My naam is Legio

Uittreksel: My naam is Legio

Een

Sondag 2 Junie 2019

Die Vrystaatse winternag ruik na die dood en ’n belofte van ryp.
Doktor Renata Malan maak die Mercedes Benz-AMG se deur toe en stryk aan oor die ongelyke grond. Haar bestemming is ’n vervalle struktuur wat karnavalagtig opgetooi is deur draagbare spreiligte en misdaadtoneellint. Die gedreun van ’n kragopwekker en die gesnork van varke word op die ysige lug na haar toe aangedra.
Haar allenige kuiersessie met ’n bottel Glenfiddich is so veertig minute gelede onderbreek deur die oproep wat haar hierheen ontbied het. Dit is die herdenking van haar ma se dood, die dag waarop sy elke jaar onwillig eet van die bittersoetste herinneringe van haar kinderjare.
Dit was moeilik om die gedagtes aan Charlotte Hill weg te stoot sodat sy haar werk as forensiese sielkundige kon kom doen. En tog. Op daardie aand in 1984 toe haar oupa haar ma in ’n oomblik van woede en ontsetting doodgeslaan het, het haar lewe ’n koers ingeslaan wat gelei het tot hierdie oomblik, hierdie bouval en die onmiskenbare reuke van lewe en dood.

Daar is ’n bose mens in wie se kop sy moet klim. As Malan & Coetsee Privaat Ondersoeke na ’n misdaadtoneel toe ontbied word, beteken dit die owerhede verwag dat die moordenaar nie gaan hou by een slagoffer nie.
Ter wille van tyd het sy nie haar lang swart hare in die gebruiklike bolla laag in haar nek vasgebind nie. Dit hang tot in die kurwe van haar rug en verskaf ’n ekstra skans teen die ryp in die lug. Die gewone wit snyerspak en Jimmy Choo-spykerhakke is by die huis, vervang deur jeans, stapskoene, ’n dik trui en ’n baadjie.
Stefan Coetsee, vennoot, vriend, vertroueling en soveel meer, staan buite die bouval en rook, sy wit hemp se kraag opgeslaan teen die ysige wind en sy linkerhand in sy jeans se sak gedruk. Sy gesig is grys onder sy dik bos donker hare, sy oë soos dié van ’n man wat ’n oorlog oorleef het.
“Fokken load shedding,” is die irrelevante woorde waarmee hy haar begroet. Sy asem maak wasemwolke op die ysige lug asof hy sy gesigsuitdrukking daarmee probeer verberg. “Dis nou weer elke aand se ding. Mens kan nie eens meer TV kyk nie.” Renata staar na die sigaret in sy hand. Hy het meer as ’n jaar gelede opgehou rook. Dit was ’n rekord. Hy was trots daarop.
Eerder niks sê nie. Daar sal wel ’n goeie rede wees. “Grillerige plek.” Sy draai in die rondte met haar hande op haar heupe, druk haar ken in die rigting van die verwaarloosde ou huis ’n paar honderd meter weg. “Woon iemand daar?”
Hy skud sy kop. “Die plek is ’n moerse gemors binne. Die meeste van die binnemure en goed is glo afgebreek.”
“Ek sien. Ek neem aan ons slagoffer is hier binne?”
’n Knik. “Samuel is besig met haar. Ek sal jou nie aanraai om in te gaan nie.”
Sy kyk met opgetrekte wenkbroue na hom. “Dis my werk.”
Hy hou die sigaret na haar uit. “Wel, as jy regtig voel jy moet daar ingaan, vat eers ’n paar trekke. Jy gaan dit nodig kry. As ek ’n zol gehad het, het ek vir jou een gegee. Ook maar fokken goed jy het nie een van daai silly wit suits van jou aan nie.”

“Stefan, is jy oukei?” Sy hand met die sigaret daarin bewe liggies. As oudpolisieman het hy waarskynlik alles gesien wat daar te sien is. Hy bewe beslis nie van die koue nie. Stefan Coetsee spog altyd dat hy nooit koud kry nie.
Hy trek sy skouers op, druk die sigaret weer in sy mond en suig diep daaraan, sy oë wild bo sy gesonke wange. “Ja,” sê hy uiteindelik. “Of course is ek oukei. Ek dink ek het ’n vakansie nodig. ’n Lange.” Hy knyp die sigaret se kooltjie af en druk die stompie in sy hempsak. “Kom, ek sal saam met jou ingaan. Ek skat ek is die eerste keer heeltemal te vinnig weer daar uit.”
Renata lig haar wenkbroue. Stefan wat onbehoorlik vinnig by ’n misdaadtoneel uitgaan?
Terwyl sy amptelik by ’n konstabel met ’n geelbleek gesig aanmeld en die beskermende DuPont Tyvek-oorpak aantrek, praat Stefan onophoudelik oor die vakansie wat hy in die Wes-Kaap wil hê.
“Niks fancy nie,” sê hy, terwyl hy die wit oorpakbroek oor sy skoene wikkel. “Net ’n spot waar ek van die rotse af kan visvang en waar ek aan die slaap kan raak met die geluid van die branders in my ore. Branders. Net dit. Ek los my foon by die huis.”
“Jy eet nie eens vis nie, Coetsee.” ’n Flou poging om hom uit hierdie vreemde bui te kry. “Jy moet by ’n plek gaan vakansie hou waar ’n mens hamburgers of steaks kan vang.”
Hy steur hom nie aan haar nie. “Ek wil nie mense om my sien nie. Nie een nie. Dit moet net ek wees. Ek en my visstok en my aas.”
Renata volg ingedagte die elektriese drade wat soos
dooie slange op die witgekalkte gangvloer lê. Sy kan nie onthou wanneer Stefan se laaste vakansie was nie. Miskien is dit tyd. Jy word stukkend as jy elke dag gekonfronteer word met die verlooptheid van die mens. Sy sal hom aanmoedig om weg te gaan, neem sy haar voor.
“Ek wil soos ’n bum leef, Kleinmuis,” kom sy stem hier agter haar, ’n hol klank in die benouende gang.

Hy moet harder praat. Die varke se gesnork en geskree veroorsaak ’n kakofonie van klank. Die koperagtige reuk van bloed word intenser, ’n ontstellende gewaarwording so saam met die troetelnaam wat Stefan destyds vir haar in die kinderhuis gegee het. “Elke dag in die son, weg van mense wat mekaar befok en uitmoor en destroy.”
Renata kom tot stilstand toe sy om die hoek stap. Die gang, helder verlig deur ’n elektriese lamp op ’n driepoot, lyk soos ’n mynveld van genommerde geel keëls. ’n Massa donker merke en strooihalms vleg tussen die keëls deur.
“Hou teen die muur,” sê Stefan hier digby haar oor. “Die goed is vet, so, hulle dik fokken pense het teen die muur gedruk. Sien jy? Niks spore teen die muur af nie.”
Sy versteen. “Waarvan praat jy, Coetsee?” Hopelik nie van die varke nie. Die toneel is ’n gemors.
“Landrasvarke. Die grootste fokkers wat ek nog in my lewe gesien het.”
Net wanneer mens dink jy het al alles beleef op misdaadtonele. “En die rol wat hulle in hierdie misdaad gespeel het?”
“Hulle was honger en daar was die bloeiende corpse van ’n meisie en varke vreet alles. Need I say more?”
Sy ril. Geen wonder Stefan is vinnig by hierdie toneel uit nie. Geen wonder hy het skielik weer begin rook nie. Misdade teen vroue en kinders tref hom diep en as mens honger varke by ’n toneel voeg waar ’n vrou vermoor is, is dit ’n waarborg dat die man se ontsteltenisvlak ongekend die hoogte sal inskiet.
Renata loer oor haar skouer na hom. “Ek sal ingaan, Stefan. Dis nie nodig dat jy weer notas maak nie.”
Sy oë is op die bloederige varkspore, sy mondhoeke afgerem. “Notas? Ek het nie notas gemaak nie.”
“Wel, dis nie nodig dat twee van ons notas maak nie.”
Sy oë ontmoet hare, een dik, donker wenkbrou opgetrek. “Ek maak nooit notas nie en jy weet dit. Probeer jy my sensibilities spaar, Malan?”
Sy wend haar oë dakwaarts. “Asseblief. Bid jou dit aan. Jy het nie ’n sensibility van ’n dag oud nie.”

“Nou maar move it.”
Hy volg haar terwyl sy, teen die muur aangedruk, aanskuifel na die vertrek waaruit dokter Samuel Akande se stem hoorbaar is. “Staan eenkant toe, Johannes, jy versper die lig. Asseblief en dankie, jong man.”
Renata glimlag. Akande is terug op sy pos as staatspatoloog. Die korruptes wat hom afgedank het, is ontmasker en self afgedank. Die wêreld is ’n beter plek. Haar werk sou nie dieselfde gewees het sonder Akande nie. Hy is een van die min wat omgee vir dié wat dood is, een van die hand vol wat respek het vir die gestorwenes en hulle by die naam ken. Sy oorweldigde assistent wat verlede jaar onwillig in sy plek aangestel is, was diep dankbaar toe sy bevordering ter syde gestel word en Akande weer sy pos oorgeneem het.
Renata is vaagweg bewus daarvan dat Stefan teen haar bots toe sy in die deuropening tot stilstand kom, hoor op ’n afstand hoe Samuel Akande, boorling van Nigerië wat deur Afrikaanse aanneemouers grootgemaak is, haar in daardie perfekte Afrikaans van hom groet. Sy hoor selfs hoe sy die patoloog deur stywe lippe groet en vir hom sê hoe lekker dit is om hom weer op ’n toneel te sien, al is dit dan nou by so ’n toneel.
Want hierdie tablo is boosaardig, byna spookagtig. Die vertrek is vervalle, vol bewegende skaduwees daar bo teen die dakbalke waar die lampe sukkel om by te kom, die witgekalkte muur agter Samuel Akande op ’n makabere wyse ontsier deur ontelbare bloedspatsels wat, plek-plek gelei deur hobbels en duike in die growwe muur, in eienaardige spore na benede gevloei het.
Die reuk van bloed hang nou swaar en nat in die lug, gemeng met die stank van varke en die een of ander kruiegeur. ’n Dosyn of meer geel keëls vertel elkeen ’n verhaal van iets betekenisvols wat tussen die strooi lê. Onder die meisie se kop is die graanafval ’n glinsterende rooi.
Renata sak op haar hurke af en bestudeer die voorwerp wat vlak by haar voete lê langs die keël met die nommer 127 daarop.

“Vel,” sê Samuel Akande sag en skud sy kop, ’n oorgewig ruimtewese in sy wit oorpak wat alles behalwe sy volmaangesig bedek. Daar is gerugte dat DuPont spesiaal vir hom oorpakke moet maak, aangesien normale groottes ongemaklik aan hom sit. “Die toneel is wyd versprei, Renata. Die hele bouval en die varkhok daar agter is vol fragmente van ons slagoffer se vel, tendons en spiere. Daar is selfs stukkies van haar brein en been. Oraloor. Die varke het dit versprei tot agter in die varkhok. Hulle is morsige vreters.” Hy trek sy massiewe skouers op. “Die diere was honger, maar selfs al was hulle nie . . .”
“Was sy reeds dood toe hulle aan haar gevreet het?” Renata kom sidderend orent.
“Ek sien geen teken van vitale reaksie nie, met ander woorde geen bloeding in die wondrande nie. Na alle waarskynlikheid het hulle dus postmortem aan haar liggaam gevreet, maar ek sal dit bevestig met histologie.” Akande staar na die liggaam by sy voete. “Mag dit so wees. Sy het heeltemal genoeg gely.”
Renata trap versigtig tussen die keëls deur en gaan staan by die patoloog langs die liggaam op die bebloede vloer. Die meisie se digte donkerbruin hare verberg haar gesig, haar arms bokant haar kop uitgestrek. Sy is naak, die wit van haar kaal ledemate obseen in die helder lig en die helderder wit van been, senuwee en tendon is plek-plek sigbaar waar die varke hul honger aan haar liggaam gestil het.
Sy kyk in die vertrek rond. “Is haar klere al in ’n sak?”
“Hier was geen klere op die toneel nie. Ook nie dit waarmee hy haar vasgebind het nie.”
“Wat de fok het hier gebeur, Samuel?” Stefan se gesig is geel in die lig van die elektriese lig, sy lippe dieselfde kleur as die grys mure.
Akande staar in die rigting van ’n katrolstel teen die muur, waar ’n tegnikus doenig is met ’n vingerafdrukkwas. “Dit wil voorkom of sy gemartel is voor sy doodgeslaan is, arme meisie. As ek twee en twee bymekaar moet tel, sou ek sê dat haar arms agtertoe gebuig is en sy só aan haar arms aan daardie toestel opgehang is. Sy is waarskynlik opgehys met daardie gewig aan haar voete vasgebind.” Hy beduie na ’n lywige gewig met ’n growwe tou wat deur ’n lus geryg is, sak op sy hurke en staar na die skraal liggaam voor hom. “Beide skouers is ontwrig en daar is diep skaafplekke aan haar gewrigte sowel as haar enkels. Dislokasie veroorsaak intense pyn. Dit was marteling.”
“Jy sê sy is doodgeslaan?”
“Meer as een hou teen haar kop met ’n stomp voorwerp, Renata. Dis nou te oordeel na die veelvuldige gesonke frakture wat ek so vinnig in die oksipitale been kon raakvoel. Dit en die hoeveelheid afgewerpte bloed teen die muur. Ek sal met meer sekerheid kan sê wanneer ek haar op my tafel het.”
“Omtrent hoe laat is sy dood?” Stefan se stem is skor. Hy bring sy selfoon te voorskyn en begin foto’s van die toneel neem.
“Sy het waarskynlik tussen drie en vier uur gelede gesterf, my ou vriend. Daar is minimale rigor mortis en ’n beduidende daling in haar lewertemperatuur, maar ons moet in gedagte hou dat die aanvoelbare temperatuur in hierdie struktuur ongeveer agt grade Celsius is. En sy is naak.”
Stefan sak ook op sy hurke en bestudeer die toneel tydsaam. “Wie het haar gekry?”
“Volgens die konstabel wat eerste op die toneel was, het ’n paartjie wat . . .” Akande kug. “Wel, ek meen te sê die paartjie wat mekaar hier neffens die bouval in die Bybelse sin wou leer ken, het die varke se kabaal gehoor. Die man het kom kyk en die polisie ontbied.”
Stefan snork. “Seker sy lus weggeskrik, die fokker. Lekker. Watse vuilgat wil langs ’n varkhok in die middel van die gramadoelas hide the damn sausage speel, my fok?”
Akande se verleë glimlag kom en gaan. “Soos ek verstaan, het die paartjie aanvanklik op die kleinhoewe langsaan by die onwettige sjebien gekuier. Die man is getroud en die meisie is bekend as ’n sekswerker. Omdat die man hier werk, het hy die plek so goed geken dat hy geweet het niemand behoort hulle te steur nie.”

Renata kyk in die bloedige vertrek rond. “Durf ek hoop dat die moordwapen nog op die toneel is?”
“Die span het ’n piksteel ontdek. Daar is bloed en hare aan die steel, so, ek is hoopvol dat dit wel die implement is. Ek sal laat weet.”
“Enige iets anders wat jou opgeval het, afleidings wat jy kon maak?”
Dokter Samuel Akande sug. “Die oortreder was oënskynlik in die greep van intense woede toe hy die houe toegedien het. As ek moet oordeel aan die wonde, sou ek sê dat daar ’n persoonlike verbintenis tussen die oorledene en haar moordenaar was. Hy was ontsaglik kwaad.”
Renata skud haar kop. “As daar ’n persoonlike verbintenis was, impliseer dit ’n eenmalige gebeurtenis. Tog het jy vir Malan & Coetsee ontbied, Samuel. Is dit die marteling met die katrolstel wat jou laat dink dat die moord potensieel een in ’n reeks is?”
“Dis maar een van die kommerwekkende dinge. Jy het my geleer dat rituele dikwels een van die eienskappe van ’n reeksmoord is.”
Sy knik.
“Wel, daar is nog iets.” Hy lig die meisie se bebloede hare versigtig van haar gesig af. “Dit wil mos al vir my na iets uiters ritualisties lyk.”
Renata staar. ’n Kruis is in die slagoffer se voorkop ingebrand, reg in die middel van haar voorkop bokant haar verdwaasde liggroen oë.

KOOP HIER

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS