Rooigety

Uittreksel: Rooigety

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Hoe ver sal jy gaan om jou kind te beskerm? Inwoners van Makulu Manzi het skaars herstel van die kinderpornografieskandaal wat die dorp vroeër die jaar getref het. Nou is daar gerugte van moetiemoorde en ekstremistiese groepe wat kinders werf vir selfmoordbomaanvalle. Die plaaslike skool stuur rebelse tieners na regrukkampe, en selfs georganiseerde bloedskenking word met agterdog bejeën. Wanneer Daleen Boshoff se dogter tydens ’n uitstappie op die lyk van ’n tienerseun afkom, ruk dit die fondament onder hul uit. Is dit inderdaad moord vir moetie? Of hou die vermiste kinders verband met die bomaanvalle teen die kus van Afrika? Rooigety is die opvolg van Dooiegety (2019).

Die duisternis is gitswart, ondeurdringbaar. Net so dig en beklemmend soos haar kommer en vrees. Waar is Dalri? Alle hoop en vreugde het saam met haar kind verdwyn. Al wat oorbly, is sy en die versmorende swart kombers van angs en wanhoop. Baklei teen die wanhoop, praat Rick se stem haar moed in: “Ons kind was hier in die kelder, jy weet dit. Sy moet nog leef, moet naby wees, soek net.”
Blindweg tas sy rond, soek hande-viervoet oor ruwe sement, oor planke. Kry iets wat meegee. Nie ’n meisielyf nie. Sy snik, betas die matras, soek onder lappe, maar ervaar net die oorheersende vrees dat sy te laat is, dat Dalri dood is. Die donker het haar kind ingesluk. Dieselfde donkerte hou haar in Neil se kelder gevange dat sy nie buite kan soek na haar en Rick se kind nie. As Rick net hier was, sou hy haar kalm praat. Waar ís Neil met sy verkeerdom idee van reg en verkeerd? Is Dalri in sy huis?
Sy wil nie aan Neil en sy voorliefde vir tienermeisies dink nie, maar die man se paaiende stem vul die donker: “Dalri is nou mooi groot, sy kan gerus volgende keer saam met ons gaan uiteet. Sy moet leer hoe ’n dame optree.”
Hartseer verdring die angs. Dis haar skuld dat haar kind weg is. Dalri was by Stap en Hap, Neil se wegneemrestaurant.
Selfverwyt word water wat klots om haar voete, haar brandende knieë, wat lek aan haar ribbes, haar skouers, haar keel. Die seewater stoot op teen die keldermure, vul die donker grot tot teen die dak met skuldgevoel. Drie paar oë gluur beskuldigend uit die donker na haar, word ses liggies wat die rotspoel verhelder. Die drie wyse apies staar alwetend na haar. Een se hande bedek sy ore, die tweede s’n vou sy mond toe, maar die derde se oë staar saam met die ander na die oppervlak van die poel waar seewier soos hare dryf.
Nee!
Skrik gryp haar vas. Haar kind het verdrink. Terwyl sy buk om Dalri uit te tel gryp die brander haar weg, keer haar om, spoel die donker hare weg van die marmerwit wange.
Dalri is blond. Dis Nerina se verminkte gesig. Die twee leë oogholtes staar blind na haar. Haar liewe vriendin het meer gesien as wat sy moes, het meer geweet as wat veilig is. Sy het die vermiste tiener se graf ontdek, Kathleen se moordenaar herken en Neil het dit geweet.
Nerina het haar eie moordenaar gesien. Is Dalri ook ’n getuie van iets ongeoorloof?
“Curiosity killed the cat, Daleen.” Neil se bekende stem weergalm en die rotse eggo sy woorde verwronge terug na haar. Dis syself wat te veel gesien het, wat meer weet as wat sy moet, nie Dalri nie. Nerina se stem moedig haar aan om haar kind te kry, om te verhoed dat sy ook sterf, want Dalri weet beslis meer as wat veilig is.
Met wankelrige bene strompel sy deur die sand om haar kind te gaan red. Beur sy die ligtoring se steil trap op tot bo tussen die wolke. Die soekende ligstraal deurboor elke hoekie, sien alles en almal. Die verkyker is swaar in haar hande, druk hard teen haar oogbanke, vang die beeld van rotspoele vas. Die beeld skuif, word ’n groot mansfiguur wat intimiderend na haar gluur. Hy hou Nerina se ligtoring met ’n verkyker dop. Het hy haar doodgemaak?
Sy gesig vul skielik die lense. Skouerlengte maanhaar, streng mond, deurborende oë wat dreigend vir haar staar. Die verkyker val uit haar hand, maar die man is reeds by haar in die vuurtoring. Nerina se jeugvriend, Josh.
Nerina is bang vir water. Jy het haar verdrink, Daleen. Moordenaar!
Skrik slaan haar stom, sy kan die beskuldiging net met ’n kopskud beantwoord. Hy glo haar nie, kom intimiderend nader al ontken sy die aanklag tot haar kop daarvan tol. Skuldig, Edelagbare. Van balans af tree sy terug, tuimel holderstebolder die trap af tot in die sand by die rotse. Sand wat haar afsuig, haar insluk.
Sand word water, stroom in by haar neus, haar ore, haar oë. Selfverwyt bring lig sodat sy alles kan sien. Alles wat sy anders kon gedoen het. Sy moes Nerina geglo het, moes die tekens gelees en Dalri beter opgepas het.
Die helder rotspoel waarheen Neil haar lei, is aanloklik. Dit suig haar bodem toe.
“Baklei teen die bedwelming,” waarsku Rick se stem.
Maar sy is willoos in die water. Sy asem in, maar dit bring nie suurstof nie, net ’n band wat stywer om haar ribbes span. Haar longe hyg na lug, maar water en selfverwyt stroom by haar mond en neus in, spoel af in haar lugpyp. Vul haar longe, haar borsholte, haar hele lyf. Sy word water. Die mense wat sy liefhet, is gesteel. Siekte het Rick gevat, Neil se boosheid het Nerina weggeruk, sy sluheid het Dalri opgeraap. Sy moes dit voorsien het. Moes gekeer het.
Sy snak, maar asem nog water in. Onder in die poel dryf Dalri se sandaal. Sy baklei teen die verlamming, sy duik af, wil haar kind opspoor. Maar hande gryp haar, hou haar vas sodat sy nie kan soek nie, lig haar uit die water. Sy baklei, maar word op die rotse neergedwing, word telkens teruggedruk al veg sy verbete.
“Ma!” Die vae geur van Dolce & Gabbana se Light Blue dring deur die versmoring.
“Mamma, word wakker!” Dalri se stem. Dalri wat haar skouer skud. “Jy droom al weer.” Die geur van Rick se laaste geskenk kleef aan haar kind.
Lig van haar bedlamp spoel skielik deur haar slaapkamer. Oor haar en Rick se dubbelbed en haar en Rick se kind.
Dalri is veilig. Betraand, maar veilig. Daleen maak haar arms oop, druk die tienerlyf teen haar vas. Asem haar geur en die skoon lug rukkerig in. “Toemaar, Riekie, jy is veilig. En ek is nou oukei.”
Haar selfoon lui gedemp.
“Ja, wel . . .” Dalri beduie met haar duim oor haar skouer na die gelui. “Probeer eerder vir Josh oortuig hoe oukei Ma is, dalk glo hy jou. Maar wees versigtig, daai oë sien dwarsdeur die donker. Ek gaan verder slaap, daar is nog bietjie nag oor.”
Daleen tik op die selfoon se groen telefoontjie.

KOOP HIER | BUY HERE
Hoe ver sal jy gaan om jou kind te beskerm? Inwoners van Makulu Manzi het skaars herstel van die kinderpornografieskandaal wat die dorp vroeër die jaar getref het. Nou is daar gerugte van moetiemoorde en ekstremistiese groepe wat kinders werf vir selfmoordbomaanvalle. Die plaaslike skool stuur rebelse tieners na regrukkampe, en selfs georganiseerde bloedskenking word met agterdog bejeën. Wanneer Daleen Boshoff se dogter tydens ’n uitstappie op die lyk van ’n tienerseun afkom, ruk dit die fondament onder hul uit. Is dit inderdaad moord vir moetie? Of hou die vermiste kinders verband met die bomaanvalle teen die kus van Afrika? Rooigety is die opvolg van Dooiegety (2019).

“Is julle oukei?” vra Josh Hanekom voor sy kan groet. Sy stem is so normaal asof mens altyd jou vriende in die middel van die nag bel as jy hul lig sien aangaan. So anders as die donderweerstem waarmee hy haar daardie dag, skaars vier maande gelede, in Nerina se toring gekonfronteer het.
Sy moet keel skoonmaak voordat sy kan praat. “Piekfyn, dan. . .”
“My ma jok vir jou, Josh!” roep Dalri van die deur af. “Die bed lyk soos ’n battlefield, als is op ’n hoop geskop.”
Daleen frons deur toe en lig ’n waarskuwende vinger. Dalri is beslis oor die skrik van die dag toe hulle ongeoorloof in Nerina se huis was en Josh hulle met die wet gedreig het toe hy hulle betrap.
“Dis weer die nagmerrie.” Josh vra nie, hy sê.
“Dalri oordryf alles, jy weet dit tog. Ek is regtig oukei.” Sy maak haar oë toe, voel Josh se kalmte soos suurstof deur haar trek tot haar antwoord waar word.
Die stilte wat volg, vra om erkenning. “Ja, oukei, ek het gedroom. Die gewone, met ’n variasie hier en daar. Glad nie meer so erg soos net ná die . . . dinge nie.”
“H’m.”
Sy weet wat daardie niksseggende geluid beweer: Sy is nog nie oor Dalri se ontvoering en haar amperse verdrinking nie.
Haar oë dwing vanself na haar kamervenster waardeur sy die oorkantste skiereiland kan sien. Die straatligte brand, ook skyn lig in een venster van die huis wat Josh tydelik huur. Sy kan haar voorstel hoe hy lyk waar hy in sy kamer sit: die alwetende glimlag, die grou oë wat dwarsdeur haar verduideliking kyk en die waarheid daaragter sien. Sy hande wat soms saampraat wanneer hy haar stiltes tot sy voordeel gebruik. By die gedagte vul sy teenwoordigheid die hele vertrek.
Sy maak weer keel skoon en hoop haar uiteindelike kalmte kom ook in haar stem deur. “Ek is regtig oukei.” Asof haar lyf dit bevestig, ontspan haar spiere.
“Wat het die droom hierdie keer getrigger?” pen hy haar dwalende gedagtes vas. “Een van jou ou gunstelingflieks? Dalk Reincarnation of Peter Proud?”
Koue loop ondanks sy gerusstellende stem oor haar vel. “Moenie laf wees nie, ek het baie lanklaas een van die oldies uitgeneem en sal beslis nie ’n riller kies nie.”
“H’m, uiteindelik kom die waarheid uit,” sê hy. “Jou skielike traagheid om te fliek bekommer my amper net soveel soos die nagmerries.”
Sy forseer ’n laggie deur haar keel. “Jy weet goed ek kon nie ’n ou fliek uitneem nie want Fantasy Café was toe.”
“En dis natuurlik die enigste videowinkel in die omgewing.” Hy lag sowaar vir haar.
“Ek kan nie vir elke bakatel na die buurdorp toe ry nie.” Nou praat jy strooi, Daleen. Jy ry dikwels daarheen vir
Dalri se skoolgeleenthede, jy kan enige tyd ’n fliek gaan huur. “Hulle sal buitendien nie my gunstelinge hê nie.” Erken eerder die ou flieks herinner jou net te veel aan Nerina se dood en al die onheil wat daarna oopgevlek is.
“Miskien moet jy weer ’n afspraak maak by doktor De Ruiter.” Dis ’n terloopse voorstel.
“Nee, wat, dis onnodig,” skerm sy. “Hy het gesê die nagmerries sal geleidelik minder word noudat Dalri veilig is, ek moet net geduldig wees. En dis regtig reeds minder.”
“De Ruiter is ’n uitstekende sielkundige, hy sal jou enige tyd weer kan inpas as jy anders besluit. Intussen sal ek saam met jou geduldig wees en help sorg dat Dalri veilig bly, solank jy onthou ek is hier as jy weer oor daardie skriknag wil praat. Of as jy bekommerd is oor Dalri of enigiets by die skool.”
“Ek weet. En ek sal praat as ek hulp nodig het.” Miskien moet sy tog De Ruiter se raad volg en dokter Koen vra om ’n ligte antidepressant voor te skryf. “Wanneer ry jy Durban toe?”
“Tienuur. Ek gaan ’n paar dae weg wees, maar sal gereeld bel. Nou toe, ek hoop jy kry nog ’n stukkie slaap in.”
“Ek is seker ek sal. En baie dankie. Vir alles.” Josh sal weet sy bedoel meer as net die oproep, sy kalmte, sy sorgsaamheid. Sal weet sy sluit veel meer daarby in: Sy hulp om Nerina se moord op te los, sy sensitiewe hantering van Dumisani. Sommer alles, maar veral dat hy haar lewe gered het.
“Lekker slaap.” Sy stem is laag.
Tog verbreek hy nie die verbinding ná haar groet nie. Met sy teenwoordigheid hoorbaar by haar, herroep sy die enigste deel van die nagmerriegebeure wat sy sonder vrees onthou. Sy maak haar oë toe, herleef Josh se arms wat haar uit die rotspoel trek, sy hande wat die water uit haar liggaam forseer, sy mond wat lewegewende suurstof in haar longe blaas. Wat die nuus oordra dat hulle Dalri gekry het, dat haar en Rick se kind veilig is. En ongedeerd.
Toe sy die oproep verbreek, vang die skielike gevoel van verlies haar onkant. Jy is skoon simpel, Daleen Boshoff. Josh is nog nie eens weg Durban toe nie. En hy is niks van jou nie – ja, oukei, hy’s ’n goeie vriend, net soos hy sedert haar tienerjare vir Nerina ’n goeie vriend was. Maar hy’s niks aan jou verskuldig nie, nie eens ekstra detail oor sy besoek aan LeoW Sekuriteit se hoofkantoor nie. Sy skakel die bedliggie af en trek haar skouers toe. Ondanks alles oorval lomerigheid haar. As Josh sê hy sal gereeld bel terwyl hy in Durban is, sal hy.


KOOP HIER | BUY HERE
Hoe ver sal jy gaan om jou kind te beskerm? Inwoners van Makulu Manzi het skaars herstel van die kinderpornografieskandaal wat die dorp vroeër die jaar getref het. Nou is daar gerugte van moetiemoorde en ekstremistiese groepe wat kinders werf vir selfmoordbomaanvalle. Die plaaslike skool stuur rebelse tieners na regrukkampe, en selfs georganiseerde bloedskenking word met agterdog bejeën. Wanneer Daleen Boshoff se dogter tydens ’n uitstappie op die lyk van ’n tienerseun afkom, ruk dit die fondament onder hul uit. Is dit inderdaad moord vir moetie? Of hou die vermiste kinders verband met die bomaanvalle teen die kus van Afrika? Rooigety is die opvolg van Dooiegety (2019).

“Josh sal bly wees om te hoor ons het vyf nagmerrievrye nagte gehad.” Dalri leun teen die deurkosyn, haar skoolsak skuins oor een skouer. Ondanks haar speelse stemtoon is haar oë besorg. “Ma onthou nog dis vanmiddag atletiekoefening, nè?”
Daleen soen haar op die wang. “En ek werk by die Mulawinkel. Sien jou ná atletiek.”
Dalri grinnik. “Same old, same old. En ja, ek het my EyE-Watch.” Sy lig haar pols waar die GPS-opspoorbare horlosie pryk en maak die ek-is-lief-vir-jou-handsein. “Baai, Ma.”
Dankbaar dat Dalri die horlosie sedert haar ontvoering dra sonder om te protesteer beantwoord sy die sein. Terwyl sy tydsaam regmaak vir werk, tob sy oor Josh se
afwesigheid. Dis die eerste keer sedert sy koms na Makulu Manzi dat hy so lank in Durban is. Broei daar weer iets onheiligs aan daardie deel van die kus? Of gaan dit die norm wees vir die nuwe pos wat hoofkantoor hom aangebied het? En wat daarvan as dit is, Daleen Boshoff? Raak dit gewoond.
Doelgerig haak sy haar handsak oor haar skouer, kry op pad motorhuis toe haar kamera en verkyker en pak alles in die Golf se bagasieruim.
Carpe Diem en basta met die res.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS