Help! My kind is anders

Uittreksel: Help! My kind is anders

VIR WIE IS HIERDIE BOEK?


Die onderwyser het my in die oë gekyk en vir my die
vier woorde gesê wat my lewensloop bepaal het:
“Ek glo in jou.”
– Jonathan Mooney, Learning outside the lines.

KOOP HIER | BUY HERE
Hoe om van jou anderster kind ’n ‘A+’-kind te maak! Om ’n tipiese kleuter groot te maak is geen grap nie. Hoe dan gemaak as jou kind ‘anders’ is? Wat as hy hiperaktief en aandagafleibaar is? Wat as jy vermoed sy’s op die outismespektrum? Hoe gemaak met lae spiertonus en ’n swak pengreep? Wat as hy ’n taalagterstand het, lispel of hakkel? En sê nou sy het nie leerprobleme nie, maar sukkel met angs? In Help! My kind is anders! beantwoord ’n span kundiges dié en vele ander vrae waarmee ouers vandag worstel. Is terapie werklik nodig of net ’n geldmaakstorie? En waar begin ’n mens as jy dink daar is fout? In 30 boeiende gevallestudies vertel ouers en terapeute saam hul ware verhale van deursettingsvermoë en hoop. Sielkundiges, spraakterapeute, oudioloë, arbeidsterapeute, fisioterapeute, spelterapeute en ander medici deel hul kennis, ervaring en geheime. Help! My kind is anders! is ’n praktiese gids wat jou met ’n gereedskapkis toerus om van jou en jou kind ’n kampioenspan te maak! Christien Neser is ’n skrywer en spraakterapeut wat al vir sowat 40 jaar in praktyk is.

Die eerste sewe jaar van dié reis is van kritieke belang. Van nul tot sewe jaar gebeur die mees omvangryke neurologiese, fisieke, sensoriese en emosionele ontwikkeling in ’n kind se lewe. Dit is ook in hierdie tyd dat die meeste gedoen kan word om kinders terapeuties te help, aangesien die neuroplastisiteit van die brein dan optimaal is. Neuroplastisiteit of breinplastisiteit verwys na die brein se lewenslange vermoë om te herorganiseer deur die vorming van nuwe neurale konneksies. Hoe jonger die kind, hoe groter die neuroplastisiteit. Daarom is vroeë intervensie so belangrik.

Die drie jaar voordat ’n kind skool toe gaan, is veral kritiek vir die ontwikkeling van die kind se potensiaal as mens. Besluite wat ’n mens in hierdie tyd neem, het gewoonlik verreikende gevolge.

Die boek is enersyds vir ouers van neurotipiese kinders, wat hul kennisbasis wil verbreed. Neurotipiese kinders is ’n term wat ons gebruik vir teksboekbabas, daardie outjies wat ’n tipiese genetika het, tipies ontwikkel en geen sensoriese uitvalle het nie. Andersyds is dit ook vir die ouers van die kind wat nié neurotipies bedraad is nie of wat een of ander ontwikkelingsprobleem het. En hoewel ons probeer om met al die hulp tot ons beskikking kleuters voor te berei om in die jaar wat hulle sewe word na ’n hoofstroomskool te gaan, ondersoek ons ook die alternatiewe.

Dis ’n boek wat die sluier probeer lig oor die dinge wat ouers bekommer. Hoe gemaak met ontwikkelingsagterstande, met ’n gehoorprobleem, ’n spraak- of taalprobleem, outisme? Sal my kind eendag kan lees en is daar iets wat ek kan doen om te help? Dis net ’n paar van die kwessies wat ons gaan aanpak. Dis ’n boek wat ouers wil bemagtig om te weet wat hulle self kan doen, maar ook waar hulle om hulp kan aanklop. Dis vir elke ouer wat onseker is oor wat terapeute doen, watter dokters en sielkundiges ’n mens kan raadpleeg en wat elkeen se spesialiteitsveld is, want dis hierdie spesialiste wat deel van die kind se kampioenspan kan word. Kortom, dis vir regte ouers, en dit kom uit die hart en ervaring van ander ouers, terapeute en kinders. Dis nie ’n akademiese handboek nie, maar ’n boek vol bemoediging, raad, wenke en hoop. Dis gegrond op die ervaring en kennis van ouers, terapeute en onderwysers, asook op die navorsing wat tans beskikbaar is. Die leeslys aan die einde van die boek bied die geleentheid om dieper te gaan delf.

Die boek is tweedens ook vir die onderwysers wat met hierdie kind in die klaskamer te doen gaan kry, veral in die preprimêre klas. Die uitgangspunt is dat die superspesiale kinders wat ons hier gaan bespreek, kandidate vir hoofstroomonderwys is, veral waar inklusiewe onderwys ’n werklikheid is. Die voorskoolse jare kan bepalend wees vir die koers van die kind se hele lewe. Die preprimêre juffrou is daarom een van die belangrikste rolspelers in ’n kind se lewe. Kennis bemagtig onderwysers sodat hulle nie bang is vir ’n kind wat anders is nie. Dit stel hulle ook in staat om ’n waardevolle skakel in vroeë intervensie te wees. Onderwysers wat kennis verwerf oor al die soorte terapie wat beskikbaar is, besef dat hulle deel is van ’n span en dat spesialiste, terapeute en ouers daar is om hul werk met die kind te vergemaklik. ’n Paar klein aanpassings in die klas kan ’n groot verskil aan die kind se lewe maak – en hulle help om geborge te voel. Die gesegde lui “it takes a village to raise a child”. Juffrouens is deel van die “dorpsmense” wat gaan help om hierdie kind se lewe sinvol te maak en hul eie lewensreis te verryk. Aan al die onderwysers wil ek sê: Kinders sal dalk vergeet wat jy hulle geleer het, maar nooit hoe jy hulle laat voel het nie.

Die boek is derdens ’n boek vir mense soos ek: terapeute. As terapeut bevind ’n mens jou maklik op ’n eiland en kyk jy na die kind slegs deur die lens van jou eie beroep en agtergrond. Dis egter in die kind se belang dat ons met mekaar skakel en mekaar se kennis sal deel. ’n Multidissiplinêre benadering is altyd die eerste prys. Etiek behels nie net respek vir die kodes van jou eie beroep nie, maar die wysheid om jou kollegas om hulp te vra in belang van die kind. Daarom is dit ook noodsaaklik dat ons wat met kinders werk, weet wat mekaar se kennisvelde behels. Gebruik hierdie boek om wyer as jou eie eiland te kyk.

Laastens, maar beslis nie die minste nie, is hierdie ook ’n boek vir oumas, familie en vriende wat graag wil raad gee, maar seker wil wees van hul feite. Die boek het nie in ’n vakuum ontstaan nie. As ’n terapeut wat al langer as drie dekades in die praktyk staan, kom daar mense en gebeure oor jou pad wat gedokumenteer móét word.

Die boek is geïnspireer deur die kinders wat vir ’n korter of langer tydperk deel van my lewe was of steeds is. En ook deur hul ouers, wat my gewys het dat niks onmoontlik is waar daar liefde en onvoorwaardelike aanvaarding is nie.

Met die boek probeer ek hulde bring aan die briljante en toegewyde kollegas wie se pad myne deur die jare gekruis het. Hul nalatenskap kan nouliks oorskat word. Dis ook opgedra aan elke onderwyser wat met toewyding deel is van kinders se wenverhale.

Christien Neser

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS