Lapa_blog_cover_Kanaan

Uittreksel: Kanaän

Een

KOOP HIER | BUY HERE
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ʼn eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ʼn skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ʼn uitweg – ʼn jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.

Sondag 11 Junie 1944
Plaas Hohenzollern, distrik Senekal

“Ek gaan Jerigo koop,” sê Chrisjan in die stilte in.
Oorkant hom laat Marta haar lepel stadig sak, kyk na hom en dan vinnig na die groot man aan die kop van die tafel.
Ferdinand tel sy servet van sy skoot af op en druk-druk daarmee teen sy manjifieke blonde snor. “Jerigo?” vra hy oënskynlik bedaard.
Maar Chrisjan ken Ferdinand nou ook al dekades – dié rustigheid is maar skyn.
“Mmm. Ek het lank daaroor nagedink, en ek dink die tyd is nou ryp,” antwoord Chrisjan.
“Ja? Wat maak die tyd nóú ryp?”
Chrisjan kou eers klaar. Weeg aan sy woorde, soos altyd voor hy praat. “Potgieter gaan uitboer. Hy het van oorgretigheid sy mielies te vroeg geplant en toe skade gekry toe die reent laat gekom het. Gewag tot sy skape bosluiskoors gekry het en hulle toe eers gedip. Die man is ’n spekulant, nie ’n boer nie. En hy is nou al die hoeveelste huurder op Jerigo. Die plek kry skade van mense wat net daar wil kom woeker en nie die grond oppas nie.”
“En jy dink dit beteken die eienaar gaan wil verkoop?”
“Nee. Dit beteken hy kan dalk oorgehaal word om te verkoop.”
Chrisjan voel Ferdinand se ligblou blik op hom, maar hy hou sy oë op Marta se heerlike ingelegde perskes en vla. Ferdinand is ’n lojale swaer en uitstekende boer, maar geduld is nie sy deel nie. Soos wat Ferdinand nou daar sit, brand hy om te bulder.

Maar Ferdinand kan maar bulder, hy wat Chrisjan is, het klaar besluit. Kanaän mag dalk nie naastenby die spoggerige plaas wees wat Hohenzollern vandag is nie – nog nie – maar dit beteken nie hy weet nie wat hy doen nie. Vandat hy op Kanaän oorgeneem het, loop hy al met hierdie plan in sy kop om Jerigo aan te skaf; Ferdinand se teensin gaan hom nie nou daarvan laat afsien nie.
“Dit beteken jy gaan met ’n Ingelsman moet onderhandel.”
“Ja.”
“Jy gaan ’n Ingelsman se woord aanvaar? Oor grond?”
Chrisjan sit die lepel in sy leë poedingbakkie neer. “As dit is wat dit verg, ja.”
Ferdinand snork, en Marta tree vinnig tussenbeide. “Het jy genoeg geld om die plaas te koop, Chrisjan?”
“Nog nie.”
Weer daardie vinnige blik na haar man. “Pa het nie skuld goedgekeur nie, jy weet dit.”
“Ek weet, ja. Maar Pa sou verstaan het van Jerigo.”
“Dit beteken nie jou pa sou dit goedgekeur het dat jy met ’n Ingelsman daaroor heul nie,” blaf Ferdinand.
Chrisjan klad ook sy mond aan sy servet. “Ek gaan nie met hom heul nie, ek gaan met hom onderhandel. Buitendien, dit was al die jare die Naudés se grond, dit het net in die man se hande beland nadat Anna Naudé oorlede is.”
“Ek dag jy gaan Kanaän eers regruk,” kom Marta weer tussenin. “Hoe gaan jy dit doen as jy Jerigo koop?”
“Kanaän gaan nêrens heen nie, ek kan alles daarop altyd later doen. Maar as iemand anders Jerigo opraap, is dit neusie verby. Kanaän is goed vir skaap en gesaaides, maar Jerigo het Koppie-Alleen met genoeg klip vir behoorlike skaapkrale, en daar is die twee sterk fonteine. Met dié water kan ek ’n dam bou en die saailande agter die huis onder besproeiing sit.”
“Almaskie,” mor Ferdinand.

Maar Chrisjan steur hom nie verder aan Ferdinand nie. Marta kan nou maar verder daaraan werk om haar man sag te maak, sy is per slot van rekening nou al twaalf jaar met hom getroud. “Ek wil Vrydag Johannesburg toe, dan kan ek die eienaar oor die naweek spreek,” kondig hy aan.
“Jy hoef mos nie self Johannesburg toe te gaan nie. Jy kan skryf, of jy kan jou prokureur vra om namens jou te skryf.”
Chrisjan kyk na sy swaer, sien die verset. “Dis makliker om vir ’n stuk papier nee te sê as vir ’n gesig wat vir jou kyk.” Dan, vir sy suster: “Sal jy ’n oog oor Boetie kan hou, Marta?”
Sy suster knik dadelik. “Gaan jy hom hiernatoe bring?”
“Nee, hy vaar beter op Kanaän. Laat hom daar bly, Lerato kan na hom omsien. As jy net kan inloer en seker maak hulle kom reg met etes, sal dit gaaf wees.”
“Ry jy met die Plymouth?” gee Ferdinand uiteindelik bes.
“Nee, ek gaan nie my brandstofkoepons uitry Johannesburg toe nie, ek het dit nodig vir oestyd. Ek beplan om die trein te haal.”
“Wel, ek hoop jy weet wat jy doen.”
Hy steek sy hand uit, voel hoe sy swaer se sterk greep daarom vou. “Dis ’n droom, Ferdinand. Drome kos nooit niks nie.”
“Dit hoef jou nou ook nie jou siel te kos nie, onthou dit.”
Toe hy laat dieselfde aand op die stoep van Kanaän se opstal

1 thought on “Uittreksel: Kanaän

  1. Sal Kanaãn gaan koop. Wou op eleser doen maar ek te dom
    Oupa altyd vir my gedoen maar hy het sy tydelike met ewige vewissel. Sal by Excludive books gaan kry. Sohia Kapp , Hans du Plessis Deon Meyer en vele meer se boeke ‘n moet lees. Jammer pensionaris se geld is maar min.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS