Plek van poue

Uittreksel: Plek van poue

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Stela word aangestel om ’n moeilike tiener tuis te onderrig. Maar Pavo (oftewel, die plek van poue) is nie ’n doodgewone plaas nie. Loop haar verbeelding met haar weg, of moet sy ag slaan op waarskuwings oor Pavo en sy mense?

Vir ’n oomblik is sy asemloos. Verlam deur die ou bekende vrees. Sy haal diep asem en probeer die fladdering van haar hart beheer. Dit het lanklaas gebeur, daarom betrap die felheid van die skielike emosie haar onkant. Sy is vreesbevange om die motor aan te skakel en te ry. Hou op! Sy wil dit vir haarself gil, maar dis eintlik teen haar ouers
gemik. Hier moet sy nou veg teen die redelose vrees om haar kar aan te skakel, en dit omdat hulle gaan staan en verongeluk het. Sy het net gou by die Quick Shop gestop om ’n draai te loop en water te koop, en nou dit.
Sy byt hard op haar onderlip. Begin bedaar. Teug weer diep aan suurstof. Dwing haarself om die prik van trane te keer. Laat dan tóg toe dat die warmte oor haar wange streep. Sy mis hulle so oneindig baie, maar sy is ook só kwaad vir hulle. Die gemis, vrees en woede ineengerol tref haar opnuut. Sy vee hard oor haar wange. Druk ’n vuis teen haar mond. Wil haar bewende kakebeen stil. Sy dwing haar lyf om te ontspan. Maak ’n klein O met haar lippe en blaas haar asem hard uit.
Geleidelik bedaar die rukking in haar ingewande. Sy skud haar skouers reg, want haar naam is klip. Stela. Nie Stella met twee elle wat iets misterieus soos ster beteken nie. Stela soos in kliptablet, want sy is twee fanatiese argeoloë se enigste kind. Twee grondgrawers wat niks daarvan gedink het om hul dogter klip te noem nie. Stela sou gehou het van iets eksoties soos Rosetta; tog is sy sommer net klip. Dis seker erg, maar nie vir haar nie. Sy weet gelukkig van beter; dat klippe ’n lewe van hul eie het en jy kry hulle buitendien nie sommer stukkend nie. Haar ouers het haar alleen laat agterbly. Hulle het egter iets belangriks vir haar gelos: die vermoë om na haarself te kyk.
’n Skadu val oor die ruit aan die bestuurderskant en sy skrik toe iemand daarteen tik. ’n Gesig kyk vraend na haar. “You okay?” vra hy met sy hande. Sy fletsblou oë lyk besorg. Stela knik stom. Sy gaan nie die venster vir ’n vreemdeling afdraai nie al hou sy hoe baie van die gesig. Met ’n ophaal van sy skouers draai hy weg.
Sy draai die aansitter en stadig gly haar motor terug na die teerpad. Sy is op pad na ’n nuwe fase in haar lewe. Die dood van haar ma en pa ’n jaar gelede is ’n verlies waaroor sy steeds rou, maar sy moet fokus op dít wat voorlê, op die avontuur waarna sy uitsien. In haar truspieël sien sy die vreemdeling met lang treë in die rigting van die winkel loop.

Stela se gedagtes dwaal na die meisie wat in haar sorg gaan wees. Wel, eintlik is ’n sestienjarige darem seker in staat om na haarself om te sien, dis net met haar skoolwerk waarmee sy sal moet help. Sy lig haar voet effens van die petrolpedaal. Doen sy die regte ding om haar in wildvreemde mense se huis te gaan begewe? Sy wonder oor die skielike onsekerheid wat haar beetkry. Tog is sy meer opgewonde as bang. Sy gaan vir die eerste keer in haar lewe ’n regte werk hê. Dis nou wel nie by ’n skool nie, maar by ’n werklike gesin en daarom kan sy nie wag nie.
Sy het reeds, volgens meneer Montrose se aanwysings, van die N2 af regs, see se kant toe gehou. Hy is die pa van die meisie vir wie sy gaan home school. Sy gaan gelukkig wees daar. Dit moet sy net glo.
Stela is goed rigtingbedinges, maar soos sy dit verstaan moet die afdraai na die plaas nou min of meer in hierdie omgewing wees. Sy sal moet uitkyk vir ’n naambord of iets wat wys dat sy haar bestemming bereik het. Pleks dat sy tog maar ’n GPS aangeskaf het soos wat sy nog wou. Of ten minste ’n beter foon. Haar selfoon is ’n basiese model en het nie ’n rigtingwyser van ’n dag oud nie. Sy het gereken sy het niks meer nodig nie. Tot nou toe.
Ten minste is die smal teerpad stil. Nog geen ander motors in sig nie en haar gedagtes neem weer hul eie loop. Uiteindelik gaan sy uitvind hoe dit voel om deel van ’n gesin te wees, al is dit dan nou net as werknemer. Dis nie asof sy nie ’n ma en ’n pa gehad het nie. Sy het. In werklikheid het sy twee ma’s gehad: haar bloedma en haar sorgma, Susaar. Dis net, sy was maar altyd alleen. Die enigste kind, en haar ma en pa was amper nooit by die huis nie. Altyd iewers vir hul werk heen, en wanneer hulle wel ’n slag by die huis was, het hul gedeelde passie haar uitgesluit. Sy het dikwels gevoel hulle vergeet skoon van haar bestaan wanneer hulle die een of ander opgrawing bespreek.
Maar dis ook nie asof sy ’n arme dogtertjie sonder liefde in haar lewe was nie. Daar was hope liefde, veral van ma Saar met haar sagte arms. Dis net, sy was ál een. Sy het toe al besluit sy gaan eendag ’n groot gesin hê. ’n Man en baie kinders wat sy met liefde en aandag kan oorlaai. Sy het vir haar ’n droomwêreld geskep met mense wat sy kan koester.
Stela is moeg gery en wil nou net by haar eindbestemming kom voor dit begin donker word. Miskien kan sy bel en hoor hoe ver nog. Sy moet meneer Montrose se selnommer op haar foon hê.
No network service available. Dis nou net soos wat haar geluk loop. Stela voel na gil. Vanoggend nog was haar hare in ’n netjiese bolla. Nou hang rooikoper slierte los in haar nek. Haar snyersromp en kraaghemp voel klam en dis gekreukel. Sy het lankal haar hakskoene uitgeskop en by die passasiersitplek se voetkant neergegooi.
Ná sy klaar studeer het en Desember laas jaar graadgevang het, was werk kry toe nie so maklik soos wat sy gedink het nie. Sy het aangeneem dat sy met ’n graad en ’n onderwysdiploma maklik ’n pos sou kry. Sy was verkeerd en sy was desperaat, want dit was al Maart en sy het nie die beurs gehad wat die onderwysdepartement verplig het om vir haar te sorg nie. Dit was asof daardie advertensie vir haar persoonlik geskryf was.
’n Tweetalige persoon met opleiding in die opvoedkunde word dringend gesoek om ’n tiener op ’n plaas in die Suid-Kaap te gaan tuisonderrig. Naby Knysna nogal, the place of people, beauty and mystery. Dit het sy iewers oor daardie deel gelees en sy het daarvan gehou. Dis goed hierdie gesin glo in tuisonderrig, want nou het sy ’n werk. Stela weet self nie eintlik so mooi van hierdie tipe onderrig nie. Sy reken die sosiale opset van ’n skool bied ’n kind nou maar eenmaal meer, maar hulle het seker hul redes. ’n Lekker vet salaris is aangebied. Hierdie werk het haar naam geroep en sy het begin droom oor ’n lewe op ’n plaas. Sy en die meisie sal in die skadu’s van groot bome sit en huiswerk doen. As dit reën of koud is, sal hulle om ’n reuse-eikehouttafel snoesig sit met ’n knetterende kaggel in die agtergrond terwyl hulle uit klassieke werke lees. Sy en die modelkind.
Dis nie asof sy ’n kerkmuis is nie. Sy het ’n bietjie erfgeld van haar ouma wat vir haar in ’n trust is. En sy het ’n huis, maar daaraan wil sy nie nou dink nie. Die vervalle en verwaarloosde huis van haar ouers op Stellenbosch waarheen sy nog nie die krag gehad het om terug te gaan nie. Sy kan nie. Nie nou al nie. Die universiteitskoshuis was haar blyplek die afgelope tyd. Toe dié sluit, het sy by haar vriendin se woonstel ingetrek. Nou is sy huisloos, maar hopelik nie vir lank nie.
Voor in die pad beweeg daar skielik iets. Dis iemand. Dalk moet sy hoor of sy nog op koers is. Sy trap rem. Stop langs die persoon.
“Goeiemiddag?”
Hy ignoreer haar. Praat met homself, maar Stela kan sy woorde nie uitmaak nie. Hy loop en mompel. Dit klink soos ’n klein mannetjie met ’n diep stem. Hy reageer nie op haar geroep nie. Sy kan netsowel nie bestaan nie. Miskien is hy blind en doof, maar sy moet eenvoudig uitvind of sy nog op die regte pad is.
“Ekskuus tog!” Stadig rol sy al met sy treë saam en roep harder. “Kan u dalk vir my sê waar ek meneer Montrose se plaas kan kry?”
Die figuur gaan staan stil en Stela trap weer rem. Die gebrom hou op en dié keer kom hy nader. Dis ’n vrou, sien Stela aan die kurwes van haar lyf. Oud of jonk? Haar gesig is weggesteek in die skaduwee van ’n kapjas. Al wat sy kan sien is lippe wat roer.
“Bly weg daar. Daai plek is vol onheil. Bly daar weg!” Die diep mompelstem is nou ’n aks hoër. Dringend.
“Hoekom? Wat bedoel . . .?” Stela laat ruk die kar dood.
“Maak dat jy wegkom.” Die stem is weer diep. Haar sê is gesê.
Waarvan praat die vrou?
“Maar ek . . .”

KOOP HIER | BUY HERE
Stela word aangestel om ’n moeilike tiener tuis te onderrig. Maar Pavo (oftewel, die plek van poue) is nie ’n doodgewone plaas nie. Loop haar verbeelding met haar weg, of moet sy ag slaan op waarskuwings oor Pavo en sy mense?

Voordat sy kan keer, fladder die vrou tussen die digte plantegroei in weg. Stela dink sy hoor haar neurie.
“Wat de hel!” Stela is moeg en geïrriteerd en gatvol. Iets is seker maar nie lekker in die boonste verdieping nie.
Verdwaas bly sy sit. Sy klem die stuurwiel vas. Nou ja, dan moet sy maar self opsnork. Dit sal seker nie help om hier te bly sit en tob nie, maar sy kan nie anders as om te wonder oor die vrou se woorde nie. Wat hét sy bedoel? Waar die vrou pas nog gestaan het, hang nou ’n wapperende vlinderlaken. Die bleek motte of skoenlappers of wat hulle ook al is, omsingel vir ’n oomblik die kar en vlieg dan in die rigting waarheen die bosvrou verdwyn het.
Stela skakel die motor weer aan, laat dit luier. Dis byna aand. Miskien moet sy maar omdraai, terug na die naaste dorp toe. Dis wat haar gevoel nou vir haar sê, maar sy het al wie weet hoe ver gevorder.
Dis asof die skemer haar sintuie slyp. Deur die oop ruit word die bosreuk skerper. Om haar is die plantegroei digter. Al wat sy kan doen is om maar aan te hou tot voor teen die see. Die huis is iewers daar voor. Moet wees. Vasberade trek sy weg.
Uiteindelik ruik sy dit. Die strandmeer. Die slikreuk is oorweldigend. ’n Gevoel van intense verligting ook. Dan moet die plaashuis nou naby wees. Iewers teen die westekant waar die see en die rivier bymekaarkom moet sy uitkyk vir ’n kliphuis, lees die e-pos van haar nuwe baas af.
Nie veel verder nie is daar links van die pad meteens ’n enorme gegote ysterhek tussen klippilare. Stela is seker sy het geen naambord gesien nie, maar die hek staan oop en sy swenk af in ’n laning digte bome. Sy ruik die see voordat sy die gebou sien. Skielik is dit net daar voor en sy is seker haar oë bedrieg haar. Dit kan onmoontlik die plaashuis wees.
Het sy dan tog verkeerd gery? Dit is hopeloos te laat om nou om te draai, sy sal nooit voor donker die regte plek kry nie. Toe sy terugkyk maak die rye bome weerskant van die pad al klaar ’n donker tonnel.
Op ’n lae klipmuur wat die werf omring, sit ’n poumannetjie. Sy kop skeefgedraai, hou hy haar dop. Hierdie plek is nie ’n gewone plaaswerf nie. Sy is in die tuin van ’n kasteel.
Intussen het teer plek gemaak vir keistene. Behoorlike, outydse cobbled stones. ’n Mosbegroeide spuitfontein is reg voor die gebou gesentreer. Sy ry stadig om die fontein en parkeer naby die stel trappe na die voordeur. Daar brand lig binne. Dalk is hier iemand om te vra waar sy nou eintlik is. Die plaashuis is seker nie meer ver nie.
Wat ’n plek! Mense woon nie meer in sulke paleise nie. Onder ander omstandighede sou sy in vervoering gewees het, sy is mal oor ou huise, maar nie nou nie. Nou is sy gedaan. Die pad was lank. Stela klim uit en mik in die rigting van die gebou.
Skielik is hulle daar. Tussen haar en haar motor. Stil en swart. Twee reusehonde. En sy het nie meer ’n keuse nie; die diere druk haar in die rigting van die swaar hout-en-ystervoordeur. Sy ken nie regtig honde nie, en hierdie twee is yslik.
Haar bene wil ingee, maar as sy nou moet neerval, is hulle sweerlik bo-op haar. Die groot bekke om haar keel, haar kop. Sy moet net aanhou loop. Stadig. Sy moes in die kar bly sit het, die toeter gedruk het of iets. Wat sal hulle doen as sy nou roep om hulp? Hulle sou haar tog seker al gebyt het as hulle wou.
Die woord Pavo sit ingemessel bokant die deur. Kastéél Pavo, vliet dit deur haar kop. Die ysterklopper is die kroonkop en borsstuk van ’n pou. Sy lig dit op, laat los en kyk hoe dit terugval. Toe die deur oopswaai, gaan sit die honde op hul hurke weerskant van die ingang.
“Naand, Juffrou.” Die vrou in die deur se gesig is wasig en sag. Soos iemand uit ’n baie ou skildery. Sy bekyk Stela eers deeglik voordat sy terugstaan.
“Kom in, kom in! Ek is mevrou Cloete, Agnes Cloete, die huishoudster.” Die rol pas haar. Middelmatig. Nie lank nie, maar ook nie kort nie. Nie vet nie, maar ook nie maer nie. Dis dalk net ’n pofmus op die kop en die voorskoot wat skort. En miskien ’n gordel met ’n bos sleutels om die lyf. Sy steek haar hand uit in ’n groet en vir ’n oomblik kan Stela nie glo hoe doodgewoon sy is nie. Die vrou maak die deur wyer oop dat Stela kan inloop.
“Dankie, maar kan u dalk . . . ek is op soek na . . .”
“Ai, ek kan sien die ryery het jou klaargemaak. Kom, kom in.”
“Nee, ek wil eintlik net . . . ek wil baie graag vanaand nog . . .”
“Kom saam met my.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS