Uittreksel: Eggo’s

Hoofstuk 1

KOOP HIER | BUY HERE
’n Deerniswekkende verhaal van twee vroue wat elkeen op hul eie manier weer hul voete vind Wanneer Bea Klinge as jong boervrou op Leliepan aan die soom van die Namib aankom, glo sy dat sy hier vir haar, Kurt en hul kinders ’n oase van liefde sal kan skep. Ná ’n skokontdekking meer as vier dekades later kry Bea ’n miniberoerte en beland in ’n koma in die hospitaal. Haar herstel bring Bea voor nuwe keuses te staan. Sy besef sy het haar vier dogters elkeen op ’n manier gefaal deur by Kurt te staan al het hy hulle hoe verontreg. Moet sy oop kaarte met hulle speel oor die donker geheim wat haar vasgevang gehou het in ’n liefdelose huwelik met ’n man wat haar soos ’n onderdaan behandel? Bowenal moet Bea besluit of sy die kans op geluk waarop sy destyds haar rug gekeer het gaan aangryp en vir een keer in haar lewe gaan doen wat reg is vir haar en nie vir ander nie. Nel, haar rebelse laatlam, gaan soek haar heil in Johannesburg. Hier word sy as sukkelende aktrise met die donker kant van die vermaaklikheidsbedryf gekonfronteer. Sy raak betrokke in ’n toksiese verhouding met ’n invloedryke filmvervaardiger Buks Bothma en word die slagoffer van date-rape. Nel ontdek ook die skokkende waarheid omtrent haar herkoms. Lex le Roux, ’n medeakteur en donkieboer bied haar ’n kontrak aan om die gesig te wees van sy velsorgprodukte wat uit donkiemelk vervaardig word. Nel gryp die geleentheid met albei hande aan. Ná die trauma waardeur Nel is, het sy tyd nodig om heel te word. Sy besluit om haar droom na te volg en ’n dramakursus in New York te gaan volg. Mettertyd ervaar sy die vreugde om haar pad boontoe te werk en nie te slaap nie. Sy kry dit reg om aan haarself te bewys dat Nel Klinge sonder hulp sukses kan behaal. Nel besef ook dat haar genesingsproses voltooi is en dat sy reg is vir meer as ’n vriendskapsverhouding met Lex.

Bea Klinge, Leliepan, Namibië

Bea waai die vlieë wat om die emaljeskottel vol skoongeskraapte afvalle draai met haar hand weg. Heiland, vandag het sy nie krag vir die spul nie. Swaar sak sy op die riempiestoel langs die skoongeskropte greinhoutkombuistafel neer. Met die agterkant van haar hand vee sy die sweet af wat op haar bolip pêrel. In haar slape broei daar ’n dowwe hoofpyn en sy voel duiselig. Sy moet by die dokter op Maltahöhe uitkom. Haar bloeddrukpille is al ’n week gelede op.

Terwyl sy die afval in skoon asynwater begin afspoel, bly haar gedagtes dwaal na Kersfees op Vyfster, haar skoonseun Stef Steenkamp se wildsplaas naby Mariental. Dit was die eerste keer in hoeveel jaar dat sy Kersfees sonder Kurt saam met al vier haar dogters, hulle lewensmaats en haar kleinkinders kon deurbring.

Haar gedagtes bly besig met haar vier dogters wat wesenlikheid aan haar nuttelose lewe gee. As ma het sy hulle almal gefaal omdat sy ’n swakkeling is wat nooit haar man teen hulle Vati kon staan nie. Gertrude, haar en Kurt se eersgebore Tochter.  Sedert sy haar verstand gekry het, wou Gertrude ’n boer soos haar Vati wees en eendag die leisels by hom op Leliepan oorneem. Deesdae boer sy egter op Vyfster vir Stef. Bea se hart klem soos ’n vuis in haar binneste. Kurt het Gertrude soos ’n sleg hond weggejaag omdat haar seksuele voorkeure waaroor sy nie langer wou stilbly nie ’n doring in sy vlees geword het. Sy wat Bea is, het nie ’n vinger verroer om hom te keer nie.

Brümilde, die saggeaarde, ingetoë Tochter van wie Kurt nooit veel notisie geneem het nie. Toe besluit sy om met ’n man soos haar Vati te trou.  Ondanks haar misnoeë  het sy wat Bea is, stilgebly en haar nie tot ander insigte probeer bring nie. Niks gesê om haar te waarsku ’n vrou wat in die skadu van haar man lewe, kwyn mettertyd weg nie.

Kato, Kurt se oogappel  wat soos haar ma lyk, maar haar pa se deursettingsvermoë en sterk persoonlikheid geërf het. Bea se bedruktheid lig effens en haar hart voel ligter. Die gom wat die Klinges bymekaarhou. Vir Kato en Stef het hulle baba en huwelik die siklus voltooi vir twee suigelinge wat sy saam aan haar bors gesoog het. Bea het Stef soos haar eie aanvaar en versorg  nadat sy ma – haar boesemvriendin, Adriana  – kort na sy geboorte oorlede is. Kato en Stef se verbintenis het egter ou wrokke laat opvlam en die laaste greintjie menslikheid wat daar nog in Kurt was, doodgesmoor. Kurt het sy lieflingdogter en haar babaseun afgeskryf weens haar huwelik met sy aartsvyand Petrus Steenkamp se seun. Hy het Kato en haar gesin verbied om ooit weer ’n voet op Leliepan haar geboorteplaas te sit. En sy wat Bea is, het oudergewoonte stilgebly en by haar man gestaan.

Nel, haar wildeloot laatlam wat nie vastigheid in haar lewe het nie en rondval van een werk en een verhouding na die volgende. Die kind vir wie Kurt sy naam, maar nie sy liefde gegee het nie. Nel wou hy straf vir die onreg wat haar ouers hom aangedoen het. Moeg na liggaam en siel, laat sak Bea haar kop op haar arms. En omdat Nel vir haar wat Bea is die wesenlike sinnebeeld van haar eie sondigheid is, kon sy nooit ’n emosionele band met Nel smee nie. Elke keer wanneer sy in haar groen oë kyk, is dit ’n aanmaning dat Bea Klinge ’n egbreker is. Die Woord sê as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter dat een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland. Maar ’n  mens gooi nie jou kind weg nie. Net so min soos jy jou eie hand kan afkap. Daarom het sy Nel se versorging aan die tienjarige Kato en die huishulpe oorgelaat en in ’n donker gat van depressie van die werklikheid gaan wegkruip. Nee, sy moenie nou verder tob nie. Sekere goed kan nie ongedaan gemaak word nie.

Bea sluit haar oë teen die duiseligheid wat dreig om haar te oorval toe sy opstaan. Met ’n wil van hulle eie bly haar gedagtes terugdwaal na Kersfees op Vyfster. Dit was ’n bittersoet ervaring wat nou twee weke later steeds vars in haar geheue is. Die Uiteenlopende emosies wat deur haar ge-eggo het en soveel herinneringe teruggebring het, ry haar sedertdien steeds bloots.

Om na al die jare weer in Petrus Steenkamp se nabyheid te wees, het haar kragte emosioneel sowel as fisiek getap. Toe sy hom en Nel so saam sien – albei onbewus van die biologiese band tussen hulle – wou sy die woestyn inhardloop en ’n einde aan alles maak. Maar deur haar eie lewe te neem, sou sy steeds nie haar misstap en keuses ongedaan kon maak nie. Dít het sy lankal reeds besef. Sou dinge anders gewees het, sou Bea van Zyl se lewe anders verloop het as sy destyds die moed gehad om haar hart te volg? Nee, standvastigheid is belangriker as geluk.

Maar die kuier op Vyfster was net ’n tussenpose. ’n Kortstondige wegbreek van Leliepan, die plaas aan die soom van die Namibwoestyn,  wat die afgelope 42 jaar die spil is waarom Bea Klinge se lewe wentel. Die dag na Kersfees het sy daarop aangedring dat Brümilde haar terugneem na Leliepan. Die kinders lei hulle eie lewe. Haar plek is by Kurt. Haar troue metgeselle is skuldgevoelens en troosteloosheid in ’n huwelik wat net in naam bestaan.

Sy is te oud om van nuuts af te begin. Plig weeg swaarder as persoonlike geluk. Effens onvas op haar bene loop Bea badkamer toe en gaan was haar gesig onder  die kouekraan af. Die vrou wat uit die spieël na haar kyk, lyk beslis nie soos die jong bruid met die blink oë op die troufoto in die voorhuis nie. Haar donker hare is steeds lank en welig. Deesdae is dit egter met grys deurspek en sy dra dit in ’n bolla in haar nek. Ondanks die duur velsorgrome en sonskerm wat Kato gedurig uit Johannesburg pos, het die Namibiese son sy tol op haar fyn vel geëis. En om haar mond wat altyd so maklik kon lag, is daar deesdae ’n verbitterde trek.

Terug in die kombuis dwaal haar blik na die muurhorlosie. 09:30. Sy moet die afval op die stoof kry. Daarna moet sy Miekie in die slagkamer gaan help om die vleis te verpak en in die vrieskas te kry. En sy moet gaan kyk of Driesman al die groentuin natgelei het. Kurt gaan binnekort terug wees van die veeposte. Leliepan het deesdae vyf karakoeltroppe en dit is paartyd. Kurt trek swaar sonder Gert. Die jare begin sy tol eis op Kurt en Klaas Baster sy regterhand. Deesdae sukkel hulle om die boerdery  te behartig. Erken sal Kurt dit natuurlik nooit nie.

Ieder geval, hoe meer dinge op Leliepan verander, hoe meer bly dit dieselfde. 10:00 moet Kurt se moerkoffie reg wees. Stiptelik13:00 sit hy aan vir middagete. En dit is soos sy dit ook verkies. Roetine bring bestendigheid, hou ’n vrou wat as jong boervrou met haar kop in die wolke gelewe het op koers.

Bea het pas die drukkoker met die afval op die stoof gesit toe sy ’n voertuig hoor dreun. Dit is nie Kurt se dieselbakkie nie. Verbouereerd wikkel sy die knoop van haar voorskoot los. Die dae toe kuiermense ongenooid op Leliepan ingeval het, is lankal verby. Toe die rifrughonde Blits en Wolf in die voortuin begin blaf, stap Bea voordeur toe. Ounooi, haar troetelvark is dadelik by toe Bea die deur oopmaak. Kato dink sy is belaglik om ’n vark vir ’n troeteldier aan te hou. Maar wat weet Kato wat as ingenieur haar merk in ’n mansgedomineerde wêreld gemaak het, van ’n vrou wat moes leer om haar man se woord as wet te aanvaar se kwesbaarheid? Van haar behoefte om haar liefde op iets uit te stort wat haar nie gaan verkleineer en verstoot nie.

Die hitte is drukkend en in die verte lyk die Nubibberge soos ’n pers hersenskim. Bea bak haar hand bokant haar oë om beter te sien toe die motor onder die reusagtige jakaranda stilhou. Teen die netjiese draadheining blaf die honde steeds verwoed. “Sie, julle,” raas Bea en loop met die sementpaadjie af na die tuinhekkie. Dadelik bedaar die honde en val weerskante van haar in. Sy maak die tuinhekkie oop en loop tot langs die rotstuin wat sy nog aangelê het voor Kurt besluit het tuinmaak vir mooiheid is ’n onnodige vermorsing van water en geld.

’n Lang man lig sy lyf uit die Mercedes en kyk belangstellend om hom rond. Watter indruk maak Leliepan op ’n vreemdeling? fladder ’n gedagte deur Bea se kop. Die buitegeboue is netjies afgewit. Die werf is gevee en die windpomp en sementdam is versorg. Tussen reusepalms, kameeldoringbome, koraalbome en jakarandas nestel die kliphuis met die rooi sinkdak. Bome wat sy en die Ovambo kontrakwerker aangeplant en natgelei het toe sy as jong bruid met ’n hart vol drome op Leliepan aangeland het. Toe sy nog geglo het sy kan hier op Leliepan vir haar, Kurt en hulle kinders ’n oase van liefde skep.

Die man wat nou met sy rug na haar staan, vryf met sy hand deur sy donker krulhare. Sy houding is fier en regop. Sy skouers breed en sy heupe smal. Hoewel Kurt blond is, herinner die vreemdeling se liggaamshouding haar aan Kurt as jong man. Iewers diep in Bea se binneste begin ’n vonkie van onrus smeul. Nee, sy werk haar nou weer verniet op. Dit is wat gebeur as ’n mens vir té lank ’n geheim in jou ronddra. Dit word later ’n monster wat jou soms uit die bloute bespring wanneer jy dit die minste verwag.

Toe die jong man omdraai en in die rigting van die rotstuin begin stap, voel dit vir Bea asof alles wat struktuur aan haar lewe gee, weggevee word deur ’n groot onsigbare hand.  Hoewel die man se vel die kleur van melkkoffie is, is die Klinge-familietrekke onmiskenbaar. Die hoë voorkop, prominente wangbene, die hoekige ken met die kuiltjie.

Liewe Heer, wees hierdie sondaar genadig, stuur Bea ’n stille smeekgebed op. In haar hart is daar egter verset, ’n onwilligheid om God om vergiffenis te smeek. Heiland, was alles waarvoor sy bereid was om haar waardigheid en haar menswees, haar vrouwees prys te gee dan verniet?

Toe die vreemdeling haar sien, lig hy sy hand en wuif. Dag word nag. In die lug bokant haar hang die son soos ’n pers maan. Sterre val met ’n verblindende lig grond toe en ontplof op die werf.  Bea voel hoe die aarde onder haar padgee en ’n ysige koue kruip deur haar hele lyf. En dan daal die genadige donkerte  oor haar.  Dit voer haar weg na ’n plek waar sy oplaas haar skuldlas kan afgooi en in die vergetelheid kan skuiling vind.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS