Stillewe

Uittreksel: Stillewe

Ouderdomsbeperking: 16

HOOFSTUK EEN

Wat is dit tog met haar en weeskinders? Lizette trek haar moeë rug reguit en lees vir die soveelste keer die woorde op die rekenaarskerm.

KOOP HIER | BUY HERE
In ’n skoendoos vol papiere wat Lizette de Klerk by haar bejaarde ma kry, ontdek sy ’n brief van haar oupa. Dié versoek dat ’n bedrag geld aan die Italiaanse De Lucas-gesin betaal word. Haar oupa het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Italië geveg en is daar gewond. Presies wat tussen haar oupa en die De Lucasgesin gebeur het, is nie duidelik nie, maar dit stuur Lizette op ’n speurtog na Italië. Hier onthul die geskiedenis van oupa Isak se verbintenis met Isabella De Lucas sigself soos ’n skildery, laag-op-laag en ontroerend mooi. In Italië, aan huis van haar galante gasheer, die kunsprofessor en kunstenaar Alphonso Lombardi, leer Lizette die ware betekenis van la dolce vita ken.

Die kind is ’n wesie uit die oorlog in Serwië in
1995. Sy weet nie eens wat haar naam is nie,
maar hulle noem haar Lienka. ’n Kinderhuis in
Boekarest het haar ingeneem. Dis waar Anita Nel . . .

En dis ook waar sy ophou skryf het, want dit werk nie. Kytie sal die artikel net een kyk gee en dit terugstuur. “Jy skryf ’n profielonderhoud oor Anita, ’n vrou uit Hopefield met ’n meestersgraad in Opvoedkundige Sielkunde. Sy is lid van ’n navorsingspan vir die behandeling van traumaslagoffers. Kinders soos Lienka. Lienka, skattie, is ’n onderskrif,” sal sy sê.
Maar haar kop is suf en sy kan nie behoorlik dink nie. As sy op hierdie trant aangaan, haal sy nie haar spertyd nie. En Kytie is nie iemand wat aan ’n lyntjie gehou wil word nie.

Te veel hooi op haar vurk, sy weet. Te veel reis, te veel plekke, treine, vliegtuie, inpak en uitpak. Een onderhoud ná die ander, elke keer op ’n ander plek. Sy is ooreis, kragteloos, uitgemergel, kapot. Die bottom line is, sy sal moet skietgee. Rus kry vir haar liggaam en siel.

Nog ’n koppie koffie sal haar dalk weer ’n bietjie woema gee. Sy soek ’n kelner tussen die malende reisigers by die Mugg & Bean. Oorsese vlugte het pas geland en die plek is vol toeriste wat die Kaap kom verken. Christo sal, soos gewoonlik, op die nippertjie hier aankom om haar te kom haal. Sy weet hy moet kosbare tyd by die Telegraaf afstaan, maar hy het aangebied. En hy skuld haar. Sy het al hoeveel stories na sy kant toe deurgestuur.

Asof sy hom opgetower het, sien sy hom by die ingang. Sy steek haar haar arm in die lug en waai vir hom. Hy glimlag toe hy haar sien en beur tussen die tafels, mense en reistasse deur. ’n Piksoentjie op haar wang en toe is hy oorkant haar, sy lang bene versigtig verby hare onder die tafeltjie ingesteek. Sy digte bruin hare is klam van die Kaapse winterreën wat hy saam met hom ingebring het. Die silwer langs sy slape ontgaan haar nie. Die tyd stap aan.
Hy wil nog praatjies maak, maar sy gee hom nie kans nie. Sy val hom sommer in die rede, sodat hy liggies frons, haar vraend aankyk. “Jy is taamlik ongeduldig, Zettie? Kan ons nie maar net eers groet en koffie drink nie?”
Hy kyk haar aan of sy ’n stout kind is. Hy doen dit altyd! Sy vervies haar en draai weg van hom af, vang die kelner se oog en wink hom nader. Christo kyk vraend na haar, maar sy skud haar kop. Haar beker is halfvol en sy is nie rêrig lus vir koffie nie. Hy bestel ’n beker cappuccino met skuim.
Toe eers antwoord sy hom. “Ek is jammer, Christo. Dis net, ek is moeg, my geduld is op en my woorde het opgedroog. Ek moet ’n mal idee uit my kop kry voordat ek my verslag kan klaarmaak.”
Hierdie keer lig hy net sy wenkbroue. Nooit ’n man van veel woorde nie.
“Ek dink jy moet eers hierna kyk. Dit sal ’n lang storie kort maak.”
Sy klik op die skerm en draai die rekenaar sodat hy beter kan sien. Dis ’n foto van Lienka.

Hy tokkel met sy vingers weerskante van die skerm terwyl hy die foto bestudeer. Blink swart hare hang langs Lienka se skraal gesiggie af, ’n gordyntjie oor die voorkop. Sy staar stip na die kamera met groot donkerbruin oë, ’n skaam glimlag om haar mond.
“Kyk na die handjies, sien jy dit?”
“Net vier vingers aan die linkerhand?”
“Hm. En kyk, skrapnel het die boonste stukkie skulp van haar oor afgesny. Haar pinkie ook. Sy is doof in haar linkeroor en die oog daardie kant het ook seergekry.” Sy druk op die skerm op die halwe oor, die verminkte hand, ’n hangende linkerooglid.
“Sy het net ’n weeshuisnaam. Lienka. Sy was die enigste oorlewende van ’n bomaanval destyds in die oorlog tussen die Serwiërs en die Kroate. Sy is by die kinderhuis in Boekarest waar ek ’n onderhoud met ’n meisie uit die Vrystaat gaan voer het. Anita Nel. Sy is eintlik ’n terapeut, maar doen omtrent enige ding daar.”
Hy sit terug met gevoude arms. “Dis ’n goeie foto, Zettie. Fred het jou mooi geleer. Kon jou gerus maar ’n diploma gegee het vir al jou harde werk.” Hy frons, skuif reg op sy stoel. “Maar wat is nou eintlik jou probleem? Ek bedoel, skryf die verslag, sit die foto by en gaan gee dit vir Kytie. So maklik soos dit.”

Sy sug. Hy is ’n man, wat sal hy nou verstaan? Aan die ander kant, hoe gouer iemand haar rigting gee, hoe gouer kan sy aan die gang kom.
“Dis hierdie weeskind, Christo. Sy spook by my. Ek wil haar gaan haal en vir haar ’n huis soek, maar ek weet dis onmoontlik. Iets sê vir my ‘help die kind’. Maar hoe? En ek kan met niks anders aan die gang kom nie. Ek het die verslag al drie keer oorgeskryf. Wie weet, dalk kom ’n leser met iets amazing vorendag?”

Hy antwoord nie dadelik nie, frons weer, oë op die skerm. Sy voel die frustrasie in haar opstoot, maar hou haar in. Ten spyte van sy beterweterigheid en dikwels ongevraagde teregwysing, vertrou sy hom. Die jare tussen Rwanda en nou het hom sagter gemaak. Of dalk is dit Sonia, sy vyfjarige dogtertjie en sy gewese huwelik met Lena wat die kors om sy hart ’n krakie gegee het.

Uiteindelik skuif hy sy stoel agtertoe en trek sy skouers reguit. “Nou ja, as ek moet raai: Jy het writer’s block. As jy wil, skryf vir my ’n artikel oor Lienka. Dalk kan ek dit iewers geplaas kry.” Hy wink vir die kelner, wys na sy horlosie. “Ons het nie baie tyd nie. Die man moet nou sy litte roer. En daardie halfleë beker koffie van jou is nou koud. Seker jy wil nie nog hê nie?”

Sy skud haar kop, nee dankie. ’n Sinvolle gesprek met hom oor haar besoek aan Boekarest, haar artikel en die kleine Lienka is nou daarmee heen. Vroeër was sy lus vir die koffie saam met hom, maar nie nou meer nie.
“Dankie vir die goeie raad, hoor. Ek sal sien hoe dit gaan. Dalk net ’n slag ordentlik slaap, dan gaan dit beter.” Dankie vir niks, wil sy eintlik vir hom sê. Writer’s block! Dink hy sy het gister ’n joernalis geword?

Die kelner red die situasie, sit die beker koffie voor Christo neer. Hy neem ’n slukkie en vra verskoning – moet eers ’n draai gaan loop. Terwyl hy wegstap, bekyk sy hom: die lenige lyf met die breë skouers, die effense boepie wat begin wys. Ou slimjan. Dis hoekom sy op hom verlief geraak het toe hy in hulle laaste jaar saam kom klas loop het. Hy was reeds ’n gesoute joernalis, maar moes nog een jaar se studie klaarmaak. Hy het alles geweet van stories dek, hy kon mense binne ’n oogwink opsom. Hy was haar held. Maar hy het net vir Lena oë gehad.

Sy stut haar ken in haar palm en maak haar oë toe. Dis jammer oor Rwanda. Dat dinge daar so skeefgeloop het. Sy was nuut en vol entoesiasme toe hy haar by die span ingesluit het. Wat daar gebeur het, het alles deurmekaargekrap. Die getalle is nog steeds vir haar ’n verskrikking, iets wat haar kop nie kan verwerk nie. Honderdduisende Tutsi’s wat binne drie weke deur hulle landgenote, die Hutu’s, uitgemoor is. Duisende vroue, van jong dogters tot oumas, is verkrag. Die blote gedagte daaraan laat haar tot vandag toe bewerig voel, broos, op ’n manier aandadig. Hoekom het niemand dit gekeer nie? Waar was die Afrika-unie? Die Verenigde Nasies, Amerika? Die joernaliste!

Toe is dit vyftien jaar later.
“Dit wil lyk of die Verenigde Nasies die volksmoord met ’n spesiale datum wil gedenk,” het Christo gesê. “Teen daardie tyd gaan die hele plek oorspoel wees met joernaliste. Ons gaan en jy gaan saam. Fred sal die foto’s neem. Dis tyd dat jy jou grense ’n bietjie skuif.”
Sy moes die “sagte” onderhoude voer saam met Fred, die fotograaf en ’n tolk. Met vroue wat die slagting oorleef het en gewillig was om te praat. Hulle was gelukkig en kon met ’n vrou gesels wat in haar eie huisie bly aan die buitewyke van die stad, saam met haar mense, meestal vroue.

“Die mans is almal dood in die slagting,” het die tolk gesê. “Sy het gesien wat gebeur het, hoe haar man en kinders vermoor is. In die moerasse doodgekap.”
Die vrou het sag gepraat, met ’n soort gelatenheid. Dankbaar vir die geldjie wat sy gaan kry vir die onderhoud. Maar haar gesig was sonder emosie en haar oë het rondgedraai in die kasse, en Lizette het die indruk gekry dat sy die beelde uit haar kop wou druk, by haar oë wou laat uitloop.
Fred het sy foto’s geneem en hulle is terug na die gastehuis toe aan die buitewyke van Rwanda. Die onderhoud het haar geruk. Wat sy gesien en gehoor het, was genoeg om haar te laat besluit dat koerantjoernalistiek nie die werk vir haar is nie.

Dan, natuurlik, die ding met Christo. Sy kan dit nie help nie, ’n rilling trek deur haar lyf en sy knyp haar oë styf toe. As sy die hele affêre net kan vergeet! Maar dit maak nie saak hoe diep sy dit begrawe nie, nou en dan klim dit soos ’n padda uit ’n poel slym tot binne-in haar kop. Die vernedering! Haar eie lyf wat sy nie kon vertrou nie, haar verstand wat haar in die steek gelaat het.

KOOP HIER | BUY HERE
In ’n skoendoos vol papiere wat Lizette de Klerk by haar bejaarde ma kry, ontdek sy ’n brief van haar oupa. Dié versoek dat ’n bedrag geld aan die Italiaanse De Lucas-gesin betaal word. Haar oupa het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Italië geveg en is daar gewond. Presies wat tussen haar oupa en die De Lucasgesin gebeur het, is nie duidelik nie, maar dit stuur Lizette op ’n speurtog na Italië. Hier onthul die geskiedenis van oupa Isak se verbintenis met Isabella De Lucas sigself soos ’n skildery, laag-op-laag en ontroerend mooi. In Italië, aan huis van haar galante gasheer, die kunsprofessor en kunstenaar Alphonso Lombardi, leer Lizette die ware betekenis van la dolce vita ken.

Sy en Fred het laatmiddag by die gastehuis aangekom. Christo het gewag dat sy verslag moet doen oor die dag se dinge. Sy kon haar pose vir ’n ruk hou, toe gee sy in, bewend, met ’n kakebeen wat so stram was dat sy nie ’n woord kon uitkry nie. “Gaan kamer toe, ons praat later,” het hy gesê, sy arm om haar skouers gesit, haar tot by die bed gelei, gewag tot sy lê. Vir haar ’n pilletjie gebring en ’n glas water, by haar gesit tot sy aan die slaap raak.
Iewers in die nag het sy wakker geword, vreemd opgewerk, haar lyf, veral haar onderlyf, warm en tintelend. Het sy koors? Dalk iets opgetel buite in die bos? Nagmerries? Toe raak sy bewus van die lyf langs haar op die dubbelbed; sy kon die hitte voel en die asemhaling hoor. Sy het doodstil gelê, haar hart wild aan die klop, toe stadig haar kop gedraai en na die figuur langs haar gekyk. Sy kon die manlike lyf uitmaak, kaal rug na haar toe gedraai. En terselfdertyd sy geur herken en die vorm van sy kop.
Christo. Natuurlik! Wie anders sou genoeg omgee om by haar te bly en haar op te pas? Sy het aan die bewe gegaan. Toe is hy al die tyd wakker. Hy het omgedraai en haar styf teen hom vasgedruk.
“Dis oukei, als is reg. Jy kan maar slaap, ek is hier,” het hy in haar hare gefluister.
Toe soen hy haar sag op haar mond en sy het hom teruggesoen met al die opgekropte gekweldheid binne-in haar. Haar lyf het soos ’n wegholbrand opgevlam, haar lam gemaak, haar sinne verdoof. Sy het oor sy kaal bolyf gestreel, al hoe dwingender, sy wou haar naels in hom inslaan.
“Help my,” het sy teen sy keel geprewel.
Toe hy sy hande onder haar frokkie insteek en sag met sy palms oor haar borste streel, het sy haar lyf teen syne gedruk, so styf dat sy hom deur sy kakiebroek kon voel. Haar lyf het vanself ’n ritme aangeneem. Sy was van niks om haar bewus nie, net hierdie lyf teen haar en die verlossing waarna sy met haar hele wese smag.
Toe dit kom, was daar niks wat sy kon doen nie. Sy het die golf gery, die vlamme in haar lyf het in haar kop ontplof; vir oomblikke was sy tussen die sterre. Toe was dit oor.

Sy het soos ’n lappop teen hom gelê. Natgesweet, tevrede, die vuur geblus. Eers toe hy in haar nek kreun, het sy weer van hom bewus geword, besef wat gebeur het. Skaamte het oor haar gespoel. Sy het omgedraai en haar lyf opgekrul, haar hande oor haar warm gesig gedruk en gewens die aarde moet haar insluk. Maar hy was reeds op; sy het die matras voel beweeg en gehoor hoe hy na sy skoene in die donker soek.
“Ek is jammer, Zettie. Só jammer. Vergewe my.” Toe is hy daar uit. En het nooit weer daaroor gepraat nie.
Fred het oorgeneem waar Christo gelos het. Op sy skouer kon sy huil, onder sy vlerk inklim en in sy bed probeer vrede maak met al die konflik in haar. Ná haar pa se dood het sy by hom ingetrek.
Sy het haar verbeel alles is goed en reg totdat sy eendag in sy donkerkamer op die laai met sorgvuldig geliasseerde foto’s afgekom het. Ook dié van haar: intieme oomblikke wat sy nooit met ’n man sou deel nie, wat hy net op een manier kon geneem het: met ’n versteekte kamera. In die badkamer het sy dit gekry, agter die gaatjie in die dak en nog een in die kas regoor die bed waarin hulle geslaap het.
Hy kon haar woede nie verstaan nie. “Dis kunsfoto’s,” het hy gesê, “ongestileer, natuurlik, sonder fieterjasies. Jou gesig is nie eens duidelik nie.”
“Vlieg in jou moer in,” het sy gesê en uitgetrek, die koevert met negatiewe in haar handsak.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS