Uittreksel: Huis van Gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel – Soos vertel aan Susan Cilliers

15

Tyd heel

KOOP HIER | BUY HERE
Huis van gruwels is die skokverhaal van die sogenaamde “Springs-monster” wat op die wreedste manier denkbaar alles van sy gesin weggeneem het, maar ook ’n storie van hoop oor hoe ’n dapper jong vrou uiteindelik geluk en genesing vind. Landi is die oudste van vyf kinders wat uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is. Sy is nou 21 jaar oud en vertel vir die eerste keer haar verstommende verhaal. In Mei 2014 het die polisie dié huis ontdek waar ’n sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare tussen vullis en rotte aangehou, getreiter en gemartel het. In ysingwekkende besonderhede onthou Landi hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het. Sy vertel hierdie herinneringe aan Susan Cilliers, ’n ervare joernalis, wat dit met deernis weergee en dit vernuftig met die feite van die polisie-ondersoek en die hofsaak verweef.

Dis Oktober 2018, vier jaar nadat Landi en haar sibbe uit die gruwelhuis verwyder is. Die twintigjarige Landi het van die maer, lewensbang tiener ontwikkel tot ’n voller jong vrou met uitsonderlike mooi blou oë en glansende blonde hare wat oor haar skouers val. Sy sprankel, presteer op skool en floreer ook geestelik by haar *pleegouers in wie se sorg sy nou al sowat agttien maande is.

Landi en haar sibbe het nie dadelik ná hul verwydering in Mei 2014 standvastigheid gevind nie. Al vyf die kinders is aanvanklik by Kraai se suster en haar man in pleegsorg geplaas omdat die omstandighede daar aanvaarbaar was en die tante bereid was om al vyf kinders gelyk in pleegsorg te neem. Sanet van Moerkerken, programbestuurder by Springs Kindersorg, wat gemoeid was met die destydse plasing, sê sy het van die begin af probeer om die kinders só te plaas dat hulle nog gereeld kontak met mekaar kon hê.

Die vyf kinders was twee en ’n half jaar by hul tannie in pleegsorg toe dit aan die lig kom dat hul stiefoom Landi en een van haar niggies na bewering onwelvoeglik betas het. Landi het Van Moerkerken een aand in November 2016 in trane gebel en gevra sy moet dadelik na hulle toe kom.

Van Moerkerken is soontoe en hoor toe Landi is wéér misbruik. Sy het besluit om al die kinders te verwyder omdat al vyf weer eens blootgestel was.** Hulle het tydelik by ʼn neef van Landi en sy vrou gaan woon. Die kinders kon egter nie permanent daar woon nie omdat die neef ook menige kinders gehad het. Ná ʼn paar weke daar is Landi en haar oudste broer by ’n ander gesin geplaas, terwyl die drie kleiner kinders by ʼn onverwante gesin gaan woon het.

KOOP HIER | BUY HERE
Huis van gruwels is die skokverhaal van die sogenaamde “Springs-monster” wat op die wreedste manier denkbaar alles van sy gesin weggeneem het, maar ook ’n storie van hoop oor hoe ’n dapper jong vrou uiteindelik geluk en genesing vind. Landi is die oudste van vyf kinders wat uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is. Sy is nou 21 jaar oud en vertel vir die eerste keer haar verstommende verhaal. In Mei 2014 het die polisie dié huis ontdek waar ’n sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare tussen vullis en rotte aangehou, getreiter en gemartel het. In ysingwekkende besonderhede onthou Landi hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het. Sy vertel hierdie herinneringe aan Susan Cilliers, ’n ervare joernalis, wat dit met deernis weergee en dit vernuftig met die feite van die polisie-ondersoek en die hofsaak verweef.

Die omstandighede by die gesin waar die drie jongste kinders geplaas is, het egter binne ʼn paar maande só versleg dat hulle verwyder en in Mei 2017 in ʼn kinderhuis geplaas is.

“Dit het ook duidelik geword die drie jongste kinders het daagliks terapie nodig gehad wat ons nie aan hulle kon verskaf nie,” erken Van Moerkerken. Die twee jongste kinders het byvoorbeeld skolasties gesukkel en kon teen die tweede kwartaal nog nie hul name skryf nie. Dit het reeds gedurende die hofsaak geblyk dat ook die jongste drie kinders erge emosionele letsels en leeragterstande gehad het weens die jare lange verwaarlosing waaraan hulle onderwerp is.(1) Veral die kleiner kinders vertrou grootmense nie, raak aggressief, het selfbeeldprobleme en maak nie maklik maats op skool nie.(2)

Volgens Van Moerkerken is al die kinders ná evaluering as kandidate vir spesiale skole geïdentifiseer. “Trauma speel ʼn groot rol in die ontstaan van agterstande in ontwikkeling, dis ʼn kombinasie van faktore.”

Landi en haar oudste boetie het nie goed aangepas by die gesin waarheen hulle gestuur is toe hulle in 2016 uit hul tante se sorg verwyder is nie. Dié familie het self kinders gehad en die kinders het onderling gebots.

Só het dit gebeur dat Landi in die tweede kwartaal van 2017 na nuwe pleegouers toe is. Haar oudste boetie het nog ʼn ruk by die vorige gesin gewoon voordat dié plasing in Maart 2018 finaal misluk het. Kort hierna het hy ʼn pleegtuiste by ʼn ander gesin gevind.

Van Moerkerken vertel Kraai se algehele gebrek aan moederlike vaardighede was ooglopend wanneer sy die drie jongste kinders ná hul verwydering onder die toesig van ʼn maatskaplike werker gesien het. Ingevolge haar borgvoorwaardes kon sy die kinders net onder toesig sien en mag sy nie self met hulle kontak gemaak het nie.

“Sy was meer soos ’n maatjie vir hulle en kon hulle glad nie dissiplineer nie. Hulle het nie vir haar geluister nie, en sy kon op haar beurt geen grense stel nie. Die tweede oudste dogter sou sommer haar selfoon gryp en begin speletjies speel. Kraai het vir hulle lekkergoed gebring, maar op ʼn emosionele vlak kon sy niks met hulle doen nie. Die kinders het rondgehardloop en eerder met my as met hul ma kom speel.”

Landi en haar oudste boetie het ook eendag na Springs Kindersorg se kantoor gegaan terwyl hul ma die jonger kinders besoek het. Hulle het Kraai gegroet en die res van die tyd in die maatskaplike werker se kantoor gesit sonder om verder met Kraai te kommunikeer.*** Sowel Landi as haar oudste broer het met die afhandeling van die hofsaak te kenne gegee hulle wil niks met hul ouers te doen hê nie. Die jongste kinders het geen behoefte uitgespreek om hulle te sien nie.

Die jare lange mishandeling in die gruwelhuis en gepaardgaande diep verwonding het ook sy merk gelaat op die verhouding tussen die kinders onderling. Waar dit aan die een kant ʼn byna onnatuurlike hegtheid tussen Landi en die drie jong kinders geskep het omdat sy hul ma-figuur moes word, het dit volgens Landi veral net ná die verwydering wrywing tussen Landi en haar oudste broer veroorsaak.

Landi het hom aanvanklik verkwalik omdat hy gevlug en hul hele wêreld skielik omgedolwe het, sê Van Moerkerken. “Hulle het baie vasgesit. Ek het met Landi gaan gesels, maar sy moes self tot die besef kom dat sy die binding met haar pa moes verbreek.”

Intussen het Landi haar boetie daarvoor bedank dat hy gevlug het omdat sy nou eers besef hoe abnormaal hul lewe was. Van Moerkerken en die polisie meen Landi het nes Kraai, ook aan Stockholm-sindroom gely. “Hul pa was die ja en amen. Jy moes alles glo en kon nie vir jouself dink nie omdat jy emosioneel ten volle afhanklik van hom was.”

Van Moerkerken vertel die kinders “is geleer om stil te bly en mag nie geluide gemaak het nie. Indien hulle dit sou waag om vir die kuiermense iets te vertel, het hulle nie kos gekry nie, is hulle met ’n gaspistool geskiet, geskok met ’n skokstok of geboei. Van die persone na aan die familie wat moontlik wel besef het daar is fout, het eenvoudig niks gedoen nie.”

“Ons kinders mag nie met ander mense gesels of maatjies gehad het nie,” vertel Landi. “Wanneer ander mense kom kuier het, het Pa en Ma ’n front van normaliteit voorgehou. Ons kinders was dan so stil soos muise. Ons het dit nooit bevraagteken nie, vir ons was dit normaal. Die isolasie waarbinne ons geleef het, het veroorsaak dat ons ons lewe selde met dié van ander kon vergelyk. Wanneer ek op televisie gesien het die mense leef anders, het ek gedink dis maar net op televisie so. Dis nie die werklikheid nie. My pleegma het my eenkeer gevra hoekom ek nie weggehardloop het toe ons vir my sestiende verjaardag Spur toe is nie. Hoekom sou ek? Ek het gedink dis maar hoe dit moet wees. Aan weghardloop het ek glad nie gedink nie.”

Die seun wat ’n einde aan hierdie vernietigende dinamiek gebring het, worstel tot vandag nog met ernstige selftwyfel. Hy wonder soms hoekom hy nog leef en voel skuldig omdat die jongste kinders nou in ’n kinderhuis is.

“Hy het nou die dag vir my gesê hy het darem een ding reg gedoen – sy sussie het matriek gemaak!” vertel Van Moerkerken. “Ek en Landi het vir hom gesê hy is in werklikheid ’n held omdat hy die moed gehad het om daardie aand te vlug. Watter kind van elf jaar wat kognitief eintlik op ’n laer ouderdomsvlak funksioneer, sal so ’n besluit neem om hulp te gaan kry? Ongelooflik. Hy het dit dalk nie dadelik besef nie, maar sy instink het daartoe gelei dat hy sy hele gesin se lewens gered het.”

Nadat die kinders van hul ouers verwyder is, het hy hom in ’n stadium van Landi onttrek. Hy het geglo Landi het hom “weggegooi” toe hulle in 2017 vir ’n tydperk by verskillende mense in pleegsorg was. Nadat Van Moerkerken aan hom verduidelik het dié skeiding was weens faktore buite Landi se beheer, het haar broer uit sy eie gesê hy wil haar weer sien.

* Die identiteit van Landi se pleegouers word op regsadvies weerhou.

** Die stiefoom het eers ’n oordosis pille gedrink nadat die betasting op die lappe gekom het. Hy is gehospitaliseer en het ná sy ontslag verdwyn. Indien hy opgespoor word, sal klagte teen hom ingedien word.

*** Teen druktyd was daar nog geen kontak tussen die vyf kinders en hul ouers nie. Die hof het met die afhandeling van die saak in Oktober 2018 geen spesifieke bevel hieroor gemaak nie. Landi het wel die behoefte om haar pa in die tronk te besoek, maar nie een van die ander kinders het tot dusver so ’n behoefte uitgespreek nie.

(1) Venter, I. 17 Augustus 2018. Netwerk24. Meisie van gruwelhuis hoop om boek te skryf.

(2) Venter, I. 3 Oktober 2018. Netwerk24. Gruwelhuis: Ouers hoopvol op versoening met kinders.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS