Kry vir jou

Uittreksel: Kry vir jou

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Terug na 1981. Februarie, warmste maand in die Kaap. Op ’n wynplaas buite Stellenbosch woed ’n vernietigende vete tussen die broers Christiaan en Jacobus de Wet. Watter een van hulle (of wie anders) is dit wat die vlamme so aanblaas? Ludo Labuschagne, die onverskrokke (soms baie verskrokke) held, is net die man om dié tergende raaisel op te los en geregtigheid te laat seëvier. Prikkelende karakters. Verrassende situasies. Gevaar. Humor. Moord … Sal Ludo betyds uitvind wiedoenit? Of is die eise van sy tweede saak te straf?

Gatoorkop hardloop ek die Golden Egg binne. Steek vas en kyk rond. Daar is net mense by drie van die tafeltjies – so min klandisie soos wat jy twintig oor elf op ’n Sondag hier kan verwag – en nie een van hulle kan sý wees nie.
“Kom jy nog?”
Dis wat sy oor die telefoon wou weet.
Ek het dit dadelik herken, dieselfde stem as laas Donderdag, in antwoord op die advertensie wat ek in Die Burger se “Snuffelgids” geplaas het.
Is jy in die moeilikheid? Tart ’n geheim jou? Laat Labuschagne Ondersoeke die waarheid vir jou uitsnuffel. Lae tarief.
Eers was dit net grapmakers wat gebel het. Toe, veel erger, Yolanda, om te sê sy’s swanger. Maar uiteindelik was daar tog die regte soort oproep, die meisiestem fynerig en taamlik hoog.
“Ek het jou advertensie gesien … En toe dink ek …”
Ek kyk weer deur die Golden Egg. Sy materialiseer nie.
Verwens myself. Ons het ’n afspraak gemaak vir halfelf op Maandag 1 Februarie – maar daar bestaan g’n so ’n dag nie, of in elk geval nie vanjaar nie. Wát het my laat dink die einde van die maand is eers vandag?
En watse vertroue kan ’n kliënt in my hê as ons só afskop?
“Soek meneer ’n tafel?” vra ’n kelnerin. Dis eintlik skokkend, sulke aandag terwyl hulle gewoonlik die definisie van onsigbaarheid is wanneer ek ’n restaurant binnestap. Dalk moet ek dit altyd binnestorm.
“Nee. Dankie. Ek soek iemand, maar sy’s seker nog nie terug van toe sy gaan bel het nie.”
Verdomp, ek weet nie eens hoe Zelda lyk nie. Het ook nie ’n nommer waar ek haar kan terugbel nie. En ’n derde oproep van haar af is ’n bietjie baie om voor te hoop.
Maar toe …
Daar’s ’n beweging regs van my. Ek besef een van die mense wat ek geglo het nie die meisie kan wees met wie ek die afspraak het nie, is wel sy. Sy het halfpad orent gekom, sy wink my nader.
Haastig loop ek soontoe. Dalk is ek tog verkeerd. Dalk onthou dié mens my van iewers af en het ek haar nog net nie herken nie.
“Zelda …?”
“Ludo.”
Inderdaad. Daardie stem.
Dis asof die stem aan een persoon behoort en die lyf aan ’n ander. Sy klink soos iemand op hoërskool, standerd sewe op die meeste. Maar in kontras daarmee het jy hierdie paar skouers. Hulle beproef die blou-en-wit check-hemp, wat wollerig is en veels te warm vir vandag, so met die lang moue. Haar jeans is nie in die mode nie, was nog nooit en sal ook nooit wees nie. Ek kan nie help om te loer na die voet wat stewig in die paadjie vastrap nie.
Vellies. Wragtag.
“Ek dog jy’s nog uit.”
“Ek het hiervandaan gebel,” piep sy. “Sal maar vir die waitress ’n rand tip gee.”
“Laat ek daarvoor sorg.”
Ek skuif oorkant haar in. Die rooi bankie aanvaar haar neerval met ’n snak.
Ek besef nou eers ons sit by die tafel waar ek Hanlie Marais gekry het. Eenmaal in ’n ander lewe, toe ons oor die Van Biljons se probleme moes gesels …
En dis nie nou ter sake nie.
“Zelda, ek is baie jammer hieroor.”
Ek moet maar eerlik wees. In die kar op pad hier na Greatermans toe het ek dit nog oorweeg om ’n storie te spin oor hoekom ek deurmekaar geraak het met die datums. Maar soms word dit te ingewikkeld om later nog kop te hou. Veral as jy klein witleuentjies begin layer.
Maar hoekom moes ek hierdie glips begaan terwyl ek so gou moontlik met ’n nuwe ondersoek moet begin? Jy bewys jou nie as speurder met één opgeloste saak nie.
“Jy’t reeds oor die foon jammer gesê,” herinner Zelda my.
“Ja, maar …”
“Luister, kom ons los dit.”
Dit raak koud om my hart. Sy wil nie meer dat ek die saak hanteer nie! En wie kan haar blameer?
Toe sy egter glimlag, besef ek wat obvious is. Sy bedoel kom ons kry nou end met die voorwerk. Laat ons nou by die onderwerp uitkom. Sy lig haar hand. Albei die check-hemp se moue is tot by die elmboog opgerol. Sy flick daai breë gewrig, ’n perd wat ’n brommer afskud.
“Twee koffies, asseblief,” bestel sy namens ons albei toe die kelnerin nog skaars mooi kom staan het. Dan, saaklik: “Laat ek jou vertel: Dit gaan oor my sussie, Brenda. Twee jaar jonger as ek.”
“Hoe oud is sy nou?”
“Twee en twintig.”
“Oukei.” Dit beteken Zelda is so oud soos ek. Ek sou haar ouer geskat het, al klink sy soos haar eie dogter. Daardie gedagte maak dat ek haastig op my lip moet byt.
Daar is nog ’n suster, Amanda, ouer as die twee van hulle, maar dié is in die Vrystaat.
“Amanda, Zelda en Brenda … Ons sê altyd die posman se naam moes Dada gewees het!”
Toe sy lag, is dit so hard dat van die mense se koppe draai.
Dan weer ernstig.
Die Van Zyls is van Goodwood. Almal behalwe Brenda – Zelda en haar pa en ma – was die afgelope week op ’n plaas buite Bredasdorp. Hulle kom van daar af, voor haar pa werk in die Kaap gekry het.
“Dit was ’n bietjie van ’n break omdat ons nooit weg was vir die Desember-vakansie nie, maar eintlik was dit uit plig. Die tannie wat jare lank ons buurvrou was, is siekerig. Maar ook nie doodsiek nie. Sy’s alleen op die plaas – of dis sy en haar dogter, maar dié is Transvaal toe vir ’n troue … Toe word Brenda ontvoer terwyl ons weg is.”
“Wanneer presies?”
“Dit moes Dinsdagaand gewees het. Deur die nag.”
Ek kyk na haar korterige, growwerige, golwende hare wat lyk of sy dit self gesny het. Dieselfde bruin as haar oë.
Skielik knip sy daardie oë en sien ek hoe na aan huil sy is. Laat dit my nou herinner dat dinge wat vir my kopvermaak moet wees, ander mense se hartsake is.
“Hoekom is Brenda nie saam plaas toe nie?”
“Sy wou nie saamgaan nie. Sy’s al ’n ruk … Ek moet dit seker nie sê nie, maar sy was nog altyd die moeilikste van ons drie. Ek het meer agteraf gerebelleer, maar sy het voluit daarvoor gegaan. Sy het nooit iets gelees nie, sy wou altyd iets dóén. Sy wou nie op die plaas gaan sit nie. Dis hoe sy dit gestel het. Veral die laaste ruk het sy my pa en ma laat les opsê. Ek het al gewonder of sy ontsteld is oor iets.”
“Dalk bang?” waag ek.
“Ek weet nie. Dalk. Maar sy het nie vyande gehad nie. Nie iemand wat so iets …”
“Wanneer is julle Bredasdorp toe?”
“Al laas Sondag. My ma het Brenda Maandag gebel en alles was oukei. Toe sy Woensdag weer probeer, was daar geen antwoord nie. Brenda werk nie, so daar is geen rede om in die dag uit te wees nie. Of nie hééldag nie. Sy het tot onlangs ’n ou gehad, maar my pa wou nie dat hulle mekaar meer sien nie. Geen prospects nie.
“Teen Woensdagaand was my pa baie bekommerd. Hy het ons buurman gebel en gevra om te gaan kyk. Meneer Diedericks. Hy’t gesien daar is ’n stukkende ruit aan die agterkant van die huis, by die een badkamer. Nadat meneer Diedericks binnetoe is deur die venster, kon hy sien daar is in Brenda se bed geslaap – die duvet was deurmekaar. Maar sy was weg.
“Haar wekker het op die vloer gelê. Dit was stukkend. Die glas was gebreek. Dit het op twintig oor twee gestaan.
“Nou moet jy weet: Brenda kan wees soos sy wil, maar sy is baie netjies. Die bed wat nie reggetrek is nie, ’n stukkende wekker wat daar lê – dis net nie sy nie.
“Donderdagoggend bel iemand toe plaas toe. Dit was ’n ou. Hy moes die nommer by Brenda gekry het. Hy’t gesê hulle soek ’n losprys. Vyfduisend rand. Hulle sal nog laat weet hoe en waar. En dat ons nie die polisie moet inroep as ons haar weer lewendig wil sien nie.
“My pa en ma is dadelik terug Goodwood toe, al sou hulle niks hier kon doen nie. Ek het gebly tot die tannie se dogter terugkom, en dit was laat gisteraand. Vanoggend het ek deurgery.”
Zelda vang my oog. “O ja – Donderdagoggend het ek jou advertensie in die koerant gesien. Toe dog ek as ek daarop reageer, dis mos nie die polisie nie …”
Sy sit en speel met die koppie wat sy met drie, vier slukke leeggemaak het.
“Is daar enigiets weg uit die huis?” vra ek.

KOOP HIER | BUY HERE
Terug na 1981. Februarie, warmste maand in die Kaap. Op ’n wynplaas buite Stellenbosch woed ’n vernietigende vete tussen die broers Christiaan en Jacobus de Wet. Watter een van hulle (of wie anders) is dit wat die vlamme so aanblaas? Ludo Labuschagne, die onverskrokke (soms baie verskrokke) held, is net die man om dié tergende raaisel op te los en geregtigheid te laat seëvier. Prikkelende karakters. Verrassende situasies. Gevaar. Humor. Moord … Sal Ludo betyds uitvind wiedoenit? Of is die eise van sy tweede saak te straf?

“Bedoel jy iets soos skilderye of ornamente? Ons is nie arm nie, maar daar’s niks wat groot geld werd is nie. Nee, alles is nog daar.”
“En haar persoonlike goed?”
“Ek kon nie agterkom dat daar van haar klere weg is nie. Net ’n jean en bloes en skoene – goed wat hulle haar sou laat aantrek het. En in die badkamer, die een wat ek en sy deel, was haar tandeborsel nog. Die houertjie vir haar kontaklense. Haar haarborsel. Haar make-up …”
Ek frons. “Die ou wat jou pa haar verbied het om te sien – wat is sy agtergrond?”
Zelda eggo my frons. “Sy naam is Leon. Rowwe tipe. Maar ek sien hom nie as ’n ontvoerder nie. Buitendien, hy’t ’n alibi vir daardie tyd. Ek het hom gebel.”
“Vir twintig oor twee in die oggend?”
“Hy’s ’n security guard. Hy het ’n paar keer in ’n ry nagskof gehad. En hulle werk nie op hulle eie nie, daar’s ’n partner wat sê hy was die hele tyd daar. Ek het dié ook gebel.”
“Het julle iets verder gehoor oor die losprys?”
Sy sug swaar. “Niks.”
“Hulle wil julle eers desperaat laat word.”
“As jy my ma kon sien!” Zelda gee nog ’n sug. “Ek wens ’n mens kon daardie nommer uitvind – die een waarvandaan die ou ons op die plaas gebel het. As daar net ’n manier was.”
“Ek dink jy kan al, maar dis ’n vreeslike storie by die hoofsentrale, en die polisie moet betrokke wees.”
“Geen polisie nie,” sê sy haastig.
“Ek weet.”
“Ludo, jy móét ons help.” Sy het so ’n sterk lyf, nogtans lyk sy weerloos. “Ons moet besigheid praat. Ek weet nog nie wat jy vra nie …”
“Ek kan nie.” Soos ek dit sê, verdiep my teleurstelling. ’n Kort rukkie gelede het ek dit soos ’n skelm partytjiegas voel nader sluip, toe val dit my gemoed binne, en nou verdring dit alle hoop wat ek vir hierdie uitdaging gehad het.
Maar ek moenie so daaraan dink nie. Ek moet bly wees dat ek hulle kan help.
Tog, dis bitter. Brenda van Zyl se verdwyning sal toe nou nié my tweede amptelike speursaak van stapel stuur nie. Binne oomblikke het ek net weer die ou geword met ’n reputasie dat hy nooit iets voltooi nie.
“Hoe bedoel jy?” Zelda lyk seergemaak. “Wil jy dit nie doen nie?”
“Nee, ek bedoel ek kan nie geld vat daarvoor nie. Nie as ek klaar die antwoord het nie.”
“Wát?”
“Ek sal jou nou sê.” Ek leun oor die tafeltjie. “Laat ek net eers van een ding seker maak …”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS