Madelein_Rust_Doodsengel_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Doodsengel – Madelein Rust

Is dit ’n vergeldingsdrang wat Magdalena Bakkes laat moor, of die psigologiese nagevolge van haar kinderjare? Hoeveel moorde sal sy nog moet pleeg om die beskadigde kinders by die kinderhuis te beskerm?

Een

Vrydag 16 Maart 2018

Hy is dood.
    Magdalena Bakkes se hortende asemstote vul die heelal, word die ruising van duisende mal branders.
    Apokalips.
    Einde van alles wat was.
    Bewegingloos. Hy lê bewegingloos op haar en sy hande, daardie groot hande van hom, is stil, dit ruk nie meer aan haar klere nie, grawe nie meer in haar vlees nie en die lang skroewedraaier is ’n nuwe deel van daardie vet gesig.
    Daar is ’n ander klank in hierdie nuwe wêreld.
    Die geluid van haar paniekerige gehyg is vervang deur die gesing van miljoene sonbesies in haar ore. Verder is daar niks.
    Daar is stilte.
    Sy huil geluidloos, proe bloed en whiskey en die sout van trane in haar mond. Nee, Vader van die heelal, moenie, help my vannag dat ek net kan wegkom van die dooie man af, weg van my maaksel, want ek het hom doodgemaak.
    Sy druk en stoot aan die logge lyf, probeer orent beur in die klein spasie op die agtersitplek van die dubbelkajuitbakkie. Daar is los gereedskap onder haar wat diep in haar vlees druk. Die dooie man se gewig keer haar om asem te haal en sy sien die agterkant van die skroewedraaier – nou aansienlik korter – uit die hoek van haar oog hier reg langs haar.
    Die donkerte dreig om haar weg te vat van hierdie plek af, maar sy veg daarteen. Haar lyf moet weg, nie net haar kop nie.
    Johannes een vers vyftien. Sy onthou Daddy se droë stem hier digby haar oor in die soelte van ’n plaasnag: “Then when lust has conceived, it gives birth to sin; and when sin is accomplished, it brings forth death.”
    Sissend soos ’n slang. Spoegspatsels op haar wang. Die reuk van brandewyn en Coke verstikkend op die ou man se asem. Die herinneringe is ’n golf wat dreig om haar weg te spoel.
    Ma, help my, wil sy skree, maar sy weet daar is vir haar in haar ontsetting geen hulp nie, net soos daar destyds niks was nie. Die suising in haar ore vererger weer en die ou magteloosheid druk haar keel toe, pen haar vas onder die man met die skroewedraaier in sy oog.
    Hy beweeg.
    Ja, dit was nie haar verbeelding nie. Hy hét beweeg.
    Sy trek haar asem diep in. Dit kan nie wees nie.
    Dooie mense beweeg nie. Leef hy nog? Miskien het sy verkeerd gekyk, miskien is . . .
    “Help my!” ’n Vrou se stem. ’n Diep stem. Kras. “Moenie net daar lê nie, jou idioot!”
    Die man se lyf beweeg weer.
    En daar is ’n nuwe gewaarwording. Vars, koel lug. Iemand het die bakkie se deur oopgemaak. Iemand, die een of ander engel uit die hemel gestuur, probeer die dooie verkragter van haar aftrek. Die besef blaas die lewe in haar terug. Sy probeer haar hande op sy skouers kry sodat sy hom in die rigting van die oop deur kan stoot.
    Sy kan die nagklubgeluide nou weer hoor. Die ge-boem-boem-boem van tromme, die trillings van ’n baskitaar en die gelag en gejil van dronk nagklubgangers.
    “Trek harder,” huil sy histeries. “Trék! Asseblíéf! Ek kan nie . . .”
    Die liggaam beweeg verder afwaarts en sy kry ’n behoorlike greep op sy skouers, stoot, wriemel, druk, probeer haar rug boog om hom van haar af te gooi. Ná ’n ewigheid van swetende sparteling is die dooie man se kop tussen haar oopgesperde bene.
    Sy skree geluidloos van die afsku, haar oë toegeknyp en haar mond wyd oop. Dit kos bomenslike inspanning om haar verstand bymekaar te hou.
    Soos in die ou dae praat sy met haarself, daardie geluidlose gesprekke en instruksies, want niemand mag weet nie.
    Komaan, fluister die stem in haar kop. Dis amper verby. Komaan. Kyk, daar is nou vastrapplek op sy skouers.
    Met krag gebore uit afsku en weersin en haat laat rus sy haar voete op die vet skouers en sy skop. Soos ’n vrou wat geboorte gee, dink sy irrelevant. Haar gedempte kreet van inspanning meng met die verbaasde steun van die vrou buite die kar. Sy hoor hoe die man se kop metaal tref en in die stilte tussen twee liedjies – in daardie nagklub op die ander, normale wêreld net hier anderkant – is daar ’n dowwe plof op die teerpad.
    “Fok,” kners die vreemde vrou.
    Magdalena sit regop, sleep haarself oor die gereedskap na die anderkantste deur toe en stamp dit oop. Die deur kom met die skerp klapgeluid van metaal op baksteen tot stilstand teen die muur van die gebou langs die nagklub. Dis te klein, die opening is te klein, mens kan nie daardeur nie, gil die ander stem, die histeriese een, in haar kop.
    “Hiernatoe,” blaf die vrou daar buite, “jy kan nie daar uit nie. Is jy fokken blind?”
    Magdalena skud haar kop wild. Sy wil nie naby hom wees nie. As sy by daardie deur uitklim, sal sy naby hom wees, dalk aan hom moet raak, dalk op hom moet trap. Dan eerder vir altyd hier bly, in die fetale posisie opgekrul.
    “Kom. Wil jy vannag tronk toe gaan?” Die vrou se gesig is ’n bleek ovaal onder digte swart hare. Sy leun by die deur in, ’n skraal hand winkend. “Kom, ek help jou.”
    Net nie die selle nie.
    Nooit weer die selle nie.
    Magdalena gryp die hand, hou daaraan vas terwyl sy oor die sitplek skuif in die rigting van die oop deur. In haar haas tuimel sy by die deur uit, kom te lande op die lyk. Sy knyp haar oë toe, byt op haar tande om ’n nuwe kreet te keer en rol van die sagte, weerstandlose liggaam af, haar kort romp nog hoog teen haar heupe opgebondel.
    “Waar is jou panties?”
    Magdalena skud haar kop stom. Sy het nie meer haar onderklere aan nie.
    Die vrou duik by die bakkie in, kom te voorskyn met Magdalena se een skoen en die geskeurde swart kant wat minder as vyf minute gelede nog ’n broekie was. Sy druk dit in Magdalena se hande. “Waar is jou ander skoen?”
    Magdalena sien die skoen ’n ent verder lê en beduie bewend in daardie rigting. Sy het baklei. Geskop omdat haar arms teen haar lyf vasgeklem was. Sy het probeer keer dat hy haar by sy kar indwing, sy het! As sy net nie soveel gedrink het nie.
    “Dis nie my skuld nie, ek sweer,” fluister sy. Sy herken nie haar stem nie. Dis die stem van ’n moordenaar.
    “Ek het gesien wat gebeur,” sê die vrou. Sy oorhandig die ander skoen aan Magdalena. “Moenie worry nie. Hy het gekry wat hy verdien. Fokken vark.” Woede en iets soos satisfaksie sit in die vrou se stem. “Dis nie nodig dat jy tronk toe moet gaan omdat jy jou teen die scumbag verset het nie. Waar is jou kar?”
    “Daar.” Magdalena druk haar ken in die rigting van die loodgrys Renault Laguna wat so honderd meter verder af in die steeg geparkeer staan. Toe sy ’n paar uur vroeër daar parkeer het, was daar mense in die stegie. Die plek het nie gevaarlik gelyk nie.
    “Waar is jou handsak?”
    “Ek het dit in my kar gelos,” sê Magdalena bewend. “In die kattebak.”
    “Kom. Jy moet hier wegkom. Sal jy kan bestuur?”
    Magdalena knik een keer. Dan nog ’n paar keer vinnig. Enigiets, net nie die selle nie. Dit is seer, besef sy toe sy agter die vrou aan na haar kar toe drafstap. Haar lyf. Binne en buite. Veral binne.
    Sy sluk verbete aan die trane.
    Hy was in haar, die vark, die vuil gemors. Mens kry jou nie skoon nie. Nooit weer nie. Niemand weet dit beter as sy nie.
    “Karsleutels?” Die vrou hou haar hand na Magdalena uit. Een kyk na Magdalena se gesig laat haar sag en aanhoudend vloek. Sy laat sak haar hand.
    Magdalena staar in die rigting van die dooie man se bakkie. Hy lê soos ’n walvis langs die vuil wit Isuzu, sy arms bo sy kop uitgestrek. Sy het die sleutelkaart in haar hand gehad toe hy haar van agter af vasgryp. Dit was so skielik. Hy was so onmenslik, bonatuurlik sterk.
    As sy net nie soveel gedrink het nie.
    “Ek dink ek het dit laat val toe hy my gryp,” hoor sy die moordenaar se doodse stem sê.
    “Bly hier,” sê die vrou en draf weer in die rigting van die bakkie. Dit voel na ure voor sy terugkeer. Sy sluit die Laguna met die afstandbeheerder oop en druk die sleutelkaart in Magdalena se hand. “Klim! Ry!”
    Magdalena klim bewend in die voertuig, skakel dit aan. “Dankie,” sê sy deur die oop deur.
    “Ry,” sê die vrou weer en klap die deur toe.
    Magdalena trek weg, dankbaar vir die outomatiese ratkas. Haar bene bewe so dat sy beswaarlik die rem en die petrolpedaal kan beheer.
    Toe sy in die truspieël kyk, sien sy net twee rye karre in die rooi gloed van haar kar se remme.
    Die vrou is weg.
    Asof sy nooit bestaan het nie.

2 thoughts on “Uittreksel: Doodsengel – Madelein Rust

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS