Fanie_Viljoen_Nova_Omnibus_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Nova – Fanie Viljoen

DIE BEGIN

1

KOOP HIER | BUY HERE
By die Nova-weermagbasis word geheime weggesteek. Gevaarlike geheime. Iets is nie pluis op die weermagdorp Nova nie. Nadat Lucas een aand vreemde ligte in die naghemel gewaar, begin hy allerlei geheime oopkrap. Geheime oor besoekers uit die buitenste ruimte. Geheime waarby nie net Lucas nie, maar ook sy beste vriende en selfs sy gesin betrokke is. Gevaarlike geheime ... Die eerste drie titels in Fanie Viljoen se naelkou-wetenskapsfiksiereeks is nou in ’n omnibus beskikbaar: Die begin Iets is nie pluis in die dorpie Nova nie. Wat is die vreemde ligte wat Lucas en die res van sy gesin een aand op pad terug van vakansie sien? Waarom jok sy pa vir hom? Waarom is die weermag so geheimsinnig oor die projekte waarmee hulle agter hoë heinings besig is? En wat is die glibberige swart ding wat Lucas in die rivier gesien het? Voor hy sy oë uitvee, word Lucas en sy vriende deel van ’n wilde avontuurrit vol tergende – en gevaarlike – raaisels. Vuurdoop Dit is vir Lucas en sy vriende steeds onwerklik om te dink hulle is vroeër ontvoer. Deur ruimtewesens. Maar gelukkig is al vier van hulle nou veilig, en dinge op die weermagdorp, Nova, kan terugkeer na normaal. Als is egter nie pluis nie. Watter geheime skuil nog agter die hoë heinings van die Nova-eenheid? Wat sal gebeur as Lucas se pa uitvind die ruimtewesens het hulle geopereer? Wat beteken die vreemde aanvalle wat Lucas kry en wie is die geheimsinnige Sterreloper wat vir hom boodskappe stuur? En hoe lank voor die geheimsinnige ruimteskepe weer hul verskyning maak? Bloedbroers Lucas wens hy kan alles vergeet wat gebeur het ... Hy wil vergeet van die aand toe hy die eerste keer die vreemde ruimtetuig gesien het. Vergeet van die ruimtewesens wat hom en sy vriende ontvoer het. Vergeet van die vreemde voorwerpe wat daar op die ruimtetuig in hul koppe ingeplant is – en die vreemde kragte wat hulle daarna gekry het. Bowenal wil hy vergeet van die grusame vliegtuigongeluk waarin een van sy vriende dood is. Maar die Nova-weermagbasis is ’n plek vol geheime. Is Lucas en sy vriende gereed om die grootste geheim van almal te ontdek?

Lucas Niemand roer onrustig in sy slaap. Hy lê inmekaargetrek op die motor se agtersitplek. Sy vingers krul in vuiste. ’n Droom pluk aan sy ooglede. Dit dring deur na sy brein en beelde begin vorm.

Hy het hierdie nagmerrie al verskeie kere gehad: Hy staan in ’n doolhof, vasgevang tussen blinkblou metaalwande. Helder lig stroom uit die vloer en laat dit soos glimmende water lyk.

Angs laat sy bors toetrek. Hy weet nie waar hy is nie. Hy weet nie hoe om uit te kom nie. Hy weet nie wat buite die metaalwande op hom wag nie.

’n Geluid laat hom omdraai. Dit was byna onhoorbaar, maar hy is seker daar was iets. Dalk was dit skuifelende voete. Hy wag en kyk, maar sien niks nie – totdat ’n hand uit die metaalmuur langs hom reik. Hy probeer wegkom, maar die mure om hom het nouer getrek. Hulle hou hom vas.

Die hand kom nader. Vingers huiwer bo sy arm. Toe vat dit aan hom.

Die aanraking is doodskoud.

Lucas ruk wakker. Die benoudheid bewe nog in sy bors.

“Lekker gedroom, Luc?” vra sy pa met ’n glimlag.

Lucas kyk verward om hom. Toe onthou hy: Hulle is in die motor op pad huis toe ná ’n vakansie by Stilbaai.

Die motor is omtrent gepak met al die vakansiegoed: kussings, CD’s, ’n rugbybal, krieketkolf en nog drie plante op die vloer. Sy ma ry mos nie ’n kwekery mis nie. Sy karwei al wat ’n groen ding is terug huis toe, om te “kyk of dit in die tuin sal aard”.

“Moenie hom terg nie,” lag sy ma. “Die kind is moeg.”

Lucas skud sy kop. Hoekom moet sy ma hom altyd “die kind” noem?

“Die kind is altyd moeg,” sê ’n stem onder die hoop kussings.

Lucas skop na die lyf onder die kussings. ’n Oog loer uit.

“Ja, jy moet lekker loer, jou wirkop,” snou Lucas vir Gavin, sy jonger broer, toe.

“Ek klap vir jou dat jy net sterre sien,” kap Gavin terug.

“Dis donker buite. Ek sien hulle in elk geval. En jy sal ook as jy soos ’n normale mens met jou kop óp ’n kussing slaap en nie ónder ’n kussing nie.”

“Hei, julle twee!” waarsku hul pa.

“Gavin het daarmee begin,” sê Lucas vinnig.

Gavin trek die kussing weer oor sy kop. “Gavin het daarmee begin,” koggel hy.

Lucas mik ’n vuishou na sy broer, maar besluit om dit liewer te los. Dit help tog nie. Die vakansie is nog lank. Daar sal later baie tyd wees om die klein wirkop op sy plek te sit. En dan sal sy ma en pa nie kan keer nie.

Lucas soek sy Nintendo Switch tussen al die goed op die motorsitplek. Hy kry dit half onder sy linkerbeen. “Vrekkit,” sê hy sag en sit dit aan.

“Sit sagter daai ding,” sê sy ma dadelik.

“Oukei, Ma!” Lucas rol sy oë. Dis nie iets wat hy sal durf waag om voor haar te doen nie. Sy sal hom gou wys wie is baas. Sy ma se tong kan skerper wees as enige kombuismes. Maar sy het ook ’n sagte kant wat sy nie te dikwels wys nie.

Ná ’n paar minute se speel, gooi Lucas die Nintendo verveeld langs hom neer. Hy kyk hoe die landskap in die donker verby die motor flits. “Pa, kan ons nie ’n bietjie stop om die dou van die lelies af te skud nie?” vra hy.

“Ag nee, Lucas. Wag nog ’n rukkie. Ons is amper op Nova.”

“Asseblief, Pa. My oë swem al, so vol is my blaas.”

Sy ma skud haar kop. “Soek tog maar ’n aftrekplek.”

Hulle ry nog ’n ent voor hulle ’n stilhouplek kry. Lucas is soos blits uit die kar. Met bene nog styf van die lang sit, kies hy koers na die naaste boom. Agter hom hoor hy sy ma soek na die waterbottel. Sy pa vra of daar nog padkos oor is. Gavin is stil. Hy het seker aan die slaap geraak onder die hoop kussings.

Iemand skakel die motorradio aan. Die musiek verdwaal in die naglandskap om hulle. Daar is geen ander motors op die pad nie. Dis asof die aarde geduldig wag vir dagbreek.

Toe hy klaar is, stap Lucas traag terug motor toe. Die motorradio kraak.

“Kyk tog na die ding,” sê sy ma ergerlik. Sy pa skuif onder die geel dakliggie in. Met een arm oor die stuurwiel en die ander hand op die radio se knoppies soek hy na ’n stasie, maar almal kraak.

Sy ma klik haar tong. “Hier, sit liewer ’n CD in,” sê sy.

“Oh brother,” sug Lucas sag, “opera-getjank hier kom ons.”

Hy is reg. Maria Callas se stem dryf by die motor uit. Lucas skop vies na ’n klip. Hulle gaan nou na daardie kermende kat moet luister tot by die huis.

Maar hy is verkeerd. Die kermende kat knyp nog aan ’n hoë noot en toe is sy skielik stil. Die CD-speler is morsdood.

Die motor se ligte doof ook oombliklik asof iemand sy hande skielik dig oor hulle vou.

“En nou?” vra sy ma bekommerd.

“Dis die battery,” sê sy pa. “Moet wees.”

“Jy het dit ’n maand gelede vervang. Hierdie kar gaan ook deur batterye soos kinders deur ’n bak fudge.”

Die enjinkap klap oop. Sy pa se voete knars op die gruis. Lucas hou hom van ’n afstand dop. Dit lyk of hy iets in sy hand het. Hy skud dit. Klik-klik, probeer hy die lig aanskakel.

“Die flitslig werk ook nie,” sê sy pa.

“Genade tog,” sug sy ma.

Lucas glimlag onderlangs. Ten minste is Maria Callas nou stil.

Hy sien ’n vae skadu beweeg onder die enjinkap. Sy pa probeer in die donker die batteryklampe ontkoppel. Hy praat sag met homself en vloek een keer.

En toe, skielik, kom die onaardse dreuning.  

2

KOOP HIER | BUY HERE
Vir Lucas en sy vriende sal niks ooit weer dieselfde wees by die Nova-weermagbasis nie. Daar is geheime op Nova – gevaarlike geheime. Alles het begin met vreemde ligte in die naghemel, besoekers uit die buitenste ruimte, Lucas en sy vriende wat ontvoer is deur ruimtewesens – en eksperimente in Nova-eenheid se laboratoriums. Lucas en sy vriende het baie dinge deurgemaak en uitgevind. Maar daar is nog steeds vrae – en die Eindspel is nog op pad. Die laaste twee titels in Fanie Viljoen se naelkou-wetenskapsfiksiereeks is nou in ’n omnibus beskikbaar: Sterreloper Lucas ken Nova-eenheid se geheime. Hy het met sy eie oë die eksperimente in die laboratoriums gesien: die monstermense, die verskrikte ruimtewesens in die tenks. En hy verstaan nou waar sy en sy vriende se spesiale kragte vandaan kom. Hulle was ook eksperimente. Al verskil is, hulle was die suksesverhale ... Maar daar is geheime wat Lucas steeds nie ontrafel het nie. Wie is die geheimsinnige Sterreloper wat gereeld vir hom boodskappe stuur? Wat beteken die vreemde visioen wat hy in sy broer se oë gesien het? En waarom wil die grootkoppe van Nova-eenheid hom en sy vriende skielik met vakansie see toe stuur? Kan hulle werklik die vrede vertrou? Eindspel Lucas Niemand keer terug na Nova. Maar dan kom die skok: Sy vriende onthou glad nie meer van hulle ontmoetings met ruimtewesens of hulle spesiale kragte nie. Hulle weet ook nie waar Lucas al die tyd was nie – vasgevang in ’n nagmerrieagtige, donker ruimteskip waar aaklige goed met hom gebeur het nie. Die Eindspel het reeds begin, besef Lucas. Maar sal hy uit die kloue van die donker ruimtewesens kan bly? Watter geheim dra Troy in hom? Waar kom die drie nuwe alien-tieners vandaan en wat wil hulle van Lucas hê? Hoekom vind Lucas nou eers van die Slaper uit – iemand wat nie is wie hy voorgee om te wees nie? Maar die belangrikste van al die vrae: Sal Lucas Niemand die skrikwekkende Eindspel oorleef ...?

Lucas kyk verward om hom rond. Langs sy skoene wip klein klippies op en af. Dit laat hom dink aan ’n eksperiment wat hulle op skool gedoen het. Hulle het ystervylsels oor ’n dungespande membraan gestrooi en dit toe voor ’n luidspreker gehou. Die vylsels het toe vanself rondgewip op die membraan. Is dit wat nou hier gebeur? Kom die geluid uit die grond? ##’n Grys ding blits verby Lucas se voete en swenk weg. “Flip!” roep hy en steier. Die springhaas verdwyn in die donker. Lucas glimlag verleë. Hy wonder wie van hulle die grootste geskrik het.

“Luc? Kom hier!” roep sy pa.

Lucas bly staan waar hy is. Om hom pols die dreuning steeds. Hy kyk op. Sy mond gaan oop.

Uit die donker syfer ’n glimmende kol lig. Dit is betowerend vreemd en groter … nader as wat sterre gewoonlik is. En dit hang net daar asof iemand ’n ovaal flitslig aan die nag vasgeknoop het.

“Kar toe!” beveel sy pa. Lucas beweeg nie. “Lucas, nou!” skree sy pa.

“Maar ek wil kyk. Sien pa dan nie … jeez … dit lyk soos ’n UFO!”

“Luc, luister vir jou pa,” knyp sy ma se stem.

Hy kyk om en sien hoe sy ma se bekommerde oë van hom af na die naghemel skuif. Hy sien ook hoe sy ’n traan wegvee.

Hoekom huil Ma? wil Lucas vra. Maar dis asof iets hom keer. Iets vreemds, soos die vlieënde blink ligkol daar bo, laat die woorde in sy keel stol.

Sy pa kom vinnig na hom toe aangeloop. Die volgende oomblik gooi hy ’n kombers oor Lucas se kop.

Lucas veg om die kombers af te gooi, maar sy pa lig hom van sy voete af en draf met hom kar toe.

Lucas probeer om sy lyf uit sy pa se greep te wriemel, maar sy pa verstewig net sy houvas.

Sy pa gooi hom op die agterste sitplek neer en klim dan vinnig self in die motor.

Hy gooi die kombers van sy kop af. “Hoekom het Pa dit gedoen?”

Sy pa antwoord hom nie. Hy staar net na die stuurwiel voor hom.

Lucas druk verby sy broer om weer by die anderkantste venster uit te kom. Die lig en die polsende dreuning is weg.

“Dit was ’n UFO, Pa. Het Pa dan nie gesien nie?”

Die kar se instrumentliggies flikker aan. Die motor se hoofligte ook. Die CD-speler kraak-kraak en uiteindelik breek Maria Callas se stem suiwer deur die luidsprekers.

Lucas se pa klim uit die motor. Hy klap die enjinkap toe.

“Ma, wat gaan aan?” vra Lucas terwyl sy pa buite is.

“Dis niks,” antwoord sy.

Lucas sak terug in die sitplek en vou sy arms. Die vrae dreun in sy kop soos die polsende geluide van oomblikke gelede.

Gavin word wakker. “En nou?” vra hy.

Lucas gluur hom net aan.

Sy pa klim terug in die motor. Sy hande bewe en hy klem die stuurwiel stywer vas as wat nodig is. “Dit was ’n verskietende ster,” sê hy.

Lucas weet dit was nie ’n verskietende ster wat hy gesien het nie.

Sy pa het vir hom gelieg.  

3

“Lucas!” roep iemand buite die huis. “Lu-u-uc!”

Lucas sukkel om sy oë oop te kry. Hulle het so laat by die huis aangekom. Hy kreun en vryf deur sy blonde hare.

“Komaan, my ou, wat slaap jy nog?”

Nou herken hy die stem. Dit is Duart. Avontuurlustige Duart – gereed om die wêreld op sy kop te keer.

Lucas rol uit die bed. Op pad venster toe val hy oor die tas en krieketkolf wat hy met hul tuiskoms sommer net daar neergesmyt het. “Vreksel,” sug hy. Hy pluk die gordyne weg. Die venster is reeds oop.

Duart wag wydsbeen oor sy fiets in die straat voor die huis. Sy bruin hare is deurmekaar. Hy knyp sy ewe bruin oë toe teen die son. “Flippit, maar jy is lui.”

“Dis vakansie, Duart.”

“Ek weet, en jy kan jouself nie losskeur van jou bed nie?”

“Niks daarmee verkeerd nie.”

“Dis wat jy dink. Trek jou klere aan en kry jou fiets. Maak gou.”

“Oukei, oukei.” Lucas weet teen die tyd al dat Duart nie moed opgee as hy eers ’n plan in sy kop het nie.

Hy kry ’n kniebroek en T-hemp en skiet af badkamer toe.

Die badkamerdeur is toe. Hy klop vinnig.

“Ek is besig,” antwoord Gavin.

“Besig, my alie,” sê Lucas en maak die deur oop. ##’n Nat waslap tref hom teen die kop. “Verstaan jy nie wat ‘besig’ is nie?” vra Gavin. “En weet jy wat ‘privaatheid’ beteken, jou weasel?”

“Noem my nog een keer ‘weasel’ en ek gee jou die huisvlieg-treatment.” Lucas klap sy hande teen mekaar, kyk na sy palms, trek sy gesig en vee sy hande aan sy slaapbroek af. Hy wys sy hande vir Gavin. “Sien? Niks! Nie eens ’n bloedkolletjie nie.”

Toe pluk hy sy broer onder die stort uit.

“Ek is nog vol seep!” skree Gavin.

“Spoel dit af in die wasbak.”

Lucas spring onder die stort in.

Skielik is die stroom water yskoud. “Ek gaan jou terugkry, wirkop!” roep hy agter Gavin aan toe dié in die gang af verdwyn.


“Jy vat ook maar vrek lank,” sê Duart toe Lucas met sy fiets aankom. “Mens sal sweer jy is ’n meisie. Moes jy eers make-up aansit en hare droogblaas?”

“Moenie jy ook met my sukkel nie, Duart. Dit is genoeg dat ek met daardie klein brat van ’n Gavin opgeskeep moet sit.”

Duart grinnik net.

“Wat is die plan van aksie?” vra Lucas.

“Ons gaan rivier toe.”

Lucas lig sy wenkbroue. “Jy weet ons mag nie soontoe gaan nie.”

“Kom!”  

4

Die onrustigheid woel in Lucas se maag. Sy pa moet net nie uitvind waarheen hulle op pad is nie. Hy sal woedend wees.

Hy dink weer aan die vorige aand en die ding wat hulle gesien het. Hoekom het sy pa gesê dit was ’n ster?

Nee, hy moet net daarvan vergeet en aan ander goed dink. Wat maak dit saak of dit nou ’n ster was of nie? ##’n Militêre voertuig ry verby Lucas-hulle. Die vensters is donker. Soos altyd stuur dit ’n rilling langs Lucas se rug af. Jy weet nooit wie in die voertuig sit nie. Kyk hy – hulle – vir jou?

Die hele Nova gee hom eintlik die creeps. Dit is ’n dorpie wat oor die jare ontstaan het om ’n militêre kamp. Die Hok, noem al die kinders die kamp, maar sy regte naam is Nova-eenheid.

Min mense in Suid-Afrika weet van Nova. Dis asof die plek onsigbaar is.

Creepy, dink Lucas.

Die meeste van Nova se inwoners werk ook vir die weermag. Sommiges, soos Lucas se pa, is offisiere of onderoffisiere. Ander, soos Lucas se ma, is wetenskaplikes.

Die uitsonderings is die paar mense van die plaaslike winkels, die bank, polisie en die onderwysers. Maar die meeste van hulle is ook net daar omdat een van hul gesinslede in die Hok werk.

Dis ’n vreemde konkoksie mense. Maar wat is nie vreemd aan Nova nie?

Voor hulle is die hoë heining van die Hok. En diep binne die beton- en staalgeboue. Waarvoor hulle gebruik word, weet Lucas nie. Hy was nog nooit daarbinne nie, maar dit is seker kantore en store en menasies en sulke goed.

“Diékant toe,” beveel Duart en ruk Lucas uit sy droomwêreld.

Lucas sit meer krag in sy bene. Sy fiets blits vorentoe en skiet verby Duart s’n.

“Hei!” roep Duart.

“Race jou!”

“Ja, noudat jy ’n hengse voorsprong het, jou cretin.”

Hul fietse wyk van die teerpad af. Hulle ry eers op die sypaadjie, en dan volg hulle ’n voetpad deur ’n stuk veld. Die stofpad breek in twee. Lucas kies die linkerkantste een en Duart regs.

Lucas lag. “Jy bly agter, ou pel! Is jy al moeg?”

“No ways, Luc!”

Die fietse se kettings kraak van die inspanning. Stofwolke bol agter die wiele.

Agter hulle raak Nova weg.

Sweet pêrel op Lucas se voorkop. Hy byt op sy tande. Uit die hoek van sy oog sien hy Duart se fiets inhaal.

“Tot by die bome,” skree hy uitasem.

Hy sak sy kop laer oor die handvatsels en probeer nog energie uit sy moeë bene tap. Hy is amper daar. Skuins langs hom hoor hy Duart se vinnige asemhaling.

Nog net honderd meter dan is alles verby. Tagtig. Sestig.

Hulle is gelyk. Dan skiet Duart vorentoe en wen.

Die twee seuns kom in ’n bol stof tot stilstand. Hulle val van die fietse af en gaan lê laggend in die kniehoë groen gras.

“Ek sal jou terugkry,” kreun Lucas.

“Dis wat jy altyd sê.”

’n Ruk lank lê hulle daar en opkyk na die blou lug.

“Hoe laat het julle toe teruggekom?” vra Duart.

“Net ná twaalf gisteraand.” Lucas wil-wil vir Duart vertel wat hulle gesien het, maar besluit om dit liewer nie te doen nie. Netnou lag Duart vir hom.

“Julle was nie lank weg nie,” sê Duart en kou aan ’n grashalmpie.

“My pa moes terugkom om te kom werk. Ek weet nie wanneer laas ons op ’n ordentlike lang vakansie was nie.”

“My pa is dieselfde. Dis net werk, werk, werk. Ek wil beslis nie eendag so wees nie. Ek sal tyd maak vir vakansies. Hoe meer, hoe beter.”

“Dis wat jy nou sê. Dis net as ’n mens op skool is wat jy vier vakansies per jaar kry.”

“Moet jy nou van skool praat, hè, Luc?” Duart smyt die papgekoude grashalm eenkant toe.

Lucas lag. “Sorry, ek het vergeet jy’s allergies vir die s-woord.”

“Dís nou ’n understatement. Ek is méér as allergies daarvoor. As my pa so kerm oor skoolwerk wat gedoen moet word, wil ek uitslaan in sulke massiewe rooi knoppe.”

“Ja, right, en sirkusolifante kan vlieg. Jou pa is dan so cool.”

“Dis wat hy wil hê mense moet dink. Hy kan ’n terror wees as hy wil.”

“Jou pa is so mak soos ’n kabouter,” grinnik Lucas. In sy gedagtes sien hy Duart se pa as ’n kabouter met ’n punthoedjie, spitsneus en deurmekaar baard. Hy kry weer lag, maar dit hou net ’n oomblik, want toe kom lê iets ernstigers in sy gedagtes. “Duart,” vra hy, “het jy al ooit jou pa gevang lieg vir jou?”

Duart kom regop en frons. “Hoekom?”

Die onrus broei in Lucas. Hy weet hy moet dit laat gaan. Hy moes dit eintlik nooit gevra het nie. “Ag, los dit net.”

Duart kyk hom woordeloos aan asof hy sy gedagtes probeer lees. Toe roep hy: “Genoeg hiervan. Kom ons gaan rivier toe.” Hy spring op en skud die gras van sy klere af. “Ek hoop daardie gat is nog in die heining.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS