Nuwe_LAPA_Blog_Mirre

Uittreksel: Mirre – Chanette Paul

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Hoe kan Mirre haar man - ʼn befaamde huweliksberader - se loopbaan vernietig terwyl sy weet hy is die produk van ʼn disfunksionele gesin? As sy ’n klag van huishoudelike geweld lê sal André haar nooit vergewe nie. Boek twee van die Vywervrou Trilogie.

Vrydag 23 Maart 2018
Fresnaye
Mirre

Alles versplinter. Die see agter die glasskuifdeure breek soos ’n spieël. André se gesig word ’n legkaart wat uitmekaar spat. Kolkende swart en rooi is al wat oorbly van haar sig.

Nog ’n vuishou. Dié keer op die neus. Mirre snak na asem. Die swart en rooi word diep, donker pers.

Die volgende hou klap teen haar mond, knip haar gil kort.

Pyn volg kort op die hakke van verbystering.

“Ná alles wat ek vir jou gedoen het! Gegee het! Van jou gemaak het! Iets van niets!” Sy weet André skree, maar die woorde kom van ver af.

“En dit met Boeta Naudé! ’n Fokken Neanderdaller! ’n Agtertangse ploert! Hoe kan jy dit aan my doen?”

Mirre koes blindelings toe hy met ’n gefrustreerde uitroep nog ’n vuishou na haar mik. Sy voel die beweging van lug verby haar kop trek. André is vir ’n oomblik van balans af.

Sy benut haar kans instinktief en hardloop. Sy struikel op die trappies wat boontoe loop na die portaal, maar herwin haar balans.

Pyn disoriënteer haar. Alles om haar lyk skeefgetrek – vierkante word parallelogramme, rond is nou ovaal. Sy gryp haar motorsleutels op die tafel by die voordeur tog raak. Haar linkerpalm klap teen die skakelaar vir die veiligheidshek. Haar regterhand vind die sleutel in die slot van die voordeur, draai, sy druk teen die deur wat op sy spil oopswaai, wurm haar deur die opening nog voor dit heeltemal oop is. Dit stuit die veel groter André, maar net ’n paar sekondes lank.

KOOP HIER | BUY HERE
Hoe kan Mirre haar man - ʼn befaamde huweliksberader - se loopbaan vernietig terwyl sy weet hy is die produk van ʼn disfunksionele gesin? As sy ’n klag van huishoudelike geweld lê sal André haar nooit vergewe nie. Boek twee van die Vywervrou Trilogie.

Mirre druk die afstandbeheerder wat haar motor oopsluit, toe op die tweede afstandbeheerder, die paniekknoppie. Laat val amper die sleutels. Sy pluk die deur oop, beland half skuins in die sitplek, skakel die enjin aan, al is die deur nog nie toe nie en tru deur die gaping wat die veiligheidshek reeds gelaat het. André slaan met sy hand op die enjinkap, skree iets. Sy swaai die motor blindelings in die straat in. ’n Toeter blêr. Sy verwag ’n slag, maar daar is net ’n lang getrompetter toe ’n motor rakelings verby hare ry.

Eers by die eerste stopstraat maak sy die deur behoorlik toe. By die een daarna sit sy haar veiligheidsgordel aan, meer om die gepiep stil te kry as dat sy bekommerd is oor haar veiligheid. Veiligheid bestaan nie meer nie.

By die derde stopstraat raap sy ’n hand vol snesies uit die boks wat sy altyd in haar motor hou en spoeg die bloed wat dreig om haar naar te maak daarin uit.

André se motor is in die motorhuis, terwyl hare in die oprit gestaan het. Hy sal eers sy sleutels moet kry. Die roldeur oopkry. Die veiligheidshek. Dit sal hom minstens vyf minute vertraag. Hopelik sewe. As die sekuriteitsmense so blitsig soos gewoonlik op die panieksein reageer, hou hulle André dalk lank genoeg besig dat sy op die oop pad kan kom.

Met net een oog waardeur sy kan sien, sukkel sy om distansie te skat, maar al het sy die roete jare laas gery, ken sy die pad soos die palm van haar hand.

High Level Road. Links in Hill. Regs in Main. Om die sirkel by Groenpunt.

Geen swart BMW in die truspieël nie.

Helen Suzman Boulevard. Nelson Mandela Boulevard. Settlers Way.

Op die N2 begin sy effens ontspan, al bly sy die truspieël dophou. Dis asof die pyn haar voorlopig genadig was, maar nou slaan dit met felle geweld toe. Asof André se vuiste haar opnuut tref.


KOOP HIER | BUY HERE
Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ʼn ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het. Sy beland op Vywerbaai waar sy ʼn winkeltjie vir haar upcycle-produkte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem is enorm en teenspoed bly nie uit nie maar sy bly vasberade – upcycle gaan sy haar lewe upcycle. Lira wen die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ʼn vierde maar verloor haar hart aan die verkeerdste man denkbaar – een met ʼn sterwende vrou en ʼn kind wat Lira haat. Die legende van die vywervrou van Vywerbaai word die tema van Lira se winkel maar hou ook ʼn waarskuwing in: Ter wille van sy kinders sal ʼn man sy taaibosspies deur ʼn vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat hulle kan eet. Maar soos haar vriendin Corali sê: “Ons vywervroue laat ons nie fokken opvreet nie. Deur geen man vrou of kind nie.” Vywervrou: Lira is die eerste in Chanette Paul se nuwe trilogie wat in 2019 sal verskyn. Die tweede titel is Vywervrou: Mirre en die derde: Vywervrou: Corali.

Nog voor die Somerset Mall raak die verkeer al swaar. Die verkeersligte tref sy omtrent almal rooi. By een glip haar voet van die koppelaar af toe sy wegtrek en die motor stol. ’n Toeter skel agter haar maar dit word net deel van die gedruis in haar kop. Dis asof skok ’n klank voortbring wat ander geluide verdoof.

Haar verstand bly traag om te funksioneer, die pyn te oorheersend vir helderheid.

Sy het haar vlugroete instinktief gekies. Die roete Vywerbaai toe. Waar Boeta Naudé is. Boeta met sy vrou en drie seuns. Boeta wat haar dertien jaar gelede verneuk het en toe met Alet moes trou. Maar waarheen anders kan sy gaan as Vywerbaai? Corali sal darem seker help, al het sy haar stief behandel. Daar is niemand anders nie.

Nuwe vriende ná hulle troue was buite die kwessie. Ou vriende – die paar wat daar was – het volgens André ’n negatiewe invloed op haar gemoedstoestand gehad en moes vermy word. Selfs Corali was op die taboelys – die een reël wat sy af en toe verbreek het nadat Corali weer met haar kontak gemaak het, maar uiteindelik tog daarin geslaag het om haar enigste oorblywende vriendin te vervreem.

André maak seker sy gehoorsaam sy reëls. Die kilometers wat sy in haar motor aflê, word gemonitor. Die Waterfront is die absolute limiet waarheen hy haar toelaat om te ry. Natuurlik omdat hy bekommerd is oor die misdaad in die land, die vele kapings, die grypdiewe wat motorruite stukkend slaan.

Haar selfoon verklap elke beweging. Dis nou tot dit onlangs gesteel is – of so het sy gedink.

KOOP HIER | BUY HERE
Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ʼn ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het. Sy beland op Vywerbaai waar sy ʼn winkeltjie vir haar upcycle-produkte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem is enorm en teenspoed bly nie uit nie maar sy bly vasberade – upcycle gaan sy haar lewe upcycle. Lira wen die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ʼn vierde maar verloor haar hart aan die verkeerdste man denkbaar – een met ʼn sterwende vrou en ʼn kind wat Lira haat. Die legende van die vywervrou van Vywerbaai word die tema van Lira se winkel maar hou ook ʼn waarskuwing in: Ter wille van sy kinders sal ʼn man sy taaibosspies deur ʼn vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat hulle kan eet. Maar soos haar vriendin Corali sê: “Ons vywervroue laat ons nie fokken opvreet nie. Deur geen man vrou of kind nie.” Vywervrou: Lira is die eerste in Chanette Paul se nuwe trilogie wat in 2019 sal verskyn. Die tweede titel is Vywervrou: Mirre en die derde: Vywervrou: Corali.

André moet altyd weet presies wanneer sy waar was. Met wie sy gepraat het. Dis wat ’n goeie man doen. Hy beskerm sy vrou. Veral teen haarself. Want Mirre is volgens André Dreyer emosioneel onstabiel. En hy sal weet. Hy is immers ’n welbekende sielkundige en huweliksberader. Een wat hom op sy perfekte huwelik beroem.


Vywerbaai
Boeta

Boeta kyk op van die klip wat hy aan die inmessel is in die waenhuis se muur toe Lira naderkom.

“Gaan jy nog lank wees?”

Dis al vyfuur, sien hy op sy horlosie. Sy handlanger is vergete al huis toe, maar die waenhuis moet klaarkom sodat Lira daar kan intrek voor hulle die huis se dak afhaal. Hierdie hele donnerse projek moet klaar kom sodat hy weer kan begin geld maak.

As hy besef het waarvoor hy hom inlaat toe hy dit help bewimpel het dat Lira Benade pleks van Fynn Murray die Kruger-strandhuis koop, sou hy dalk twee maal gedink het. Maar hoe moes hy weet die girl het skaars geld om haar gat te krap? Dat Lira nie eens kan bekostig om die lekkende dak te vervang nie, laat staan al die ander goed wat herstel moet word.

“Nog ’n rukkie. Hoekom?” Dis nie net die tydelike gebrek aan inkomste wat hom grys hare gee nie. As Alet uitvind hy delf diep in hulle spaargeld om Lira voor te skiet gaan sy befok wees. As sy egter uitvind Mirre is die rede daaragter, dat hy Lira min of meer afgepers het om ’n kothuis vir Mirre op haar perseel te bou, gaan ’n aktiewe vulkaan sy vrou nie kan nadoen nie.

“Corali het my oorgenooi. Het jy nog iets uit die huis nodig? Ek wil sluit.”

“Ek wil graag my gesig en hande was wanneer ek hier klaar is en nog gaan kyk wat op die boonste verdieping ook aangaan. Ek sal jou sleutels by Corali kom afgee. Moet mos in elk geval potte en teëls agter haar gat aanry. Gelukkig is dit klaar gelaai.”

Trust Corali. Leliker teëls as die goed wat hy van die badkamers se mure afgekap het, kan mens sweerlik nie kry nie. Maar wys Corali ’n teël van watter aard ook al en sy sal wragtag ’n manier kry om dit te gebruik in een van haar mosaïekprojekte.

Dit sal ’n goeie ding wees as Lira en Corali kan pelle raak. Corali is die ene grootbek, maar hy weet sy is eensaam. En Lira kan doen met ’n pel. Sy ken net mooi niemand hier nie. Net op ’n dag in ’n gefokte bakkie hier opgedaag in haar shorts en plakkies, die Krugers se huis teen ’n moerse bargain op ’n vendusie gekoop en werk haar nou besete aan voorraad vir ’n upcycle-winkel wat sy in die onderste verdieping wil oopmaak sodra hy die huis klaar opgeknap het.

Of iemand ooit gaan belang stel in goed wat sy nuwe lewe gee, weet nugter. Maar wie is hy om haar drome te bevraagteken? Upcycle is haar game en sy dink mense gaan haar maaksels koop. Good luck. Al is dit nogal mooierig, weet hy darem nie.

“Oukei. Dankie. Die sleutels is in die deur. Sien jou dan later.”

“Geniet dit.” Hy kyk haar agterna toe sy wegstap. Nou nie sy soort girl nie, maar sexy bly sexy.

Anders as Lira, kan sy soort girl ordentlik kook. Sy soort girl weet hoe om ’n ma te wees. Sy soort girl het nie haar eie power tools nie. Sny nie bottels se bodems af met toutjies geweek in asetoon nie. Kan nie ’n dunpunt-tang beter as hy gebruik nie. Aan al hierdie voorkeure voldoen Alet, maar ook Alet is nie sy soort girl nie, al is hulle dertien jaar getroud.

Een fout, een bliksemse aand in sy lewe het hy sy gulp nie toegehou nie en só net mooi alles opgefok. Vir hom, vir Mirre en seker vir Alet ook. Maar hy het sy drie belhamels. En dit moet nou maar net eenvoudig genoeg wees.


Anderkant Bredasdorp
Mirre

Die pyn is byna onuithoubaar. As sy haar beursie by haar gehad het, sou sy oorweeg het om na ’n dokter toe te gaan toe sy deur Bredasdorp gery het. Maar haar handsak het in Fresnaye agtergebly. Gelukkig is haar bestuurderslisensie in die paneelkissie. Dis darem ’n vorm van ’n ID.

Sy sal maar net moet deurdruk, al besef sy nou – net ’n halfuur se ry van Vywerbaai af – sy het ’n fout gemaak.

Vywerbaai is die laaste plek waarheen sy moes koers gekies het. Dis die eerste plek waar André haar sal kom soek. Boonop is die kanse skraal dat sy by Corali gaan welkom wees.

Omdraai is egter nie meer ’n opsie nie. Sy weet nie eens of sy die volgende halfuur die motor op die pad sal kan hou nie. Haar hele lyf is een bondel seer. Sy sukkel om te sien. Om asem te haal ook. Maar dis nie net fisieke pyn wat sy verduur nie. Haar emosies is in ’n warboel.

Ver weggesteek agter die pyn en die verbystering dat André só kon uithaak, is daar ’n eienaardige gevoel van verligting. Nou is die aap uit die mou. Nou kan enigiemand sien wat hy aan haar gesig gedoen het, terwyl die houe wat jare lank haar selfbeeld oor en oor getref en uiteindelik laat verkrummel het, nie gewys het nie.

Aanvanklik het sy self nie eens agtergekom hoe hy haar bietjie vir bietjie afbreek, haar in sy vorm probeer giet nie. Hoe hy ondermyn en opbou, straf en beloon om van haar sy maaksel te maak. Tot sy later nie meer geweet het wie sy is as sy nie André Dreyer se vrou is nie. Nie Ester Dreyer se skoondogter sonder deugde is nie. Nie Louisa Dreyer se nul-op-’n-kontrak-skoonsuster nie. En sy weet steeds nie.

In die agt jaar voor André haar ’n jaar gelede die eerste keer fisiek aangerand het, het sy die aftakeling gevoel gebeur, maar nie verstaan presies wat haar so afgetakel laat voel nie.

Tot Corali ’n naam daaraan gegee het. Emosionele mishandeling. Om te dink sy het Corali kwalik geneem. Gesê sy oordryf. Dat André maar net self ’n paar klappe van die lewe weg het. Dat hy dit nie moedswillig doen nie. Beslis nie ’n geweldenaar in enige opsig is nie.

En ’n jaar gelede . . . Mirre rem haastig toe sy die sestigkilometersone binnery. Sy is hier. Pleks van verlig, voel sy van voor af paniekerig. Hoe kan sy van Corali verwag om haar te help nadat sy Corali verbied het om haar ooit weer te kontak? Dit was toe sy besef het Boeta weet van die eerste aanranding. En Corali was die enigste een wat hom kon vertel het.

Boeta is buite die kwessie. Dis ná vyf. Hy sal al by die huis wees. En dis die heel laaste plek waarheen sy kan gaan. Alet sal haar soos ’n sleg hond wegjaag.

En sy kan niemand bel nie. André het nog haar foon. Wat ’n tweesnydende swaard is, want André kan haar ook nie bel nie. Kan nie sien waar sy is nie. Dankie tog daarvoor. Al sal hy vermoed.

Nee, Corali is haar enigste hoop. Maar sy kan nie só by haar opdaag nie. Corali sal haar buite weste skrik. Sy moet minstens eers haar gesig was. Die bloed het droog geword, dop al korserig van haar ken en wangbene af, maar sy kry nie alles met haar snesies afgevee nie. By ’n vulstasie kan sy nie stilhou nie. Nie terwyl sy lyk soos sy lyk nie.

Uit pure radeloosheid ry sy na die strandhuis toe waar sy die gelukkigste tye van haar lewe geken het. Die strandhuis wat sy geglo het hare gaan word ná Coert Kruger se dood. Soos haar ma hom laat belowe het. Maar wat nou tog aan iemand anders behoort.

Hopelik kan sy ten minste haar gesig by die buitekraan was voor sy na Corali toe gaan. Dis in elk geval in dieselfde straat as Corali se huis. Boeta het toestemming gevra om die huis te verbou volgens die skets wat sy vir hom maande gelede gestuur het – die huis soos sy dit gevisualiseer het. Dit behels dat ’n rietdak die een van sink moet vervang, dus woon daar hopelik niemand op die oomblik nie.

Sy het reeds by die laaste stopstraat voor die rotse en brekende branders links gedraai toe sy ’n trok in die straat voor die strandhuis geparkeer sien staan. Dit moet Boeta s’n wees. Hy werk seker laat. Vir ’n oomblik syg verligting deur haar, maar dis van korte duur.

Wil sy regtig hê Boeta moet haar só sien? Mirre krimp ineen. Nee, sy wil nie. Sy rem ’n entjie van die trok af. Dan eerder direk na Corali toe gaan. Omdraai. Sy moet haar motor aan die einde van die cul-de-sac gaan omdraai, maar sy is ineens aan die einde van haar kragte. Sy kan nie meer verder nie. Mirre laat haar kloppende kop teen die stuurwiel rus. Die motor se enjin ruk dood toe haar voet ’n tweede keer van die koppelaar afgly. Hernieude pyn skeur deur haar. Vir die eerste keer kom die trane.

Vywerbaai
Boeta

Sy foon lui terwyl hy sy hande in die kombuis was. Boeta vee die nattigheid sommer aan sy denim af. Alet. Wie anders. Gaan seker nou weer ’n gasket blaas oor hy laat is. Oor die kos wat koud word. Oor hy haar nooit in ag neem nie.

Maar laat hy eerder nou uitgekak word as om die bykomende verwyt te kry dat hy nie haar oproepe antwoord nie.

“Hallo, Alet. Sorrie ek is laat, maar ek moes net . . .”

“Ja, jy het alewig ’n verskoning. Maar ek wou net vir jou sê ek het nou net gehoor Fiona Murray is vanmiddag oorlede. Sodat jy weet as jy Fynn Murray dalk sien op pad huis toe. Wat ek graag wil weet wanneer dít eendag sal wees.”

’n Vrou wat al jare van Alet se skoonmaakdienste gebruik maak, is dood aan kanker en Alet is bekommerder oor wanneer hy gaan tuis wees. “Ek moet nog ’n draai by Corali gaan maak, goed vir haar aflewer. Sit maar my kos in die louoond vanaand. Ek sal môre opmaak.”

“Ja, ja, ja. Altyd verskonings. Altyd gunste vir almal. Probeer net nou en dan onthou jy het ’n vrou en kinders ook.”

“Ja, Alet. Tragies van Fynn se vrou.” Hy het altyd gedink Fynn Murray, wat ’n strandhuis so ’n ent af in die straat het, is ’n opgeblase Transvaalse drol met meer geld as wat goed is vir ’n mens. Maar hy het respek vir hom gekry toe Murray hom betaal het om namens hom op die Krugers se huis te bie, al het hy toe nie die huis gekry nie. Dit laat hom natuurlik vrek skuldig voel, dié dat hy die geld in Lira se projek gestoot het. Hy sal nie ’n sent daarvan vir homself gebruik nie.

Gister het hy ook nog so ’n bietjie van opinie verander, toe hy sien hoe die argitek na Lira kyk. Ook maar mens, ook maar man, het hy toe besef. Met sy vrou se siekte die afgelope twee jaar het Murray seker ook maar swaar gekry. Seker ook nie veel van ’n leg over gehad nie. Dié dat hy na Lira gekyk het of hy haar daar en dan kan bespring.

“Ja, dit is tragies,” roep Alet se stem hom terug, “al was Fiona Murray so upstairs en vol van haarself. En jy dink seker nou dis jammer dis nie jy wat skielik wewenaar geword het nie. Sou dit jou nou nie wonderlik gepas het nie. Dan kon jy daardie Lira-sloerie vir wie jy nie genoeg kan doen nie, lekker bykom. Nou toe, roer jou gat dat jy by die huis kom.”

Alet lui af sonder om te wag vir ’n antwoord. Gelukkig. Nie dat hy haar doodwens nie. Hy wens net hy het daardie Oujaarsaand, net oor die dertien jaar gelede, nie vir haar aangeplakte simpatie en fladderende wimpers geval nie. Vir alles wat sy op ’n skinkbord aangebied het. Hy wens net . . .

Maar nou ja. Soos sy stiefpa altyd gesê het, wens in die een hand en kak in die ander en sien waarmee bly jy sit.

Boeta frons toe hy uitstap. En dié kar wat agter sy trokkie staan?

Die persoon agter die stuur sit vooroorgeboë, kop teen die stuur.

Hy stap huiwerig na die bestuurderskant toe, klop aan die venster. Die vrou lig haar kop.

Boeta gee onwillekeurig ’n tree terug. Dit lyk asof sy deur ’n bus getref is. Trane maak strepe deur droë en minder droë bloed. Hy tree weer nader, maak die deur oop.

“Kan ek dalk . . .”

“Boeta?”

Dis eers toe hy haar stem aan die fluistering herken, dat hy weet wie hierdie stukkie verminkte mens voor hom is. Die liefde van sy lewe wat hy verloor het omdat hy ’n dom doos was.

“Mirre! Liewe fok, was jy in ’n ongeluk? Waar? Wanneer?” Daar is geen teken aan die Toyota Cross dat sy in ’n motorongeluk was nie, dring dit tot hom deur. “Mirre? Moenie vir my sê . . .”

Snikke begin deur haar ruk.

“Mirre? Het André jou gemoer?” Nog voor sy knik, weet hy dis wat gebeur het. ’n Woede so fel dat dit hom duiselig maak, trek deur hom. “Waar is die stuk slangkak? Waar is hy? Fok, Mirre, ek moer hom dood! Ek . . .”

“Boeta, ek het so seer.” Dis weer net ’n skor fluistering, maar dit ruk hom tot sy sinne.

Nou het Mirre sy hulp nodig, nie sy woede nie. Daaraan kan hy later aandag gee. Besluit hoe hy die lae luis stadig en pynlik kan vermoor.

“Kom, ek vat jou dokter toe.” Hy help haar agter die stuur uit, maar sy is so wankelrig op haar bene dat hy haar liewer optel en na sy trok toe dra. Sy weeg minder as sy oudste seun en dié is maar in graad sewe.

“Vat my net na Corali toe, asseblief?”

“Jy het mediese hulp nodig.” Hy lig Mirre tot in die trok se sitplek, maak seker sy sit so gemaklik as wat moontlik is.

Sy skud haar kop, maar dit moet die pyn vererger want sy druk haar hand teen haar slaap. Nou eers sien hy hoe skeef haar neus staan.

Corali ken ’n afgetrede dokter wat in noodgevalle huisbesoek doen, onthou hy verlig. Dié het hom ook een keer met Daaf gehelp nadat die kind van sy fiets afgedonner het. “Goed, ek neem jou na Corali toe.”

Sy laat sak haar kop in haar hande. “André mag nie weet ek is hier nie. En hy sal raai. Sal dalk dokters bel. My kar . . .”

Natuurlik. “Oukei. Bly net so sit.” Eintlik moet sy net so gou as moontlik versorg word, maar sy is reg. Hy druk die deur toe, hardloop na haar kar toe. Gelukkig is daar plek agter Lira se huis, waar dit nie van die straat af sigbaar sal wees nie. Dit moet voorlopig goed genoeg wees.

Hy hardloop terug na die trok toe. Mirre sit steeds met haar voorkop in haar hande.

Fok! Lira is by Corali, onthou hy toe hy ’n ent af in die straat voor die helder pers kunstenaarshuis stilhou.

“Ek is nou terug, oukei?”

Snot drup uit Mirre se neus en trane maak voortjies deur die bloedvlekke. Ag hel, hoekom is hy nie een van daardie ridderlike drolle wat altyd ’n spierwit sakdoek in hulle broeksakke het nie? Hy leun oor Mirre en soek rond in die paneelkissie, kry ’n rol toiletpapier wat hy altyd saamry, vir ingeval, en druk dit in haar hande.

“Ek is nou terug,” herhaal hy soos ’n donnerse imbesiel.

Corali vat vir bleddie ewig voor sy die voordeur oopmaak. Sy is vanaand in ’n wit rok. Corali dra net wit en swart asof sy uit ’n monochroom kiekie gestap en haar in ’n wêreld van kleur tuisgemaak het.

“Ag, jy is ’n liewe ding. Jy kan die potte sommer net op my stoep aflaai.”

Die potte. Agter op die trok. Hy het skoon daarvan vergeet. Geen wonder sy is nie verras dat hy hier opdaag nie.

“Corali, Mirre is in die trok. André het haar gebliksem. Sy lyk verskriklik.”

“Nee!” Corali se hand gaan na haar mond toe.

“Niemand mag weet sy is hier nie. Die vark sal haar soek en hy gaan haar hier op Vywerbaai soek.”

“Lira . . .”

“Ek weet Lira is hier en Mirre se kar staan agter haar huis, dus sal ons haar moet sê. Maar nou moet jy eers vir Mirre help. Jou dokter-pel hier kry as jy kan.”

Corali trek haar asem skerp in toe hy Mirre uit die trok tel.

Hy help haar binnetoe met Corali wat deure oopmaak en beduie dat hy haar na die gastebadkamer moet neem.

“My noodhulpkissie is daar,” verduidelik Corali.

Mirre gaan sit op die bad se rand.

“Waar is Lira? Ek sal haar huis toe neem.” Hy kan nie ’n oomblik langer na daardie vermorselde gesig kyk nie.

“Op die agterstoep. Of dalk in my studio. Kry vir jou wyn om te kalmeer voor jy haar vat. Daar staan ’n bottel op die tafel. Uit met jou.” Corali druk hom by die deur uit en trek dit agter haar toe.

Daar is nie ’n kelder in die wynlande met genoeg wyn om hom te kalmeer nie. Hy sal die man met sy kaal hande verwurg. Stadig. Pynlik stadig. Dis nou nadat hy sy knaters met ’n stomp saag geamputeer en sy fokken tril met ’n snoeiskêr afgeknip het.


Mirre

Corali werk versigtig om die ergste bloed af te kry, maar vir Mirre voel die nat watte soos skuurpapier oor die wonde. Die dokter het nie sy foon geantwoord nie, maar Corali het ’n boodskap gelaat.

“Wat de bliksem het gebeur, Mirre?”

Sy gaan nie weer die fout maak om haar kop te probeer skud of knik nie. “Hoofpynpil. Asseblief, Corali. My kop wil bars.”

Corali druk ’n nat waslap teen haar oog. “Hou so vas. Ek het net Panado hier. Ek kry vir jou iets sterkers in my kamer.”

Iemand kom in die gang verbygestap net toe Corali die deur oopmaak. ’n Vrou met lang rooiblonde hare. Corali trek die deur haastig toe, maar te laat. Die helder groen oë het reeds groot gerek toe sy Mirre sien sit.

Mirre hoor stemme in die gang opklink. Boeta s’n en Corali s’n. Eers te sag om te hoor tot hulle harder praat.

“Ek hoop hy kom soek haar by my, Corali. Sodat ek die fokker kan fokken doodmoer.”

“En dan gaan sit jy met jou gat in die tronk en waarvoor? Dié keer sal sy deurgaan met die klag. Ek sal donnerswil seker maak daarvan. Ek gaan foto’s neem. Elke bleddie detail. Ek sal sorg dat die polisie haar dié keer glo. Hierdie keer het hy te ver gegaan. Laat die fokker eerder self in die tronk gaan sit as jy.”

Mirre luister nie verder nie. Corali sal wel agterkom dit help nie om polisie toe te gaan nie. Al het hulle foto’s. Sy is al een keer daardeur.

Hulle het André se weergawe geglo toe sy die eerste keer ’n klag wou lê. Hy is immers André Dreyer, befaamde huweliksberader wat eers deel van ’n radioprogram se paneel was en nou sy eie TV-program het. ’n Program waarna derduisende vroue kyk. Vroue wat oor hom swymel. Wat vir hom e-posse en briewe stuur waarin hulle hom en sy deugde besing. Hulle wens hulle mans het so ’n wonderlike insig in die huwelik. Hulle wens hulle was in Mirre se skoene. Mirre Dreyer is seker die gelukkigste vrou op aarde.

André en Mirre Dreyer – die perfekte paartjie. Die bewys dat huwelike kan wees soos Mills & Boon-boeke voorspel: vir altyd en ewig gelukkig.

Maar daar is ’n rede waarom Mills & Boon-boeke eindig voor die huwelik begin.

’n Ring aan die vinger is nie ’n simbool van ewige liefde nie. Dis ’n teken van besitterskap. Hierdie vrou is myne.

Dit kon net so wel ’n boei om die enkel met ’n swaar ysterbal daaraan vasgeketting gewees het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS