Uittreksel: Marilyn

Een

2020
Vrydag 14 Februarie
Vywerbaai
Marilyn

KOOP HIER | BUY HERE

Vywervrou? Nee, ʼn kaivrou. Dis wat sy is. Omring met haar geliefde vywervroue, weet Marilyn sy is nie een van hulle nie. Sy is ʼn kaivrou, die waterwese wat mans en kinders die dieptes intrek en verdrink. Daarvan getuig haar hele lewe tot hier toe. Dis iets waarmee sy gedink het sy vrede gemaak het. Met die pandemie wat die wêreld op sy kop keer en die ouderdom wat Marilyn al hoe meer bewus maak van haar sterflikheid, is dit seker nie vreemd om bestek op te neem van wat agter lê nie. Dit moet wees waarom haar gedagtes deesdae aanhoudend terug foeter na die verlede toe. So ver terug as daardie jaar toe sy Paul Avenant ontmoet het, en uiteraard ook die tragiese gevolge van dié ontmoeting. Nie dat dit daarna veel beter gegaan het nie. Een onbesonne ding na die ander het sy aangevang tot sy hier op Vywerbaai beland het. Hier waar sy met haar seun kon herenig en, as enorme bonus, die vywervroue leer ken en hegte vriendskappe gesmee het. Sy was sowaar naïef genoeg om te dink die meetsnoere begin nou vir haar in die regte plekke val. Tot die dag voor die eerste grendeltydperk toe sy besef ʼn mens se sondes haal jou altyd in. Selfs sondes wat jy nie self gepleeg het nie ...

“En hier sit ons drie soos uile op ’n kluit terwyl die jongwêreld die liefde vier, vry en later gaan kinders maak. Kyk net daardie twee in die hoek. Kan nie hulle oë – of hande – van mekaar afhou nie.” Marilyn beduie met ’n kopknik in die rigting van die jong paartjie.
Leah gee ’n snorkie. “Valentynsdag is ’n euwel. Dit wakker net illusies en die bevolkingsontploffing aan.”
En wanneer jy alleen en oor sestig is, is ’n dag bedoel vir romanse heiligskennis, dink Marilyn, maar sê dit liefs nie vir haar siniese vriendin nie. Sy ken Leah al dekades, al het hulle eintlik eers relatief onlangs ware vriendinne geword. Leah se bitter uitkyk op die lewe het beslis nie aanmoediging nodig nie.

Anna glimlag suurderig. “Die meisiekind was twee jaar gelede in matriek in De Vywer Akademie. Onderskeidings in drie vakke gekry. Uitgeblink in netbal. En daar sit sy, klaar getroud en boonop al met ’n eenjarige kind.”
“Hoe de hel onthou jy elke liewe kind wat in jou skool was?” vra Leah.
“Hoe de hel onthou ’n ma haar kinders? Selfde prinsiep. Onthou, van hulle bly tien jaar lank in my skool. En dis ’n klein skool.”
Die De Vywer Akademie is Anna Rheeder se trots. Haar hele lewe wentel om haar skool en skoliere, dit weet Marilyn sedert Celeste daar begin skoolgaan het. Dis deels te danke aan Anna dat Celeste deesdae ’n aangenamer kleinkind is as wat sy voorheen was, maar die groot pluspunt is dat sy en Anna die afgelope twee jaar so met verdrag vriendinne ook geword het. “Ten minste lyk die twee nog smoorverlief.”
Anna skud haar kop. “Dis nie haar man, die pa van haar kind, nie. Die eggenoot het gaat gevat toe die kind drie maande oud was. Wie haar metgesel is, weet ek nie, maar dit lyk my al hy is net agter een ding aan en dis nie die titel stiefpa nie.”

“Stomonnosel. Dis wat alle meisiekinders van haar ouderdom is,” brom Leah. As prokureur wat haar daarop beroem dat sy vroue help om hulle mans so kaal moontlik uit te trek in ’n egskeiding, is sy seker geregtig op so ’n opinie.
“Alles nog reg hier?” Marilyn kyk op toe Mirre by hulle tafel kom staan. Haar wange is bloesend, haar oë skitter en die blonde hare blink. So lief as wat sy vir al haar vriendinne is, is Mirre vir haar ekstra spesiaal. Miskien omdat sy so sagsinnig is en dit dus veel meer van haar geverg het om aan die ander kant van haar bose eerste huwelik en al die probleme daar rondom uit te kom.
Waarskynlik ook omdat sy haar dogtertjie na Marilyn vernoem het.
“Jy het jouself oortref, Mirre. Ek dink nie ek het die bistro al ooit so mooi versier gesien nie. En die spyskaart is uitstekend.”
“Ek is bly jy dink so. Lira het baie gehelp met die versiering. Haar kreatiwiteit het mos nie einde nie. Waar sy die rooi glas gekry het vir die windklingels en kershouers, sal net sy weet. En ek twyfel of die gaste ooit sal kan raai die servetringe kom oorspronklik uit toiletrolle.” Sy kyk na Leah toe dié haar glas vul met die laaste sjampanje in die bottel. “Ek neem aan nog ’n bottel is in orde?”

Marilyn veins verontwaardiging. “Is the Pope Catholic?”
Mirre glimlag. “Beulah sal bring. Is julle reg vir die tweede gang?”
Marilyn kyk om die beurt na Anna en Leah. Albei skud hulle koppe. “Ons wil nog eers bietjie kuier as dit oukei is. Gee ons so twintig minute kans.”
“Natuurlik. Geniet dit.”
“Hoe gaan dit met die kookboek?” keer Anna toe Mirre wil wegstap.
“Ek werk saam met die uitgewer aan die teks. Die groot kopseer is die foto’s. Elke liewe dis moet perfek gemaak en dan gestileer en gefotografeer word, maar daaroor gaan ek my eers bekommer wanneer die teks reg is.”
“Dit gaan ’n fantastiese sukses wees, jy sal sien.” Dis nie trooswoorde nie, Marilyn glo dit vas.
“Kom ons kyk maar. Nou moet ek eers na die ander gaste omsien. Ek is nou-nou terug.”
“Daar is darem ’n suksesstorie. ’n Bewys dat die liefde kán oorwin,” glimlag Anna toe Mirre wegstap.
“Dalk, maar kyk hoe lank het dit gevat voor Mirre en Boeta by mekaar uitgekom het. En hoeveel ellende dit voorafgegaan het.” Leah se gesig bly bewolk.
“Marilyn se seun en Lira is nog ’n voorbeeld. Is Fynn-hulle al terug van hulle wittebrood af?” Anna kyk vraend na Marilyn.
Sy skud haar kop. “Hulle het dit met twee weke verleng. Kom op skrikkeldag terug. En dit met daardie donnerse vlermuisvirus wat amok maak. Oor die sestig duisend mense al wêreldwyd geïnfekteer. En dis net dié wat bevestig is. Ek worry my dood.”
“Hulle het nog nie vasgestel of dit spesifiek van ’n vlermuis af kom nie,” korrigeer Anna. “Hulle reken dit kan van ’n ietermagog af kom. Of dis van ’n vlermuis oorgedra na ’n ietermagog. Of so iets.”
“Ek wens hulle wil sê dit kom van perlemoen af. Dan sal ons ook darem weer kans kry om dit te eet.”

Leah neem ’n slukkie sjampanje. “Of renosterhoring sodat die arme renosters in vrede kan leef.”
Marilyn gee eintlik nie ’n flenter om waar die bose ding vandaan kom nie. Sy is net bitter bly Lira en Fynn is toe nie Thailand toe soos hulle aanvanklik beplan het nie, maar het op Corali en Thomas se aanbeveling op Malta en Gozo besluit. Nou wel via België, maar dáár is darem nog net een bevestigde geval en Thomas reken die Belge sal uiters paraat wees. Nog geen geval is in Malta aangeteken nie.
Noudat sy daaraan dink, sy moet onthou om Lira môre vir haar verjaardag te bel. Word sewe en dertig al lyk sy skaars dertig.

“En as julle drie hier sit soos drie kaaimans pleks van vywervroue?” Beulah haal die leë sjampanjebottel uit die ysemmer en wikkel die volgende een in.
“Ons het besluit om die liefde te kom vier.” Marilyn gee ’n vals glimlag. “Kan jy nie sien nie?”
“Ek kan net sien dit lyk asof daar gal op julle se tonge is.”
“Ná hierdie bottel is ons die opgewektheid vanself.” Marilyn lig haar wenkbroue. “Gaan jy nie vir ons oopmaak nie?”
“Nie dié goed nie. Elke keer as die prop so uitskiet, skrik ek my nader aan die graf. Nou toe, kry ’n bietjie lewe.” ’n Mens kan amper nie glo hierdie Beulah wat nou permanent in die Vywervrou werk, is dieselfde vrou met die drankprobleem en geneigdheid tot lang vingers wat vir Lira twee jaar terug in haar wrak van ’n huis begin help het nie. ’n Huis wat nou omskep is in Mirre se bistro en ’n winkel vir onder meer Lira se upcycle- en Corali se mosaïekkunswerke.
“Beulah?” keer Marilyn toe Beulah wil wegdraai. “Hoekom kaaimans? Dit moet mos kaaivroue wees? Alhoewel, dit klink nou weer na die soort girls wat ’n skip vol matrose op die kaai inwag.”
Anna gee ’n swak onderdrukte laggie.
Beulah snork. “Hoe sal ek nou weet? Ek weet net kaaimans is die boosheid vanself. En hulle het niks met kaaie te doen nie. Maar miskien is daar mans wat ook kaaimans is.”
“Hoe bedoel julle nou?” vra Leah. “Ek dag ’n kaaiman is ’n soort krokodil of ’n ding. Caymans, vermoedelik.”
“Krokodille is seker ’n ander soort kaaiman.” Beulah vee haar hande aan haar voorskoot af. “Die soort waarvan ons praat, is halfvis, halfvrou met lang swart hare. Hulle se oë gloei soos brandende kole vuur en hulle se lywe het so ’n silwerwit skynsel. Skree glo te arig. Trek kinders en mans die water in en verdrink hulle.”
“En waar hou dié bose wesens skuil?” vra Leah.
“Oraloor, maar ek weet net van die lotjie in die Buffeljagsrivier. My oorle man se verlangse neef van Zuurbraak het self een gesien. Hulle het daar op die oewer gebraai. Hy het iets gehoor, gedink dis kwajongens en gaan stel toe ondersoek in. Onder ’n brug sien hy toe die gedoente. Gedink dis ’n wit vrou wat verdrink en wou haar help. Toe hy naby kom, sien hy die rooi oë. En hy kan nie weggekyk kry nie. Die kaaiman laat mos die een wat sy mesmeraais glo sy kan hulle hartewense waar maak.
Gelukkig was my man se neef in vlak water en sy broer-hulle was naby. Hy roep toe na sy seun en nefie en eers toe die kaaiman kant toe kyk, kon hy uiteindelik laat spaander, anders was dit klaarpraat met hom.” Beulah skud haar kop. “Daardie kaaimans, hulle is die bose hekse van die varswaters. Maar ek kan nie staan en praatjies maak nie, ek het customers.”

KOOP HIER | BUY HERE
Marilyn, die langvervagte Vywervrou-trilogie vervolg. Vywervrou? Nee, ʼn kaivrou. Dis wat sy is. Omring met haar geliefde vywervroue, weet Marilyn sy is nie een van hulle nie. Sy is ʼn kaivrou, die waterwese wat mans en kinders die dieptes intrek en verdrink. Daarvan getuig haar hele lewe tot hier toe. Dis iets waarmee sy gedink het sy vrede gemaak het. Met die pandemie wat die wêreld op sy kop keer en die ouderdom wat Marilyn al hoe meer bewus maak van haar sterflikheid, is dit seker nie vreemd om bestek op te neem van wat agter lê nie. Dit moet wees waarom haar gedagtes deesdae aanhoudend terug foeter na die verlede toe. So ver terug as daardie jaar toe sy Paul Avenant ontmoet het, en uiteraard ook die tragiese gevolge van dié ontmoeting. Nie dat dit daarna veel beter gegaan het nie. Een onbesonne ding na die ander het sy aangevang tot sy hier op Vywerbaai beland het. Hier waar sy met haar seun kon herenig en, as enorme bonus, die vywervroue leer ken en hegte vriendskappe gesmee het. Sy was sowaar naïef genoeg om te dink die meetsnoere begin nou vir haar in die regte plekke val. Tot die dag voor die eerste grendeltydperk toe sy besef ʼn mens se sondes haal jou altyd in. Selfs sondes wat jy nie self gepleeg het nie ...

“En ons is nie customers nie?” vra Marilyn.
“Nee wat, julle drie is al part of the furniture hier in die Vywervrou.” Dié keer draai Beulah met beslistheid weg.
Marilyn laat die sjampanjeprop sag uitfloep. Sy verkies eintlik om dit te skiet, maar laat sy maar beskaafd probeer lyk. Al is sy so pas met ’n meubelstuk en ’n heks vergelyk.
“Ek dink ons spreek dit verkeerd uit,” mymer sy terwyl sy hulle glase vul. “Beulah hou die ‘kaai’ kort, ons rek dit te lank uit. Dis nie kaaiman nie, dis eintlik kaiman. Of kaivrou in dié geval.”
Anna grinnik. “Herinner my dat ek die mense kontak wat die WAT saamstel, Marilyn. Jy weet immers beter as hulle hoe om te spel.”
“Ek sweer dit moet minstens ’n wisselvorm wees.” Marilyn gryp haar foon en tik “kai” in die soekvenster. “Voilà! In Skandinawië, Japan en Hawaii is Kai ’n multikulturele meisie- of seunsnaam en raai wat beteken dit?”
“Ek wag in spanning.” Anna lig haar wenkbroue.
“See. Oseaan. Hiermee verklaar ek Beulah se creature se regte benaming is ’n kaivrou.”
“Ek dag sy sê dis ’n heks van die várswaters?”

“H’m.” Marilyn frons en soek verder af in die lys. “A! Nogal in ons eie land.” Marilyn kyk met ’n triomfantlike glimlag na Anna. “In die Khoi-taal beteken Kai !Garib ‘big great river’.” Sy sit haar foon met groot gebaar neer. “I rest my case, Your Honour.”
Anna lag. “Kaivrou sal dit dan voortaan wees, onafhanklik van enige taalpraktisyn se mening.”
“Of dit nou kaai of kai is, vir my klink die kaaimans, of kaivroue of wat de hel ook al, baie interessanter as die vywervroue.” Leah gryns. “Deur mans te versuip, doen hulle ten minste die wêreld ’n guns.”
Anna se oë rek al moet sy seker al gewoond wees aan hulle mannehatervriendin. “En die arme kinders wat hulle ook verdrink?”

Leah knip nie ’n oog nie. “Bevolkingsontploffing. Werkloosheid. Woningnood. Hongersnood. Hoeveel redes het jy nog nodig?”
“Jou kastige hardvogtigheid oortuig my nie vir ’n oomblik nie, Leah. Maar ek moet sê as ek jou nie beter geken het nie, het ek waaragtig geglo jy is ernstig.”
Leah grinnik. “Anna Rheeder, dit moet ek jou ter ere nagee. Jy sal die goedheid in elke liewe mens sien en vir almal die voordeel van die twyfel gee.”
Anna versomber. “Nie altyd nie. Daar was ’n tyd wat ek blindweg geoordeel en veroordeel het sonder om te luister na die ander kant van die saak. Glo my, ek het my lesse op die harde manier geleer. Soos ons almal maar.”
“Goed, maar jy het dit in positiwiteit omgeskakel terwyl ek ’n verbitterde ou vrou geword en gebly het.”
“Twak.” Marilyn skud haar kop verwoed. “Kyk hoe het jy vir Mirre gehelp. En hoeveel vroue wat andersins deur hulle mans uit alles uit verneuk sou word.”
Leah se oë raak skielik mistig in die kerslig.
“En nou?” vra Marilyn besorg.
“Ek het ’n ruk terug ’n kliënt gehelp om haar man finansieel feitlik uit te roei. En ek het dit geniet nadat sy my vertel het hoe hy haar behandel het.” Sy grawe in haar handsak en haal ’n snesie uit, vee onder haar oë en blaas haar neus.
Leah tranerig? Dis ’n eerste. “Maar wat is fout daarmee? As die vark dit verdien het . . .”
“Hy het nie. Dis die probleem. Die bitch het my belieg. Die man . . . Kom ons sê maar net hy het dit waaragtig nie verdien nie.”
“Nou dáár het jy jou kaivrou.” Marilyn sit terug in haar stoel. “Die een wat jou belieg het.”
Leah haal diep asem. “Ja. Sy is een, maar ek ook.”
“En ek was een,” sug Anna. “Is miskien nog.”
En sy self ook, weet Marilyn. Dalk die grootste kaivrou van almal. Iets wat sy nooit destyds sou kon voorsien nie. Destyds toe sy nog Maria Marais was, platgedruk onder haar pa se duim, verloën deur haar ma se blindelingse onderdanigheid aan haar man.
’n Stilte daal oor die tafel. Hulle al drie is ineens in gedagtes versonke.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS