Uittreksel: Spieëltjie, spieëltjie

Hoofstuk 1

KOOP HIER | BUY HERE
Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël ... Doktor Olaf Demeyer herstel nog van sy vierdubbele hartomleiding en die trauma van vorige ondersoeke waarby hy betrokke was. Om die waarheid te sê, hy moes lankal aftree as forensiese profileerder van die SAPD. Maar dan kom vra Lucida Winterbach sy hulp. Sy glo ’n moordenaar teiken studente van haar Elegant Queens Academy, ’n skool vir skoonheid en modelwerk. Al die meisies is minderjarig, met blinkoogdrome van skoonheidstitels en modelkontrakte. Tot van hulle naak op die bodems van swembaddens in die omgewing gevind word. Olaf se lewenslange beskermingsdrang teenoor die weerloses motiveer hom om gehoor te gee aan haar versoek. Gou besef hy egter dat dit hier gaan oor soveel meer as die feite en bewyse wat ’n mens kan sien en hoor. Olaf twyfel aan sy oordeel en instinkte. Hy word geteister deur verwronge beelde van die meisies en homself. Uiteindelik weet hy: Ons sal altyd alles slegs ten dele ken, en ons moet ’n manier vind om elke dag saam met dié wete te leef. Vir Olaf is dit daardie wete wat dreig om hom na jare in die bedryf van sy kop af te dryf.

Die gastehuis se swembad is ’n onheilspellende, donker spieël waarin die volmaan weerkaats.
Dink nou nugter, sê hy vir homself toe die hemelse lyf ’n paar tree van hom af net in haar swart kantonderklere in die water verdwyn.
Jy is ses en twintig, nie meer elf nie. Cat is dertig en sy kan swem. Dit is ’n swembad wat gereeld deur die gaste gebruik word, nie ’n rietvlei nie. Groen voetvangers wat jou in die modder sal vang, is net ’n grootmensbangmaakstorie.
Cat se jeans, wat hy moes help uittrek omdat dit so styf pas, lê omgedop op ’n hoop by haar sandale langs sy voete. Haar T-hemp lê ’n tree verder op die grasperk. Sy is skaars in, nogtans voel dit vir hom soos minute. Vrese oor wat dalk nou op die bodem met haar gebeur, laat sy kop duisel.
Hy kyk op sy waterdigte Victorinox-horlosie. Tien minute en ses sekondes ná elf. Sy maag draai diep. Alles hier in die gastehuis se agterplaas voel skielik vir hom dood.
Die geel heliumballon wat aan ’n boomtak vashaak, is die laaste getuienis van die skoonheidskompetisie wat vroeër vanaand hier gehou is. Die musiek en die stemme is stil, deelnemers en gaste is huis toe of het hulle na die gastekamers onttrek. Die ligte hier in die agterplaas is reeds afgesit. Slegs in enkele kamers brand lig agter gordyne.
Die wateroppervlak ontplof meteens. Cat skiet in die lug op, val terug op haar rug en skop tot in die middel van die swembad. Duidelik het sy nou alles uitgetrek.
“Hou jy van wat jy sien, pastoor Winterbach?” Haar lang swart hare kleef om haar kop.
Hy spring orent en gryp die handdoek wat oor die tuinstoel se rugleuning hang. “Was dit nodig om so lank onder die water te bly?”
“Ek dog jy gaan my kom rescue.” Sy stoot die slierte agter haar ore in. “Jy kan steeds kom. Ek het ’n kramp in my kuit.” Sy strek ’n lang been in die lug uit.
Hy skop sy skoene uit. Sy langbroek val oor sy enkels. Sy hemp vlieg oor sy kop. Net sy waterdigte horlosie en swart Speedo bly aan.
Cat sak tot by haar ken in die water weg.
Sy hart stamp-stamp terwyl hy sy voete op die eerste trap in die water steek. Tweede trap. Daar is net een manier om ’n fobie te oorwin, het sy sielkundige gesê. Bedink die situasie kalm en logies. Loop die fobie trompop, tree vir tree. En beloon jouself agterna.
Selfbeloning is van kardinale belang, Luca.

KOOP HIER | BUY HERE
Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël ... Doktor Olaf Demeyer herstel nog van sy vierdubbele hartomleiding en die trauma van vorige ondersoeke waarby hy betrokke was. Om die waarheid te sê, hy moes lankal aftree as forensiese profileerder van die SAPD. Maar dan kom vra Lucida Winterbach sy hulp. Sy glo ’n moordenaar teiken studente van haar Elegant Queens Academy, ’n skool vir skoonheid en modelwerk. Al die meisies is minderjarig, met blinkoogdrome van skoonheidstitels en modelkontrakte. Tot van hulle naak op die bodems van swembaddens in die omgewing gevind word. Olaf se lewenslange beskermingsdrang teenoor die weerloses motiveer hom om gehoor te gee aan haar versoek. Gou besef hy egter dat dit hier gaan oor soveel meer as die feite en bewyse wat ’n mens kan sien en hoor. Olaf twyfel aan sy oordeel en instinkte. Hy word geteister deur verwronge beelde van die meisies en homself. Uiteindelik weet hy: Ons sal altyd alles slegs ten dele ken, en ons moet ’n manier vind om elke dag saam met dié wete te leef. Vir Olaf is dit daardie wete wat dreig om hom na jare in die bedryf van sy kop af te dryf.

Hy waad nader aan Cat. Die water raak dieper. ’n Gevoel van bodemloosheid laat hom paniekerig tot in haar arms swem. Hy stuur haar teen die kant vas sodat hy met een hand aan die wal kan hang en sy ander hand oor haar fris kaal bors kan kelk. Haar gladde bene omsingel hom. Maar dan voel hy ’n roering teen sy kuit. Vingers kruip koud om sy enkel. Hy gil in Cat se gesig en stamp hom weg van haar. In die proses skop sy voete ’n liggaam raak. Hy ruk sy bene op. Histerie breek in hom los terwyl hy teen die kant uitklouter en op die skurwe plaveisel val. Al kruipende skuur sy knieë en elmboë nerfaf. Op die grasperk sukkel hy sy langbroek aan.
Cat hang nog aan die kant.
“Daar is iemand op die bodem,” sê hy.
Sy verdwyn onder die water.
“Cat!”
Die water is te donker om te sien wat gebeur, maar die stringe borrels voorspel vir hom niks goeds nie. “Help!” roep hy oor sy skouer.
Vir ’n tweede keer breek Cat deur die oppervlak, dié keer met ’n ewe naakte meisie in haar arms.
Hy dwing homself om langs die kant te gaan kniel. Sy lig die meisie op, sodat hy sy hande onder haar oksels kan instoot en haar uit die water tel. Die meisie is klein en skraal gebou, maar dooiegewig in sy arms.
Hy lê haar op haar rug op die grasperk neer. Sy is ’n tiener, volryp ontwikkel. Met ’n skok herken hy haar.
“Is dit Zaydi?” vra Cat, terwyl sy by die trappe uit die water klim.
“Dis Zaydi, ja.” Wenner van die Miss Teen Wolf Look Alike Pageant.
Met sy hand onder haar nek, knak hy haar kop agteroor. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe Cat na die seilstoele nael en haar afdroog.
Sy vingers vind geen polsslag in Zaydi se nek nie. Daarom druk hy haar neus toe en pas sy mond dig oor haar koue lippe. Hy proe chloor en ’n vreemde, bitter smaak in haar mond. Een lang asem in. Teug diep. Blaas nog ’n asem in. Met sy palms op haar borskas doen hy ’n klompie ferm drukke.
’n Bietjie water spat uit Zaydi se mond, maar sy toon geen verdere reaksie nie. Hy hoor hoe bel Cat die nooddienste. Iemand skakel die buiteligte aan. Die swembad verhelder ook. Hy hoor mense naderkom. Steeds reageer Zaydi nie.
Iemand kom gooi ’n deken oor haar onderlyf. Hy hou aan met die mond-tot-mond-asemhaling totdat hande hom van haar wegtrek. Cat, nou ten volle geklee, beur hom eenkant toe terwyl die paramedici op Zaydi toesak. Asseblief, Here, bid hy in sy binneste. Net nie vanaand nie. Asseblief, nie vanaand nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS