Uittreksel: Stom gode

Een

Die donker verdrink in die bos. In die ooste, na die see se kant toe, verander die hemel geleidelik van middernagblou na sagter skakerings van pienk en pers. ’n Jakkals roep in die verte en die eerste voëls sit hulle môrepsalm huiwerig in. Die nag wen af.

I wonder how many times you’ve been had
And I wonder how many plans have gone bad . . .

KOOP HIER | BUY HERE
So byna is kolonel Aella O’Malley die ewigheid in gestuur. Nou sy is terug in Afrika se bos nadat sy in Avignon gaan aansterk het. Skaars is sy en haar Franse geliefde weer op haar tuisgrond of hulle word betrek by ’n ondersoek na kadawers wat in die veld gevind is. En dit word gou deur nog lyke opgevolg. Maar die beeld van ’n ander figuur het haar uit Avignon gevolg, dié van ’n straatkind wat Zoeloe praat en Afrikaans verstaan. Hoe het hy daar gekom, weet sy ma dit en hoe kry Aella die kind terug by die huis? Meer, wie was vir sy lot verantwoordelik? In Afrika se nat veld doem die antwoorde gaandeweg op en dit is afskuwelik.

Die woorde van Sixto Rodriguez se liedjie draai deur Sombra se kop. Hy vorm die woorde met sy lippe, sing geluidloos saam. Rodriguez se skepping is sy oggendlied. Hy tik die ritme met sy duim teen sy broekspyp, sink dieper in die skadu’s van ’n wildevy terwyl hy roerloos die drie figure voor hom dophou. Mosambiekers, sê die inligting: twee Sjangaans en ’n man met ’n ligte vel. Hy en Americo volg die groep sedert hulle gistermiddag met ’n Parkeraadvoertuig by die watertoring in die middel van Umbango afgelaai is. Die wit man dra ’n lang geweer. Sy naam is Tito en hy lei die groep. Agter hom stap Ché met ’n AK47 oor sy skouer. Fidel is die proviandman. Hy dra die kos in ’n sak op sy rug: bolle koue mieliepap wat in plastieksakkies toegedraai is en koeldrankbottels vol water.
Tito. Ché. Fidel.
Skuilname.
Lafaards.

I wonder how many times you had sex . . .

Shut up, Sixto, vorm Sombra se lippe die woorde geluidloos.
“Onde eles estão?” vra Fidel.
Waar is hulle? Sombra moet die Portugees woordeliks vir homself vertaal. Hy praat die taal lankal nie meer so vlot soos Americo nie.
“Langs die rivier by Emadelakufa, net soos laas keer,” antwoord Tito. Ongeduld lê in die afgemetenheid van sy woorde. “Ek het jou mos gesê.”
“Dis amper nog ’n hele oggend se stap.”
“KwaQhuqhuva is nie meer so ver nie. Ons kan slaap tot sononder. Van daar af is dit ’n uur se stap. Miskien twee, op die meeste.”
KwaQhuqhuva, die plek wat lyk soos ’n puisie, die naam wat die plaaslike mense aan die klipstapel op die horison gegee het. Die silhoeët is ’n donker massa in die verte. Dit is verder as wat dit lyk. Afstande is bedrieglik in die bos. Tito haal die geweer van sy skouer af en vryf met een hand oor die dik spiere van sy nek en skouers. “Ons moet goed uitrus. Daar gaan nie vannag tyd wees om te speel nie.”
Sombra kan die beweging duidelik in die diep skemer sien. Besef die Portugees nie hoe sy wit vel in die skaars lig wys nie of is hy so arrogant dat hy nie omgee nie? Hy trek sy asem in en proe die mensreuk van die trio in sy mond: ou sweet, verslane naskeermiddel, sigaretrook en die stank
van suur pap.
“Hulle wag in Maputo,” sê Tito. “Die mense kry ons môreoggend teen sonop anderkant die brug by die N2 tensy ons hulle voor die tyd laat weet dat ons reg is. Ons moet van Emadelakufa af tot daar stap. Hulle vat ons dadelik deur na Miller’s Crossing toe.”
“Hoe?” vra Fidel.
“Vangwa. Niemand keer ’n vangwa voor nie. Van Miller’s Crossing af is dit net meer as ’n uur tot in Maputo.”
“En ons geld?”
“Ons kry dit oor drie dae.”
“Is daar nie ’n kortpad van Emadelakufa af tot by die brug nie?” wil Ché weet.

KOOP HIER | BUY HERE
So byna is kolonel Aella O’Malley die ewigheid in gestuur. Nou sy is terug in Afrika se bos nadat sy in Avignon gaan aansterk het. Skaars is sy en haar Franse geliefde weer op haar tuisgrond of hulle word betrek by ’n ondersoek na kadawers wat in die veld gevind is. En dit word gou deur nog lyke opgevolg. Maar die beeld van ’n ander figuur het haar uit Avignon gevolg, dié van ’n straatkind wat Zoeloe praat en Afrikaans verstaan. Hoe het hy daar gekom, weet sy ma dit en hoe kry Aella die kind terug by die huis? Meer, wie was vir sy lot verantwoordelik? In Afrika se nat veld doem die antwoorde gaandeweg op en dit is afskuwelik.

Tito haak weer sy geweer oor sy skouer. “Ons kan altyd deur die rivier swem.”
“Jy’s gek,” sê Fidel. “Daar’s krokodille in die water.”
“Presies. Kom ons stap. Ek is moeg.” Tito breek uit die bospaadjie, struikel teen die hoogtetjie af wat die droë Omuncupan van die res van die bos skei. Hy stryk met lang treë oor die skubbige oppervlak aan. Die ander twee volg.
Die son se eerste strale glip steels oor KwaQhuqhuva se donker maanhaar. Sombra glip onder die wildevy uit tot agter ’n huilboerboon en druk sy lyf styf teen die stam. Die bas skuur grof teen sy vingers. Hy kyk hoe die mans oor die pan stap. Die voorsprong is syne. Vandag is dit die laaste keer dat hierdie bende op Umbango kom stroop. Hulle glip soos geeste heen en weer oor die swak bewaakte suidelike grens van Mosambiek om straffeloos die uitgestrekte Suid-Afrikaanse wildreservate te plunder. En elke keer kom hulle daarmee weg. Elke liewe keer. Hulle kontakte strek ver en wyd: van die nederigste Parkeraadbeampte tot op die hoogste vlakke van die regsbank.
Tito gaan staan skielik stil.
“Wat nou?” vra Fidel. Sombra kan hom duidelik hoor.
“Ek moet pis.”
“Hier?” vra Ché.
“Waar anders? Hier is tog niemand wat kyk nie.” Tito vroetel aan sy gulp.
“Maak gou,” maan Fidel. “Netnou vreet die leeus ons op.”
“Nie sommer nie.”
“Agora, Capitão?” fluister Americo agter Sombra.
“Nou.” Sombra kyk vlugtig om. “Dis nie te laat om om te draai nie. Hierdie oorlog is nie joune nie.”
“Ons maak klaar. Hulle wag vir ons in Cabinda.”
Cabinda, die Angolese enklave in die Kongo waar Sombra en Americo die eerste keer hulle dienste vir dollars verkoop het en as sekuriteitspesialiste vir ’n Amerikaanse gasontginningsmaatskappy gaan werk. Nog drie nagte, dan skud hulle Zoeloeland se stof vir altyd van hulle sole af.

Sombra lig die geweer stadig van sy skouer af. Hy haak sy rugsak los en sit dit saggies voor hom neer. Toe sak hy op sy hurke, strek hom op die koel sandgrond uit en wikkel sy lyf totdat hy gemaklik lê. Hy laat rus die loop op die rugsak en kyk deur die teleskoop hoe die wit man uit Maputo sy gulp toemaak, sy geweerband versit en begin aanstryk na die ruigtes aan die oorkant van die pan. Ché en Fidel volg die een na die ander.
Sombra rig die vuurwapen op Fidel se agterkop, op ’n vaal kol wat lyk soos ’n bles. Hy maak sy oë toe en weer oop. Die bles is steeds in die middel van die kruisdraadjies. Hy trek sy asem diep in en blaas dit stadig uit. Die loop sak en lig saam met die beweging van sy longe en sy ribbekas. Hy doen dit nog ’n keer terwyl sy vinger om die sneller krul. Toe hy sy asem halfpad uitblaas, verstil die geweerloop op sy teiken.
Dit is moord, hoor hy haar stem in sy gedagtes.
Nee, dit is nie, maak hy haar stil. Dit is geregtigheid.
Hy druk die sneller saggies. Die skoot is skaars hoorbaar, danksy die knaldemper op die loop. Terugslag ruk die geweer opwaarts en die visierbeeld verdwyn momenteel uit die kruisdrade.
“Jy het hulle,” fluister Americo.
Sombra antwoord nie, laat sak net die loop en kyk deur die teleskoop na sy handewerk. Fidel lê in die verwronge posisie uniek aan diegene wat onverwags en gewelddadig tot ’n einde kom. Ché lewe nog. Hy spartel op die grond langs ’n miershoop. Sy arms beweeg stadig asof hy oor die droë aarde wil swem, maar sy bene is dood. Sy rug is af.
“Dois em um,” sê Americo.
“Twee in een.” Dit gebeur. Die kragtige 7.62 mm-patroon is deur Fidel se skedel en moes in Ché se rugstring vasgeslaan het. ’n Lae klageluid hang in die lug. Lank gelede het Sombra met ’n bakkie oor ’n koperkapel gery wat in die pad in die son lê en bak het en sy rug gebreek. Ché se oopgesperde mond en vergeefse pogings om op te staan herinner hom aan daardie slang.

“Hy kom weg.” Americo wys na Tito wat gebukkend in sigsagbewegings na die veiligheid van die ruigtes hardloop. Sombra draai die loop na Tito. Veg, vlug of vries, is soos geloof, hoop en liefde, dié drie. En die grootste hiervan is oorlewing. Toe hy die sneller trek, struikel die Portugees, maar vind weer sy voete en verdwyn in die bos.
“Te ver.”
“Ons gaan moet spoor vat.”
Americo lees spoor soos wat Sombra koerant lees. Die vermoë lê in sy are. Hy is ’n Sjangaan van Gaza in Mosambiek, ’n bloedtwyg van Soshangane kaZikode, agteragterkleinkind van Ngungunyane die Verskriklike.

Sombra se gedagtes glip na ’n ander tyd en ’n ander plek: ’n tyd van hitte, bloed en geweld. Staal word deur vuur getemper. Dit is die waarheid. Die woede van die verlede het hom en Americo onlosmaaklik aan mekaar verbind; in ’n verhouding dieper as ’n broederskap en intiemer as dié van minnaars. Dit is wat gebeur as jy die dood op jou vingerpunte dra.
Sombra beduie na die pan, na Ché. “Ons kan hom nie net so los nie.”
Die Mosambieker se bolyf beur omsons orent, want sy dooie onderlyf anker hom teen die grond.
“Die hiënas gaan hom vreet.” Hy rig die loop op Ché se agterkop.
Alhoewel hy bereid is om ’n probleem uit die weg te ruim, beteken dit nie dat hy vreugde put uit ’n ander se lyding nie.
Inteendeel. Hy wens dit niemand toe om lewend verskeur te word nie.
Voordat hy die sneller kan trek, knal ’n skoot van oorkant die pan. Die gewonde man se lyf ruk een keer. ’n Dawerende stilte styg saam met die son oor die bos.
Sombra kyk na Americo. “Tito het sy eie man geskiet,” sê hy stadig.
“Pessoas brancas.” Americo spoeg op die grond.
“Wit mense.” ’n Wrangheid pluk aan Sombra se mondhoeke.
“Slegtigheid ken nie kleur nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS