So lyk 'n vrou

Uittreksel: So lyk ‘n vrou …

Inleiding

KOOP HIER | BUY HERE
Bart, die aantreklikste ou in haar matriekklas, soen Esli uit haar vel. Vir meer as veertig jaar deel hulle hul lewens, maak saam kinders groot en sien om na vriende en familie. Jaarliks vier hulle Kersfees in Kleinmond met geskenke en trifle en stappies langs die see met hul worshond. Maar hoekom val Bart se broer uit ’n boom voor Esli se ouerhuis? En watter donker geheim is onderliggend aan Bart se ma se vreemde gedrag en onfatsoenlike grappe? Wat dink kollegas van Esli se haarstyleksperimente en panda-oë? Verdien sy om in die spaarkamer te skuil omdat sy, volgens Bart, aand na aand die kos brand en die hond se pote laat nat word as dit reën? In So lyk ’n vrou... vertel Ilse Verster van Esli se heelwording en hoe sy, ná ’n leeftyd van mishandeling, in ’n rooi rok op die strand kon staan met een vuis in die lug en vry kon voel. Sy gee stem aan ’n stukkende vrou wat net wil hê die pyn moet stop. Sy deel wat dit verg om jou teen die muur op te trek, jou teen die samelewing te handhaaf en jouself te red.

Ek wou nie na die Swart Hond-konsert toe gaan nie. Ek wou ook nie alleen wees nie. Maar my man het my gelos, my kinders is weg en my hond is dood.
Buitendien, hoekom sou ’n depressielyer na ’n bewuswordingskonsert vir depressie gaan? Ek hoef nie daarvan bewus gemaak te word nie, ek wéét. Na verskeie male se verblyf in klinieke het ek geen illusies oor myself meer gehad nie. Maar daar is dit. Die Swart Hond-konsert in Jacobsbaai. Nadat ’n skrywersvriend iemand aan selfdood verloor, besluit hy om ’n ondersteuningsveldtog vir persone met depressie van stapel te stuur. Die konsert is die amptelike bekendstelling van die veldtog. Ek ken die Weskus. Dis my hartland, my moeder is daar gebore. Maar in November van 2017 was dit nie ’n plek waar ek wou wees nie. Jacobsbaai met sy swart rotse en Desember se huilwinde. Alles in my het teëgeskop. Soos teen my skrywersvriend wat bel die oggend toe die vervoerwa kom om my kind se trek te laai en die laaste van my huisgesin van my weggaan, en nie “nee” vir ’n antwoord wil vat nie. En my finansies wat nie voorsiening maak vir ’n vakansie nie. Ek wou by my man en my kinders wees. Ons gewone Kersfees op Kleinmond vier met geskenke en trifle en stappies langs die see met my worshond.
Ek sal doodgaan van hartseer en ellende op Jacobsbaai. Ek kan nie ophou huil nie. Ek kan niks vir myself of vir die skrywer beteken nie. Hoe gaan troos ek hom as ek self nie meer vorentoe wil gaan nie?
En tog het ek gegaan. En daarmee my voete op ’n nuwe pad gesit waar daar genesing en heelwording was soos wat ek nooit kon voorsien nie. Hierdie is my storie. Ek is Esli Liebenberg. Ek is ’n slagoffer van geweld. En voor jy dink: Ag nee, nie nog ’n middeljarige vroutjie met ’n martelgat-klaaglied oor ’n ongelukkige huwelik nie, kom loop saam met my die pad van heling. Want dit is waaroor my storie gaan; nie hoe om tot op die vloer geslaan te word nie, maar hoe om, nadat jy die bloed opgevee en klaar gekots het, jou teen die muur op te trek, jou teen die polisie en samelewing te handhaaf, en jouself te red.
Veral hoe om jouself te red. In die hoop om ’n stem te wees vir een stukkende vrou wat iewers in ’n kamer sit en dink die enigste oplossing is om net die pyn te stop. Om net dood en weg te wees, want jy lewe al jare lank nie meer nie.
Die Vader weet, ek het nie geweet wat ek doen nie. Of hoekom ek doen wat ek doen nie. Hoekom ek jare lank in ontkenning geleef het en myself oortuig het dat daar niks verkeerd is met my huwelik en my man nie; die foute lê by my. Iewers moet daar iets wees wat ek kan doen om die probleme op te los, iets wat ek aan myself kan verander om alles beter en reg te maak. Die probleem lê mos nie by hom nie, hy is altyd reg. So het ek vir myself ’n lewe van hel geskep. Twee en veertig jaar saam, ses en dertig jaar getroud. Omdat ek gedink het dit is liefde. En dit is maar hoe alle huwelike is. Mag andere hieruit leer.


Proloog

Toe ek probeer wegkom, kom die houe van agter af, tussen my ribbes. ’n Harde stamp druk my in die hoek van die kamer vas. Ek voel hoe sy vingers die hare agter my kop vasgryp. Die volgende oomblik tref my kop die muur voor my so hard dat sterre spat. Die ystersmaak van warm bloed vul my mond. Die houe neem toe in intensiteit. Ek hoor ’n veraf dreuning.
“Here, help my, asseblief!” Nog ’n hou.
“Fokken teef. Vanaand maak ek jou vrek!”
Met jou aanvaller agter jou en ’n muur voor jou is jy hulpeloos. Hy kap my kop weer en weer teen die muur totdat my bene onder my begin invou. Bloedsmeersels sit teen die wit muur. Die intensiteit van die sterre neem toe; hulle skiet van die middelpunt van my brein uit na die buiteruim van my bewussyn. Dit verander van kleur, van silwer na rooi, voor dit pers uitbrand. Dit begin donker word om my. Here, ek kan nie bewusteloos raak nie, asseblief, laat dit stop. Die dreuning kom nader; dit word ’n rammel wat met verblindende pyn toeneem.
Een verkeerde hou. My lewe rol by my verby soos tydens die ongeluk. Ek sien die staalraam van die deurkosyn langs my kop. Die houe hou aan. My knieë knak. Moenie val nie, Esli. Moenie val nie. As jy val, is jy dood, praat ek met myself. Moenie uitpass nie, probeer wegkom. Ek ruik sy asem; die vrot suur van drank en sigarette. Woorde slaan teen die mure vas. Skreeue. Vloeke. Met elke hou spoel woorde vol gif en haat en woede oor my. Dis asof ek die woorde kan sien; dit ontplof om my soos flares in ’n nagsee.
“Jou hoer, hoe vinniger jy jou goed vat en fokkof hoe beter vir almal. Fokken suurstofdief. Simpel koei!”
Ek voel hoe ek begin sweef. “Moenie val nie, Esli. Moenie val nie.” My ma se stem. Is sy dan hier? Ag Here, asseblief nie, sy gaan ook seerkry. “Moenie val nie, Esli!” Nee, haar stem is ver weg, agter die dreuning. Die mure begin tuimel. Die swart kom nader. Ek wil skree. Bloed spat teen die wit muur voor my.
Ek probeer by die deur kom. Dan val ek in die gang voor die kamerdeur. Skoppe. Tussen my ribbes. Ek krul op soos ’n baba, probeer my kop vashou. Skoppe teen my boude, my bene.
“Here, help my asseblief.”
Die donker begin oor my rol soos water, water wat brand waar dit aanraak. My vel. My hare, my kop, my ribbes. Ek hoor hoe die kamerdeur toegeslaan word en die sleutel in die deur draai. Ek kruip in die gang af. Die pynbrander rol my uit op die strand. Alles word swart. Ná ’n ruk kom ek by. Kruip tot by die bed. Kry myself regop. “Moenie val nie, Esli, bly regop!” Weer my ma se stem.

KOOP HIER | BUY HERE
Bart, die aantreklikste ou in haar matriekklas, soen Esli uit haar vel. Vir meer as veertig jaar deel hulle hul lewens, maak saam kinders groot en sien om na vriende en familie. Jaarliks vier hulle Kersfees in Kleinmond met geskenke en trifle en stappies langs die see met hul worshond. Maar hoekom val Bart se broer uit ’n boom voor Esli se ouerhuis? En watter donker geheim is onderliggend aan Bart se ma se vreemde gedrag en onfatsoenlike grappe? Wat dink kollegas van Esli se haarstyleksperimente en panda-oë? Verdien sy om in die spaarkamer te skuil omdat sy, volgens Bart, aand na aand die kos brand en die hond se pote laat nat word as dit reën? In So lyk ’n vrou... vertel Ilse Verster van Esli se heelwording en hoe sy, ná ’n leeftyd van mishandeling, in ’n rooi rok op die strand kon staan met een vuis in die lug en vry kon voel. Sy gee stem aan ’n stukkende vrou wat net wil hê die pyn moet stop. Sy deel wat dit verg om jou teen die muur op te trek, jou teen die samelewing te handhaaf en jouself te red.

Sleutels – ek kort die hek se afstandbeheerder. Dan begin ek beweeg. Die hek gaan voor my oop. Ek is in die straat. Voor die bure se hek. “Lillie, Lillie, help my.” My stem is skril. Mense, stemme, branders wat aanhou dreun. Blou ligte in die straat. Polisie. Hulle klim uit. Nog woorde: “Ons is hier. Moenie worrie nie. Waar is hy?”
“In die huis.”
“Is hy gewapen?”
“Nee, maar daar is vuurwapens.”
“Waar?”
“In ’n kluis.”
Terug in die huis. Kamerdeur gesluit. Polisie met vuurwapens voor die deur: “Maak oop of ons skiet die deur af!” Drie maal.
Hy maak oop. “Sy het my eerste aangerand. Ek wil ’n klag lê.” Hy draai om. Hy het tydens die aanval ’n hemp aangehad. Nou is hy kaal bolyf. Twee L-vormige snye lê oor sy blaaie; die bloed syfer daaruit. Hy moes dit met sy knipmes gedoen het: af na onder, uit na die kant, sodat die letters teen mekaar staan.
Spieëlbeelde … Die bloed vorm stippellyne pleks van soliede snye, asof die wapen nie stabiel was nie. Die scenario het al vantevore in hierdie huis afgespeel. Elke keer probeer hy die polisie oortuig dat ek hom eerste geslaan het.
“Dan moet ons julle al twee arresteer.”
“Die Wet op Gesinsgeweld sê julle mag my nie in die nag arresteer en uit die huis verwyder nie. Julle kan môreoggend terugkom daarvoor. Ek bel nou vir Dirk Vosloo. Hy is my prokureur. Wil julle self met hom praat?”
Hierdie keer ken ek my regte.
Die polisie kyk na mekaar. Besef die uitsteltaktiek gaan nie dié keer werk nie. Hulle laai hom voor in die voertuig tussen hulle.
“Sy insulien, hy is ’n diabeet,” sê ek. “Fok jou, teef,” skree hy toe hulle sonder die insulien wegry.
Terug in die spaarkamer. Skok tree in. Bewerasie, naarheid. Die huis klink hol. Ek hoor iemand huil. Tyd staan stil. Ek sit. Dreunende klanke en pyn.
Harde klappe teen die kamervenster laat my skrik. Sy broer Hannes se stem: “Esli, maak oop!” Daar is ’n vreemde vrou saam met hom. Sy kyk na my met minagting. Hy stap verby my.
“So lyk ’n vrou wat met haar man kak soek,” sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS