Droomboom Blog

Uittreksel: Droomboom

Hoofstuk 1

KOOP HIER | BUY HERE
Wanneer sy skrywersverblyf in Killaloe, ’n klein Ierse dorpie, aangebied word, gryp professor Mariaan die geleentheid aan. Só kan sy Suid-Afrika en die trauma van die studenteopstande agterlaat. Sy kan fokus op haar vertaling van die tesis oor Afrikamites en -legendes en vergeet van die geweld en haar kollega se dood. Ierland, met sy magiese landskap, legendes en kleindorpse rustigheid, oorrompel haar. Sy maak nuwe vriende en begin selfs ’n tentatiewe verhouding met Declan. Wanneer sy egter uitvind dat hy bande met die Ierse Republikeinse Weermag het, besef sy dat geweld en gevaar oral aanwesig is. Droomboom is ’n verhaal van vergifnis en aanvaarding, en die helende krag van vriendskap en liefde.

Die rookwolke moes hulle gewaarsku het. Mariaan klem die stuurwiel stywer vas, maar haar palms is so natgesweet dat sy hulle eers teen haar langbroek moet afvee. Haar keel wil toetrek. Hoe dom van hulle tog! Net ’n halfuur later en alles sou verby gewees het. Nou is die personeel in hul voertuie in ’n ry voor die hek vasgekeer, terwyl die skreeuende en dansende massa protesteerders buite in die pad verbystroom.
Sy is tweede in die ry agter Sean se bakkie, met die res van die personeel agter haar.
Die hekwag het tou opgegooi; met net sy knopkierie kan hy in elk geval niks vermag teen die histerie wat buite in die straat aan die opbou is nie. Hy skuil nou in sy hokkie, die deur styf toegetrek.
Dis die laaste dag van die semester en die dosente kon vroeg huis toe gaan. Hulle weet van die taxi-onluste wat hoër op in die straat by die terminus uitgebreek het – maar, nou ja, dis nie die eerste keer nie. Hulle was nog altyd veilig hier by die kollege. Maar vandag is dit anders. Die tydsberekening is verkeerd.
Die mense is opgesweep; die dosente kon die geskreeu al hoor toe hulle in hul motors geklim het. Die reuk van brandende motorbande het neus en oë geprik, terwyl swart rookwolke verder aan agter die heining uitborrel.
Hoekom het hulle nie maar net agter die toe hekke gewag dat die optog verbybeweeg nie?
Nou sit hulle in ’n konvooi vasgekeer. Omdraai is nie moontlik nie en vorentoe kan hulle ook nie. Die neus van Sean se bakkie is net deur die hek toe die eerste amokmakers verbykom.
Hy moet maar wag . . .
Te laat. Die voorlopers sleur die massa saam, skreeuende mans en vroue wat toi-toi en voete stamp. Saam met hulle kom eers die rookwolke en dan brandende buitebande op kruiwaens.
Met haar mond te droog om ’n woord uit te kry, bid Mariaan woordeloos: Here, help ons vandag om veilig hier uit te kom. Laat Sean tog nie iets onverantwoordeliks doen nie. Hy is soms so impulsief. Nog nie lank genoeg in die land om van beter te weet nie. Toe gebeur wat sy die meeste vrees.
Sean raak haastig. Hy druk op sy toeter, probeer vorentoe beweeg in die mensemassa in. En binne ’n oogwink bars die hel los. Iemand storm uit die rookwolke met ’n baksteen in sy hand. Hy kap swaar daarmee op die bakkie se enjinkap, sy houding duidelik: Wie dink jy is jy?
Die volgende oomblik gooi hy die baksteen met alle mag teen die voorruit.
Die glas versplinter, die ruit kraak en begin insak.
Dit gebeur binne ’n oogwink, maar verdwaas neem sy dit in stadige aksie waar. Detail vir detail. Die man se donker baadjie, ’n swart pet laag oor sy oë getrek. Sy tande wit teen die donker vel, ’n oop rooi mond wat nou by die passasierskant iets vir Sean skree.
En Sean wat sy venster afdraai, sy kop uitsteek en met die man probeer praat.
Dom. Dom. Dom.
Jy gaan niks uitrig nie Sean, ry net! skreeu dit in haar kop, maar dit is reeds te laat.
Die man druk sy hand agter sy rug in, trek ’n rewolwer uit – en toe skiet hy.
Totaal verlam van liggaam en verstand, sien sy hoe Sean se kop ruk, sywaarts teen die vensterraam val.
Wat nou?
Die man skiet sowaar weer, hierdie keer blindelings tussen die konvooi motors in.
Mariaan se vensterruit bars aan flenters, stukkies glas spat oor haar. Haar oë volg die man, kyk hoe hy die rewolwer agter sy rug insteek, omdraai en in die massa verdwyn.
Sean is geskiet, Sean is geskiet . . .
Sy druk die deur oop. Steier uit, mik na die oop venster, na die blonde krulhare wat sy teen die raam kan sien. Sy moet haar teen haar motor se enjinkap stut. Die wêreld is skielik klein. Net die bakkie, die verbysterde hekwag, sy en Sean. Asof in ʼn droom waad sy tot by die oop venster, tot by die geliefde gesig, staar met afgryse na die swart gaatjie reg langs sy slaap . . . die stroompie bloed wat daaruit loop. Een blou oog halfoop, die ander een toe.
Haar ore suis, sy hoor niks, verstaan niks. Kan nie beweeg nie, dis of sy iemand anders is.
“Mariaan!”
Iemand roep na haar. Arms trek haar weg van die oop venster af. “Mariaan, kyk vir my: jy’s raakgeskiet!”
Trane loop oor die wange van Rashid, een van haar kollegas. Drup langs sy ken af, sy mondhoeke bewe. “Jou arm! Kom, ons moet die bloed probeer stop . . . die polisie en ambulans is op pad.”
Sy hoor sy woorde te stadig om hulle te verstaan. “Ons gaan in Ballito eet. Ek en Sean.”
Waarom huil Rashid so?
Hy vat haar sag aan haar arm, trek haar weg. Toe sy afkyk, sien sy in haar boarm ’n gapende rooi wond waaruit ’n straal bloed afloop, oor haar hand drup en donker spatsels op haar langbroek maak.
Sy voel niks.
Arms steun haar tot by die sekuriteitshokkie, en sy gaan sit teen die muur. Iemand draai ’n verband om haar boarm. Mense hardloop rond, spoke in die swart rook.
Flitsende blou ligte.
Sy kyk op, soek die blou lug, maar sien net die son bloedrooi deur die donker rookwolke. Sy maak haar oë toe. Dis dan hoe dit in die hel is.


Hoofstuk 2

KOOP HIER | BUY HERE
Soms is huis aan die ander kant van die wêreld... Wanneer sy skrywersverblyf in Killaloe, ’n klein Ierse dorpie, aangebied word, gryp professor Mariaan de Jongh die geleentheid aan. Só kan sy Suid-Afrika en die trauma van die studenteopstande agterlaat. Sy kan fokus op haar vertaling van die tesis oor Afrikamites en -legendes en vergeet van die geweld en haar kollega se dood. Ierland, met sy magiese landskap, legendes en kleindorpse rustigheid, oorrompel haar. Sy maak nuwe vriende en begin selfs ’n tentatiewe verhouding met Declan. Wanneer sy egter uitvind dat hy bande met die Ierse Republikeinse Leër het, besef sy dat geweld en gevaar oral aanwesig is. Droomboom is ’n verhaal van vergifnis en aanvaarding, en die helende krag van vriendskap en liefde.

Twee jaar later

“Waarheen is jy op pad?”
Die man langs haar in die vliegtuig bedoel dit seker goed.
Mariaan antwoord sonder om te dink: “Ek weet nie. Net weg. Na ’n ander plek toe.”
“Jy gaan darem seker êrens heen, of hoe?” Hy is geamuseerd.
Sy vervies haar effens. “Enige plek ís mos êrens.” Skoolmeester, voeg sy in stilte by. ’n Geselser en ’n wysneus. Sy is nie lus vir een van die twee nie.
Beslis maak sy haar boek oop en maak of sy lees. Dis ’n lang, slapelose nag wat voorlê, en nog twee dae op die bus en twee nagte van oorslaap in gastehuise voor sy op die veerboot na haar bestemming kan klim.
Ierland. ’n Eiland aan die ander kant van die wêreld. Dít is waarheen ek op pad is, kon sy vir die man gesê het.
Ek het die lang pad gekies, want ek het tyd nodig om te dink. Maar sy hoef niks te verduidelik nie, die hoekoms en waaroms uit te lê nie. Dis háár besigheid.
Sy oornag in Fishguard, die veerboot-terminus aan die Walliese kus.
Dankbaar toe die dag aanbreek, sug sy moeg. Die wind tier om die hoeke van die huis en daar is donderweer en blitse in die lug. Dit laat haar droewig voel, al die grysheid.
Haar hart pyn nie meer nie en daar het berusting gekom, maar die verlange vang haar nog soms. Sy het hom . . . Sean . . . twee jaar geken terwyl hy as gasdosent by die kollege gewerk het. Na ’n jaar was hulle in ’n verhouding, planne gemaak om saam terug Australië toe te gaan.
Hoekom hý? En juis daardie dag?
Sy sluit haar gedagtes doelbewus. Vervang ’n negatiewe gedagte met ’n positiewe een, het Philip, haar berader gesê.
Durban was ’n waas van hitte en klamheid toe sy daar weg is, met ’n groot geel son verblindend teen die hemel. Op Heathrow het vloedwaarskuwings op die televisieskerms geflits. By ’n kiosk het sy ’n pienk wolserp gekoop en om haar nek gedraai. Die jas wat sy saamgebring het, is goed genoeg vir ’n Hoëveldse winter, maar sy sal beslis iets warmer hier moet kry. En kouse, of lekker warm leggings. Sy het daarvoor begroot, anders was haar tas te vol.
Vir eers moet sy maar oor die weg kom met wat sy het.
Op die veerboot gaan dit ook nie makliker nie. Sy is skaars aan boord, toe die storm weer losbars. Nou speel wind en weer ’n gans ander speletjie. Die boot ploeg deur die deinende water en elke keer wanneer die boeg deur die aanstormende branders breek, moet sy verbete aan die relings voor die groot venster klem, haar bene stewig plant teen die wieg van die dek onder haar voete.
’n Vlaag reën versluier haar uitsig en sy draai weg van die venster af. Dalk moet sy liewer gaan sit. Haar maag maak ’n draai elke keer wat die dek so wieg. Hou jou oog op ’n vaste punt op die horison, het sy iewers gehoor, dit sal voorkom dat jy seesiek word. Maar wat maak mens nou as jy in digte mis vaar en net die see onder jou kan sien skommel?
Die Walliese kus het agter ’n misgordyn weggeraak en Rosslare, die hawe aan die Ierse kus, lê twee en ’n halfuur verder wes. Sy is op die boonste dek, met groot vensters en glasdeure wat na ’n oop uitkykpunt lei. Hier is diep rusbanke voor die vensters en orals sit groepies mense en gesels, of lees. Voor ’n televisieskerm in die hoek is ’n klompie mans saamgedrom. Hulle lag en gesels, drink groot glase swart bier en maak net geraas, want sy kan nie ’n woord verstaan wat hulle sê nie. Sokkerspelers, as sy moet aflei. As dít is hoe Ierse Engels klink, gaan sy swaarkry.
By die restaurant is daar ook ’n klompie mense. Sy kan musiek hoor, iewers in die gang af.
Haar rekenaarsak en handsak is op die rusbank naaste aan haar en sy gaan sit, leun terug en maak haar oë toe, wag vir die naarheid om oor te gaan. Oor ’n paar uur is sy in Ierland. Nog drie uur verder per bus, dan is sy by haar bestemming – Killaloe, haar blyplek die volgende jaar. Sy lê verder terug teen die sagte kussings. Die boot beweeg onder haar, dis asof sy op die rug van ’n reusedier ry. Die enjins is die sagte trilling van sy hart, die digte vensters en swaar metaal ’n veilige ruimte. Hy vat haar weg van alles wat was, almal wat sy ken, haar land en sy mense.
Dit was haar plan. Maar onsekerheid knaag aan haar. ’n Opwelling van angs laat haar palms sweet, haar gesig warm en klam voel. Sy stoot haar gedagtes doelbewus in ’n ander rigting. Die oorgang tussen die ou en die nuwe is nooit maklik nie, het Philip gewaarsku.
Haar binneste bewe liggies. ’n Nuwe seisoen wag vir haar – ’n koue een, het Google gewaarsku. Die werksaanbod van Annette, ’n dosent by Tukkies, was soos manna uit die hemel toe sy op ’n baie lae punt van weerstand was. ’n Gewigtige stuk vertaalwerk teen goeie betaling – én dit kom saam met ’n kothuis in Killaloe, as sy dit wil hê. Iewers naby ’n meer in Ierland.
“Onthou jy nog vir Wim Hasenblanck?” het Annette gevra. “Altyd by die taalkongresse, en altyd laat?”
“Hasie? Die ou met die grys poniestert en pienk ore?”
Oor die telefoon kon sy ’n snuiflaggie hoor. “Dis net hy. Ou Wimpie. Daar gebly vir ’n jaar, en huis toe gekom met die wonderlikste boek. Dis jou kans vir ’n wegbreek, Mariaan. Skryf sommer ook ’n boek as die reën te veel word. Dit lyk my die koue daar maak iets los in mense se koppe.”
Mariaan het net gelag. ’n Boek? Waar sou sy begin?
Maar tog besluit sy om op die ou end die aanbod te aanvaar. Die opdrag is nie te moeilik nie. ’n Tesis in Engels oor Suid-Afrikaanse mites en legendes wat in Afrikaans vertaal moet word sodat dit as ’n voorgeskrewe werk vir studente gebruik kan word. Sy moet ook bywerk en dit in twaalf modules verdeel.
Die indeling is ’n pluspunt, want sy hou van ordelikheid. Een module elke maand, en binne twaalf maande is sy klaar. Die betaling is ook goed, genoeg vir ’n stewige neseiertjie wanneer sy teruggaan. As sy wil, natuurlik.
Dit het byna ’n jaar se beplanning geverg om haar tot hier te bring, haar gehelp om haar lewe weer aan die gang te kry. Dalk bly sy sommer net hier. Of loop soek werk elders in Europa.
Maar sy het die moeite gedoen om Ierland toe te kom, soos met die taalkwessie. Op goeie advies van Annette, het sy op Google gaan soek na Irish English, net vir ingeval. By die huis is daar niks meer om na toe terug te gaan nie. Sean was haar laaste vashouplek in die land van haar geboorte. Sy oorskot is terug Australië toe, na sy mense toe.
Maar sy leef, en dis vir eers genoeg. Sy maak haar oë oop toe iemand langs haar kom sit.
“Excuse me? Do ya mind?”
Sy het die jong vrou met die babawaentjie nie eens hoor naderkom nie.
“Natuurlik,” knik Mariaan, en skuif op sodat daar plek is vir die waentjie tussen hulle.
“Sorry fer wakin’ ya.” Die vrou glimlag, breed en vriendelik. Haar Engels klink . . . wel, soos Engels. Aksent so ’n bietjie dik, maar Mariaan kan saampraat. So far so good.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS