Uittreksel: Rateltaai

Hoofstuk Een

KOOP HIER | BUY HERE
In 2018 het die doodsengel drie keer aan die oudrugbyspeler Ethienne Reynecke se deur geklop. Hy het geweier om oop te maak – toe sy milt bars, toe hy ’n beroerte gehad het en toe hy in die agterkop geskiet is. Boonop, ná ’n egskeiding daardie jaar, het sy twee liefingdogters na ’n ander stad verhuis. Die noodlot het sy spraakvermoë gesteel en hom sy werk as kommentator by SuperSport gekos. Dit het hom, soos Reynecke dit stel, in ’n pampoen verander. Maar het hy geweier om bes te gee. Dit was ’n stryd om sy krag en woorde te herwin. Tussendeur moes hy pa wees vir jong dogters. Hulle en sy vriende het hom gehelp om ná elke hamerhou op te staan. Minder as twee jaar later, in Maart 2020, word Reynecke die Suid-Afrikaanse ligswaargewig-amateurkampioen in gemengde gevegskuns (MMA). Hierdie is die storie van hoe Ethienne Reynecke dit reggekry het om staande te bly en vas te klou aan hoop waar wanhoop ander sou meesleur.

Ethienne Reynecke se 2018 begin soos sy 2017 geëindig het – met ’n siedende pyn in sy buik.

Die verskil is dat die pyn hom nou, anders as die ganse Desember, genoop het om hulp te soek. Daarom sit hy vieruur die oggend van 3 Januarie 2018 hier in die gebou met die kliniese wit gange en die allesoorheersende reuk van ontsmettingsmiddels. Dié tyd van die oggend is dit stil hier, behalwe vir die sporadiese hoesgeluide en die hart- en drupmonitors se eindelose, eentonige gebiep … biep … biep. Dokters en verpleegsters loop doelgerig in blou en groen scrubs en wit jasse, met hul bedekte skoene wat sloef-sloef oor die vloer skuifel.
Ethienne sit vooroor gebuk in die Life Fourways-hospitaal in Johannesburg se ongevalle-afdeling.
Wat het hierdie slangput in sy derms veroorsaak? Hy het ’n vermoede. Die aanvanklike kraak in sy mondering, dít wat hom Desember met ’n maagpyn laat rondloop het wat hy geglo het stresverwant was, het hy seker aan sy rowwe speletjies in Bermuda of Florida te wyte. Of albei. Die hou wat die kraak uiteindelik laat oopbreek het, het hy waarskynlik vroeër die week by sy skopboksoefening opgedoen. Die donner het hom immers in die midderif geknie. Dié dat hy nou sit in die kloue van ’n inwendige stoeigreep waaruit hy met geen maneuver kan ontsnap nie.

Die dokter stel hom voor en Ethienne herken hom vaagweg as iemand uit sy rugbyverlede, dalk iemand met wie hy in sy speeldae as student aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) te doen gehad het. Dit voel soos ’n leeftyd gelede. Hel, selfs sy dae as haker vir die Leeus voel soos ’n leeftyd gelede en dis maar … hoe lank terug? ’n Dekade?

Ethienne wys vir die dokter waar hy pyn het en word vir ’n CT-skandering gestuur.

Die dokter se wenkbroue lig wanneer hy later die uitslae bestudeer.
“Hoekom het jy nie al lankal ingekom nie?” vra hy. “’n Mens kan doodgaan hiervan.”
Ethienne se milt het geskeur. Die skandering wys daar is skeurwonde aan die anterolaterale punt van die orgaan. So-iets veroorsaak interne bloeding. En ernstige pyn. Daarom dat die dokter hom nou roskam.
Ethienne ken pyn. As hy elke keer wanneer hy pyn ervaar hospitaal toe moet gaan, kan hulle netsowel vir hom ’n permanente kamer gee.

“My maag is al ’n ruk lank seer, maar ek het gedink dis net ’n maagseer weens stres,” skerm hy nou.

Die laaste jaar was lekker maar het ook sy kwota stres ingehou. Daar was spanning rondom sy fonds in eiehandel; die termynmark is temperamenteel. Candice, sy vrou, het boonop aan die einde van die jaar uitgetrek. Hulle is besig om uitmekaar te gaan.

Wie kan in elk geval sê of hy nog heeltyd met ’n geskeurde milt rondloop. Dalk het dit eers onlangs finaal geskeur.
Maar die feit bly staan, hy is nou hier. Wat nou? ’n Geskeurde milt kan met ’n operasie herstel word, maar dít het gevolge. “As ek sny, sal jy nooit weer sport kan beoefen nie,” sê die dokter.

Nee, jammer, dok. Geen manier hoe dít gaan gebeur nie. Sport is onlosmaaklik deel van Ethienne Reynecke se lewe. Dit is glad nie ’n opsie nie.

Gelukkig vir Ethienne is die skeurwond van so ’n aard dat ’n operasie in sy geval nie noodsaaklik is nie. Hiermee kan Ethienne saamleef, al beteken dit dat hy vir die eerste keer in sy grootmenslewe vir langer as ’n dag in die hospitaal opgeneem moet word.

Beserings is vir hom niks nuuts nie. Beroepsrugby het ’n dekade lank vir brood op die tafel gesorg. Rugby eis sy tol. Hy’t nog nie ’n rugbyspeler teëgekom wat nog nooit in die hospitaal was nie. Die verskil is dat Ethienne in sy loopbaan altyd blitsig in en uit die hospitaal was. Gebreekte voet? Operasie die oggend, uit die middag. Maar nie dié keer nie.
Hierdie buffel van ’n rugbyspeler met die ek-voel-’n-dêm-vir-jou-houding op die veld, wat die beseringspook regdeur sy loopbaan keer op keer gestormloop het, word deur ’n geskeurde milt platgetrek. Aan ’n hospitaalbed vasgeketting. Ironies. En eintlik onregverdig, want Ethienne hou van terugbaklei. As dit ’n teenstander op die rugbyveld of in die agthoekige kryt van gemengde vegkuns (MMA) was, sou hy kon têkkel of afstamp of skop of stoei. As dit ’n boelie was, kon hy hom met ’n opstopper neervel. Hoe plettervat jy ’n skeurwond aan jou milt? Jy sit stil. Mooi gedemp en gedwee in jou bed in die hoësorgeenheid.


Ethienne is nie iemand wat hou van stilsit nie. Hy was nog nooit nie. Van kindsbeen af was hy ’n woelwater.
Hy is op 20 Maart 1982 aan die Oos-Rand gebore. Sy verstand is aanvanklik in die noorde van die land geslyp, waar hy saam met sy onderwyseres-ma, Martel, in ’n asbeshuisie in Toitskraal in Mpumalanga gewoon het, en later in Marble Hall en Groblersdal in Limpopo.
Boswêreld, met eindelose moontlikhede vir ’n seun op soek na avontuur en ontvlugting. Hy en sy ma het Toitskraal toe getrek toe Ethienne vyf jaar oud was. Hy is ’n enkelkind en het nie sy pa, Ethienne sr., in sy kinderjare geken nie. Ethienne sr. en Martel is wel later herenig, maar toe was Ethienne reeds in sy eerste jaar op universiteit.

Hy is as Ethienne Julian gebore – sy pa se van. Toe hy tien jaar oud was, is sy van na Reynecke verander, dié van sy stiefpa. Etlike jare later, toe hy beroepsrugby in Frankryk gespeel het, het sy geboortesertifikaat die Franse regering verwar, want daarop word sy van as Scheepers aangedui. Scheepers is sy ma se nooiensvan.

Maar hy is Ethienne Reynecke.

Reynecke is die van wat hy geërf het van ’n stiefpa wat sy vuiste gereeld bo woorde verkies het. Op ’n keer in só ’n mate dat Martel Ethienne vir ’n paar dae lank nie skool toe wou stuur nie.
Nietemin het hy ’n vryheid gehad wat baie kinders nie vandag meer het nie. As seuntjie, het Ethienne tot laat in die aande in die bos en die kanale in Toitskraal gespeel. Hy en sy maats het in die dorp en rondom die township Siyabuswa gespeel, gedoen net wat hulle wou, en die grootmense het hulle laat begaan.
Ethienne en sy ma het daar gewoon totdat hy nege of tien jaar oud was, waarna hulle kortstondig na Marble Hall verhuis het en daarna na Groblersdal, waar sy stiefpa hom bygekom het.

Desondanks het hy in Groblersdal grootliks sorgvrye kinderjare beleef. Ethienne het fietsgery en gespeel tot sy skaduwee in die donker verdwyn. Die vakansies was die lekkerste. Dan was almal daar – die jong kinders én die hoërskoolkinders. Hulle het krieket in die veld gespeel, gaan visvang of in die kanale baljaar. Die reuse-Loskopdam, wat deur kanale gevoed word, is naby Groblersdal. Daar is verskeie mooi plase en die kanale loop ook deur die dorp. Onder Ethienne se vriende was Barry Goodes, wat later goeie rugby vir die Vrystaat gespeel het, en sy broer, Juan.

KOOP HIER | BUY HERE
In 2018 het die doodsengel drie keer aan die oudrugbyspeler Ethienne Reynecke se deur geklop. Hy het geweier om oop te maak – toe sy milt bars, toe hy ’n beroerte gehad het en toe hy in die agterkop geskiet is. Boonop, ná ’n egskeiding daardie jaar, het sy twee liefingdogters na ’n ander stad verhuis. Die noodlot het sy spraakvermoë gesteel en hom sy werk as kommentator by SuperSport gekos. Dit het hom, soos Reynecke dit stel, in ’n pampoen verander. Maar het hy geweier om bes te gee. Dit was ’n stryd om sy krag en woorde te herwin. Tussendeur moes hy pa wees vir jong dogters. Hulle en sy vriende het hom gehelp om ná elke hamerhou op te staan. Minder as twee jaar later, in Maart 2020, word Reynecke die Suid-Afrikaanse ligswaargewig-amateurkampioen in gemengde gevegskuns (MMA). Hierdie is die storie van hoe Ethienne Reynecke dit reggekry het om staande te bly en vas te klou aan hoop waar wanhoop ander sou meesleur.

In sy graadnege-jaar is Ethienne terug na die Oos-Rand om sy hoërskooljare aan die Hoërskool Hugenote in Springs te voltooi. Sodoende het hy ’n stout groep skoolseuns by die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal agtergelaat wat sy lewe moontlik in ’n slegte rigting kon stuur. Sy tuiskoms in die Oos-Rand was egter nie onmiddellik ’n welkome een nie.
Hy moes veg vir bestaansreg in sy nuwe omgewing. Die 14-jarige Ethienne het in 1996 gereeld gebid: “Asseblief, Here, as iets gebeur, moet net nie dat ek bang wees nie.”

Hy was nog altyd slim en het ook nog altyd ’n goeie aanvoeling gehad wat mense betref. Hy het dus goed geweet iets kón by sy nuwe skool gebeur. Kinders kan wreed wees, veral teenoor ’n nuwe kind in die skool. Hy is boonop ’n jaar vroeër skool toe gestuur as die meeste kinders en was dus jonger as sy klasmaats. Dit was omstandighede wat hom die teiken van boelies kon maak. Ethienne wou nie bang wees in so ’n situasie nie.
Sy aanvoeling het gou waar geword.
“As Hein jou wil fight, sal jy fight?” vra die graadtiens hom een oggend by Hugenote. Toe reeds was geweld nie vir Ethienne vreemd nie; sy huishoudelike omstandighede het hom mos vroeër in sy lewe daaraan blootgestel.

Al verkies Ethienne vrede, is hy reeds behendig met sy vuiste danksy boks- en stoeilesse. Behendig en gewillig. Hy wil nie iemand wees wat sy lot gedwee aanvaar nie. Hy weier. En boonop het hy mos Hoog gevra vir vreesloosheid.

“Ek weet nie, ek sal hom dalk fight,” antwoord Ethienne die graadtiens. Hein is ook ’n graadnege-leerling. ’n Boelie wat nie sy natuurdrif kan ignoreer om homself as alfa te bewys nie. Een van daai ouens wat in graad agt breëbors is, maar later sukkel om relevant te bly. Die skoolklok lui en Hein duik voor Ethienne op. Die boelie stamp hom. Ethienne probeer sy balans herwin en iets in hom gee mee. Sy instink neem oor.
Hy swaai ’n vuishou wat Hein se kakebeen tref. En weer. En weer. Die houe tref Hein se gesig, sy kop, sy lyf. Toe Ethienne tot sy sinne kom, lê Hein op die grond.

“Yes, fight weer, fight weer!” juig die skoolkinders die jong Ethienne toe. Hugenote is propvol rowwejacks van die aangrensende woonbuurt Geduld (waar geduld nie altyd die wagwoord is nie) en hulle het bloed geruik. Hulle wil onmiddellik ’n opvolggeveg reël. By die fietshokke hits die omstanders die twee seuns aan. Maar Hein reken hy sal ongelukkig nie ’n tydjie vir dié ontmoeting kan afknyp nie.
Die geveg het Ethienne se aansien onder sy nuwe skoolmaats laat styg. Tog soek een van Hein se meelopers ’n paar weke later weer met die nuwe outjie skoor. Hierdie graadnege-seun wat so gou ná sy skuif na Hugenote vir Hein op sy plek gesit het, moet sy les leer. Sy plek leer ken.

Maar ook dié kêrel kom tweede, en hierdie keer bevind Ethienne hom in die adjunkhoof se kantoor. By die blonde Reynecke is die gevolge van ’n geveg grootliks afwesig. Langs hom staan die skoorsoeker, gesig opgeswel, kop vol bloed. “So,” vra die adjunkhoof met ’n grynslag. “Wie het die fight gewen?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS