Alma_Rossouw_Sypaadjie_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Sypaadjie – Alma Rossouw

Sypaadjie is ’n romantiese drama met ’n interessante kinkel. Die storie word vertel uit ’n tipiese millenniër se oogpunt, daar is baie vrae oor die liefde, romanse en seksuele oriëntasie. Soms is die karakters effens konserwatief en naïef, maar nooit vervelig nie. Leah worstel met vrae wat baie jong meisies deesdae mee sukkel, veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse meisies. Hoe vind ek ’n balans tussen liefde en ’n loopbaan? Is dit nog die moeite werd om jou hart op die spel te plaas? Die storie herinner aan Annie on my mind deur Nancy Garden en South of Sunshine deur Dana Elmendorf.

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Romanse, maar vol millenniër-kinkels. “Drawwers is die go-getters, eintlik dink ek net hulle hardloop weg van iets. Elke oggend staan hulle op en gaan draf op die donnerse selfde sypaadjie. Die dansers, soos jy, dans deur die lewe. Hulle is met min tevrede en dan dans hulle daaroor. Die drinkers sit agteroor en lag vir die drawwers en dansers.” “Met ander woorde sit die drinkers op die kantlyn?” “Nee die drinkers sit in die middel van die pad en wag vir die drawwers en dansers om te besef dat almal eendag doodgaan.” Leah het haar lus vir die lewe verloor. Sy is jonk, suksesvol en hardkoppig. Sy verlaat Johannesburg om een van haar besighede se afdelings in Kaapstad reg te ruk. Daar ontmoet sy, soos die noodlot dit wil hê, weer vir Hannah, wat ’n bietjie meer as net ’n vriendin was tydens haar universiteitsdae. Gaan sy, Hannah, ’n veilige sypaadjie wees, of ’n glibberige, maar opwindende afdraaipad?

Leah staar af na die ongeluk in Alicelaan. Ongelukke laat altyd ’n hol kol op haar maag. Vanuit haar Sandton-kantoor hoor sy dikwels ongelukke. Eers die skreeuende bande en dan die impak. Dit bly ’n geluid wat jou tot stilstand ruk. Dan begin haar gedagtes die gebeure van daardie lentedag ses jaar gelede oor en oor speel.

     “Jy kon dit beter hanteer het,” onderbreek Ean haar gedagtes.
     Leah skink ’n dubbel en lig die bottel in ’n vraag of hy ook wil hê. Ean bedink hom eers en dan knik hy asof hy besef hy het die whiskey broodnodig.
     “Ean, ek het nie tyd of lus om die bietjie nice wat ek het op iemand te mors wat dit nie eers verdien nie. Hy was nalatig en het die maatskappy ’n hele paar rand gekos.”
Ean neem die glas wat sy uithou en sy kan voel hoe sy oë haar volg terwyl     sy om die lessenaar stap en voor die groot venster gaan staan. Die ongeluk het veroorsaak dat die traffic doodstil staan. Die agent het hierdie kantoor verkoop as die mooiste view in Sandton, maar daar is net absoluut niks mooi aan hierdie view nie. Dalk is dit Sandton City se bruin gebou wat haar morbied maak of die feit dat daar altyd verkeer is. Vir iemand wat van die plaas af kom, kan Johannesburg se vaal lug en sirenes as agtergrondmusiek allesbehalwe mooi wees. Wel, dit was hierdie of die middestad van Johannesburg, maar sy het nog nie selfdoodneigings nie, so dit was ’n nee of dit was Pretoria. Sy skrik vir haar eie weerkaatsing in die venster. Alles aan haar lyk vreemd. Daar is donker kringe onder haar oë en haar skouers hang. Sy moet by ’n haarkapper uitkom; haar hare is nie meer so natuurlik blond soos dit altyd was nie. Dalk is dit omdat sy die laaste tyd nie meer so baie in die son kom nie. Leah kyk af na haar lyf. Alles is darem nog daar. Haar arms . . . Die seuns op skool het haar altyd gespot en gesê met daardie arms kan sy ’n Ford-trekker se stuurwiel vasvat. Haar bene is die enigste deel van haar liggaam waaroor sy bly is. Nou kan sy enige man in die oë kyk of selfs op hom neerkyk. Haar ma het eendag in ’n duur boetiek kliphard gesê dat menige man se kop nog vir hierdie bene gaan draai. Haar tienerselfbeeld kon nie daardie opmerking hanteer nie en dit was die laaste keer wat sy en haar ma saam gaan shopping doen het. Sy wil nou in ’n bad gaan klim en hierdie dag van haar liggaam afwas. “Gaan jy nog iets sê of gaan jy jou whiskey drink en loop?”
     Ean sak dieper in die leerstoel in. “Ek wonder sommer net.”
     “Wat wonder jy nou weer?” Haar eie stem se moegheid weergalm in haar ore. As sy net nie so moeg was nie, sou sy nie so geïrriteerd wees nie. Hoe raak ’n mens ontslae van jare se moegheid? Moegheid wat in jou kop kom sit en maak nie saak hoe baie jy slaap, hoe ver jy draf en hoeveel vitamien B-inspuitings jy kry nie, die moegheid bly.
     Sy kyk net vlugtig oor haar skouer vir hom voordat sy sug en vra: “Waaroor nou weer?”
     “Of jy regtig van ’n plaas af kom. Jy weet, ons Joburgers hoor net boeremeisie en dan dink ons, hierdie vrou is eg en Uhm, nice. Maar nie jy nie? Het jy die plaasles gemis waar hulle al die boeremeisies geleer het hoe om nice te wees?”
     “Loop.”
     Hy ken haar te goed om te weet sy is nie ernstig nie, daarom lag hy dit net af en vra verder: “Die eintlike ding waaroor ek wonder, is wie jy in Hannes se plek gaan aanstel. Dit is nou ’n baie slegte tyd om die Kaap sonder ’n besturende direkteur te los.” Sy wens sy kon hierdie glas in haar hand met net ’n druk breek. Sy draai om en gaan sit by haar lessenaar, gereed om verder te werk.
     “Bruce is goed.” Haar oë verhelder effens, asof sy te bly is daar is ’n oplossing.
     “Bruce tree volgende jaar af. Wat van Mike? Hy het nog so ’n goeie tien jaar oor voordat hy kan aftree en . . .”
    “En hy lê elke dag op sy surfboard,” val sy hom in die rede. ’n Frons verskyn tussen haar bruin oë. Sy sal enige moontlike oplossing soek om nie Kaap toe te gaan nie.
    Ná ’n oomblik se stilte lig sy haar regterwenkbrou en vra: “Wie is daar nog?”
    “Daar is niemand nie. En die H&H-kontrak moet volgende maand hernu word. En moenie eers so na my kyk nie, Leah. Ek gaan nie pa staan vir daardie groot kontrak nie. Die Hendrikse was jou familie se eerste kliënt. Jy moet hulle maar self met jou Van Jaarsveld-glimlag gaan woo.” Hy gooi die laaste bietjie whiskey in sy keel af en staan op. “Voordat jy my probeer ompraat, sê ek nag.”
    Leah staan stadig op en stap na die kabinet vir nog whiskey. Vanaand moet hierdie amber vloeistof die rots in haar hart net ’n bietjie ligter maak. Hierdie ongeluk onder in die pad het al die asse weer kom oopkrap. As sy haar toets net vinniger klaar geskryf het kon sy Ben se oproep vroeër gekry het en kon sy hulle nog op die plaas gestop het. As sy net vinniger gery het, as sy net vir haar ma geluister het. As, as, as.
     En nou wil Ean hê sy moet Kaap toe. Dit is juis hoekom sy van die Kaap af weggetrek het en kantore in Johannesburg kom oopmaak het. Om weg te kom van alles en almal wat haar laat onthou. Om weg te kom van almal wat haar ken. Kliënte wat haar familie ken.
    Leah vryf moeg oor haar oë. “Shit!”

KOOP HIER | BUY HERE
Romanse, maar vol millenniër-kinkels. “Drawwers is die go-getters, eintlik dink ek net hulle hardloop weg van iets. Elke oggend staan hulle op en gaan draf op die donnerse selfde sypaadjie. Die dansers, soos jy, dans deur die lewe. Hulle is met min tevrede en dan dans hulle daaroor. Die drinkers sit agteroor en lag vir die drawwers en dansers.” “Met ander woorde sit die drinkers op die kantlyn?” “Nee die drinkers sit in die middel van die pad en wag vir die drawwers en dansers om te besef dat almal eendag doodgaan.” Leah het haar lus vir die lewe verloor. Sy is jonk, suksesvol en hardkoppig. Sy verlaat Johannesburg om een van haar besighede se afdelings in Kaapstad reg te ruk. Daar ontmoet sy, soos die noodlot dit wil hê, weer vir Hannah, wat ’n bietjie meer as net ’n vriendin was tydens haar universiteitsdae. Gaan sy, Hannah, ’n veilige sypaadjie wees, of ’n glibberige, maar opwindende afdraaipad?

    Ritme. Asem in. Asem uit. Een voet voor die ander. Hande verby jou heupe. Konsentreer op niks spesifieks nie. Hou jou ritme. Druk deur die pyn in jou bors, die pyn in jou bene. Groter treë, vinniger en vinniger om daardie laaste myl af te lê.
    Miltsteek skiet in haar regtersy. Asem in wanneer jou regtervoet land en asem uit wanneer jou linkervoet die grond tref. Dit gaan alles oor ritme. Druk deur en verander jou ritme. Leah haal ’n paar keer diep asem en draf verder. Haar eerste atletiekmeneer het vir haar geleer om ’n klippie onder haar tong te sit vir die miltsteek. Eintlik is dit net om die kind se aandag van die pyn af te trek. Gee ’n kind iets anders om hulle brein mee besig te hou en die probleem gaan weg. Soos ’n mens ouer raak, besef jy Kersvader en die tandmuis is nie die enigste kwessies waaroor die ouer mense gelieg het nie. Dit was eers toe sy uit die huis getrek het om op Stellenbosch te gaan studeer wat sy vrae kon begin vra. Sy was nooit ’n rassis nie, maar wel skrikkerig vir swart mense. In die Boland het ’n mens min te doen met swartes. Kleurlinge, ja, maar nie swartes nie. Die werkers op die plaas was almal kleurlinge en jou beste maatjies saam met wie jy krieket gespeel het op die gras. Selfs in die hoërskool was daar net ’n handjievol kleurlinge in haar klas. Haar pa het haar eendag ná skool sien gesels met ’n kleurlingmeisie wat in haar klas was. Hy het nie vir haar gesê dis verkeerd of reg nie. Hy het haar gespot. Asof sy nie ’n ander maatjie kon maak nie. Dit het veroorsaak dat sy in ander kringe beweeg het. Kringe wat meer aanvaarbaar is, nie omdat dit reg of verkeerd was nie, maar omdat dit cool was. Op universiteit was haar gunstelingdosent ’n Afrikaanse swart man. Hy was slim en snaaks. Met hul eerste ontmoeting was sy skrikkerig. Versigtig. Sy wit tande teen sy donker vel was erg kontrasterend, maar eers toe hulle oë ontmoet, het sy besef dat hy glimlag. Sy lewensfilosofie en wyshede het haar laat besef dat hierdie man, hierdie donker-van-kleur-man, ook ’n mens is. Hy het eendag vertel dat hy ’n Christen is. Eers het sy gedink hoe kan ’n Xhosa ’n Christen wees. Die kleurlyn het grys geword en veroorsaak dat sy alle lyne bevraagteken het. Selfs haar seksualiteit het vir haar duideliker geword. Aan die ander kant het haar ouers se onkundige lyn pynlik tussen hulle gelê. Hulle het in ander tye grootgeword. Haar familie was nooit uitgesproke rassiste nie, net versigtig vir die onbekende. Dit is waarvoor die Afrikaner bekend is, bang vir dit wat hulle nie ken nie. Afrikaners pak hul woonwaens en gaan hou elke jaar by dieselfde plek vakansie: “Op plot nommer 19 in Struisbaai se karavaanpark kampeer ons al vir dertien jaar.” Trots daarop ook.
     ’n Mens is nie gemaak vir stagneer nie. Maak nie saak hoe liberaal jy dink jy is nie, of hoe baie jy dink jy weet nie. Jou brein, hart en liggaam kan altyd meer vat. Daardie sêding van: indien moeg, stop en rus, is ’n shitload of bull.
     Leah sluit haar huis oop en skakel die alarm af. Al bly sy in dié sekuriteitskompleks in Sandton vertrou sy steeds niemand nie. Haar oopplanhuis is koel teen haar warm gesig. Al die reguit lyne in die huis speel met haar oë. Dit laat haar dink aan die voorportaal van die vele kantoorblokke waarin sy al was. Als is reguit en steriel wit. Sy trek die sweterige drafklere stuk-stuk uit op pad stort toe. Deesdae kry sy net Sondae tyd om te draf. Deur die week is daar nie tyd vir enige iets anders as werk nie. Oefening gee haar die gevoel dat sy nog lewe. Sy skakel die radio in die badkamer aan. Orrelmusiek en stoom vul die vertrek. Ouma Duifie het altyd gesê ’n huis kan nie so stil wees nie. “Stilte maak mallerige dinge in ’n mens se kop los.” Sy het nooit besef hoe waar dit is totdat dit stiller om haar was as binne haar nie.
     “Broers en susters, Jesus sê toe: ‘Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.’”
     Daar is vandag ’n diep intrige in die jongmense wat in die NG Kerk grootgeword het. Hulle wil Christene wees, maar hulle trek en stoot en spoeg en plak sodat hulle geloof in hul leefwyse inpas. Sy is een van hulle. Wat is so verkeerd daaraan om hande te klap, of om te masturbeer of om van dieselfde geslag te hou? Dis tog liefde. Hulle preek elke Sondag dat Jesus liefde is, maar maak hulle kerkdeure toe wanneer jy die verkeerde liefde kies.
     Die vyf kandidate vir die bestuurderspos in Kaapstad gee haar ’n kopseer. Sy vlieg môre om met elkeen ’n onderhoud te gaan voer, maar die een lyk so swak soos die ander. Irritasie stoot in haar op. Sy verpes onnodige moeilikhede. Sy verkies om alleen te wees en alles self te doen, want dan weet sy dat alles glad sal verloop. Van Wijnveld, wat oupa Kasper in Kaapstad begin het, was die oorspronklike maatskappy en vorm nou net ’n klein druppeltjie in die KVJ Holdings-groep. Oupa Kasper het altyd gesê Van Wijnveld is die fondament waarop KVJ Holdings gebou is.
     “Leahtjie, wanneer jou fondament verbrokkel, kraak die mure tot heel bo. Van Wijnveld se fondament is diep gelê nes ons familiewortels, en uit hierdie sterk fondament het dit gegroei na twee, drie, vier maatskappye wat vandag uit KVJ Holdings bestaan. Always back to basics, die fondament, jou wortels.”
     Oupa het in daardie laaste paar maande van sy lewe haar alles probeer leer. Sy was net te dankbaar vir die afleiding want terug Stellenbosch toe kon sy nie, en om elke dag in haar pa se hartseer gesig vas te kyk, kon sy ook nie. Sy het iets nodig gehad om die leemte te vul wat haar ma en Ben gelos het. Oupa het haar met ope arms in die besigheid verwelkom, al het haar pa en tannie gal gebraak. Min het hulle geweet, sy ook, dat Oupa vir haar die besigheid gaan los. Almal het vermoed hy sal vir haar die aandeelhouer van Van Wijnveld maak sodat sy dit kan bestuur. Maar nee, toe gee hy vir haar die hele sak patats. KVJ fokken Holdings. En al wat haar pa en tannie uit die testament gekry het, was ’n lewenspolissie en ’n paar eiendomme wat sy hoor intussen verkoop is. Toe het daardie gal verander in vuur wat in haar rigting gespoeg word. Aan die ander kant was die aandeelhouers en direksie wat haar te lig bevind het. Sy moes haarself oor en oor bewys, wat beteken sy het ongelooflike ure gewerk en baie opofferings gemaak. Sy kies elke dag daardie opoffering bo die leemte. Eendag in ’n direksievergadering het ’n jong prokureurtjie sy mond oopgemaak; sy het nooit geweet Ean werk eers vir die maatskappy nie, tot daardie dag. Sy het dadelik besef hy kan net ’n bate wees en sedertdien is hy haar regterhand.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS