Uit_die_hart_van_’n_vrou_Uittreksel

Uittreksel: Uit die hart van ’n vrou – Rozaan de Wet

Here, is Kris ’n alkoholis? Sy sidder toe die woord in haar gedagtes opkom, onderdruk dit dadelik weer. Hy is net ’n probleemdrinker, ’n alkoholis begin mos al soggens drink wanneer hy opstaan. Kris drink net saans en naweke.

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Twee ontnugterde vroue wil hul mans skei. Wanda het genoeg van Sephus se streke en die beheer wat hy oor haar het. Claire wil ontsnap uit haar huwelik met Chris - ñ alkolis.

Die stowwerige motorhuis laat Claire in ’n niesbui uitbars. Sy rek om by die boonste kartondoos op die stapel by te kom, trek verbete daaraan. Struikelend swets sy voordat dit met ’n slag op die vloer val. As Kris net sy ou klomp gemors kan weggooi, sal dit ook beter gaan. Haar man is ’n opgaarder par excellence en dit irriteer die wit waks uit haar uit. Dik en moerig krap sy met haar vingers bolangs rond. Haar hande jeuk om hom aan die strot beet te kry.

Voordat sy verder na die ou batterylamp kan soek – beurtkrag is mos weer ’n moontlikheid – hoor sy die gerinkel van glas in die volgende boks. Sy draai haar knie waar dit teen die hoek vasdruk. Voordat sy die stukkende melkkrat nadersleep om daarop op te staan, weet sy wat sy daarin gaan sien. Haar intuïsie is reg. Leë bottels – drankbottels om presies te wees – en baie daarvan. Hoofsaaklik vodka, maar ook ’n paar brandewyn. Asof haar moermeter nie reeds in die rooi flikker nie. Versigtig klim sy af en gaan sit op die lamlendige krat. Só kan dit nie aangaan nie. Haar wange voel warm en haar hart klop onbedaarlik.

Sy kyk moedeloos om haar rond. G’n wonder sy sukkel elke dag om deur die nou skreef van haar oop motordeur te kom nie. Kyk hoe lyk dit hier. Kris kom nie sy pligte na nie. Sy is die een wat alles moet reël, kyk dat dinge in en om die huis gebeur. Hoe erg sou dit nie gewees het as hulle nog kinders ook moes gehad het nie?

Miskien moet sy wegkom om alles goed te oordink, perspektief te kry. As sy hierdie keer sonder ’n woord verdwyn, sal dit hom dalk laat skrik. Sy sal na haar seehuis toe gaan. Kris sal raai sy is daar. Gee hy ooit om? Beide is ontnugter deur hulle huwelik, sy is seker daarvan. Kris is altyd dikbek wanneer hulle Mosselbaai toe gaan, daarom verkies sy om alleen te gaan. Hoewel sy haar daar heeltyd verknies oor hom. Haar so gou moontlik weer terughaas.

Here, is Kris ’n alkoholis? Sy sidder toe die woord in haar gedagtes opkom, onderdruk dit dadelik weer. Hy is net ’n probleemdrinker, ’n alkoholis begin mos al soggens drink wanneer hy opstaan. Kris drink net saans en naweke.

Die krat se skerp hoek steek in haar boud en sy staan stadig op. Iets of iemand gaan meegee en sy is bang dis sy. Haar asem jaag.

Verlede maand het sy haar doodgeskrik toe sy die bloed op die lakens sien. Op die handdoek in die badkamer ook. Kris het gesê daar kom bloed uit as hy braak. Hy het nie in die bed opgegooi nie, het net opgeruk en opgeruk, het hy verduidelik. Woes gekokhals en dit het bloed bly uitstoot.

Sy het gisteraand, soos baie aande, in die spaarkamer gaan slaap. Toe sy van die bloed uitvind, het sy hom dadelik hospitaal toe geneem. ’n Gastroskopie is op hom uitgevoer.

“Dis ’n ulkus, ek sien dit gereeld. Mens kry dit van spanning en te veel Grandpa’s drink,” het hulle huisdokter onomwonde gesê.

Sy was bly hy was op diens. Hy het sy hand simpatiek op Kris se skouer gesit, al het hy kwaai na hom gekyk. Hulle ken die dokter al vir jare. Hy is goed ingelig oor Kris se ongesteldhede. Sy wou al openhartig met die dokter gaan praat en hom vertel hoe erg Kris regtig kan kuier, maar Kris ken hom tog goed en sal self met hom praat. Buitendien weet sy nie wat sy vir hom moet sê nie. Sy is huiwerig om Kris se drankprobleem op die naam te noem, laat staan die term alkoholisme te gebruik. Dit is so ’n lelike woord.

Kris drink die pille vir hoofpyn en seker vir babelas ook, maar hy het hand en mond belowe om daarmee op te hou. Sy het uitgestap sodat die dokter alleen met sy pasiënt kon praat. Dit lyk nie of sy woorde ingesink het nie. Kris neuk net aan, dis ’n wonder hy bly nie gereelder van die werk af weg nie. Dis net af en toe dat sy vir Flippie by SPAR moet bel en sê die “baas” is siek, grieperig of het ’n maag. Sy weet hoe mense kan praat; hoe minder hulle weet, hoe beter.

Stadig staan Claire op en stap binnetoe. Om Kris te konfronteer gaan net die saak vererger. Dit het sy al geleer. Maar hierdie keer moet dit ’n draaipunt wees. Sy sluk en gaan staan hande in die sye voor hom, trek haar mond vies vir hom waar hy vooroor in sy stoel langs die vuil asbak sit. Hy het belowe hy sal ophou rook in die huis, maar sy beloftes is vlietend soos die wind. Ten minste rook hy nie in die slaapkamer nie.

Hy staar morooslik en onnooslik voor hom uit, ’n aap tot inersie gedwing deur die vergryping van te veel maroelas wat gegis het in die son. Sy laat sak haar skouers, hy is onbewus van haar bewende figuur voor hom. Toe draai sy om en skuifel kamer toe. Haar besluit is geneem. Môre gaan sy seehuis toe.

Die laaste ent oor die bergpas wanneer sy die see sien, is altyd die skouspelagtigste deel. Die reuse- blou oseaan doer onder wat geheime vir ewig kan verberg. Geheime wat sy begrawe en uit haar geheue geblok het. Soveel Desembers wat sy jaarliks al hierdie rit meegemaak het. Eers as kind saam met haar ouers en daarna as eienaar van die kothuis digby Madibastrand, vroeër bekend as Santosstrand.

Haar broers het elkeen ’n plaas geërf, maar sy het gejubel oor die vakansiehuis. Sou dit bitter graag nuut en spiekeries wou laat hermeubileer, maar Kris het vasgeskop. Sy kon ’n teësin in sy houding opmerk toe die huis in haar naam, Claire de Vries, geregistreer is, maar hoekom sou dit hom teen die bors stuit? Sy het die gedagte as kinderagtig afgemaak.

Hy het wel een aand, ná ’n brandewyn te veel, laat val dat haar broers altyd die uitverkorenes was en dat ’n plaas darem soveel meer gewig in ’n bankrekening dra as ’n armsalige strandhuisie. Sy het haar bloedig vererg. Dis nie asof Kris ooit die begeerte gehad het om te boer nie. Wat sou hulle twee nou met ’n plaas kon maak? Buitendien was daar net die twee plase en sy het twee broers. Wat het Kris gedink? Die volgende dag het hy sy woorde ontken, maar sy het toe reeds gesien waaroor haar man kan tob.

Geïrriteerd skakel Claire die radio aan.

“’n Agtjarige kind is vanoggend oorlede op pad na die Rooikruis-hospitaal. Die ambulans is van die snelweg afgedwing, waarna die nooddienstepersoneel van hul selfone beroof is en hulle ook in die proses aangerand is. Die kind was vroeër in ’n ongeluk en kon nie betyds by die hospitaal besorg word nie.”

Die Vader alleen weet, hierdie land se nuus grens aan die absurde. Eintlik was sy mal om Kris destyds te keer toe hy wou hê hulle moes emigreer. Sy dinge was alles gereël. Hy het gehoor dat hy die werk in Australië kon kry, en hoewel sy skepties was, het sy saam met hom oorgevlieg vir die onderhoud en om die omgewing te gaan bespied. Dit het haar nie aangestaan nie. Die onderhoud en die werk was op ’n stofdorpie ver van die beskawing af. Die skaamtelose staardery deur die plaaslike mense asof sy en Kris van ’n veraf planeet af kom, het haar ontsenu. Die outback is inderdaad die outback daar, het sy verskrik gedink.

“Hulle laat my aan daai karakters in PG du Plessis se Koöperasiestories dink. Die kinders met die adenoids wat so oopmond na almal kyk,” het sy vir Kris gesê.

Hy het gelag, maar sy kon sien dat hy ook geruk was oor die wanstaltige prentjie in die vreemde dorp. Hoofsaaklik ’n landboudorp wat die plase rondom moes bedien. Hulle was behoorlik in ’n fantasiewêreld, soos Rip van Winkel wat uit die verlede ontwaak het.

Claire het ná Kris se onderhoud in Brisbane ’n korsagtige uitslag op haar rug uitgeslaan. Aanvanklik het hulle gedink dit was gordelroos, maar later agtergekom dat dit bloot aan spanning te wyte was. Stres en niks anders nie. Angs oor die snaakse mense op die vreemde plek waar die De Vriese veronderstel was om permanent te gaan tentpenne inslaan. Sy het geweet dat aanpassing onmoontlik sou wees. Wanneer sy nou terugdink daaraan, was sy natuurlik toe al bekommerd oor Kris se swak vir drank, ten spyte van die vroeë stadium daarvan.

Sy ry stadiger om die skerp draaie en hou aan die linkerkant. As sy hier affoeter, is sy bokveld toe. Hoe harder sy daarteen waak dat herinneringe van toentertyd haar fokus belemmer, hoe meer dink sy daaraan. Wanneer sy ry, ondergaan sy ’n introspektiewe reis. Sy oorweeg dit om by Eight Bells vir ’n koffie te stop, maar besluit daarteen. Hoe mooi die hotel ook al hier teen die pas vertoon, dit gaan te veel van haar tyd in beslag neem. Sy laat haar gedagtes weer vloei.

Veilig terug in Suid-Afrika, het die opgehewenheid van haar vel oornag verdwyn. Hulle het dit jammer gevind dat Kris nie eerder ’n werk in ’n Australiese stad kon kry nie. Die stedelinge is eerstewêrelds en verfynd en anders as die wilde spul buite hulle sfeer. Mens se paadjie is seker maar uitgelê vir jou. Hierdie stelling begin egter knaag aan haar, want paadjies sluit afdraaie ook in.

Kris is wel spyt dat hulle nie maar die stap destyds gedoen het nie. Hy verwyt haar haar weiering destyds egter nie, dit moet sy hom toegee. Sy is nie spyt nie, hoewel sy ook bekommerd oor die toekoms in Suid-Afrika is. Sy wonder hoe groot die polariteit werklik is. Sal mens ooit weet? Daar is soveel gematigdes, maar is hulle genoeg om die aanslag van die rassistiese randfigure aan beide kante van die spektrum af te weer?

Claire het die politiek nog altyd verpes. Dis nie haar belangstellingsveld nie. Sy weet mens moenie apaties teenoor en verwyder staan van wat om jou aangaan nie, dis jou plig as burger om jou stem uit te bring, maar vir haar is die politiek ’n vuil en gemene spel en sy ervaar alles daar rondom as negatief. Synde self positief en vredeliewend teenoor alle landsburgers, steur sy haar nie aan die doemprofete nie.

’n Opgewondenheid neem van haar besit toe sy die Shell-garage sien. Sy is hier. Die groen struike skitter in die laatson, die huise wat elke keer meer is wanneer sy hier kom. Die geur van see dring in haar longe in. Sy is altyd gelukkig hier. Hoe kan mens ooit op ’n ander plek wil bly?

Hulle huwelik sou gesneuwel het doer onder. Was in der waarheid toe reeds wankelrig, ten spyte van ’n ondersteuningstelsel. Mense sukkel uiteraard om ’n nuwe land hul eie te maak. Kris sou heeldag werk en sy sou tuis moes sit en huis skoonmaak. Sy, wat uit ’n bedorwe en geseënde omgewing kom. Dit sou nie gewerk het nie. Hoeveel sou Kris nie daar gedrink het nie? Sy stoot haar onderlip vorentoe. Soms is daar onvoorsiene faktore om voor dankbaar te wees. Verborge seëninge. Soos hierdie een wat voor haar oë afspeel.

Bloue oneindigheid so ver sy kan sien. Haar eie huis en baai. Sy ken elke inhammetjie, elke rots en amper elke bootjie wat vis in die donker diepte gaan haal. Dis net die wolke en die see wat elke dag anders lyk.

Haar arm swaai behendig om die stuurwiel toe sy die onderste draai aanpak na haar huis. Sy knip haar oë teen die flits van die son op die water. Die branders ruis toe sy by die stopstraat sit en wag. Voor haar garage is ’n gehawende bordjie: Melkweg 44. Sy moet dit tog ’n keer laat afskuur en verf.

Hoekom kan Kris dit nie ’n slag doen wanneer hulle weer saam hier is nie? Hy was vroeër jare ’n nutsman van formaat. Altyd dinge reggemaak wat aandag nodig het. Maar sy ywer is weg of hy is nie meer kapabel nie. Buitendien verpes hy dit om hierheen te kom. Geen verduideliking nie, hy wil net altyd werk.

Dis amper asof hy afgunstig is omdat s’y ’n huis sonder skuld het. Sy twee eiendomme raak nooit afbetaal nie, elke keer leen hy geld uit die verband om sy belasting mee te betaal. Synde dat hy ’n sakeman is, verstaan sy dit nie. Solank haar eie finansiële beplanning werk, het sy vrede. Miskien kla sy te maklik. Hulle oorleef. Daar is geld vir die nodige, hy koop sy goedere vir die winkel aan en betaal sy maandelikse lone met gemak. Hy het nog altyd kop bo water gehou en vrygewigheid is sy middelnaam. Hy deel graag uit en het altyd aangedring om te betaal toe hulle nog gereeld saam met vriende gaan uiteet het. Sy wonder hoeveel rondtes hy vir almal in die kroeg betaal wanneer hy die slag soontoe gaan. Nie dat dit gereeld is nie. Goddank verkies hy om tuis te drink. Alkohol en sigarette vir hom is duur genoeg.

Claire skrik toe iemand langs haar toet. Eers oorweeg sy om ’n middelvinger te gooi, maar besef toe dit was gelukkig vir die motor voor haar bedoel. Sy bloos en weet dit is omdat sy net weer reg is om aan te val. Haar manier om haarself te verdedig. Wanneer mens alewig na jouself moet omsien, raak jy só. Sy skaam haar oor dié belaglike verontskuldiging; sy moet ontspan, sy is nou by die see. Maar haar kop het sy eie wil vandag en du net een kant toe.

Gelukkig het sy opgehou met werk. Kris het nie voorsiening vir aftrede gemaak nie en reken hy sal moet werk tot hy dood neerslaan. Dis ’n troos dat hy hou van werk, passievol oor sy klante is en hom tussen hulle uitleef. Hy is heeldag in sy besige winkel bedrywig. Die ouditeur is tevrede met hul inkomste en state, so, wie is sy om Kris se vermoëns in twyfel te trek?

Die robot is buite werking en die motors hoop op. Sy is feitlik by haar huis, maar sit nog in die straat vasgekeer. Ongeduldige gesigte kyk deur die vensters na mekaar. Claire sug. Geduld, o geduld! Sy was dom, sy moes eerder gou by die winkel gestop het vir iets om te eet. Gelukkig het sy ’n boks melk en beskuit saamgebring. Haar maag grom.

Eindelik hou sy voor haar huis stil, klim strammerig uit en strek haar ledemate. Dit bly maar ’n ent van Kimberley af. En sy is vroeg al weg.

Sy sluit haar huis oop en gooi die vensters wyd oop om vars seelug in te laat. Paulina kom elke Dinsdag skoonmaak anders raak dit muwwerig en benoud. Die Xhosa-vrou werk al vyf jaar vir haar en sy voel trots om te kan sê dat hulle twee soos koffie en donkersjokolade is. ’n Onverbeterlike combo, wat haar betref.

Claire dra haar goedjies uit die motor. Sy het ook al genoeg klere hier om nie nog koffers vol heen en weer saam te karwei nie. Dit is waarlik haar tweede huis, wat sy al hoe meer as haar primêre huis aanvaar. ’n Feit wat sy nie voor Kris sal erken nie. Dis nie nodig om sy gevoelens seer te maak nie.

Sy moet hom nog laat weet dat sy veilig gearriveer het. Natuurlik kon sy nie vertrek sonder om hom te groet en in kennis te stel dat sy hierheen kom nie. Gisteraand was sy verniet so vol bravade. Sy tel haar selfoon op en stuur die nodige WhatsApp. Neem sommer ’n foto van die see deur die venster. Nie om vermakerig te wees nie – dit sal hom in elk geval nie vermaak nie – net omdat dit vir haar ’n mooi manier is en om te illustreer dat sy nou by haar bestemming is.

Mosselbaai was altyd ’n veilige plek om in te woon, maar deesdae hoor sy al meer van inbrake. Dié gedagte kry bevestiging toe sy die twee mans oorkant die straat voor haar huis sien verbystap. Al twee dra wolmussies met parkas waarvan die hoedgedeelte agter op die rug hang. In hierdie hitte? Hulle stap stadig en kyk deeglik rond. Sy haat dit om so wantrouig teenoor haar medemens te leef, asof almal skelms is. Vies stap sy na die voorste venster en laat die blinder sak. Niemand het iets in haar huis te siene nie. Veral nie werklose rondlopers nie. Sy hoor hulle lag. Dis natuurlik nou vir haar. Omdat sy die blinder so laat klap het. Hulle maaie! Met die ketel uitgespoel, tap sy vars water in en skakel dit aan. Sy het ’n behoefte aan ’n koppie tee en beskuit. Daar is nog teesakkies in die blou blik. Die geur is ook nog goed. Sy laat een sakkie in haar beker glip terwyl sy rondkyk deur die kombuis.

Sy brand om haar huis oor te doen en mooi te maak. Alles is oud en afgeleef, soos dit nog in haar kindertyd was. Die ou dennestoeltjies met die geel kussinkies by die ronde tafeltjie. Houtrakke vol resepteboeke teen die muur. Haar ma was uitermate lief vir kook en bak. Altyd met nuwe geregte geëksperimenteer. Claire het nie hierdie talent van haar geërf nie. Ook nie die een wat haar ma so verbeeldingryk in haar tuin laat rondvroetel het nie. Haar ma het altyd vars blomme gehad om vir die huis te pluk. Sy moet maar gaan koop as sy blomme wil hê en dit vind sy veels te duur.

’n Krapgeluid laat haar na die agterdeur haas. Sy draai die houtdeur oop en sien ’n verrinneweerde kat wat langs die huis staan en miaau.

“Was jy in ’n geveg? Jy lyk gehawend.” Sy steek haar hand uit om oor die dier se rug te streel, maar die gemmerkat koes vir die vale. Oe, dis ’n wilde een, dink sy en haal ’n piering uit. Skink ’n bietjie melk in. Die kat lek dit gulsig op terwyl sy tong klapgeluidjies maak. Claire snuif. Melk ruik heel anders in ’n pierinkie.

“Jy kan by my kom bly as jy wil. Ek sal elke dag vir jou kos gee. Netnou gaan ek vir jou Whiskas koop.” Die kat draai sy kop na haar. “Kom ons noem jou Whiskey.” Sy probeer weer aan hom vat. Weer skram hy weg.

“Weet jy, jy sal my nie glo nie, maar jy is my eerste kat.” Kris is glo allergies vir katte, hoewel sy hom nog nooit sien nies of uitslaan het as hy met katte in aanraking kom nie. Eintlik hou hy net nie van hulle nie. Maar hier kan sy doen net wat sy wil.

Sy weet instinktief dat Kris ook nie van Wanda en Sephus sal hou nie. Hy het Wanda een keer skrams in ’n winkel ontmoet, maar nog nie vir Sephus nie. Kris gooi wal wanneer sy hulle wil oornooi. Sy het vir hom gewys waar die Eckardts woon en die vies trek op sy gesig gesien. “Veels te grand na my smaak, ek ruik pretensie,” het hy gemor.

“Maar Kris, hulle plek is ’n gastehuis,” het sy probeer verskoning maak, hoewel dit eintlik toe nog net een in wording was.

Kris is jaloers op mense wat nie studeer het nie maar desondanks ’n sukses gemaak het. Sephus het hom destyds as makelaar opgewerk. Die gastehuis is om hom besig te hou, het Wanda verduidelik.

Sy is self nie mal oor Sephus nie, verdra hom ter wille van haar vriendskap met sy vrou. Wanda is dit werd. Sy is nederig en oulik en goed ingelig en hulle deel belangstellings soos boeke, kuns, mooi goed en letterkunde. Boonop vertrou sy haar ten volle. Wanda is een van daardie rare mense wat jou snags uit die nood sal kom help as dit moet.

Hulle het mekaar ’n jaar of drie gelede langs die strand ontmoet. Purdey, Wanda se labradorteef, wat toe nog geleef het, het van haar halsband ontsnap en by Claire kom staan en flikflooi. Wanda het met rooi wange agterna gekom en met ’n verskonende glimlag langs haar komstaan en gesels. Eenvoudig en sonder omhaal. Hulle het dadelik gekliek.

“Purdey sal nie sommer na enigeen toe gaan nie, ek vertrou haar smaak,” het sy met haar kenmerkende glimlag gesê.

Wanda is ’n vrou wat mens raaksien. Bruin hare, blink oë en ’n geheimsinnige glimlag wat dadelik tot jou spreek. Sy weet nie of Wanda se glimlag misterieus of bloot treurig is nie, maar dit laat haar aan dié van die Mona Lisa dink. Bloot ’n effense optrek van die mondhoeke; dis die oë waarin soveel deernis lê.

“Ek is baie lief vir diere, maar my man voel nie dieselfde nie. Ons honde mag nooit in die huis gekom het nie en katte, voëls en visse was verban, kastig allergies.” Claire se lag was meer ’n snork. “Toe ons laaste hond weens ouderdom uitgesit moes word, wou Kris nie byt vir nog een nie. Gesê dis oor en verby. Jy is gelukkig om so ’n lieflike hond te hê.”

Weer die afgetrokke glimlag van die mooi vrou.

Claire het haar gesig in Purdey se koperbruin pels gedruk en haar hondereuk diep ingeasem. Daar is niks wat by die gevoel van ’n liefdevolle troeteldier kom nie.

Later het hulle langs mekaar op die duin gaan sit en beurte gemaak om die bal vir Purdey te gooi. Skuins op hulle elmboë het hulle gesit en lag vir die ouma in die vlak water wat haar kleinkinders met maer arms uit die brandertjies trek. Vir die hond wat blindweg in die lug hap en blaf omdat hy dink die kinders verkeer in gevaar. Vir die dag wat so helder en goed was. Hulle vriendskap is daardie middag soos ’n verdrag gesmee. Die leë plekkie van ware vriendskap het Claire gevul en ’n vredigheid by haar gelaat.

Sy was skoon verwonder oor die voorreg om ’n hartsvriendin op haar vakansiedorp te kon hê. ’n Koesterende gedagte vir die tye wat sy by die see wou kom skuil teen die afstomping wat haar kragteloos laat. Die gaping tussen haar en Kris skeur elke dag dieper en sy is moeg gepoog om lewe in sy dooie siel te blaas. Hoe kan ’n mens sonder behoefte aan kommunikasie met jou maat of vriende leef? Jy en jou werk en jou bottel en dit is dit? Verlatenheid deurtrek haar. Sy mis hul vroeëre gesamentlike kuiers.

Dit is asof sy die rus waarna sy smag, hier kom kry. Rus teen die spyt en die verwyt wat haar jaag. Haar skuld is destyds in briefvorm hier ter see te ruste gelê. ’n Simboliese handeling wat haar hart moes stil.

Vanaand brand sy haar geliefde kerse om die melancholiese geure deur haar huis te laat vloei. Die kleintydse atmosfeer teen haar hart te druk. Haar kinderdae saans wanneer die kragopwekker afgeskakel is en sy skelm in haar kamer moes lees. Asof haar ouers nie die geel flikkeringe sou opmerk nie! Toe was sy en haar pa nog lief vir mekaar. Voordat hy haar op die vliegtuig na Londen gedwing het waar haar hart en haar toekoms uit haar lyf geskeur is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS