Ballade_vir_Nkunzi

Uittreksel: ’n Ballade vir Nkunzi

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Auth unexpected return: Unauthorized

Agtuur die aand, en vier van ons skuil in die donkerte van ons slaapkamer. Met die lig afgeskakel, weet ons ons is nie sigbaar van buite af nie. Die venster is op sy wydste oop sodat ons sonder sukkel, twee-twee as dit moet, daardeur kan wegkom. Naglug wat deur die gapende venster oor die vloer en bed ingesuig word, laat dit voel asof die vertrek tot vriespunt verkil is. Die koue sypel ons liggame binne, pak saam met die vrees in die murg van ons bene, soos die benouing van die hart by die kyk van ’n rillerfliek, daardie onheil wat jy nie kan sien nie, maar weet dat dit enige tyd kan toeslaan. Jy ken dit aan die onverklaarbare bol van ’n gordyn in ’n toe vertrek, oë wat verskrik heen en weer flits. Vanaand sal ons onheil herken aan die geluid van naderende skoene in die donker. Die sporadiese rillings wat by voorbaat langs ons ruggrate af gly, laat ons tande kletter.

In my gedagte doem ’n beeld van die koelkamer in ou Snide se winkel op, ’n snerpend koue vertrek met ’n magtige ysterdeur wat, so het ek geglo, net van buite kon oopmaak. Eendag was ek daar in saam met Cor en sy pa toe die oom ’n skaap wou uitsoek om te spitbraai vir Cor se oudste broer, Mannetjie, se troue. Ek het netsoveel geloer of die deur nie ongesiens agter ons toeknip nie as wat ek my verkyk het aan die makabere inhoud van die kamer. Karkasse met ysterhake deur die skeensenings, bloedstalaktiete wat uit nekke op die groen sementvloer drup. Skaap- en bees- en varkkoppe op vlekvryestaaltafels teen die binnemure uitgestal, pelskoppe sonder horings, starende oë en skewe tonge. Oor die koue beklemming wat ons in ons verdonkerde kamer ervaar, kon ons ewe goed aan hake in ou Snide se koelkamer gehang het.

Van buite dring allerlei lewensgeluide ons skuilplek binne. ’n Hoererige lag iewers in die straat waar ’n vrou haar lyf vir ’n paar sent aan ’n dronkgat, of ’n paar van hulle, probeer verkwansel. Rock & roll uit ’n paar fucked grammofoonluidsprekers van die huis oorkant die naglorriesteeg, waar Alfie Beukes en sy tjommies op die voorstoep ’n varkkan Lieberstein en quart op quart Lion Lager sit en wegsuip.

“Woolly Bully!” kreet Sam the Sham and the Pharaohs uit die omwentelings van ’n gekrapte seven single.

“Woollaay Bullaaay!” koor die spul beskonke gebroeders saam.

Motorwiele wat nader suis, oor die growwe teer van Nasmithlaan verby dreun en weer wegsuis. Ons hoor dit, maar dis agtergrondklanke en dus ignoreerbaar. Ons ore is gespits vir net een geluid; ons luister vir wanneer hý huis toe kom.

KOOP HIER | BUY HERE
Auth unexpected return: Unauthorized

Toe kom die onmiskenbare, ietwat onreëlmatige geknars van skoensole oor sypaadjiegruis. Pa loop hardop en brom, die tekens is nie goed nie. Ons hoor hom teen die lendelam tuinhekkie vassteier, hoe hy dreig om die ding van sy enigste oorblywende skarnier af te ruk en in sy moer in te skop. Terwyl hy die stoeptrappe opstrompel, soek ons nie langer die dofblink van mekaar se oë in die donker nie. Nou, in die oomblik van waarheid, loop ons binneste leeg van lastige emosies. Weg is daardie knaende skaamte oor ons situasie, die onderlangse verleentheid oor die vrees wat ons so verlam. Ons fokus op die venster, ons poort na ontvlugting. Want Pa is baie groot en ons klein en die lewe is nie ’n ewe regverdig plek vir almal nie.

Die drie kleiner kinders sit al van vroegaand af voor die kamervenster, bewend van koue. Jy kan hulle nie hier binne laat wag nie. As daar vinnig padgegee moet word, sal daar nie tyd wees vir sukkel om die kleintjies by die venster uit te kry nie. Hulle weet nou van beter, maar tot onlangs toe nog het Saartjie ’n manier gehad om ontydig aan die snik te gaan as die spanning te veel raak en Alet sou soms histeries raak as sy hom net hoor aankom. Hulle verstaan darem dat hulle nie hul posisie durf verraai nie en dat stilsit en stilbly kritiese vaardighede vir oorlewing is. Klein of te not, as hy agterkom waar hulle skuil, loop hulle net so erg deur soos die groter kinders. In hierdie spel is daar geen ouderdoms- of geslagsperk nie; op aande soos dié word niemand ontsien nie.


Drien Welman sit by die kombuistafel. Haar vinger beef liggies terwyl sy deur gister se koerant blaai; die gespanne afwagting van die vooraand gaan haar nie verby nie. Haar oë dwaal onbetrokke oor die opskrifte. Hier is niks wat haar regtig interesseer nie en sy werk haar pad deur na die strokiesprente iewers net ná die middel van die koerant. Bernard bring elke dag die koerant, ’n kopie wat die eienaar van die transportmaatskappy waarvoor hy werk smiddae vir hom los om huis toe te neem. Hy wil kan saamgesels oor die nuusgebeure van die dag. Met wie hy daaroor wil gesels, is egter ietwat van ’n raaisel. Drien het nog nooit iemand in Simmer Deep teëgekom wat belangstel in wat buite hulle klein wêreldjie aangaan nie, en niks wat hier gebeur, haal ooit die nuus nie.

Wanneer sy met die koerant klaar is, sal die grootste deel daarvan in bolle gefrommel in ’n blik langs die koolstoof in die kombuis gebêre word. Dit sal gebruik word om die kole soggens aan die brand te probeer kry. Maar eers sal ’n paar van die koerant se blaaie in vierkantige blokkies opgeskeur word en agter die buitetoilet se deur aan ’n spyker geryg word vir toiletpapier.

Selfs met haar ore gespits vir geluide van buite, verbeel sy haar dat sy ’n sporadiese geritsel uit die kinders se kamer hoor. Hulle, net soos sy, sit en wag.

Dis net ná elf op die ou Zobo-wekker op die koskas toe die voordeur oopbars. Sy staal haar. Dit gaan weer een van dáárdie aande wees. Sy wil na die kinders roep om pad te gee na haar sus Poppie se huis toe, ’n paar straatblokke van hier af. Dis altyd veiliger daar. Maar sy hou haar uitroep terug. Daar kom ’n tyd wat jy jou maar moet verlaat op die oordeel van jou kind, en Bennie sal weet wat om te doen.

Die bekgeveg begin minute nadat Drien Bernard se opgewarmde kos voor hom neergesit het. Hy vat ’n paar happe van die brood, gebakte eiers en wors wat sy in die louoond gebêre het, verneem tussen sy gekou en gesluk deur wat sy heeldag met haarself aangevang het.

Sy was besig, sê sy; sewe kinders en ’n huis om aan die kant te hou is ’n voldagjob.

H’m, seker, mymer hy, as sy so sê. Maar wat van as die sewe kinders in die skool of by hul maats is en daar niemand by die huis is om te sien wat hier aangaan nie?

Sy besluit nog of dit nodig is om hom te antwoord toe die mes en vurk in sy bord neerkletter. Bernard het nie lus vir cheap talk nie. Hy wil die lug suiwer van stories oor sy vrou wat die buurt vol sirkuleer. Rondnaaistories. Die spanning verhoog voelbaar.

Drien kap terug. Sy het ’n probleem daarmee dat hy die kak wat hy hoor vir soetkoek opvreet. Dit is nou ás hy dit ooit hoor. As dit nie maar net nog van daardie malhondhallusinasies is wat in sy gesuipte kop uitbroei omdat hy skuldig voel oor iets nie. Of is dit hy wat straks agter die deur staan? Die woordestryd raak driftiger by die oomblik. Vloeke en verwyte en ’n halfgeëte bord kos sal nie vir lank goed genoeg wees nie.

Sy bloedbelope oë gluur haar oor die tafel aan, vernou tot twee donker skrefies omdat haar blik nie wyk nie. Toe spat sy bord aan stukke teen die verste kombuismuur. Dit is die geklingel van die krytklok, die sein vir die geveg om te begin.

“Jou hitsige teef, jy dink ek’s onnosel, nè!” Hy druk hom met twee sopbordgrootte hande van die tafel af op. “Jy dink ek weet nie wat in dié huis aangaan wanneer ek my gat draai nie!”

Bernard Welman is ’n groot man met ’n groot stem. Hy bulder dat hulle hom in elke aangrensende semihuis sal kan hoor, die Koens langsaan, die Beukese oorkant die pad, seker die Khouries aan die ander kant van die Koens ook. Die eerste hou val in die sleurspoor van sy woorde. ’n Vuis soos ’n voorhamer in die sagtheid van haar onderlyf.

Drien kreun gedemp. Enigiemand anders sou gegil het. Sy het haar voorgeneem, toe hy ’n paar jaar gelede met sy dinge begin het, dat sy hom nooit die genoegdoening sou gun om haar te hoor skree nie. Daarom byt sy die gil terug, sluk dit weg saam met die vernedering. Die volgende hou is skerper, ’n voltrefferplathand teen die kant van haar kop. Haar lang hare warrel oor haar gesig. Sy steier sywaarts oor die vloer, ore suisend, knieë knakkend, ’n marionet aan ’n gebreekte toutjie. Die uitgebuigde poot van ’n kombuisstoel pootjie haar. Hande voor die gesig tol sy teen die kombuisdeur vas, sak op haar hurke neer. Bloed sypel uit haar mondhoek waar ’n tand haar lip gesny het. Sy sper haar oë terwyl sy verbete aan haar bewussyn klou, ’n bokser teen die krytvloer wat stry om nie deur die newels uitgetel te word nie. Haar kinders . . .!

Hy is nog lank nie klaar met haar nie. Terwyl hy op haar toesak, kop omlaag soos ’n bruinbeer op ’n veghond, blasend van die inspanning en jaloesie, ruk hy die kombuisdresser in die verbygaan om. Die kas kantel teen die kombuistafel vas. Borde, koppies, pierings en glase – die laastes in die huis wat nog heel was – saai in skerwe oor die vloer. Messe, vurke en lepels, ’n blikoopmaker en ’n aartappeldrukker spat uit die gebreekte laaie. Die vleismes skuif oor die linoleumvloer, tol duime van haar hand af tot stilstand, die lem glimmend in die enkele kombuislig. Haar oë rus ’n oomblik te lank op die staal.

Hy gryns. “A-ha, so dís jou plan, nè? Nou maar mooi, vat daai mes. Kom, moenie maak of jy nie van die ding weet nie, vat hom!” Hy buk en met sy oë stip op haar gesig raap hy die mes van die vloer af, vou haar stywe vingers om die hef, druk haar kneukels dat dit kraak. “Kom, steek my, jou bitch!” Hy ruk sy hemp oop. Knope wentel oor die tafelblad en kaal sementvloer. Sy boep dril oor sy lyfband. Hy vee ’n streep deur die beswete swart hare op sy melkwit bors. Bier- en brandewynkwyl spat in haar gesig. “Hier, man, hiér, sit hom in my hart. Komaan, steek my. Dis mos wat jy wil doen, hoer!”

Die mes val uit haar hand. Hy slaan sy hande in haar hare, beur haar kop agteroor sodat sy na hom toe opkyk. Stadig trek hy haar aan haar hare orent. Selfs in haar beswyming ruik sy hom. Die sweet van ’n halwe week sonder ’n bad, ’n hele middag en vooraand se sigaretrook. Uit sy keel walm die suur van bier en brandewyn, vermeng met die stank van ’n mandier op die aanval.


Haar bene wankel, maar vir ’n oomblik flikker haar oë uitdagend. As minagting ’n vorm en kleur gehad het, sou dit twee bruin oë in ’n gekneusde gesig wees. Die kyk van innerlike weerbarstigheid ontgaan hom nie. Hy kan hierdie tierwyfie nie tem nie. Hy kan haar met krag domineer, ja. Hy kan haar van hoek tot kant deur hierdie vertrek bliksem, maar tem sal hy haar nooit. In haar weerloosheid bly sy hom steeds een voor. Die besef maak hom rasend.

Hy vat die pante van haar bloes vas, knoop dit in sy hande. Sy is skaars die helfte van sy gewig. Hy lig haar hoër. Sy talm op die punte van haar tone. Sonder inspanning hys hy haar op sodat haar voete van die grond af lig en haar oë in lyn kom met syne. Toe ruk hy sy kop blitsig agtertoe en vorentoe. Sy breë voorkop tref haar vol in die gesig. Die kraakbeen in haar neus knars. Bloed spat by haar neusgate uit, blerts oor haar bloes, sprei ’n mis oor die tafel en omgekeerde koskas. Sy is bewusteloos toe sy die vloer tref, oor glasskerwe skuur en in ’n bondel teen die koolstoof se voetstuk tot stilstand kom.

Hy gaan staan wydsbeen bo-oor haar, tuur af na haar geslote oë en bewende onderlip, die storm in sy binneste ver van uitgewoed.

“Moenie dink jy kan rondfok en daarmee wegkom nie, hoor jy vir my?” Hy tree terug en moker sy vuis deur die splinterbord van die omgekeerde koskas.

“Ek sê, hoor jy my!”

Sy antwoord nie. Sy is so uit soos die halwe brood wat langs haar op die vloer lê.

Hy gaan sit hygend op ’n kombuisstoel. Sy oë dwaal oor haar vlak ademende liggaam. Hy vul ’n blikbeker met water uit die kraan en skiet dit in haar gesig.

Sy ruk, kreun en beur op tot in ’n sitposisie. Die bloed in haar keel laat haar stik. Sy trek haar teen die kant van die kombuistafel op, skuifel opwasbak toe, spoel water uit die kraan oor haar gesig en hande. Toe tref ’n ander gedagte hom. Hy kantel sy kop luisterend. “Waar’s die kinders?”


Sy stem is ’n veraf suising in Drien se ore. Toe hoor sy hoe hy in die huis begin rondsoek. Straks is die kinders dan tog orraait, maak haar benewelde verstand haar wys.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS