Bets_Smith_Dooiegety_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Dooiegety – Bets Smith

Proloog

KOOP HIER | BUY HERE
Geliefde inwoner van ʼn kusdorpie sterf in verdagte omstandighede. Haar vriendin Daleen soek na antwoorde maar ontdek net meer raaisels. Kriptiese waarskuwings en haar dogter se verdwyning suggereer ’n verband tussen die moord en vroeëre tienerverdwynings.

Die gesig bokant haar is wasig, maar tog bekend. Dis wat dié gesegde uit haar kinderdae oproep: Die makste hond byt die seerste. Sy knip haar oë om te fokus maar die mistigheid bly tussen hulle hang. Hy lyk anders. Die uitdrukking in sy oë misvorm sy ongemaklike glimlag tot ’n gryns. Dit maak hom ’n hond wat tande wys. Sy beur weg. Lag of waarsku hy?

Mak honde byt seerder want die hap is onverwags.

Die gesig dryf verder weg, kom nader, word groot, vervorm. Hy word die monster wat in sy oë geskuil het. Vir elke aksie is daar ’n gelyke en teenoorgestelde reaksie. Alles is ’n kwessie van oorsaak en gevolg. Wanneer het hy dit gesê? En hoekom? Was dit iets wat sy gesê of gevra het? Maar wat? Iets oor die Mula-winkel? Die veilige hawe vir straatkinders? Die gemeenskaplike groentetuin? Sy wou net weet . . . Hy moes ja of nee antwoord, dis al.

Wat het sy gesê toe sy die deur oopmaak? Net gegroet. Maar hy praat van ’n boodskap.

“Watse boodskap?” Haar tong is swaar, haar woorde verwring. Hy reageer nie, hoor nie. Haar verstand hou aan vra, haar mond werk nie saam nie. Facebook-Messenger? SMS? WhatsApp? Dalk e-pos? Maar wanneer? Of was dit bloot ’n onuitgesproke gedagte?

KOOP HIER | BUY HERE
Geliefde inwoner van ʼn kusdorpie sterf in verdagte omstandighede. Haar vriendin Daleen soek na antwoorde maar ontdek net meer raaisels. Kriptiese waarskuwings en haar dogter se verdwyning suggereer ’n verband tussen die moord en vroeëre tienerverdwynings.

Hy reik na haar. Monsterhande.

Sy sweef.

Baklei daarteen, beveel haar instink.

Haar bene werk nie.

Gil, roep om hulp.

Woorde bly sonder klank. Sy is ’n zombie, sonder wil, sonder wete. Gehoorsaam bevele, selfs onaanvaarbares. Sy is die tokkelossie wat haar meester gehoorsaam.

“Curiosity killed the cat, tog steur julle vroumense jul nie daaraan nie.” Stem en woorde kom van ver, asof deur water. Dit maak nie sin nie, is nie relevant nie. “Jy’t alles verongeluk.”

“Ek wou net weet . . .” Sy het vergeet wat sy wil weet, moes in die eerste plek nie gevra het nie, maar sy kan nie keer nie, die woorde is uit.

Waar is sy? Nêrens?

Êrens. Hier, en naby water. Te naby. Veelkleurige vissies agter glas, ’n hele vertrek vol. Reusagtig. Groot soos ’n huis, vol water, skrikaanjaend baie water. Te veel. Sy gaan verdrink. Weer. Gaan water inasem tussen angswekkend groot visse, gedrogtelikes, helder verlig. Borrels dryf ritmies teen die kant op, groot, deursigtige strandballe. Bars bo oop, breek deur die meniskus.

Water agter glas, maar dakloos. Anders. Waar is die deksel? Het sy dit self afgehaal? Is dit ooit ’n tenk? Haar hand soek haar selfoon. Vat dit nie raak nie. Vingerpunte onthou waar dit is, voel daarvoor, raak daaraan. Vat mis. Dis nie daar nie, was dalk nooit daar nie. Weet nie waar dit is nie.

Die stem paai, oorreed, beredeneer. Haar instink bevraagteken, protesteer, weier. Verstand en wil werk nie saam nie. Hande lei haar nader aan die water, tot teen die rand. Haar lyf gaan sonder eie wil. Sy is die meester se instrument, ’n marionet. Deur sy wil gehipnotiseer om haar vrees te konfronteer.

Hidrofobie.

Sy vrees die helder vloeistof met ’n verskriklike angs. Wil nie ingaan nie, wil nie swem nie. Wil nie beheer verloor, beleef hoe die water haar meesleur, oor haar kop toemaak, haar asem steel nie. Tog is sy reeds op die rand. Op die bodem waarsku rotse, visse skarrel weg, so bang soos sy. Iets skiet in haar los, gee mee.

Sy gil. Klank gebeur nie.

Nee, nee, nee, nee. Geen hoorbare woord kom uit nie.

Onder haar skarrel visse: klein, groot, ook monsteragtig. Haar gesig bly onder die water. Drywende haarslierte weerskante van haar op en onder die oppervlak. Dis haar eie. Lig flikker, weerkaats. Sy stik. Twee strome borrels ontsnap, lugkanale wat by haar oë verbykronkel. Haar verstand skreeu onder die oppervlak, roep om hulp, weer en weer. Nog breek geen klank deur nie, net ’n nuwe vlaag borrels, groot sarsies lug wat uit haar lyf ontsnap en die laaste molekules suurstof saamneem.

Moenie weer inasem nie.

Tog stroom die water onkeerbaar in, dieper, dieper. Sy stik weer, borrels plof by haar neus uit.

Moenie vir die dood kyk nie, maak toe jou oë. Maar vrees vir die donker is groter.

Eensklaps is haar denke helder. Onthou sy die dag toe water oor haar kop toegemaak het. Toe sy nie asem kon kry nie. Sy sien die beelde een vir een soos ’n film in stadige aksie voor haar afspeel. Die gebeure van die dag wat sy nooit wou onthou nie, maar wat sy nog in nagmerries herleef. Sien in flikkerfoto’s waarom sy nooit swem nie, nooit in die seewater of by die rotspoele wou loop nie. En tog is haar kop nou onder water.

Haar geheue roep die verlede op terwyl sy ’n ander, maar eenderse nagmerrie beleef. ’n Helder angsfilm. ’n Nuwe werklikheid. Sy verdrink, en hierdie keer is daar niemand wat haar gaan red nie, net hy wat haar onder water hou.

Kosbare lug stroom ononderbroke verby. Word minder, verdwyn. Sy is doodsbenoud, het geen suurstof meer nie. Om haar word die water kalmer, stiller, syg koud in haar longe in, neem al die plek van die suurstof. Word deel van haar. Sy word water. Sy knip haar oë. Nog ’n borrel ontsnap. ’n Blink volmaan. Een deursigtige sekelmaantjie kantel stadig af bodem toe.

’n Kontaklens, nie ’n lugborrel nie. Die skyfie kom tot rus op die klein rots waar visse by die tonnel inswem, uitswem. Toe is daar niks meer nie.

Een

Clairvoyance. Heldersiendheid. Daleen Boshoff grinnik toe die woorde van nêrens aanmeld. Sy hoef nie die omslag te lees om te weet waaroor dit gaan nie. Die tema is een mens se uitsonderlike vermoë om informasie oor mense, voorwerpe of gebeure te ontvang sonder om normale sintuie in te span. ’n Kontakpunt tussen hoofkarakter en moordenaar.

Buitesintuiglike waarneming. ESP.

Dis ’n mite, maar deur die lens van ’n vaardige kameraman gee die regisseur ’n geloofwaardige verklaring vir die onverklaarbare, en maak daarvan ’n angswekkende moontlikheid. Of miskien lyk dit net vir haar na ’n aanvaarbare alternatief omdat sy as fotograaf na die toneel kyk.

Op die skerm wys die buitelyn van die lens asof sy die een is wat die kamera vashou. Die modetoneel is skerp gefokus, in volkleur, ’n surrealistiese werklikheid. Die oordrewe grimering, die stokkerige bewegings is bisar, byna spookagtig.

Die sluiter klik hoor- en sigbaar, aksentueer die robotagtigheid. Doelbewus liasseer sy die tegniek in haar geheue vir wanneer sy eendag ’n makabere effek moet skep. Omdat haar konsentrasie verslap, merk sy nie dadelik die afwyking nie. Sonder waarskuwing, sonder aanpassing van die klankbaan verander die toneel van grotesk na natuurlik, van kunsmatige filmstel na ’n normale woonsteltoneel. Dieselfde modelle, maar die grimering is natuurlik, die bewegings vloeiend, heeltemal anders as die vorige beelde.

Die oorgang van oordramaties na huislik laat die spanning verslap, juis daarom is die moord onverwags grusaam.

Haar asem steek vas terwyl sy die beeld ontleed wat kantel en beweeg asof sy met die videokamera loop en verfilm. Sy kyk deur ’n kameralens, sien die mes in haar eie hand, sien ook die slagoffer. Dis ’n wanklank, meer gepas vir die bisarre modereeks. Die verskrikte vrou kyk reguit deur die lens na haar, deins van haar af terug. Bloed spat teen die muur. In die lens verstar die oë, raak dof, met net die miniatuurbeeld van die moordenaar wat daarin leef. ’n Miniatuurfotograaf met kamera teen die oë.

Daleen sug. Wonderlike kamerategniek, maar onthutsend.

Die hand wat haar pols vasvat, bring haar vinnig terug na die werklikheid. Sy staar ’n oomblik oorbluf na haar tienerdogter terwyl sy sukkel om die vertrek in fokus te kry.

“Nee man, Ma, watse flieks hou Ferdi in daai winkel van hom aan?” raas Dalri.

Daleen onderdruk ’n glimlag. “Jy het hierdie fliek gekies, nie ek nie.”

“Ja, want dit klink onskadelik. Die heldin is ’n fotograaf, nes Ma,” verdedig sy. “Ma doen nou wel nie mode nie, maar ek dag mooi modelle in moderne skeppings sal vir Ma opwindender wees as koerantfoto’s soos in Up close and personal. Maar dit het boring begin. Ek was net mooi halfpad met ’n WhatsApp vir Elrina, toe spat die bloed.”

Daleen lig die plastiekkoevert van die DVD. “Jy kan mos aan die omslagfoto sien dis nie die standaardchickfliek nie. Selfs die titel is . . .”

“. . . niksseggend, Ma,” stry Dalri. “Eyes of Laura Mars met ’n ouderdomsbeperking van sestien, seker omdat Laura met die lieflike oë ’n verhouding het met die held. Ek het gedink dis moderner, darem effens minder ancient as die flieks wat Ma altyd uitsoek.”

“Jy’s reg, dit begin vervelig en die res is nie gepas vir jou nie,” gee Daleen toe. “Ek het al vergeet sommige tonele is gewaag.”

“Hoe bedoel Ma gewaag?” Dalri se belangstelling verskerp dadelik. “Net nog moorde?”

Daleen glimlag heimlik. Haar kleuter het oornag verdwyn en hierdie wêreldwyse tiener het oorgeneem. “Die fotograaf sien nie net die moorde terwyl dit gebeur nie, sy sien dit asof sy die moordenaar is. En die reeksmoordenaar maai die modelle af omdat hulle sulke losse sedes het. Dis nou as ek die storie reg onthou.”

Dalri frommel haar neus. “Ek het Lewenswetenskappe as vak, ek ken die storie van die bytjies en die blommetjies. Naaktonele en seks is ou nuus, as dit is waarvan Ma praat.”

“Biologiese feite is nie die probleem nie, dis hoe dit opgedis word.” Daleen steek haar hand uit na die afstandbeheerder, maar Dalri raap dit voor haar op.

“Gee dat ek kan afskakel, Dalri. Jy gaan nagmerries kry.”

“Ek weet mos dis ’n fliek en dis nog ver van slaaptyd af, hoe sal ek nagmerries kry?” kom dit paraat. “Ek is boonop al sestien. Ma kan my oë toedruk as jy voel dis nodig.” Dalri grinnik stout.

Daleen vermoed Dalri lag heimlik vir haar, maar sy het die kind buitendien net geterg. Haar oogappel aard na Richard in meer opsigte as net die uiterlike. Haar hart verteder. Dalri hou Rick vir haar lewend. ’n Ongeneeslike terggees, boonop lank, en ’n goeie atleet. Deur Dalri beleef sy hom daagliks soos hy was voor die siekte hom begin verteer het.

Terwyl Dalri op die skerm konsentreer, kyk sy onderlangs na haar. Rick sou trots gewees het op sy langbeendogter. Die belofte van skoonheid is daar, maar genadiglik is sy nog onbewus daarvan. Reeds tiener, maar meer kind as vrou. Tog voorspel die sprekende mond dat tienerprobleme binne ’n paar maande kan inskop.

Kommer roer in haar. Soos elke dorp aan die Suidkus kry Makulu Manzi sy kwota ongewenste invloede wanneer dit tydens skoolvakansies oorloop van vreemdelinge. Die afgelope Desembervakansie was juis ’n riller. Miskien moet sy die fliek gebruik as aanknopingspunt vir ’n bedekte inligtingsessie. Sy sukkel juis om op die fyn lyn tussen waarskuwing teen gevaar en blatante bangpratery te loop.

Die geleentheid gaan onbenut verby toe ’n skerp verlange na Rick haar soos ’n vuis in die solar pleksus tref.


Terwyl Dalri later gereedmaak vir slaaptyd, skakel Daleen die radio aan om die hartseer te besweer. Saans ná nege is Nerina as aanbieder van die laataandversoekprogram en plaaslike nuus die stem van Punt Radio. Maar net soos gisteraand is daar geen uitsending nie, net ’n vae geruis op die stasie se golflengte.

Daleen draai die volume sagter. Dalk is Nerina siek. Dis egter te laat om nou te bel. Die ligstraal van die vuurtoring langs Nerina se huis swiep priemend oor die baai, ’n ritmiese soeklig. ’n Weerkaatsing flits oor Rick se teleskoop wat langs haar kamera staan. Albei lense is sedert gistermiddag gerig op die oorkant van die baai, in die besonder op die sterrehemel bokant Nerina se huis.

Dit herinner haar sy kan self kyk of daar iets uitsonderliks by Nerina aangaan. Sy huiwer net ’n oomblik, buk toe om die teleskoop te verstel, maar dis nie nodig nie; Nerina se huis is reeds in die lens. Daar brand geen lig nie, ook nie die gebruiklike buitelig nie. Geen beweging is binne of buite sigbaar nie. Nie eens Nerina se jagter van ’n kat is in die tuin of op ’n vensterbank te sien nie.

Bekommerd skuif sy haar stoel na die kamera op die driepoot langsaan. Die gordyn het iewers sedert gistermiddag oor die agterkant van die teleskoop en kamera gewaai, maar het gelukkig nie die lens bedek nie, net die kamerahoek. Die lensbeeld is net so helder soos deur die teleskoop en sy kan boonop inzoem.

Voordat sy kan buk om mooi te kyk hoor sy Dalri agter haar. Sy swaai om, skuldig asof sy betrap is dat sy afloer.

“Ma, is daar regtig mense wat psychic is?” Dalri leun in haar nagklere teen die deurkosyn, glad nie geïnteresseerd in waarheen die kamera mik nie.

“Dit was net ’n fliek, Riekie, jy het self so gesê,” herinner Daleen haar.

“Ja, maar wat van Dynamo en Tyler Henry en al die ander ouens wat op televisie spog met hulle psychic vermoëns? Ek weet towenaars gebruik oëverblindery, maar die psychics is plein weird. Hulle moet een of ander boaardse vermoë hê om sulke akkurate voorspellings te kan maak. Selfs die polisie het die waarsegster geglo toe sy beweer die vermiste meisies se liggame lê naby water hier in Makulu Manzi. Hoekom anders dink Ma het hulle laas November in daai erf kom rondgrawe vir doodsbeendere?”

“Leidrade, nie doodsbeendere nie.” Koue loop oor Daleen se vel, soos altyd wanneer na die vermiste tieners verwys word. Die siener se beskrywing van die plek waar die meisies se liggame glo gevind sal word, was die toppunt. Al die inwoners van Makulu Manzi was onthuts toe die forensiese span hier opdaag en die erf naby Nerina se huis begin omkeer.

“Ma?” Dalri se stem dwing haar terug.

“Het die polisie enigiets gekry toe hulle hier kom soek het?”

“Nee,” erken Dalri.

“Nou ja, daar het jy jou antwoord.” Sy druk Dalri ’n oomblik teen haar vas. “Die sogenaamde psychics praat strooi. Hulle maak net geld uit goedgelowige mense of desperate naasbestaandes.” As sy haarself net kon oortuig.

Oënskynlik gerusgestel, soen Dalri haar op die wang. “Nag, Ma. Jy onthou nog die graadtiens versier die saal vir die winterbal en dat daar ’n after-party ná ons werksessie is, nè?”

Dalri het terloops daarvan gepraat, maar niks was definitief nie. “Jy kan gaan as daar ouers of onderwysers is wat toesig hou. Ons praat weer nader aan die tyd. Bed toe met jou.”

Nadat Dalri kamer toe is, draai sy terug na haar kamera. Sy kry weer die huis in die lens, vergroot en verstel die fokus. Geen lig en geen beweging by Nerina se huis nie.

Meer kan sy nie vanaand doen nie, besluit sy.

Skielik angstig oor gisteraand se foto’s omdat die kamerahoek geskuif het, verwyder sy die geheuekaart om op haar skootrekenaar na die resultaat te kyk. Sy is nog ’n groentjie met die verfilming van sterbane en sukkel om haar verstellings perfek te kry. As die gordyn die kamera beweeg het nadat die foto’s geneem is, het sy ’n kans op sukses, maar as dit in die middel van die reeks gebeur het, is die eindproduk waarskynlik ’n mislukking. In der waarheid ’n ramp, want sy het min tyd om haar tegniek te vervolmaak. Haar grootste uitdaging is om die komende totale maansverduistering, wat ’n hele uur gaan duur, in stadige aksie te verfilm.

Sy druk die geheuekaart in haar laptop en sit terug om te wag dat die tydsame laaiproses sy loop neem.

Venus, die fokuspunt van haar basisskoot, het gisteraand vroeg reeds feitlik in die middel van die halfmaan se kommetjie gelê, perfek gebalanseer op die vuurtoring langs Nerina se huis. As die reeks opvolgfoto’s daarop gedruk word, behoort die hemel bokant die horison in haar finale foto te pryk met fyn halfsirkels lig of sterbane, met Venus die diamant in die tiara.

Berekenings help niks as mens een faktor buite rekening laat nie.

Net so het sy haar misreken met haar kwesbaarheid ná Rick se dood. Toe die eerste meisie in Gauteng verdwyn het, was haar wonde oor Rick nog rou. Kort daarna verdwyn nog twee. Dalri was in graad sewe, so oud soos die vermiste kinders. Die implikasies het haar soos ’n brander getref. Nagmerries oor wat met haar kind kan gebeur, het daarna haar slaap gesteel. Die dagligure was nie veel beter nie.

Sy bekyk gou die laaiproses maar dis net halfpad. Haar gedagtes dwing outomaties terug na die angsvolle verlede. Die meisies is nog nie opgespoor nie, tog is sy ietwat nugterder oor die voorvalle en kan selfs insien dat haar optrede destyds ongebalanseer was. Uitputting was haar enigste verskoning. ’n Hospicehelper het wel bedags ’n uur met Rick se verpleging gehelp, maar snags het sy hom sonder hulp versorg.

Daardie laaste week was ’n nagmerrie met die dood ’n konstante teenwoordigheid in die huis. Soms het sy haarself betrap dat sy hardop met ’n denkbeeldige doodsengel stry en baklei om hom op ’n afstand te hou, asof hy ’n persoon is wat lyflik die huis met hulle drie deel. Die meisies se verdwyning was soos deel van die nagmerrie. As Dalri haar toe gevra het of sieners oor besonderse vermoëns beskik om boodskappe uit die doderyk te ontvang en dinge te voorspel het sy dit dadelik bevestig. Dan sou dit waarskynlik ook vir haar makliker gewees het om Rick te help.

Tot die dood ons skei. So maklik om te belowe, so moeilik as jy die duur van ’n lewe moet bepaal.

Die skerm wat oorgaan op sluimer is ’n welkome herinnering aan die hede. ’n Tikkie op die muis roep die beeld terug. Sy skep ’n nuwe lêer in haar fotoprogram, stoor die afgelaaide foto’s onder gister se datum en stuur kopieë van die hele reeks na Adobe Bridge.

Terwyl haar gedagtes ronddool tussen Richard se begrafnis en die rompslomp van boedeldinge, volg haar vingers outomaties die stappe. Sy gebruik die Bridge-nutsprogram om een van die eerste afdrukke na haar sin te wysig in Adobe RAW. Kies al die foto’s, regsklik en kies die instelling om hulle te ontwikkel. Klik op Vorige Omskakelings om die proses te sinchroniseer sodat al die foto’s volgens die eerste een gewysig word. Maak Photoshop oop en laai die lêer in Photoshop-lae.

Dis asof destyds se angs uit die diepste lae van die verlede herrys het. Ook verlange na Rick is ’n ou bekende pyn. Dalri word binne twee maande sestien. Die alleenverantwoordelikheid vir haar kind se veiligheid is nog net so oorweldigend soos toe Dalri dertien was. Nagmerries steel wel nie meer haar slaap nie, maar kommer oor haar kind tref haar tydig en ontydig. Soos nou. Sy drafstap gangaf om te gaan kyk of Dalri veilig is.

Dié slaap soos ’n baba. Daleen leun teen die deurkosyn, week van liefde en herinneringe.

Hoewel die dood saam met Rick se liggaam uit hul lewe vertrek het, was daar sedert die verdwynings ’n ander ongewenste teenwoordigheid in haar huis. ’n Onbekende sluiper wat op dertienjarige dogtertjies teer, lê op die loer, gereed om te gryp wanneer sy nie op haar hoede is nie. En hy klop weer dringend aan haar deur. Dit voel of haar oorblywende geliefde kwesbaar is en sy weet nie hoe of waar om te keer nie.

Die rekenaarproses is nog nie afgehandel toe sy by die rekenaar terugkom nie.

Dis nou drie jaar sedert die eerste verdwyning en die polisieondersoek het nog net een verdagte, ’n middeljarige man met verregse politieke neigings opgelewer. Die man is ná ondervraging vrygelaat. Geen spoor van die meisies is naby sy huis gevind nie, maar sy selfmoord verlede jaar het die hele storie weer oopgevlek. Bewerings van ’n hele netwerk in mensehandel het die forensiese span se koms na Makulu Manzi voorafgegaan.

Daleen is nie van plan om weer neuroties te raak nie. Destyds het sy Dalri tydig en ontydig gebel, gewhatsapp, ge-sms. Het selfs ’n EyE-Watch vir haar gekoop. Met die spesiale GPS-horlosie sou sy Dalri te alle tye kon opspoor, maar Dalri het geweier om dit te dra. Dit lê ongebruik in die kluis.

Sy weet nie wat sy sal doen, hoe sy sal oorleef as iets met Dalri moet gebeur nie. Haar kind is al wat sy oorhet, al wat haar aan Richard verbind. Selfs as Dalri wegloop soos Kathleen Walters, sal sy ontroosbaar wees.

Op dié ondenkbare gedagte loop sy weer gangaf, buk oor Dalri en druk haar lippe teen die sagte tienerwang. Drink die geur van haar kind in. Trek die beddegoed hoër op asof dit ’n pantser is wat die brose liggaam daaronder sal beskerm. Deesdae hou sy haar beskermingsdrang binne redelike perke, soms met moeite. Al wil sy hoe graag, gaan sy nie weer in Big Brother verander nie.

Met ’n koppie kamilletee byderhand skuif sy agter die rekenaar in en wag geduldig vir die laaste paar sekondes van die laaiproses om klaar te maak. Hierna kom die lekker deel waarin sy die reeks feitlik enerse foto’s só manipuleer dat die beweging van die sterre in een afdruk as aaneenlopende ligsirkels gesien kan word. Dié uitdaging, wat aandag en vaardigheid verg, het sy nog nie bemeester nie, tog is elke stappie nader daaraan bevredigend.

Alle kommer en lastige gedagtes wyk uit haar kop. Daar is net plek vir hierdie opwinding. Halfpad deur die reeks kom sy agter die bane loop oneweredig. Sy gluur teleurgesteld na die driepoot. Dit beteken die telefotolens is net genoeg geswenk om die laaste paar foto’s teen ’n ander hoek te neem en die eindproduk te verander.

Gesien in medium ikone, wys die laaste foto’s in die reeks ’n deel van die baai wat die vuurtoring, Nerina en Neil se huise en die vervalle plek daar naby insluit.

Tipiese onvoorsiene omstandighede wat tydfotografie onvoorspelbaar maak. Terwyl sy na die foto’s staar, stroom die verlede wat sy so hard probeer ontduik het, terug. Almal in die dorp het gegis en besluit die toegegroeide tuin van die vervalle huis is seker die ideale wegsteekplek. En sy? Deur Rick se teleskoop het sy die ruimtepakke se vordering dopgehou. Vir haar was dit die simbool van polisie wat moed opgegee het om die meisies lewend te kry, en van desperate ouers en familie. So desperaat soos sy sou gewees het as Dalri een van die meisies was.

Volgens adjudant-offisier Simphiwe Nkosi, die bevelvoerder van Makulu Manzi se polisiestasie, is die span weg sonder om bewyse te kry. Dit troos haar min. Omdat sy goed met die ouers kon identifiseer, het die blote teenwoordigheid van die kenners ’n spoor in haar en Dalri se lewe getrap. Gerugte van ’n pornografienetwerk vir pedofiele het vlugtig die rondte gedoen, maar het gou doodgeloop.

Sy knyp haar oë toe en vat haar neusbrug tussen haar duim en wysvinger vas. Die eerste meisies wat verdwyn het, sou hierdie jaar sestien geword het, die laastes was selfs jonger. Op die vooraand van haar kind se sestiende verjaardag lê ’n klomp nagfoto’s van die forensiese span se opgrawings in die fotoprogram op haar laptop.

Asof Kathleen Walters se verdwyning in Desember nie genoeg was nie. Twee dae ná die sogenaamde verdwyning kry haar ouers wel ’n SMS met ’n selfoonfoto van die Victoria & Alfred Waterfront waarop Kathleen sê sy is veilig in die Kaap, dat sy voortaan haar eie pad wil loop. Maar Kathleen se ouers het volgehou die SMS is vals, al het die eienaar van die restaurant waar sy vakansiewerk gedoen het, gesê hy het haar hoor praat van werksmoontlikhede in Kaapstad.

Ongelukkig lê die antwoord op daardie raaisel nie by die mislukte foto’s nie.

Doelbewus draai sy die radio harder in die hoop dat rustige musiek en Nerina se kalmerende stem die spoke sal verjaag. Steeds net die geruis. Teleurgestel skakel sy die radio af en dwing haar aandag terug na die skerm voor haar. Sy sal moet klaarkom sonder Nerina se stem wat haar verseker sy is nie die enigste siel in die wêreld wat wakker is nie.

Al het haar eie nalatigheid die aand se reeks foto’s bederf, is alles nie noodwendig verlore nie. Daar is miskien tog hoop vir die eindproduk, sy moet net werk daaraan.

Haar kamera het gisteraand vier ure lank elke ses en dertig sekondes ’n foto geneem. Die sluiter het op elke foto dertig sekondes lank oopgebly. Juis omdat sy die gereelde ligstrale van die vuurtoring in berekening moes bring, het sy doelbewus ’n baie kort onderbreking tussen elke blootstelling toegelaat sodat sy ’n paar ekstra foto’s sou hê ingeval iets verkeerd loop.

Al was dit vroegskemer toe sy die kamera opgestel het, het die tydskakelaar die proses eers later geaktiveer. Sy weet nie wanneer die wind opgekom het nie, maar dalk is genoeg foto’s geneem voordat die kamera gekantel het.

Sy kry maklik die breuk in die reeks en haal die foto’s uit wat geneem is voor die kamera beweeg het. Tevrede dat daar genoeg oor is om ’n goeie eindproduk te lewer voer sy dit in die program wat dit oormekaar op die basisskoot sal druk, en wag vir die eindproduk.

Ten beste van tye kan mens net hoop op ’n suksesvolle eindproduk. Hierdie keer is die sirkels nie perfek nie. Sy manipuleer en sny die foto’s, wysig fokus en helderheid, maar maak nie saak hoe sy die beelde aanpas nie, sy kry nie daardie spesiale wow-effek waarvoor sy gehoop het nie. Dis hoogstens ’n gangbare foto.

Sy skakel weer die radio aan. Nog steeds die geruis. Skakel oor na ’n ander kanaal maar hou die klank laag terwyl sy alles voorberei vir nog ’n poging. Bereken lengte van elke blootstelling, die tempo van die vuurtoring se ligsein en hoe dikwels die tydskakelaar die kamera moet aktiveer. Dis ná middernag toe sy die weervoorspelling en die aankoms- en vertrektyd van vlugte by die naaste lughawe google en neerskryf. Geen wolkbedekking nie. Sy sinchroniseer alles, maak ’n drukstuk en skakel die rekenaar af.

Met haar kamera opgestel teen ’n hoek wat nie die vlugroetes dek nie, fokus sy haar kamera vir vanaand se basisskoot tot sy uiteindelik tevrede is. Sy aktiveer die afstandbeheermeganisme wat die sluiter sal laat oop- en toeskuif, trek die gordyne heeltemal oop en haak die punte stewig deur die gordynhaak. Dis al waaroor sy beheer het. Toe staan sy terug en staar nadenkend na die twee driepote met die apparate wat mik na die lugruim bokant Nerina se donker huis.

Nerina het niks vir haar gesê van ’n kuier nie, maar miskien weet tant Salie. Sy sal haar môre by die Mula-winkel vra.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS