Skilderkrans

Uittreksel: Skilderkrans

1
Burgersdorp, Noordoos-Kaapkolonie:
winter 1898

Magdalena probeer nie opkyk na die koppie ’n ent van die huis nie, maar sy kan haar nie weerhou nie. Laatmiddag, en hy sit al weer daar, vandag op die kruin sodat sy silhoeët afgeëts is teen die blou lug. Dis vandat die stories oor die oorlog begin het dat hy die koppie weer uitklim.
Sy keer die emmer skille vir die varke in die trog uit, kruis haar arms en vryf oor haar boarms. Die koue kruip reeds oor die karoobossies nader. Sy moet ’n warm ding gaan soek om aan te trek.
Alles was makliker toe haar ma nog geleef het. Saans het haar pa aan tafel met haar gesels oor sy dag en sy planne vir môre. Hulle het min of meer geweet wat in sy kop aangaan. Nou praat hy nie, en is sý die een wat die huis aan die gang moet hou.

KOOP HIER | BUY HERE
Dit is 1899. Oorlog tussen Brittanje en die Boere Republieke lyk onafwendbaar. Magdalena se familie verlaat die Kaap Kolonie vir die Oos-Vrystaat sodat haar pa vir die Republieke kan baklei. Jacobus se familie, en sy vriend Henog, is weer op pad Kolonie toe, juis om die oorlog te probeer ontglip. Die twee trekke se paaie kruis by die Leeurivier, ’n ontmoeting wat ’n onherroeplike invloed op die res van Magdalena, Jacobus en Henog se lewens sal hê. Van hulle vestiging op Nooitgedacht tot die eerste skote by die Slag van Stormberg, van guerrilla-oorlogvoering met die Boere kommando’s, tot die Britse verskroeide aarde beleid, van die konsentrasiekampe tot die poging om te hervestig na die oorlog; deur alles en meer sal hulle ’n pad moet oopkap om hul plek in hierdie onstuimige land te vind. J.J. Olivier is ’n debuutskrywer en het baie navorsing oor die Anglo-Boeroorlog gedoen.

Sy moes verlede jaar weggegaan het toe sy nog kon. Toe ou meneer Forbes gesê het sy is so flink dat hy vir haar ’n werk kan kry in sy broer se prokureursfirma op Queenstown. Dalk kan sy nog leer om self ’n prokureur te word.
Sy kry lag. Daar is nie vrouens wat prokureurs is nie. Maar dalk. Dalk kan sy later na ’n groot plek toe gaan: Oos-Londen, of die Baai. Miskien was dit haar laaste kans om uit die dorp en distrik weg te kom.
Sy het planne gemaak. Maar die brief waarmee ou meneer Forbes haar gehelp het, lê nou in haar trommel. Soms haal sy dit uit en kyk na haar eie netjiese handskrif. Sy hoef dit nie te lees nie, want sy kan die woorde uit haar kop opsê.
Wat sou gebeur het as sy dit gepos het? Sy sug. Nou moet sy haar pa se genadebrood eet.
Terug in die warm huis skink sy koffie uit die kan op die stoof en gaan sit op die stinkhoutstoel langs die tafel. Sy teug. Kasaterwater. Sy moes dit nog laat trek het. Sy vryf oor die skoongeskropte tafelblad. Teen die muur staan ’n skottel op ’n kleiner tafel. Daar is potte op ’n rak onder die blad. Kombuisgereedskap hang aan hake teen die muur. Die vloer is onlangs weer met mis gesmeer. Ester het haar mooi gehelp. Verder bloekomstutte en ’n rietplafon. Die klei bo-op help darem om die hitte binne te hou in die ysige winters van hierdie deel van die Kolonie.
Sy laat haar asem stadig uit deur saamgeperste lippe. Is dié huisie en na die kinders kyk haar voorland? Sy sluk die laaste van die kasaterwater, stap buitetoe en voel eers aan die wit tafeldoek, al weet sy dit sal al droog wees.
Buite is dit geniepsig. Sy haal die tafeldoek af en gooi dit oor haar skouer. Onwillekeurig kyk sy op na waar hy sit. Die koue sal hom wel binnekort terugdryf huis toe. Sy sprei die doek oor die tafel en begin dek. Haar ma se wit porseleinborde. Dis wat haar ma elke aand gedoen het. Dit is wat sý ook elke aand gaan doen.


Toe hy inkom, maak Louis Fourie die deur versigtig agter hom toe. Hy hang sy hoed aan die haak langs die deur en gaan sit op sy plek aan die kop van die tafel. Die vel is lig waar die hoed dit beskerm, laer af is hy donkerbruin gebrand.
Magdalena kyk onderlangs in sy rigting. Haar pa, die energieke man wat alles kan doen. Maar sedert haar ma weg is, lyk hy gedaan.
Sy lig die boud uit op ’n bord en gebruik die aftreksel in die pot om sous te maak. Terwyl sy ’n ogie oor die rys hou, steek sy die paraffienlamp op. Sy kan nie glo hoe besig sy deesdae is nie. Kosmaak, wasgoed, huis skoonmaak, gate in die seuns se klere stop. Haar pa weier om hulp te kry en sê haar ma het dan nooit hulp gehad nie.
Maar sy het haar ma gehelp voor sy in die dorp gaan werk het. Gelukkig kan Ester haar darem ’n bietjie bystaan, al is sy nog baie jonk. Die seuns? Wel, hulle is seuns. Altyd buite in die veld. Skyfskiet, perdry en jag, eerder as werk. Daarvoor moet haar pa en die werkers pa staan. Nee, die twee oefen eerder om akkuraat uit die saal te skiet. Af te spring en oor ’n klip aan te lê. Kopskote.
Een vir een kom die kinders aansit. Eers Ester wat besig was met skoolwerk. ’n Lap hang as afskorting van een van die dakbalke om haar en Ester se slaapplek van die kombuis te skei. Hier staan ’n tafeltjie met die Bybel op. Sy probeer elke aand ’n stukkie by die flikkerende kers lees, eintlik soek sy versies wat haar pa nooit aan tafel lees nie.
Dan kom Mattewis en Markus sit. Hulle vroetel soos sulke jongetjies maar doen. Haar pa sou natuurlik ’n Lukas en ’n Johannes ook wou gehad het, maar alles het anders verloop.

Sý gaan beslis nie gou kinders kry nie.
Magdalena staan en wag dat haar pa moet bid, maar hy staar na die tafel asof hy in ’n droomwêreld is. Die vleismes is in haar hand gereed om aan te gee sodat hy kan sny.
Meteens klap hy met sy plat hand op die tafel en die kinders raak stil. Almal se oë is nou op hom gerig.
Sy stem is sag, amper fluisterend: “Kinders . . . ons trek die einde van volgende maand Vrystaat toe.” Hy kyk vir ’n oomblik direk in haar oë, en verskuif sy blik dan na die ander kinders.
“Ek gaan Strydpoort verkoop. Ek gaan die meeste goed romp en stomp verkoop. Net van die beste vee uithou. Alles verkoop wat nie noodsaaklik is nie.”
Sy klem die handvatsel van die mes vas dat die kneukels wit wys. Haar mond gaan oop, maar daar kom geen geluid uit nie.
“Ek het vir oom Etienne in die berge daar anderkant Ladybrand geskryf en hy sê, dis goed, ons kan by hulle op die plaas kom bly. Sy bywoner het al ’n paar maande gelede weggetrek en ons kan die huis kry. Die plaas is groot genoeg vir twee gesinne. Ons sal dan saam op kommando gaan as die oorlog dalk kom. Hy sê die vrouens kan na mekaar kyk as hulle op die plaas agterbly.”
Magdalena tree in haar pa se rigting. Lig die mes op en beduie. “Ek gaan nêrens, Pa. Ek bly net hier.”
“Sit die mes neer, Magdalena!”
Sy kyk na die mes asof sy dit vir die eerste keer sien en sit dit op die tafel neer. Dan sak sy neer op haar stoel, waar haar ma altyd gesit het.

Sy oë is steeds op haar. “Ek het die plaas verkoop, Magdalena. Ek het die plaas verkoop aan oom Sandy Stevenson. Hy sal mooi daarna kyk. Hy wil hê sy seun David moet hier kom boer.”
Sy staar na haar hande, die hande wat haar ma altyd regstaan-hande genoem het. Stadig kyk sy op in haar pa se gesig.
Daar is ’n harde uitdrukking om sy mond. “Dis my plaas, Magdalena. Solank jy onder my dak is, is ek die baas hier en besluit ek wat die beste vir almal is. En dit sluit jou in . . .”
Die ou korrelkop. Sy sal hom liewer nie nou teëgaan nie, dalk later wanneer die ander nie by is nie.
Dit klink vir haar asof sy stem van vêr kom.
Hy begin kalm, maar raak al heftiger. “Ek gaan nie langer onder die Engelse bly nie en ek wil ook nie dat my kinders langer onder die Engelse bly nie. Ek het genoeg gehad van kniebuig voor hulle. Ek het nog altyd teen hulle gebaklei. Teen wat hulle aan ons doen. Oor die taal. Oor álles!”
Die stoel maak ’n groef in die misvloer toe hy dit terugskuif. Hy spring op sodat die stoel agteroor val en die leuning teen die vloer klap. Hy leun vooroor en slaan met sy vuis op die tafel. “Kyk, daar staan die monument op die dorp se plein. Ek en oom Daantjie-hulle het minstens seker gemaak ons mag Hollands in die Parlement gebruik. Ons eie taal. Maar die Engelse wil altyd nóg meer hê! Nou wil hulle die republieke vat. Gee kwansuis allerlei redes, maar hulle het reeds die diamantgeld van Kimberley in hulle sakke gesteek, nou wil hulle Kruger se goud in die Transvaal ook inpalm. As hulle eers daar is, gaan hulle ons taal doodmaak, alles wat ons het, doodmaak! Ons moet gaan veg teen die donners!”

KOOP HIER | BUY HERE
Dit is 1899. Oorlog tussen Brittanje en die Boere Republieke lyk onafwendbaar. Magdalena se familie verlaat die Kaap Kolonie vir die Oos-Vrystaat sodat haar pa vir die Republieke kan baklei. Jacobus se familie, en sy vriend Henog, is weer op pad Kolonie toe, juis om die oorlog te probeer ontglip. Die twee trekke se paaie kruis by die Leeurivier, ’n ontmoeting wat ’n onherroeplike invloed op die res van Magdalena, Jacobus en Henog se lewens sal hê. Van hulle vestiging op Nooitgedacht tot die eerste skote by die Slag van Stormberg, van guerrilla-oorlogvoering met die Boere kommando’s, tot die Britse verskroeide aarde beleid, van die konsentrasiekampe tot die poging om te hervestig na die oorlog; deur alles en meer sal hulle ’n pad moet oopkap om hul plek in hierdie onstuimige land te vind. J.J. Olivier is ’n debuutskrywer en het baie navorsing oor die Anglo-Boeroorlog gedoen.

Hy skep ’n slag asem.
Dis meer woorde op een slag as wat hy die afgelope paar maande gepraat het. So nou is dit weer hy en oom Daantjie wat die monument op Jubileumplein opgerig het.
“Ek het nie gister hieroor besluit nie.” Nou is hy onkeerbaar. “Ek het lank daaroor gedink. Ek het baie gebid daaroor, daar bo op die koppie het ek met die Here gevra om my leiding te gee. En Hy het. Dis die Here se wil. Dis hoe dit is.”
Hy bly ’n paar oomblikke stil, sy blik stip op Magdalena. “En Magdalena, jy kom saam met my. Jy moet my help om die kinders groot te kry. Soos die Bybel sê: die kinders moet hulle vaders eer. En as ek so na jou kyk, dan het jy dit vergeet. Dis tyd dat jy ook met die Here se woord in jou hart loop.”
Sy hou sy blik ’n oomblik voordat sy afkyk en ’n denkbeeldige streep met haar vinger oor die skoongeskropte hout van die tafel trek. As hy so is, moet sy hom los dat hy klaar praat.
“Jy moet luister, Magdalena: ja is ja, en nee is nee. Ek het klaar gepraat.”
Eendag sal sy net opstaan en uitloop. Maar nie nou al nie, Ester sal sukkel so op haar eie. Sy help ook dat die seuns nie heeltemal wild raak nie.
“Kan Pa bid, asseblief? Die kos is besig om koud te word.”
Hulle eet eers in stilte, maar stadigaan begin die seuns ontdooi. Hulle raak opgewonde oor al die avonture wat wag.
Dan dek sy en Ester af. Dis tyd vir boekevat. Toe Ester die Bybel wil gaan haal, druk Magdalena haar hand op haar skouer en loop dan self na haar pa en broers se slaapplek. Sy staan en kyk na die dubbelbed. Is sy hier verwek net om sy wil uit te voer? Tot onlangs het sy haar eie geld verdien en goed gevaar in haar werk, daarna uitgesien om weg te gaan en haar eie pad te loop.
En nou?
Sy tel die verslete Bybel van die kassie op. Haar pa het stukkies papier ingedruk wat soos tongetjies aan die bokant van die bladsye uitsteek by versies wat hy kan gebruik om hulle na sy wil te buig.
Hy sal die Bybel by haar vat en dit stadig oopmaak by een van die tongetjies. ’n Stukkie lees. En weer en weer soek tot hy ’n versie kry wat bewys dat hulle gehoorsaam moet wees, anders sal God se toorn op hulle neerdaal. Hy sal baie stadig en met nadruk lees en hulle sal met geboë hoofde sit en luister soos van hulle verwag word.
’n Weerligstraal deur haar kop: miskien moet sy dit beëindig. Net hier. Sy lig die Bybel met die gebinde kant bokant die kers en laat dit tot in die vlam sak. As sy die boek uitbrand, sal die woorde dalk ook weggaan, vir ewig in as en roet. Dis net papier. Dan pluk sy die boek weg, maar nie voor daar ’n swart kol op die band verskyn het nie. Die reuk van brand hang liggies in die kamer.
Sy waai met haar hand. Loop sit die boek voor haar pa neer.
Met sy geëelte regterhand voel hy oor die band wat nog warm moet wees. Dan kyk hy na die roetigheid wat op sy vingers agtergebly het. Sy kyk stip na die geskropte tafel, maar hy sê niks nie, draai die boek net met die voorblad na sy kant toe. Laat dit oopval by ’n tongetjie. Lees. Soos altyd. Al sy aandag met ’n diep frons by die boek. Laat dit dan oopval by nog ’n tongetjie.
Nog ’n papiertjie wat vir haar tong uitsteek.
Hy steek vas en knik stadig. Soos altyd: wie soek, sal vind. Hy vee die boek met beide hande plat op die tafel en sy stem is sterk en afgemete toe hy met sy oë op skrefies begin lees:
“Eer jou vader en jou moeder.”
Sy kan die soutsmaak van trane op haar lippe proe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS