste probeer bel. Hy en sy ma het tot halftwee die oggend beurte gemaak om sy pa se selfoonnommer te probeer bel.

Toe hy Dinsdagoggend wakker word, was daar nog TV-uitsendings, maar daar was nie meer sprake van ’n TV-skedule nie – niemand stel in die sepies en advertensies belang as die wêreld vergaan nie. Dieselfde beelde het oor en oor op al die stasies geflits. Amper asof elke TV-kanaal besluit het om gelyktydig dieselfde grilfliek uit te saai. Een vir een het die TVstasies begin minder word.

Teen Woensdagoggend het die krag die laaste keer afgegaan en hierdie keer het dit af gebly. Teen daardie tyd was daar buitendien net wit en swart spikkels op TV. Die selfoon- en telefoonnetwerke was af. Die geweerskote en die geskreeu buite in die strate het minder geword. Hy en sy ma het probeer besluit wanneer die beste tyd sou wees om te probeer wegkom. Hulle kon nie vir ewig in die huis wegkruip nie. Uiteindelik is die besluit vír hulle geneem. Die volgende aand, net ná sononder, was daar ’n gehamer aan die voordeur. Hulle het die deur probeer afbreek.

Hy en sy ma het gevlug, soos hulle vooraf beplan het. Dit was omtrent die laaste ding wat volgens plan verloop het.

Dit voel klaar of alles ’n ewigheid gelede gebeur het.

Net sewe dae.

Dis al wat nodig is om jou in iemand anders te verander. Iemand wat weet dat jou hele wêreld in selfs minder as sewe dae inmekaar kan tuimel. Iemand wat weet dat wekkers en ontbyt en hoërskool dalk nooit weer deel van jou lewe sal wees nie.

Met ’n kreun kom Jake orent en voel-voel in die donker na sy rugsak. Sy vingers vat die flits raak. Dit gooi ’n stowwerige ligstraal teen die plankvloer bo sy kop en speel oor die geraamtes van ou skoolbanke en stukkende plastiekstoele. Halfvyf, sien hy op sy horlosie. Hy rol sy slaapsak op en bind dit aan die rugsak vas. Tyd om te gaan. Vandag is sy laaste dag in die stad. Hy kan nie bekostig om ’n dag langer te bly nie.

Kan hy dit waag om die radio aan te skakel?

Die sagte gesuis klink gerusstellend in die donker. Met geoefende vingers draai hy die knop stadig van links na regs. Dis nog presies dieselfde as gister. Al die stasies het verdwyn. Net een, naby die einde van die FM-spektrum, saai nog uit.

… was REM met The end of the world as we know it. Ja, liewe luisteraars, as daar enige van julle daar buite is, hierdie DJ het nog nie sy sin vir humor verloor nie. En terwyl die kragopwekkers nog werk, saai ek uit. Jy’s ingeskakel by jou gunsteling-radiostasie – en as dit nie jou gunsteling is nie, sorry vir jou, want dis die enigste radiostasie wat nog op die lug is. En om presies dieselfde rede is ek, DJ Max, jou gunsteling-DJ. As enigiemand weet waar –

Jake skakel die radio af en bêre dit. Dan tel hy sy rugsak op en druk die skuifslotjie oop. ’n Oomblik lank luister hy met ingehoue asem, dan stoot hy die twee klein deurtjies oop. Hy hys homself aan sy arms op en klouter onder die verhoog uit. Die skoolsaal lyk spookagtig in die vroeë oggendlig, asof die stoele vol onsigbare toeskouers is wat wag dat iets op die verhoog moet gebeur.

Die netjiese patroon van die stoele, almal in gelid, word verbreek waar iemand oënskynlik tussen die stoele deur gevlug het. Hy probeer wegkyk van die slap figuur wat bo-oor die stoele gedrapeer is, die donkergroen skoolrok onmiskenbaar soos dié van die ander wat hy gisteraand in die skoolgange sien lê het.

Teen die muur staan in swart spuitverf geskryf: DIE SKOOL IS GESLUIT!!! Dis nie die eerste graffiti wat hy teëkom nie. Aan die begin, toe party mense skynbaar nog gedink het dis alles ’n soort siek grap, was die mure ’n gewilde plek om jou gedagtes met die wêreld te deel. Dit was die tyd toe mense nog geskree en gegil en vensters stukkend geslaan en links en regs goed uit winkels gesteel het. Kameras, iPods, skootrekenaars, juwele, horlosies, asof die uitbreking niks meer as ’n groot inkopiefees is nie.

Dit het baie vinnig opgehou.

Met die rugsak oor sy skouer stap hy by die skemer saal uit, sy hand naby die pistool op sy heup. Dis nog iets wat verander het – ’n week gelede het hy nie die vaagste benul gehad hoe om ’n vuurwapen te gebruik nie. Nou hang die pistool gemaklik langs sy sy. Hy weet hoe om die magasyn vol patrone gladweg te laat inklik en sy hande het klaar die refleksaksie aangeleer om daarna te gryp.

Sy oë kyk outomaties bo-oor die lyke wat in die gang lê, net soos hy teen hierdie tyd byna sonder om te dink vlakker begin asemhaal om die reuk van verrotte vleis uit te hou. ’n Paar weke gelede het hy nog krieket gespeel teen hierdie selfde skool se span en 36 lopies aangeteken om sy span te laat wen. Hy gaan by die badkamer in. Nog lyke met skoolklere. Teen die spieël het ’n bloederige handafdruk lankal skubberig droog geword.

Hy draai die kraan oop. Dit spoeg ’n paar druppels water en maak dan net ’n droë suggeluid. Hy het vermoed dit sal een of ander tyd gebeur. Gelukkig het hy genoeg gebottelde water in sy rugsak om ’n ruk lank oor die weg te kom.

Jake vee oor sy donker hare wat in deurmekaargeslaapte punte orent staan en kyk homself in die oë.

Sonder lopende water sal die stad binne ’n dag of twee ’n vrot, gistende massa wees. Net nog ’n rede om pad te gee.


Vir ’n oomblik lank kan ’n mens maklik die fout maak om te dink dis net ’n gewone dag in Johannesburg. Die son begin raak aan die rand van die geboue, iewers koer ’n duif en verder weg skree ’n alarm eentonig. Maar dan besef jy daar dreun nêrens ’n enkele motor nie. Dis die duidelikste teken dat die stad dood is, asof die gedreun van motorenjins die asemhaling van die geboue en teerstrate was. Die strate staan vol leë karre, busse en taxi’s, buffer aan buffer. Sommige is op die sypaadjie en teen lamppale en asblikke verfrommel. Plek-plek hang swaar rook in die lug. Die stertkant van ’n helikopter steek by ’n swartgerookte gat in ’n wolkekrabber uit. Iewers in die verte klap twee geweerskote. Werktuiglik slaan Jake ’n brommer weg wat om sy ore zoem. Dit voel of die reuk van ontbinding soos dik vingers in sy keel en neusgate kom sit. Jake sien nêrens beweging nie. Hy kyk na die geel dubbelboog van die McDonald’s in die straat af, die rigting waarvandaan hy gister gekom het. Dan kyk hy na die ander kant van die pad, waar die groen kenteken van ’n vulstasie uitsteek. Net anderkant die vulstasie, weet hy, is die snelweg. As hy vinnig stap, behoort hy teen vanaand uit die stad te wees. As niks verkeerd loop nie. Hy vryf oor sy oë en probeer sy bes om nie terug te kyk nie.


… uitsaai, al is ek nie seker of enigiemand nog luister nie. As jy die laaste week in ’n koma was en pas wakker geword het, het DJ Max vir jou belangrike nuus: Bly weg van daai goed wat in die strate ronddwaal. Hulle lyk dalk soos mense, soos jou familie en jou vriende, jou buurman of jou buurvrou, die ou of meisie of man of vrou op wie jy jou hart verloor het, maar hulle is erger as enigiets wat jy ooit in enige grilfliek gesien het. Glo my, hulle is die goed wat jou kleintyd nagmerries gegee het. As jy gelukkig is, verskeur hulle jou binne sekondes. As jy nie so gelukkig is nie en dit oorleef … wel, dís die scary deel …


Dis klaar warm toe hy ’n uur later by die vulstasie aankom. ’n Groot lorrie het in die voorste muur van die gebou vasgejaag. ’n Stuk van die dak hang soos ’n kuif oor die voorkant van die 24-uur-kafee. Jeeps, 4×4’s en gesinsmotors staan rondom die plek saamgebondel, asof die karre besig was om die vulstasie aan te val. Jake se moed sak in sy skoene toe hy die snelweg anderkant die vulstasie sien. Die oggendlig weerkaats op die dakke van duisende motors, asof spitsverkeer vanoggend gevries het. Party het in mekaar vasgery of sommer blindelings die veld ingejaag. Mense wat, nes hy, besef het hulle moet uit die stad wegkom.

Twee kraaie vlieg krysend oor Jake se kop en stryk iewers tussen die motors neer om met die oggend se aasfees te begin. Hy ril.

Dan sien hy dit. Skuins agter ’n groot 4×4. ’n Silwer BMW-motorfiets. Hy ken die model. Hoeveel keer het hy en Dennis hulle nie vergaap aan presies so ’n motorfiets nie. Die gedagte aan Dennis laat ’n onverwagse skietpyn in sy bors losgaan. Hy het sy beste pel verlede Saterdag laas gesien. Hy versit sy rugsak en stap tot by die motorfiets. Die geluk is aan sy kant. Die sleutel is in die aansitter. Nou moet hy net duim vashou dat daar petrol in die tenk is. Met die motorfiets kan hy tussen die karre deurvleg, selfs deur die veld gaan as dit moet. En teen vanaand behoort hy iewers te wees waar dit veiliger is, iewers waar daar minder mense was toe die virus uitgebreek het. Waar daar minder van húlle is.

Toe hy sy hand op die motorfiets se handvatsel sit, laat ’n geluid sy bloed vries. ’n Harde klikgeluid wat deur die stilte breek.

“Los die bike,” sê ’n gebiedende stem.

Hy swaai om en kyk reg in die dubbele loop van ’n geweer vas. Twee groen oë staar hom kil aan.

Instinktief steek hy sy hande in die lug. “Hei, oukei … dis orraait …”

Maar sy laat sak nie die geweer nie. “Gee pad van die motorfiets af,” beveel sy en swaai haar lang, donker poniestert oor haar skouer.

Jake sluk. “Oukei, oukei!” Hy tree weg van die motorfiets. Die geweer se loop sak effens. Die meisie het bonkige weermagstewels aan, ’n stywe swart broek en ’n donkergroen top wat ’n stukkie van haar maag laat uitsteek. “Luister, my naam is Jake. Ek is –”

“Shut up.”

Hy is op die punt om hom te vervies, maar haar stem is hierdie keer selfs gebiedender: “Gee pad van die motorfiets af! Nou!”

Voor sy verbaasde oë pluk sy die geweer se loop weer regop. Hy het nie tyd om te keer nie – die skoot dawer deur die stilte.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS