Skadumagte

Uittreksel: Skadumagte

Een

KOOP HIER | BUY HERE
’n Jong, roekelose joernalis ondersoek die moord van ’n regter. Dit lei haar na oud-Recces met griewe oorlewingskampe ’n geheime organisasie genaamd Die Beskermers wraak intimidasie en verskeie moorde.

Skrik is ’n sirene sonder klank. Daar was iets. Wat? ’n Geluid of ’n teenwoordigheid? Doodstil lê sy en wag dat haar oë aan die donker kamer gewoond raak.
Die alarm. Het haar man dit gestel ná hul terugkoms? Hy vergeet alewig.

Sy verbeel haar sy het die twee rottweilers vroeër hoor blaf, een het ’n kort tjank gegee, maar hulle was gou weer stil. Hulle moes gaan kyk het. Langs haar slaap haar man sy roes af. Kort-kort gee hy ’n ligte snorkie. Hulle het die aand tot laat by vriende gekuier en veral hy het meer as gewoonlik gedrink.

Iets is nie pluis nie. Sy voel dit aan, alles is grafstil. ʼn Indringer. Sy stamp aan PG en fluister: “Hier’s iemand in die huis.”
Sy moet weer stamp voordat hy reageer. Harder.
“Huh? Wassit Maxine?”
“Hier is iemand in die huis.”
Benoudheid laat haar keel toetrek. Dit ruik na iemand anders as haar man. Gevaar wat die huis binnegedring het.
“Niemand kan inkom nie,” protesteer hy vies en deur die slaap. “Die honde sal keer.”

Maxine gil toe ʼn donker gedaante meteens langs haar kant van die bed staan. Hy pluk haar hardhandig uit die bed en gooi haar op die vloer neer. Sy val hard op een elmboog en pyn skiet deur haar arm. Sy gil weer en hy skop haar seer in haar ribbes. Wild van paniek kruip sy van hom af weg. In die donker kamer kan sy net-net uitmaak dat die indringer se kop snaaks lyk. ʼn Sykous druk sy gesig plat.
“Wat soek jy?” hoor sy PG se verskrikte stem aan die ander kant van die bed; op die vloer. “Vat wat julle wil hê. Moet ons net nie seermaak nie.” Hy huil omtrent.

Blitsig beweeg die indringer om die bed. Sy hoor ’n harde klapgeluid en PG skree van pyn. Veg terug, moenie net daar kruip en smeek nie, wil sy skree.
“Ek sal vir jou . . . geld gee . . . moet net nie . . .” smeek hy. Daar is weer ’n harde klapgeluid en hy kreun.

As sy net kan wegkom, hulp kry, by die noodknoppie vir die veiligheidsmaatskappy kan uitkom, dink sy paniekerig. Hulle is veronderstel om te patrolleer, maar waar is hulle as ʼn mens hulle nodig kry! Waar is die waghonde wat hulle moet beskerm? Hoekom is hulle so stil? Sy probeer opstaan, maar sy pyn.

Die man is weer by haar. Sy trek haar een been terug en skop hom met al haar krag op die knie. “Hugh,” kreun hy en struikel.
Sy voel asof sy nie asem kan kry nie. PG is op sy knieë. Die man storm weer op hom af. Hy het ’n vuurwapen in sy hand en hy mik na PG se kop.
“Nee . . . moenie skiet nie!” gil hy, maar ’n gedempte skoot knal. Hy val om.
Oombliklik ’n aaklige reuk. Sy dink dis bloed wat sy ruik. Sy wil gil, maar sy kan nie. Lam van skok sien sy dat die indringer weer die vuurwapen op hom rig. Hy gaan seker maak dat PG morsdood is. Dan gaan hy háár skiet. Of eers verkrag, en voos slaan . . . vermink en verneder.
Here tog. Sy moet wegkom. Vrees gee haar die krag om op te spring en na die deur te vlug.

’n Gedempte knal word gevolg deur ’n brandpyn in haar arm. Sy val amper, maar kom tog uit, spring val-val by die trappe af. Weer hoor sy daardie gedempte knal. Nou hét hy PG doodgeskiet. Sy bereik die gastetoilet, glip in, sluit die deur. Krimp in die hoek terug. Haar hart rumoer, sy sweet, ’n gil sit in haar keel, reg om uit te bars as die agtervolger die deur oopskop. Haar arm is nat en verskriklik seer. Bloed loop, kielie tot by haar hand. Dit drup op die teëlvloer, en sy hou haar arm teen haar lyf. Kners op haar tande van die pyn. Nou raak die gewonde arm lam. Sy voel swak, naar, pyn oral.

Sy wag dat die deur oopbars, maar dit gebeur nie. Sy is beslis geskiet, en PG is twee keer geskiet, maar die sykousman moes ʼn knaldemper aan sy vuurwapen gehad het; niemand sou iets gehoor het nie. Sy moet by die noodknoppie in die gang kom om die veiligheidsmaatskappy te ontbied, maar sy durf nie uitgaan nie. Haar selfoon lê in die slaapkamer op die kassie langs haar bed.

Daar volg ʼn onheilspellende stilte. Sy wag bewend. Waar is die honde tog? Trane loop by haar wange af en by haar neus verby. Sy vee met haar een hand af, skeur toiletpapier af en vee weer. Ná ’n afgryslike ewigheid van pyn, spanning en vrees, maak sy versigtig die deur oop. Loer buitentoe. Waarom is alles so doodstil?

Sy sluip gangaf, hart rukkend in haar bors. Op die alarmpaneel brand nie één liggie nie. Die krag moet af wees. Sy druk die noodknoppie; verwag enige oomblik dat iemand haar gaan bespring. Skuifel verder na die studeerkamer. Ace Security behoort gou te kom. Hulle sal ook die polisie kontak. Sy sluit die studeerkamerdeur en wag ineengekrimp onder die lessenaar totdat sy voertuie by die hek hoor. Eers tóé spring sy op, sluit oop, hardloop hinkend na die kragbord. Voel aan die hoofskakelaar. Dit is af. Opsetlik afgeskakel. Vinnig druk sy die skakelaar boontoe en hardloop na die voordeur. Sit ligte aan so ver soos sy gaan. Die hek is wawyd oop. Ace Security se voertuig staan reeds voor die huis en die man met ʼn uniform, helm en baadjie wat koeëlvas lyk, staan en kyk na die huis.

“Waarom staan jy net daar!” skree sy histeries. “Waarom doen jy nie iets nie?”
Die outomatiese buiteligte het aangegaan. Die honde is nêrens. Waarom het PG tog nie die plek behoorlik laat beveilig nie? Dit was maklik om oor die muur te klim.
’n Polisievoertuig arriveer met flitsende blou ligte. Maxine was nog nooit in haar lewe so dankbaar om polisie te sien nie. “Kom gou!” skree sy vir die polisiebeamptes wat uit die voertuig klim. “ʼn Inbreker het ons aangeval en ons geskiet . . .”

Die twee polisiebeamptes kom aangehardloop. “Bly hier, Dame, ons gaan kyk eers. Dalk is die aanvaller nog binne,” sê een.
“Mevrou is gewond,” sê die ander een. “Ons moet ’n ambulans ontbied.”
“Nee, los my. Gaan kyk eers na my man. Ek dink hy’s doodgeskiet.”
Haar bene vou meteens onder haar in, sodat sy hard op die vloer sit-val. Die sekuriteitsman hurk by haar.

“Julle is useless,” beskuldig sy hom skril. Begin weer huil.
Iemand anders kom aangehaas – oom Arrie van oorkant die straat. Haar kop draai en sy voel naar.
“Jirretjie tog, Maxine, wat gaan aan?” vra hy en hurk by haar. Vat aan haar arm. “Jy bloei . . .”
“Bel . . . asseblief my pa-hulle, oom Arrie. Sê hulle moet dadelik kom.”

Die wêreld tol al vinniger en sy val die donkerte in.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS