Toekomsmens

Uittreksel: Toekomsmens

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Pretoria, 2057. Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid–Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo. Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In–Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In chaos wat volg, aktiveer Kel In–Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede.

Kel is nog in die bed maar wakker toe ’n oproep in sy tussenvlak flikker. Dit is sy hoof by die Nasionale Intelligensieburo se Direktoraat vir Data en Sibernetika, kollega Thandiwe Busuko. Kel sit regop en kyk af na die vreemdeling wat laas nag sy Pienk Kaart was. Sy lê met haar rug na hom. Hulle is surrogate, vrywillig daartoe verplig om aan die Bevolkingskomitee se Volkplantingsprogram deel te neem.
Sy Pienk Kaart is ten minste tien jaar jonger as Kel se sewe en dertig, en in topkondisie. Haar gelaat is gladder as maansteen, haar hare poeierblond, sindelik kort. Kel kan nie onthou of hulle gisteraand oogkontak gemaak het nie, maar haar oë is waarskynlik lasuurblou, die helder skakering waarvoor vroulike volksgenote tans ’n voorkeur het. Toe hy opstaan, neem sy sy kant van die bed oor asof sy verlig is om van hom ontslae te wees. Hy weet nie wat haar naam is nie. Surrogate spreek mekaar slegs as Skat aan. Sy is sy vierde Pienk Kaart van die maand. Daarmee is sy kwota vervul. Dit is al wat hy omtrent haar hoef te weet.
Kel stap uit die slaapkamer en deur die gang wat nog in nagmodus verlig is, leefarea toe.
“Sluit, Edison,” beveel hy die woning se digitale assistent toe hy die sirkelvormige vertrek betree. “Aktiveer die muurskerm.”
Die deur skuif geruisloos agter hom toe. ’n Oranje gloed sprei oor die aaneenlopende muurskerm en die Voorsitter se blink masker verskyn daarop. Voordat Kel kollega Busuko kan kontak, moet hy die daaglikse boodskap ontvang.

GEAGTE VOLKSGENOOT, WAT ONS VANDAG AS ’N
NASIE VERMAG, IS VAN DEURSLAGGEWENDE BELANG
VIR DIE TOEKOMS. EENDRAGTIGE WERKVERRIGTING
EN DISSIPLINE SAL VERHINDER DAT CHAOS EN
ARMOEDE WEER ’N HOUVAS OP DIE VOLK KRY. DUS,
ONDERSTEUN MEKAAR. ONDERSTEUN DIE NUWE ORDE.

Die woorde loop oor die skerm teen dieselfde spoed as wat die Voorsitter praat. ’n Streng, dog besielende stem. Vaderlik. Die daaglikse boodskap begelei Kel al sedert sy tiende lewensjaar. Deel van elke dag se orde. As kind het hy hom ’n tyd lank aan verbeeldingsvlugte skuldig gemaak. Wanneer hulle soggens by die Lasarus-oord moes aantree om die boodskap te ontvang het hy homself wysgemaak dat die Voorsitter in der waarheid sy pa was. Hoewel hy sy ouers se heengaan met sy eie oë aanskou het. Mettertyd het kil, betroubare logika hom gehelp om sy fout in te sien. Kel het begin verstaan dat die Voorsitter nie die vader van net een kon wees nie. Die Voorsitter bly naamloos en gesigloos agter die blink masker, want hy is die vader van ’n ganse volk van weeskinders.
By afloop van die daaglikse boodskap kry die muurskerm lewe. Kel het dit met Synscape-landskappe geprogrammeer. Vandag se agtergrond is die Namib-woestyn. ’n See van duine omring hom, ’n horison so wyd dat die aarde se ronding daarin sigbaar is. Die vroegoggendson sweef stadig, soos ’n goue lugskip in die hemel op. ’n Gerusstellende gesig. Die son kom op en die son gaan onder. Vandag, soos gister, soos môre.
Hy klim op die glaspodium in die middel van die leefarea wat hy as ’n werkarea ingerig het. ’n Digitale kalender gloei in wit karakters op die podiumlessenaar se interaktiewe middelseksie:

Pretoria
06:15
Vrydag, 20 April 2057
28 ºC

Die somer kry hierdie jaar weer nie einde nie. Kel knip sy oë op die fyn wit streep in sy tussenvlak wat aandui dat dit aktief is. Die hoofkieslys trek ’n deursigtige laag oor alles in sy naaste omgewing. Hy knip sy oë op sy lys van prioriteitskontakte, toe op Samuel Busuko.
Binne oomblikke verskyn kollega Busuko se gesig in sy tussenvlak. Die hoof is in sy vroeë vyftigerjare, maar sy gesig is nog glad soos dié van ’n veel jonger man. Sy kop is ’n eiervormige blink koepel, kaal, soos sy status as ’n volksgenoot van die hoër range vereis. Hy is geklee in die Intelligensieburo se donkerblou leiersuniform met die Buro se kenteken, ’n geel oog, op sy baadjie se regop boordjie. Skynbaar is kollega Busuko reeds op Musanda, die Intelligensieburo se hoofkwartier in Distrik 6.
“Môre, kollega De Jong,” groet hy in Xhosa. “Jy lyk moeg.”
Subtitels skuif deur Kel se tussenvlak. Busuko is reg. Sy Pienk Kaart-afsprake put hom uit. Hy het hierdie maand gesukkel om sy kwota vol te kry. Februarie het hy dit skaars gehaal.
“Wat skort, kollega Busuko?”
“Kolonel Piet Verster van die Veiligheidsmag het die Direktrise sowat ’n uur gelede daarvan in kennis gestel dat een van hulle observasiesatelliete om kwart voor vier vanoggend onverwags van koers verander het. Kort daarna het dit aktiwiteit op die ou N1, vyf kilometer buitekant Johannesburg, opgetel.”
Kel verstar. Die laaste aktiwiteit van enige aard in of om Johannesburg was die choleraepidemie van 2027. Sewe jaar vantevore het die ou Suid-Afrika se ekonomie vir die eerste maal in duie gestort tydens die resessie wat op die Covid-19-pandemie gevolg het. Dié virus het wêreldwyd meer as miljoen lewens geëis voordat ’n inenting daarvoor ontwikkel is. In Suid-Afrika was die sterftesyfer diep in die duisende. Kel is nie seker van die presiese getal nie; dit was onbeduidend in vergelyking met wat daarna gekom het. Weens ’n reeks besoedelingsverwante katastrofes, wat tot Suid-Afrika beperk was, het nog twee epidemies die land in die volgende sewe jaar getref – ’n ongekende verskynsel in die wêreldgeskiedenis. ’n Dekade van nypende droogte in die Kaap het dit voorafgegaan. Kaapstad en verskeie dorpe in die Wes-Kaap het tot sukkelende gopse verskrompel. Die eerste vlaag cholera het in 2025 daar uitgebreek toe ’n swartmark vir water ontstaan het waarvoor geen gesondheidsregulasies toegepas is nie. Duisende mense het in die voorloperepidemie gesterf. Die oorlewendes het op die vlug geslaan na die stede toe.
Hidrobreking in die aanliggende Karoo het ’n droë klimaat in ’n dodelike klimaat verander. Waar die water nie heeltemal opgedroog het nie, was dit nie meer drinkbaar nie weens chemikalieë wat tydens die ontginningsproses in die watertafel beland het. Die gif in die water het tot kanker met ’n hoë sterftesyfer gelei. Daar was aardbewings. Die ou hidrobrekingsgebiede skud vandag nog sporadies. Teen die middel twintigerjare was die Karoo ’n maanlandskap, die aarde onvrugbaar en onbewoonbaar.
In Johannesburg was die watertafel teen 2026 kritiek vergiftig met kwik en radioaktiewe chemikalieë uit die myne. Water- en rioleringstelsels het begin ingee en massiewe sinkgate het onder die stad oopgegaan. Wolkekrabbers, ganse buurte het daarin afgegly. Chroniese kragonderbrekings en ’n hopeloos verouderde waterinfrastruktuur het die hoofstad sowel as ander oorbevolkte stede lamgelê. In 2027 het cholera skielik landwyd uitgebreek. Die blou siekte was van die begin af oral en dit was onstuitbaar. Mense het soos vlieë vergaan. Dit was die nekslag vir die demokratiese regering van daardie tyd.
In die noodtoestand wat gevolg het, is die polisie by die weermag ingelyf.
Mense van die platteland is na die groter dorpe toe gebring, ganse dorpe en stede onder kwarantyn geplaas en grense rondom dié nuwe gemeenskappe gebou om menseverkeer te stuit. Toe die epidemie oplaas onder beheer was, het die nuwe Veiligheidsmag ’n raad van twaalf oorlewende kenners op die gebiede van wetenskap, tegnologie, regsleer en ekonomie aangestel om die land te bestuur. In 2029 het die Raad die Nuwe Orde vir ’n sentrale eenpartytegnokrasie geformuleer en die wysste een onder hulle tot voorsitter benoem. So het die Voorsitter die vader van die oorlewendes geword.
Lank nadat die res van die wêreld die resessie ná Covid-19 oorkom het, moes die volk opstaan en hul stede herbou. In Johannesburg is die kwarantyn nooit gelig nie. Die hoofstad was ook nie meer te redde nie. Niemand weet wat vandag anderkant die stadsgrens aangaan nie.
Sirenes.
Dit is wat Kel van daardie tyd onthou. Sirenes wat ’n skril, onverstaanbare boodskap oor die stad uitbasuin. Hy was sewe jaar oud. Te jonk om te verstaan, verlies ’n begrip wat hy van geen kant af geken het toe dit hom een oggend in sy ouers se bed ingewag het nie.
“Die aktiwiteit wat die observasiesatelliet op die N1 opgetel het, is ’n kind,” lig kollega Busuko hom in. “Manlik. Tussen agt en tien jaar oud. Hy was te voet op pad in ’n noordelike rigting. Kolonel Verster van die Veiligheidsmag het ’n kommando uitgestuur om hom op te pik.”
“Waar is die kind nou, kollega Busuko?”
“Die soldate het hom 1 Militêre Hospitaal toe gevat.”
“Is hy beseer?”
“Nee. Volgens kolonel Verster dui die kind se drag daarop dat hy uit ’n kommune kom, maar dit stem nie ooreen met die drag van enige van die staatskommunes nie. Hy het ook nie registrasie-inplantings nie.”
“Geen inplantings nie?”
Busuko skud sy kop. “Kolonel Verster laat Johannesburg en die omliggende gebied met beeldradar aftas. Hy gaan binne die volgende twee uur nanoswerms in die kwarantyngebied loslaat met voertuie en troepe vir ondersteuning. Die Direktrise wil twee agente van ons eie Sekuriteitsdirektoraat uitstuur om een van die kommando’s te begelei. Dit is waar jy inkom, kollega De Jong. Jy en In-Grid. Direktrise Smit wil hê dat jy jou as ’n waarnemer by ons agente moet aansluit sodat In-Grid data op die grond kan insamel.”
Kel is sprakeloos. Hy was meer as dertig jaar laas buite Pretoria se stadsgrens, voordat stadsgrense hoegenaamd bestaan het. Die Nuwe Republiek van Suid-Afrika het vandag slegs drie bewoonde groot stede: Pretoria, Durban en Bloemfontein. Al drie stede het omliggende industriële, mynbou- en landboukommunes, sowel as volkplantingsoorde. Ruimtes tussen hierdie kosbare kolle beskawing is ’n donker sone. Wildernis.
“Is jy nog daar?”
“Ja. Ek vra verskoning, kollega Busuko. Moet ek eers inkom Musanda toe?”
“Nie nodig nie. In-Grid kan jou op pad Johannesburg toe op hoogte bring van die res. Die Sekuriteitsdirektoraat se twee agente vertrek ook binnekort. Hulle sal jou by Noordhek inwag. Voorspoed, kollega De Jong.”
Kollega Busuko se gesig verbrokkel in sy tussenvlak.
Voordat hy aan die gang kom, stap Kel eers na sy suster, Adri, se slaapkamer toe om te kyk hoe dit met haar gaan. Gisteraand moes hy haar met ’n dosis CLM–27 inspuit voordat sy Pienk Kaart opgedaag het. Adri lê op haar sy, die posisie waarin hy haar gedraai het nadat die verdowingsmiddel ingeskop het. Sy slaap steeds vas onder haar outydse pienk duvet met die wit blomme.
Haar beddegoed is te warm vir April. Te warm vir enige tyd van die jaar maar sy wil niks weet van termiese lakens nie. Kel skaf haar beddegoed, meubels en die huishoudelike apparate wat hulle deel, deur aanlyn reprohandelaars aan. Die kunsmatige omgewing van vervloë wat hy só vir haar skep, woeker met sy maandelikse kredietpunte maar dit het ’n kalmerende uitwerking op Adri. Die meeste van die tyd, in elk geval.
Haar dik vlegsel kronkel oor die kussing en oor die bed se rand tot op die vloer. Bruin met growwe grys stringe tussenin, die hare van ’n vrou uit die ou dae. Sweetdruppels blink op haar voorkop.
Kel sluk aan die weersin wat in hom opstoot terwyl hy na haar staan en kyk. Sy suster is vyf en veertig. Agt jaar ouer as hy. Hul hele familie het in die choleraepidemie omgekom en hy is nie aldag seker dat sy dit werklik oorleef het nie. Adri se liggaam is hier in die hede, maar haar verstand het in 2027 agtergebly. Sy haal asem, ly onder en floreer op herinneringe aan daardie tyd met ’n halsstarrigheid wat die verstand te bowe gaan. Daar is ander soos sy. Verledemense. Dié van hulle wat nie meer familie het om vir hulle te sorg nie, word in die vrywerkerstelsel opgeneem.
Toe hulle destyds weggevat is uit die huis waar hul ouers gesterf het, is hy in die Lasarus-oord vir weeskinders van die epidemie opgeneem. Adri was iewers anders. Hy het haar lank nie gesien nie. Ná weke of maande – Kel was te jonk om ’n akkurate begrip van tyd te hê – het hy begin dink dat sy suster ook dood is. Later het hy glad nie meer aan haar gedink nie.
Op ’n dag was sy skielik weer daar. Een van die voogde by die oord het haar na hom toe gebring en vir hom gesê sy suster is nou sy verantwoordelikheid. Hy was teen daardie tyd agt, Adri sestien. Kel weet nog steeds nie waar sy was gedurende die maande wat hulle mekaar nie gesien het nie. Sy het hom nooit gesê nie en hy het haar nooit gevra nie want hy skaam hom. Hy het haar destyds verwens omdat sy teruggekom het. Dat hy na haar moes omsien terwyl sy soveel ouer is as hy. Nou nog, in onbewaakte oomblikke, verwyt hy haar daaroor.
Hy laat sak sy kop, draai om en stap uit. Toe hy sy slaapkamer betree, sit sy Pienk Kaart dadelik regop. Sy trek die silwer laken hoog teen haar ken op asof sy bang is hy sal nog ’n poging tot ontvangenis van haar verlang voordat sy gaan.
Die kanse is maar skraal en die fout lê by hom. Daar is niks aan haar, nie die geringste defek, wat sy gebrek aan ywer vir die taak wat aan surrogate opgedra is, regverdig nie. Intellektueel beskou, is die huidige skoonheidsnorm – waarvolgens elke vrou die suster van haar suster kon gewees het – vir Kel diep en volmaak, die ekwivalent van Euler se formule. Nietemin laat dit hom onverklaarbaar koud.
Hy kyk anderpad. “Ongelukkig kan ek jou nie ontbyt aanbied nie. Ek word dringend by die werk benodig.”
“Ek verstaan, Skat,” glimlag sy vriendelik, sonder om die laken ’n sentimeter te laat sak.
“Jy is welkom om koffie te maak of ’n kitsontbyt uit die yskas te kry.”
Kel kan hom nooit daartoe bring om hulle met die voorgeskrewe term aan te spreek nie. Die woord roep een van die min herinneringe wat hy nog aan sy ouers het, by hom op. Sy ma en pa het mekaar “skat” genoem sonder dat die term enige praktiese funksie gehad het, en tog was dit asof die woord ’n spesifieke betekenis vir hulle gehad het.
“Ek sal so maak,” glimlag sy Pienk Kaart weer. “Voorspoed en vrede, Skat.”
“Voorspoed en vrede.”
Kel is verlig toe die badkamerdeur ’n paar oomblikke later agter hom toeskuif. Daar gaan nie vanoggend tyd wees vir die fiksheidswiel nie. Hy stort vinnig en sorg dat hy klaarkry voordat die watermonitor rooi verkleur. Terwyl louwarm wind uit die stort se droërs hom droogblaas, laat hy sy oë oor ’n paar anonieme nuusblogs in sy tussenvlak gly.

KOOP HIER | BUY HERE
Pretoria, 2057. Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid–Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo. Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In–Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In chaos wat volg, aktiveer Kel In–Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede.

Vandag begin die vyftigdaeaftelling vir die Herinneringsfees. Blogskrywers bespiegel reeds oor hoeveel dae hierdie jaar vir die fees toegeken gaan word. Ander jare behels dit ’n week van toesprake en seremonies, maar 2057 is nie ander jare nie. Dit is die dertigste herdenking van die choleraepidemie.
Een van die blogs waarna hy kyk, wys video-uittreksels uit die twintigste Herinneringsfees. Die eerste fase, toe die drie stede drie dae en drie nagte lank van lyn af, sonder elektrisiteit of water was en sonder die Veiligheidsmag se beskerming moes klaarkom, soos in die laaste maande van die Chaosera. Kel onthou die eerste fase maar te goed. Die dae was onproduktief, die nagte vreesaanjaend. Mense is beroof, mense het gesterf. Vroue is onteer. Waar daar nie lig of orde is nie, gedy kwaad.
Beelde van die eerste fase gaan oor in die lykwaak op terreine waar die massaverbranding van choleraslagoffers in 2027 plaasgevind het. Reusesirkels mense in swart mantels. Dit was die tweede fase van die twintigste Herinneringsfees. Drie dae lank het elke volksgenoot in die land in agt uur lange skofte en absolute stilte oor die gestorwenes gewaak. Kel het sy skofte by ’n terrein in Distrik 5 afgelê. In die ou tyd was dit ’n botaniese tuin. Die grond was bar, sonder ’n piksel kleur en hard soos beton. Hy sal nooit weet of dit atome van sy ouers bevat het nie.
Hy onthou die derde fase van besielende toesprake deur Raadslede en die vierde fase wat nou in sy tussenvlak afspeel. Die Kultuurfabriek-teater se lewensgetroue opvoering van die laaste dae van die epidemie op elke Volksplein van die drie stede. Die akteurs het die paniekerigheid wat die volk destyds aangegryp het so oortuigend uitgebeeld dat talle toeskouers hulle laat meesleur het. Toe die “plunderaars” met knuppels, messe en ander primitiewe wapens op die plein toesak, het die skare blindelings op die vlug geslaan. Teen die einde van daardie dag het die dodetal in Pretoria alleen honderd verbygesteek.
Terwyl die volk nog onder die skok daarvan gesteier het, het die fees met ’n duiselingwekkende verheerliking van die Nuwe Orde geëindig. Die Kultuurfabriek-koor se eenmalige opvoering van die “Prisonierskoor” uit Beethoven se Fidelio het soos ’n storm oor Volksplein losgebars. Die Veiligheidsmag het oor die plein gemarsjeer en ’n gees van eenheid en solidariteit was in volle swang voordat die Voorsitter die slotrede gelewer het.
Die twintigste Herinneringsfees was ’n deernisvolle tugtiging. ’n Reiniging. Die volk moes herinner word aan die astronomiese vooruitgang wat die Nuwe Orde in die Nuwe Republiek teweeggebring het. Die dertigste Herinneringsfees sal dit oortref. Hopelik, vir die volk se eie beswil. Dus moet dit geesdrif wees wat Kel se keel toedruk terwyl hy deur die nuusblogs blaai.
Hy raak aan sy slaap om sy tussenvlak te deaktiveer. Die onstuimige beelde vlug uit sy kop asof dit op heterdaad betrap is.
Toe Kel voor die wasbak gaan staan, verdring ’n kennisgewing sy weerkaatsing in die spieël. Sy Pienk Kaart het pas die woning verlaat. Indien hy haar ooit weer sien, sal dit wees omdat die Bevolkingskomitee haar vir ’n opvolgbeurt hiernatoe stuur – dit is moontlik dat sy al tevore hier was – of omdat die ontvangenis suksesvol was en sy die baba wil behou eerder as om hom of haar na een van die volkplantingsoorde toe te laat uitplaas. In daardie geval sou Kel verplig wees om ’n lewenskontrak met haar aan te gaan. Om ’n kind saam met ’n biologiese pasmaat groot te maak, is die hoogste voorreg wat enige volksgenoot te beurt kan val.
Hy borsel sy tande en skeer sy kop, wenkbroue en baard. Sy status as ’n volksgenoot van die sesde rang van ingenieurs en wetenskaplikes vereis dit. Trots soos hy daarop is, beklemtoon haarloosheid die skreiende onvolmaaktheid van sy gesig onder die grys oë. Sy vel is ’n mikromaanlandskap van bultjies en fyn kraters. Sestigjariges kan deesdae dertig lyk. Danksy genetiese manipulasie en nanotegnologie is oorerflike siektes wat eens so goed soos ’n doodsvonnis was, geneeslik. Maar die een wat op vyftien aknee kry, moet nog steeds daarmee saamleef. Hy het nooit sover gekom om die skade aan sy gesig te laat herstel nie.
Terug in die kamer tel hy sy iCitizen-horlosie van die bedkassie af op en sit dit aan. Die horlosie se voorste aluminiumhegters vat hom soos ’n tweede hand tussen sy vingers vas. Die twee agterstes sluit om sy pols. Kel draai sy hand ’n paar maal totdat die beeldskerm soos ’n tweede vel daaroor pas. Hy klee hom in sy werkersuniform, ’n ligblou pak van termiese nylon met die Intelligensieburo se kenteken op die baadjie se regop boordjie. Die voorgeskrewe skoeisel vir werkers van alle range is wit drafskoene. ’n Volksgenoot met seer voete kan nie optimale produktiwiteit handhaaf nie.
Kel stap deur kombuis toe. Hy het die muurskerm hier geprogrammeer om te lyk soos ’n wit muur met vensters wat uitkyk oor breë, sonnige strate en pers jakarandas. Vir Adri. Pretoria, soos die stad nog in die vroeë twintigerjare gelyk het. Voordat die ou weermag die uitheemse bome uitgeroei en watertenks oor die hele stad opgerig het in ’n desperate poging om volksgenote van vars water te voorsien.
Hy sluk vinnig ’n mueslikitsontbyt af en drink ’n paar slukke gebottelde water. Daar is nie tyd vir koffie nie. Die perkoleerder sal te lank vat. Allerhande dinge vat te lank met Adri in sy sorg. Nie net lyk die huishoudelike apparate wat hy met haar deel soos goed uit die twintigerjare nie, dit funksioneer teen dieselfde spoed. Hy stuur sy ontbytbakkie met ’n koshyser langs die yskas na die woonkompleks se herbenuttingsfasiliteit op die tweede ondergrondse verdieping en skryf gou vir sy suster ’n nota, potlood op papier: Adri, die werk het gebel. Ek moet vanoggend vroeër ingaan. Voorspoed en vrede, tot vanaand.
Sy het geen idee wat hy doen nie. Die Intelligensieburo vereis absolute diskresie van werknemers. As In-Grid se programmeerder neem Kel hierdie verantwoordelikheid ernstig op.
“Hysbak, Edison.”
Hy los die nota op die tafel en stap uit in die gang. Dit loop in ’n sirkel om die leefarea in die middel van die woning met die kombuis en ander vertrekke soos gate op ’n spoel rondom. Toe hy by die voordeur aankom, is die hysbak daar. Kel stap in.
“P minus 1,” gee hy opdrag vir die parkeergarage.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS