roxy

Uittreksel: Roxy

Proloog

Een-en-dertig! Die getal tref Roxy soos ’n klip teen die kop. Hier is dit nou! Sy’s een-en-dertig jaar oud. Nie dertig nie, één-en-dertig!

KOOP HIER | BUY HERE
Jessica Rabbit probeer nie voorgee om iets te wees wat sy nie is nie. Sy’s ’n uitlokkende vrou en klaar. Op haar een-en-dertigste verjaarsdag besluit Roxy sy soek ’n roekelose, skelrooi lipstiek-lewe. Almal dink in elk geval sy is sletterig en uitgesproke – grotendeels weens haar blog wat sy onder die skuilnaam Jessica Rabbit skryf. Haar kollega Zander dink sy is Jessica Rabbit in lewende lywe: so witwarm sensueel dat sy ’n nat lap aan die brand kan steek. Roxy voel allesbehalwe sensueel, en die geraamtes uit haar verlede beduiwel telkens haar flirtasies en verhoudings. Daarom gryp sy nou na rooi lipstiek. Wanneer Zander se pa, die bekende motiveringspreker Adam Muller, op die toneel verskyn, raak Roxy se lipstiek-lewe nog meer deurmekaar. Die enigste sekerheid in Roxy se nuwe wêreld blyk Ouma Lot te wees – totdat dié ook in raaisels begin praat. Roxy se lipstiek begin al meer na oorlogsverf lyk. . .

Sy voel-voel langs haar, streel met haar hande verlangend oor die gladde paslaken. Hier lê sy op haar een-en-dertigste verjaardag, lekker warm gebroei onder haar maagdelik wit verekombers, sag, so sag soos . . . wel soos die hand van ’n moeder.
Maar nie die hand van háár moeder nie . . .
En langs haar is ’n gaping, koud en leeg. Groot genoeg vir ’n man se lyf. ’n Groot man se groot lyf. Sy’t spesiaal ’n koninggrootte bed gekoop destyds toe sy by die bachelorette pad ingetrek het. Want toe het sy heimlik nog op ’n koning gehoop, ’n koning wat die koningsbed met haar sou deel.
Dis net – ’n koning wil ’n koningin hê. En sy sou nie eens ’n hofdame kon wees nie. Sy sou nie eens in die paleis toegelaat word nie. Sy’s damaged goods.
Die telefoon lui nog voordat Roxy opstaan.
“Hallo, Petra,” antwoord sy dadelik.
“Hoe weet jy dis ek?”
“Wie anders bel my hierdie tyd van die oggend?”
Petra lag. “Wel, ek wou die eerste wees om met jou te praat.”
“Wat wil jy doen? Met my simpatiseer of my gelukwens?”
“Gelukwens, natuurlik.”
“Hoekom? Omdat ek met al my dinge en doene kon slaag om een en dertig jaar oud te word? Omdat ek rond en gesond is? Omdat ek selfversorgend is en nie op Ma se nek lê nie?”
“Dit alles, ja, en meer.”
“Big deal! Ek het niks om te wys vir my een en dertig jaar nie.” Roxy sug sag. “Glo my, daar is niks wonderliks of sexy aan een en dertig wees nie. Jy’s verwelk en verwese, alles aan jou hang of sleep op jou voete en selfs ’n WonderBra doen nie meer watwonderse wonders vir jou nie.”
Haar suster lag. “Jy, Roxy Roux, het nie ’n WonderBra nodig om die toekoms vooruitstrewend tegemoet te gaan nie.”
Roxy vervies haar. “Jy klink nie besonder simpatiek nie,” verwyt sy.
“’n Verjaardag is altyd ’n emosionele skok vir ’n vrou, Roxy,” probeer Petra nou troos, haar stem skielik strelend en sieksoet soos hoesmedisyne.
Tipies. So tipies. Haar suster doen altyd die regte ding, sê altyd die regte ding. Of peper jou met genoeg psychobabble om jou amper te laat glo sy weet waarvan sy praat. Petra, die preutse, dra nog steeds haar hoofmeisiemantel om die skouers.
Sy’s ’n prinses en ’n engel, sy’s so georganiseerd soos ’n oujongnooi se laaikas, sy vergeet nie verjaardae nie, bel altyd vroeg in die oggend, altyd met ’n versie of gediggie gereed. So soetsappig dit maak jou naar, maar so korrek dat selfs die kenners van etiket by haar kan kom leer hoe om tussen die roosgetinte lyne te beweeg.
“Om te weet jy is nog ’n jaar ouer voel dalk nie na iets om te vier nie,” koer Petra nog, “maar glo my, die alternatief is erger.”
“Die alternatief? Wat’s dit? Pushing daisies?”
“Net so.”
Mag wees dat die alternatief selfs minder opwindend is as om alleen in jou bed wakker te word op jou verjaardag, maar Roxy het nog nie klaar gekla nie. “Daar is geen rede om my geluk te wens en vreugdesvure te laat brand nie, Petra. Onthou, ek is vandag één-en-dertig, nie dertig nie.”
“Maak dit werklik só ’n groot verskil?”
“Natuurlik. Dertig is ’n moerse lekker ouderdom. Dan het jy die kruin bereik, dan daag jy die lewe uit. Bring it on! Ek kan dit handle.” Roxy kreun. “Maar een-en-dertig is ’n ander saak. Een-en-dertig is die eerste tree ondertoe. Van hier af is dit net afdraande.”
Sy ryg derms uit soos net sy dit kan doen en slaag sowaar daarin om die stralekrans op Petra se kop skeef te skuif.
“Dis depressing om na jou te luister. Onthou, ek is nie so ver agter jou nie. Ek is op pad.”
“Ja, maar vir jou is dit anders. Jy het alles wat jy veronderstel is om te hê. ’n Man, en dan nog ’n fricken ordentlike man ook, ’n ordentlike huis teen die heuwel, ’n ordentlike en betroubare gesinsmotor wat jou nooit sal drop nie en nog ’n Landie vir naweke ook.” Sy sug effens. “En natuurlik die kinders . . .” Sy snork. “Julle is ProNutro-mense. Reliable. Goed vir die hart, lyf en verstand.”
En net so boring, voeg sy in haar gedagtes by.
“Ek weet nie wat om te sê nie, Roxy.”
Roxy hou haar doof vir die simpatie in haar suster se stem. Sy’s nie in ’n bui om jammer gekry te word nie. Sy’s in ’n bakleibui. Teen die jare wat haar so skelm-skelm bekruip het, teen die lewe wat al eenkant toe neuk, teen die regering, die kerk, die werk, wie ook al van nou af met haar gaan sukkel.
“Maar weet jy wat hét ek?” vra sy oorlogsugtig.
“Wat?”
“Lipstiek.”
“Lipstiffie?”
“Nee, Petra. Wat ek het, is nie lipstiffie nie. Dis lipstiek. ’n Vrou van een en dertig moet lipstiek dra, anders verval sy in haar vaalheid. En dis wat ek gaan doen. Van nou af elke dag van my lewe. Ek het aangesluit by ’n Whatsapp-groep, amper iets soos die Yummy Mummies, maar nie heeltemal nie. Eintlik is dit ’n klub vir vroue wat nie sommer wil gaan lê nie: Ladies Who Lush.”
“Wat wát doen? Hulle bra’s verbrand?”
“Ja. Maar net omdat dit sexy is om sonder ’n bra te loop.”
“Met net jou lipstiek aan?”
Wat het ons hier? Spot Petra met haar? Goeie suster wat sy is?
Sy kan dit vát! Om die waarheid te sê, sy verkies dit bo die agsiestoggie-sieksoetheid en die moedelose moegheid wat sy soms daar hoor wanneer Petra met haar praat.
“Ek het gister vir my die beste, die rooiste, die mooiste, die duurste lipstiek op die mark gaan koop, gewaarborg om vier en twintig uur aan te bly,” vertel sy met lus. “Ruby Woo van MAC.”
“Wie op aarde wil vier en twintig uur ’n dag lipstiffie aan jou lippe hê?”
“Ek. Ek wil van nou af ’n lipstieklewe hê. ’n Roekelose skelrooi lipstieklewe soos geleef deur die vurige alfa-vroue van Ladies Who Lush. Ek wil nie ’n lady wees nie, maar ek wil lipstiek dra.”
“Wel . . .” Petra klink effens onseker. “Moet maar net nie die lipstiek te dik aanmaak nie.”
“Eintlik wíl ek. Ek wil nooit sonder my lipstiek gevang word nie. Iets moet ek doen sodat ek nie heeltemal in die niet verdwyn nie.”

KOOP HIER | BUY HERE
Jessica Rabbit probeer nie voorgee om iets te wees wat sy nie is nie. Sy’s ’n uitlokkende vrou en klaar. Op haar een-en-dertigste verjaarsdag besluit Roxy sy soek ’n roekelose, skelrooi lipstiek-lewe. Almal dink in elk geval sy is sletterig en uitgesproke – grotendeels weens haar blog wat sy onder die skuilnaam Jessica Rabbit skryf. Haar kollega Zander dink sy is Jessica Rabbit in lewende lywe: so witwarm sensueel dat sy ’n nat lap aan die brand kan steek. Roxy voel allesbehalwe sensueel, en die geraamtes uit haar verlede beduiwel telkens haar flirtasies en verhoudings. Daarom gryp sy nou na rooi lipstiek. Wanneer Zander se pa, die bekende motiveringspreker Adam Muller, op die toneel verskyn, raak Roxy se lipstiek-lewe nog meer deurmekaar. Die enigste sekerheid in Roxy se nuwe wêreld blyk Ouma Lot te wees – totdat dié ook in raaisels begin praat. Roxy se lipstiek begin al meer na oorlogsverf lyk. . .

“Jy, my liewe Roxy, sal nie kan verdwyn nie, al probeer jy ook,” verseker haar suster haar.
Roxy knyp die telefoon met haar skouer teen haar oor vas sodat sy met haar arms bo haar kop haar lank en lekker kan uitrek. “Nou toe,” jaag sy Petra aan. “Wens my nou geluk dat ek kan opstaan. En met my lipstieklewe kan begin.”
“Ek wens jou . . .” Roxy hóór sommer hoe bewoë Petra raak.
Haar oë lek mos vir enigiets. The Dodo se video’s, ’n enkele skoen langs die pad, ou mense wat winkel toe stap. “Ek wens jou ’n jaar toe so helder en blink soos jou nuwe lipstiek.” Daarvoor het Roxy nie veel hoop nie. Maar om langer met Petra te gesels sal niks aan die saak verander nie. Daarom groet sy maar, hoop vir die beste.
“Cheers, Petra.”
“Lekker verjaar, Roxy.” Só dring Petra aan op ’n happy ending.
Roxy kyk om haar rond. Dis haar koninkryk hierdie, haar vesting teen die wêreld daar buite. Die fabulous art deco-spieëlkas met die breë ovaalspieël voor die venster waar die meeste lig val, die stoeltjie met die goue bene, die deurleefde Persiese mat, wat jare lank in ouma Lot se huis gelê het. Sy sien haarself in die skitterblink spieël toe sy naderstap. Nie sleg vir iemand wat nou net wakker geword het nie, maar vaal. Hierdie gesig kort ernstig lipstiek. Sommer gou, sommer nou. Sy moet tande borsel en gesig was en haar dan begin beplak. War paint teen die aanslae van die lewe.
Sy tel die buisie Ruby Woo op en skryf teen die spieël – ’n Lipstieklewe vir Roxy Roux. Maar toe sy ’n uitroepteken wil maak, breek die ding in haar hande af en rol oor die mat. Shit! Sy hoop nie dis wat van haar wonderlike voorneme gaan word nie. Sy sal maar net ’n nuwe buisie moet gaan koop. Want sonder lipstiek gaan sy sowaar nie langer voortploeter nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS