Theresa_van_Baalen_Sanri_Steyn_Die_rustelose_mummie_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Sanri Steyn: Die rustelose mummie – Theresa van Baalen

Fiksie vir intermediêre lesers met ’n sterk fokus op humor en grillerige avonture.

Sanri is opgewonde toe sy hoor ’n rondreisende uitstalling met artefakte uit antieke Egipte gaan Raaiselfontein se museum besoek. Uiteindelik gebeur daar iets waaroor sy in haar koerant kan skryf! Maar dan begin vreemde dinge gebeur. Kan dit wees dat die mummie soms lewend word? En wat wil hy hê?

1

Interessante nuus

KOOP HIER | BUY HERE
Wat is die mummie se geheim?

Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees ... Superjoernalis Sanri Steyn.

Sanri hou nie juis van grillerige goed soos mummies nie. Maar sy is nogtans opgewonde toe sy hoor ’n rondreisende uitstalling met artefakte uit antieke Egipte gaan Raaiselfontein se museum besoek. Uiteindelik gebeur daar iets waaroor sy in haar koerant kan skryf!

Maar kort voor lank begin vreemde dinge gebeur. Hoekom lyk die mummie so vreemd op foto’s? Waarom draai iemand snags die dorp se standbeelde in toiletpapier toe? En waarom raak die kurator van die museum en sy dogter elke aand onverklaarbaar aan die slaap?

Sanri se neus begin kriewel. Kan dit wees dat die mummie lewend word? En wat wil hy hê? As Sanri se neus kriewel, moet jy weet hier kom ’n storie ... 

Die aweregse humor, lekker grillerige temas en fantastiese illustrasies in hierdie reeks sal seuns en meisies vasgenael hou! 

“Skool is so vervelig en voorspelbaar,” sug Sanri toe die klok lui. Sy tel haar tas op en begin ry toe stap. “Wanneer laas het hier iets interessants gebeur?”  

Markus trek sy skouers op. “Ek kan nie onthou nie.”  

Hulle gaan staan in die ry.  

“Raaiselfontein is net so vervelig en voorspelbaar die laaste tyd,” sug Sanri weer. “As dit só aanhou, sal die Raaiselfontein Gazette seker nooit weer verskyn nie. ’n Koerant is niks werd sonder interessante nuus nie.”  

Die Raaiselfontein Gazette is Sanri se koerant. Sy is die redakteur, die hoofjoernalis en die fotograaf. Eintlik is sy die enigste joernalis, want al het Markus haar al gehelp om inligting bymekaar te maak vir haar stories, het hy nog nooit ’n berig geskryf nie. Maar Sanri gee nie om nie. Sy hou daarvan om berigte te skryf. Sy oefen solank vir as sy groot is, want eendag gaan dit haar werk wees om ’n joernalis te wees. Haar naam sal op almal se lippe wees … superjoernalis Sanri Steyn. Sy sal stories uitsnuffel waar ander te bang is om hulle neuse in te druk.  

Die ry begin beweeg en hulle stap klas toe.  

Juffrou Booysen wag by haar tafel terwyl Sanri en haar maats by hulle tafels gaan staan.  

“Môre, klas,” groet juffrou Booysen toe almal uiteindelik stilbly.  

“Môre, Juffrou,” groet die kinders.  

“Dankie, julle mag maar sit.”  

Sanri rol haar oë. Só voorspelbaar! dink sy.  

“Voor ons begin … ek het ’n verrassing vir julle.” Juffrou Booysen glimlag terwyl sy dit sê.  

Sanri kyk verbaas na Markus. ’n Verrassing? Uiteindelik iets wat hulle nie verwag het nie!

“Soos julle weet, is Zinzi se pa die kurator van die museum,” praat juffrou Booysen verder.  

Almal se koppe draai om na Zinzi te kyk. Zinzi grinnik breed.  

“En die museum het pas ’n nuwe uitstalling bygekry. Die uitstalling sal van Vrydag af oop wees vir die publiek. Ons klas gaan Vrydagoggend om tienuur die museum besoek om daarna te kyk.”  

Juffrou Booysen bly stil toe almal gelyk begin praat.  

KOOP HIER | BUY HERE
Vier Sanri Steyn-stories in een omnibus! Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees ... Superjoernalis Sanri Steyn. Sy het nie verniet haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, begin nie. Op die dorpie Raaiselfontein beleef Sanri en haar beste vriend, Markus, allerlei vreemde avonture – as daar nie ruimtewesens oorkant die straat intrek nie, probeer iemand die hele skool se kinders in zombies verander! Die aweregse humor en lekker grillerige avonture in hierdie gewilde reeks sal seuns en meisies vasgenael hou! Vir die eerste keer is die eerste vier Sanri-stories nou in een lekkerlees-omnibus beskikbaar! Dit sluit in: #1: Doktor Zombos se geheime formule Sanri droom daarvan om eendag ’n joernalis te word – en toe sy en haar ma na die klein dorpie Raaiselfontein trek, besluit sy om haar eie koerant te begin. Die Raaiselfontein Gazette sal propvol opwindende nuus wees. Maar sommer gou vind Sanri uit alles is nie pluis op Raaiselfontein nie. Waarom tree almal so vreemd op? En wat het die lekkergoedfabriek daarmee te doen? Saam met haar nuwe vriend, Markus, besluit Sanri om die geheim te probeer ontrafel … # 2: Die aliens oorkant die straat Toe daar nuwe intrekkers oorkant die straat is, begin Sanri se neus kriewel – soos altyd wanneer sy ’n lekker sappige storie ruik. Hoekom trek die nuwe mense een nag tydens ’n woeste donderstorm in? Waarom ry hulle met so ’n vreemde borrelkar? En waarom tree die twee kinders met hulle silwerwit hare so snaaks op? Sanri is seker hulle nuwe bure is aliens. Sy moet net die bewyse kry, anders kan sy vergeet daarvan om ’n storie daaroor te skryf. # 3: Die seun met die superkat-kragte Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe seun in hulle klas ontmoet. Felix tree baie vreemd op – hy klouter oor mure, eet regte vissies op sy pousebrood ... en hy het ’n ongelooflike geheim! Kort voor lank is daar groot moeilikheid op Raaiselfontein. ’n Nare rotskurk en sy weermag van rotte beplan om die dorp oor te neem. # 4: Die spookmeisie van Raaiselfontein Sanri is teen hierdie tyd gewoond daaraan dat vreemde dinge op Raaiselfontein gebeur. Toe brille links en regs begin wegraak, kry sy dadelik snuf in die neus. Dan maak Sanri en Markus kennis met ’n spookmeisie – en sy het hulle hulp nodig.

“Uiteindelik iets waaroor ek in die Raaiselfontein Gazette kan skryf!” sê Sanri opgewonde. “Net jammer dis nog drie dae tot Vrydag. Ek wonder wat is alles in die uitstalling.” Sy hoop nie dis nog dieregeraamtes nie. Die museum het ’n paar interessante uitstallings, en sy hou die meeste van die outydse telefone en tikmasjiene, maar die geraamtes gee haar koue rillings.  

“Stilte, asseblief,” sê juffrou Booysen. Sy wag tot almal bedaar voor sy verder praat. “Zinzi, wil jy nie vir die klas ’n bietjie meer oor die nuwe uitstalling vertel nie?”  

Zinzi en haar ouers woon in ’n woonstel aan die agterkant van die museum. Sanri was al een keer daar, toe Zinzi verjaar het, en sy het gedink dit is nogal grillerig dat Zinzi-hulle se blyplek aan die museum vas is. Net ’n deur skei hulle woonarea van al die uitstallings. Sanri is seker sý sal nie lekker kan slaap as sy moet weet die kamer langsaan is vol geraamtes nie.  

“Dis ’n rondreisende uitstalling,” sê Zinzi terwyl sy opstaan, “en dit sal net vir ’n maand in ons museum wees. Die artefakte kom uit ’n grafkelder wat ’n paar jaar gelede in Egipte ontdek is.”  

’n Rondreisende uitstalling uit Egipte! Dís nou interessant, dink Sanri. Dit klink nie na ’n klomp geraamtes nie, en dis beslis iets waaroor sy ’n storie sal kan skryf – dalk selfs ’n voorbladstorie! Sy moet net sorg dat sy die woord “artefakte” onthou.  

“En die beste deel van die uitstalling …” Zinzi huiwer, terwyl sy met blinkbruin oë van een klasmaat na die ander kyk. “Die beste deel van die uitstalling …” Sy kyk nou reguit vir Sanri. “… is ’n regte mummie!”  

’n Paar kinders snak na hulle asem.  

Sanri ril. Sy kan aan net een ding dink wat grilleriger is as ’n klomp geraamtes bymekaar, en dis ’n klomp geraamtes én ’n mummie almal bymekaar.  

2

’n Goeie joernalis

“Gaan jy niks sê nie?” vra Markus toe hy en Sanri die middag ná skool by die hekkie uitstap, op pad huis toe.  

Sanri frons en kyk vir hom. “Wat bedoel jy? Ek het dan nou net iets gesê.”  

Markus stoot sy hand deur sy deurmekaar kuif. “Gaan jy niks sê oor die uitstalling by die museum nie? Jy kan gewoonlik nie ophou praat oor so iets voor jy alles uitgevind en ’n storie daaroor geskryf het nie. Maar vandag is jy so stil soos ’n mummie.” Hy lag vir sy eie grappie.  

Sanri gee hom ’n vuil kyk. Sy wil nie erken dat dit juis die mummie is wat haar van plan laat verander het nie.  

“Daar is nie veel wat ek daaroor kan sê nie. ’n Rondreisende uitstalling by ’n museum is nou nie juis voorbladnuus nie. Ek weet nie eens of ek iets daaroor wíl skryf nie.”  

“Sanri Steyn!” roep Markus ongelowig uit. Hy gaan staan stil en kyk na haar. “Dis groot nuus en jy weet dit! Ek het nooit gedink jy sal bang wees om enige storie te skryf nie. Watse soort joernalis is jy?”  

KOOP HIER | BUY HERE
Drie Sanri Steyn-stories in een omnibus! Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. En nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees ... Superjoernalis Sanri Steyn. Sy het nie verniet haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, begin nie. Op die dorpie Raaiselfontein beleef Sanri en haar beste vriend, Markus, allerlei vreemde avonture – van vampiere wat op die dorp kom woon, tot ’n weerwolfmeisie wat haar opwagting in hul klas maak! Die aweregse humor en lekker grillerige avonture in hierdie gewilde reeks sal seuns en meisies vasgenael hou! Vir die eerste keer is die Sanri-reeks nou in ’n bekostigbare omnibus-formaat beskikbaar! Die drie titels in hierdie omnibus sluit in: # 5: Die monsters van Middernagstraat Sanri se neus begin kriewel toe ’n vreemde ding een middag in Middernagstraat gebeur. En as Sanri se neus kriewel, beteken dit net een ding – sy ruik ’n storie! Sy is byna doodseker sy het gesien hoe een van Claudia Müller se oulike skoothondjies ’n oomblik lank in ’n monster verander ... ’n Nare monster met bloedrooi oë, ’n bek vol vreesaanjaende tande, en vreemde stekels op sy rug en nek. Markus is oortuig Sanri se verbeelding werk weer oortyd. Maar dan begin troeteldiere in Raaiselfontein verdwyn ... # 6: Die nag van die weerwolwe Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe meisie in hul klas, Chrissie de Wolfe, ontmoet. Waarom het Chrissie ’n sappige rou steak in haar kosblik? Wat soek sy by die slaghuis en waarom koop sy soveel vleis? En hoekom lyk dit of sy supersterk is? As Sanri se neus kriewel, moet jy weet hier kom ’n storie ... Sanri is oortuig die nuwe meisie in haar klas is ’n weerwolf. Maar hoe gaan sy en Markus dit bewys? #7: Die vampiere van vlermuishoogte Sanri kan nie wag om haar beste vriend, Markus, se neef te ontmoet nie. Danté en sy gesin bly in Vlermuishoogte – ’n geheimsinnige ou kasteel. Maar iets is nie pluis nie ... Waarom het Danté se pa ’n skaduwee soos ’n vlermuis? En is Markus dalk in gevaar?

Sanri laat val haar tas en gaan staan met haar hande in haar sye. “Ek is nie bang nie, oukei!” roep sy uit. Haar gesig is rooier as ’n ryp tamatie. “Ek hou net nie van dooie goed nie. Geraamtes gee my die creeps, en ’n mummie … wel, dis nog erger as ’n geraamte, is dit nie?”  

“Ek dink die geraamtes in die museum is nogal cool,” sê Markus. “My gunsteling is die T-Rex. Hoe anders sal ons weet hoe dinosourusse gelyk het as dit nie vir die geraamtes was nie?”  

Sanri ril toe sy aan die T-Rex se tande dink. Lewend of dood, sy wil hom nie in die donker iewers raakloop nie.  

“En ’n mummie gaan supercool wees,” sê Markus opgewonde. “Soos my rekenaarspeletjie Mummies & Monsters! Dis buitendien net ’n klomp lappe. Vir al wat ons weet, jok hulle vir ons en is daar niks onder die lappe nie. Jy is tog seker nie bang vir ’n klomp lappe nie!”  

“Ek sê mos ek is nie bang nie!”  

“Ja, maar jy is ’n joernalis,” sê Markus. “En ’n goeie joernalis laat nooit ’n storie deur haar vingers glip nie, selfs al is sy dalk bang.”  

Markus is reg, besef Sanri. Sy is ’n joernalis, en dit is ’n goeie storie. Sy moet ’n berig oor die uitstalling skryf, en nie net ’n vervelige storie oor hoe hulle klas die uitstalling Vrydag besoek nie. Die geraamtes by die museum is nie vir haar nuut nie, al gee hulle haar die creeps, en sy kan haar maklik verbeel die mummie is net ’n klomp lappe met niks in die middel nie. Sy sal vir Markus wys sy is ’n goeie joernalis wat kans sien vir enige storie!  

Sy tel haar tas op. “Wat staan jy net daar?” vra sy terwyl sy begin aanstap. “Kom, ons moet by die huis kom. Ek wil die aaklige skoolrok uittrek voor ons vanmiddag vir Zinzi gaan kuier!”  

“Ons?” Markus lig sy wenkbroue effens en probeer sy bes om nie te glimlag nie. “Van wanneer af gaan ONS vir Zinzi kuier?”  

“Ek gaan nie tot Vrydag wag om die storie te skryf nie en jy wéét jy wil die mummie sien,” sê Sanri. “Of jy kan maar by die huis bly as jy wil …”  

Haar woorde werk beter as wat sy verwag het.  

“Nee, ek kom saam,” sê Markus, en begin so vinnig stap dat hy Sanri verbysteek.  

“Haai, wag vir my!”  

Sanri is bly Markus gaan saam museum toe. Sy hou nog steeds nie van geraamtes nie, maar sy en Markus het al goed gesien wat haar baie banger gemaak het as ’n T-Rex se tande. Tog was dit glad nie so erg nie omdat hy by was.  

3

Geheime uit Egipte

“Die museum is gesluit,” sê Sanri teleurgesteld en beduie na ’n bordjie teen die deur.  

GESLUIT  

Heropen Vrydag om 10:00  

vir ‘n spesiale uitstalling  

Geheime uit Egipte  

Hulle staar na die bordjie. Geheime uit Egipte klink baie opwindend. Sanri is bly Markus het haar omgepraat om te kom. Net jammer die museum is toe.  

“Dit is niks,” sê Markus. “Ons het mos vir Zinzi kom kuier. Kom ons gaan klop aan hulle deur.”  

Hulle stap om die museum tot by die buitedeur van Zinzi-hulle se woonstel. Nog voor Markus kan klop, gaan die deur oop.  

Zinzi grinnik vir hulle. “Sanri en Markus! Ek het gewonder hoe lank dit julle sal vat om hier uit te kom. Laat ek raai … jy wil ’n storie skryf oor die Egiptiese uitstalling, nè, Sanri?”  

Sanri knik. Is sy dan al net so voorspelbaar soos ’n skooldag? “Kan ons maar inkom?” vra sy.  

Zinzi staan opsy sodat hulle kan verbystap. Sy maak die deur weer toe. “Is julle lus vir koeldrank? As my ma hier was, sou hier koekies ook gewees het, maar ongelukkig kuier sy so ’n bietjie by my ouma in Durban, en al wat ek julle kan aanbied, is koeldrank.”  

“Koeldrank sal lekker wees,” antwoord Markus, “maar dit hang af watse koeldrank jy het.”  

Zinzi frons.

“Toemaar, hy is nie vol nonsens nie, al klink dit so,” sê Sanri vinnig, “net allergies vir amper alles waarvan gewone kinders hou.”  

“O ja, ek het daarvan vergeet,” sê Zinzi. Sy stap kombuis toe, met Sanri en Markus agterna, en maak die yskas oop. “Hier is Coke en lemoensap.”  

“Ek mag Coke drink,” sê Markus. Hy klink verlig.  

Dit moet erg wees om vir so baie goed allergies te wees, dink Sanri simpatiek terwyl Zinzi drie yslike glase vol Coke skink. Die arme Markus is selfs allergies vir die meeste lekkergoed en mag net Jelly Babies eet!  

Sy is bly hy kan darem Coke drink, anders moes hy dalk nou met water tevrede gewees het.  

“Dankie,” sê sy toe sy ’n glas Coke by Zinzi aanvat. Sy onthou skielik hoekom hulle gekom het.  

“Dink jy jou pa sal omgee as ek met hom ’n onderhoud voer en ’n paar foto’s van die artefakte neem?”  

“Ek dink nie hy sal omgee nie,” sê Zinzi, “maar kom ons gaan vra hom.” Sy tel haar glas Coke op en beduie dat Sanri en Markus haar moet volg.  

“Mag ons die koeldrank by die museum invat?” vra Sanri verbaas toe Zinzi die deur oopmaak wat uit hulle sitkamer na die museum lei.  

“Ja, dit is oukei,” antwoord Zinzi. “Ons is mos nie babas nie. Moet net nie mors nie.”  

Hulle stap agter Zinzi aan, in die museum se groot vertoonkamer in.  

Die vertrek is groter as die skoolsaal en die eerste ding wat Sanri sien, is die geraamte van die T-Rex. ’n Mens kan dit nie miskyk nie.  

Sanri ril. Sy kan nie help dat dooie goed soos geraamtes haar hare laat regop staan nie.  

“Kyk, daar is die mummie,” fluister Markus skielik.  

Dit voel of Sanri se hare nog ’n bietjie regopper staan toe sy die woord “mummie” hoor. Dis net ’n klomp opgerolde lappe, vertel sy haarself toe sy kyk waar Markus beduie.  

Die mummie is nie baie groot nie. Dit staan regop op ’n spesiale staander, en lyk omtrent so lank soos een van hulle. En dit lyk regtig net soos ’n klomp opgerolde lappe. Sanri is verbaas dat dit glad nie grillerig is om na te kyk nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS