Uittreksel: Die Stella-moorde

Doodsgeveg

Saterdag 26 Mei 2018,
omstreeks 02:15

KOOP HIER | BUY HERE
“Maar, Xander, wat het by die koshuis gebeur? Ons weet jy was by die koshuis. Wat het presies gebeur daar? Vertel vir my. Jy kan maar met my gesels, Xander… Praat met my, ou seun, moenie slaap nie. Wat het gebeur by die koshuis? Ek weet jy wil nie daaroor praat nie, maar jy moet. Wat het gebeur by die koshuis, Xander?” En toe is dit asof die damwal meegee. Die moord op twee pragmeisies in hul skoolkoshuis vroeg op ’n wintersoggend in 2018 het die hegte boeregemeenskap van Stella in Noordwes onherroeplik getraumatiseer. Die ysingwekkende feite van die saak het trouens die hele Suid-Afrika geruk. Xander Bylsma (19), ’n aantreklike boerseun van die omgewing, is aangekla van die wrede wurgmoorde op die sprankelende Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, ’n skrander donkerkop. Watter intriges het tot die moord gelei? En hoe leef die gesinne van drie belowende en geliefde jong mense met die gevolge van ’n grudaad in ’n gemeenskap van vervlegte lewens? Susan Cilliers, skrywer van die topverkoper Huis van Gruwels, skryf indringend oor die vrae wat ná die hofsaak onbeantwoord bly, oor lewens vernietig in hul fleur en oor die moontlikheid van berusting en vergifnis.

Dis grafstil in die feitlik leë meisieskoshuis van die Hoërskool Stella. Buite is dit nagdonker. Snerpend koud reeds in Noordwes.
Voetstappe op die onderste verdieping … Af-ge-me-te eggo hulle in die gange van die bonkige bruin baksteengebou.
Op die eerste verdieping kyk die twee tienermeisies wat langs mekaar op hul enkelbeddens sit, onrustig na mekaar. Styf toegewikkel in helderkleurige komberse sit hulle. Kiertsregop. Ore gespits.
Dis net hulle en die matrone in die koshuis.
Behoedsaam staan die meisie met die blonde hare op. Sy wip oor die tweede enkelbed met swart traliewerk wat teen haar eie geskuif is. Die koue sny teen haar kaal arms en bene. Die onheilspellende voetstappe het haar laat vergeet sy het net ’n kortbroek en pienk T-hemp aan.
Die petite donkerkop kyk hoe haar boesemvriendin haar lang blonde hare oor haar skouer gooi toe sy in die gang af verdwyn.
Die eerste meisie loop op haar wit sokkies en gaan staan aan die bopunt van die trappe wat na die grondverdieping lei. Versigtig kyk sy af.
Die gestalte van ’n man daar onder tussen swart-en-wit papierhartjies wat nog, nou ietwat grotesk, aan toutjies van die plafon hang.
Die blonde Sharnelle se hart fladder. Stadig gaan sy die trappe af. Elke geluid, elke beweging word deur haar gespanne sintuie opgeskerp. Voor haar iemand met broeiende donker oë. Sy gestalte gooi ’n makabere skaduwee teen die bruin baksteenmuur.
Op die boonste verdieping leun Marna teen die kosyn van hul kamerdeur. Sy spits haar ore, luister aandagtig, frons. Haar vriendin praat. ’n Manstem antwoord.
O genade, besef sy met toenemende onrus, ons moes die koshuis se traliehek gesluit het.
Stilte daar onder.
“Wat nou? Waar’s hy?” vra Marna toe Sharnelle, bloesend van ontsteltenis, terug kamer toe kom.
“Hy staan nog daar onder. Ek het net gou ’n ander broek kom aantrek, dis vrek koud.” Sy maak die kas oop en soek na ’n langbroek.
In haar pienk slaapklere loop die ander meisie op pienk sokkies uit die kamer. By die trappe kyk sy af op die man wat daar onder rusteloos heen en weer stap. ’n Ry fietse staan teen die trappe.
Die man kyk op. Hul oë ontmoet. Is dit woede? Foltering?
Die tenger Marna ril. Intuïtief probeer sy ongeërg lyk en aanhou beweeg, asof sy êrens heen op pad is. Sy kom met die trappe af en loop in die rigting van die koshuisma se woonstel naby die badkamer op die grondverdieping. Omdat sy nie agterdog wil wek nie, begin sy haar hande daar kamma doodluiters was.


Die man by die trappe hou die meisie met die bruin hare met geskreefde oë dop, sien haar in die rigting van die badkamer loop. Woede teenoor almal wat hom teengaan, wel in hom op. Sy oog val op ’n gryserige drasak op ’n rooi matras wat onder by die trappe lê.
Skielik is sy hart, sy longe, sy borskas, sy kop te klein vir alles wat hy voel en wat deur sy gedagtes gaan. Hy sien al hoe hy die lusse van die sak om die klein teef se nek woel. Verdomp. Sý’s die vlieg in die salf.
Die hande van die meisie by die wasbak bewe. Die water is ysig, die seep glibberig. Wit skuim … welriekende wit skuim bol in haar hande terwyl sy vryf en vryf.
Die volgende oomblik kry die man se drif die oorhand. Hy gryp die drasak en storm die badkamer in. Hy’s sterk van woede. Onkeerbaar. Énigiets … hy kan op hierdie oomblik enigiets vermag.
Voetstappe reg agter haar. Marna vlieg om. Saamgeperste lippe, blitsende oë. Suiwer waansin.
Die seep val op die vloer. Sy vlieg om. Vlug soos ’n ribbok. Nee! Haar asem hort. Ek … wil lewe. Ek wou nog … Ek’s maar sestien. Nie een van die halfgevormde beelde in haar kop vind woorde wat haar lippe bereik nie. Koshuisma se woonstel. As ek net … net daar … kan kom.
Alles gebeur in breukdele van sekondes. Verblindende pyn ontplof teen haar agterkop, net toe sy wil skreeu. Duiselig struikel sy in die gang by die badkamer.
Die man gryp haar aan die hare en sleep haar terug die badkamer in. Vaagweg bewus van die reuk van rook en sweet onder die bedompigheid van haar aanvaller se winterbaadjie, kom sy slagoffer gedeeltelik by.
Vergeefs probeer sy om haar teen die bad se rand op te trek. Als … áls is koud en spieëlglad. Die man los haar vir ’n oomblik, maar sy’s verlam. Soos in ’n droom waarin mens probeer skree, maar g’n geluid uitkry nie. Die koue wind deur die badkamer se venster herinner Marna vaagweg, ironies, die badkamervenster is oop. ’n Ontsnaproete. So naby, en tog onbereikbaar ver.
Deur slierte bruin hare kyk sy om. Sak in sy hande, vingers pluk-pluk aan die lusse asof hulle reeds die wraak proe.
Met haar rug na die deur gedraai, sak Marna Engelbrecht voor die bad inmekaar. Van agter haar af strek die moordenaar sy arms oor haar kop. Trek die lusse styf om haar nek, pluk hulle terug en hou hulle daar.
Die lusse wurg … wurg haar. Sy veg om asem terwyl hy haar lugpyp stelselmatig toetrek. Sy probeer daaraan pluk, maar Marna weeg nie eens vyftig kilogram nie. Boosagtig en grotesk toring haar aanvaller bokant haar uit.
Ek gaan dood. Help … ek … Pa! Ma … Sharnelle, waar bly jy? Die woorde kry moontlik vaagweg gestalte, maar bereik nie haar lippe nie. Krag, bloed, die lewe … als vloei weg voor die lewe mooi vir Marna Engelbrecht begin het.
Haar oë verdof, haar liggaam verslap. Uitgewis. Haar drome, ambisies, liefde vir diere, al die kennis en emosies wat haar knap brein gestimuleer het, het die man verwoes. Haar liggaam gereduseer tot ’n bondeltjie by die bad se rand, haar knieë stukkend geskaaf van die gestoei op die vloer en die gesnak na suurstof.
Só los die moordenaar haar. Die lusse van die drasak, nog om haar nek, hang nou pap. Vir sy eerste slagoffer kom dié verligting te laat. Haar naelbeddens begin reeds blou verkleur. Die pienk slaaphemp is opgetrek van die worsteling. ’n Gedeelte van haar bolyf en bra is ontbloot. Op haar rug lê die drasak met die wit letters.
Die dood ken geen waardigheid nie.


KOOP HIER | BUY HERE
“Maar, Xander, wat het by die koshuis gebeur? Ons weet jy was by die koshuis. Wat het presies gebeur daar? Vertel vir my. Jy kan maar met my gesels, Xander… Praat met my, ou seun, moenie slaap nie. Wat het gebeur by die koshuis? Ek weet jy wil nie daaroor praat nie, maar jy moet. Wat het gebeur by die koshuis, Xander?” En toe is dit asof die damwal meegee. Die moord op twee pragmeisies in hul skoolkoshuis vroeg op ’n wintersoggend in 2018 het die hegte boeregemeenskap van Stella in Noordwes onherroeplik getraumatiseer. Die ysingwekkende feite van die saak het trouens die hele Suid-Afrika geruk. Xander Bylsma (19), ’n aantreklike boerseun van die omgewing, is aangekla van die wrede wurgmoorde op die sprankelende Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, ’n skrander donkerkop. Watter intriges het tot die moord gelei? En hoe leef die gesinne van drie belowende en geliefde jong mense met die gevolge van ’n grudaad in ’n gemeenskap van vervlegte lewens? Susan Cilliers, skrywer van die topverkoper Huis van Gruwels, skryf indringend oor die vrae wat ná die hofsaak onbeantwoord bly, oor lewens vernietig in hul fleur en oor die moontlikheid van berusting en vergifnis.

Bewus van die steeds trillende spiere in sy arms, gaan sit die man weer. Hy moes die lusse bitter styf trek terwyl die bliksemse vroumens aanhou stoei het. Gelukkig is Sharnelle nog nie terug nie. Die klein merrie weet nog niks. Hy kon daai bemoeisieke kleinniggie van hom betyds oorrompel voordat sy kon skree.
Doelbewus gaan hy na die tassekamer naby die trappe op die grondvloer. Daar krap hy rond en kom op ’n stuk groen nylontou af. Hy gaan weer sit. Sy vingers speel oor die harde, gladde drade, hy betrag die rooi spikkels tussen die groen. Hy sien, maar sien ook nie, want hy kry sy planne agtermekaar.
Voetstappe agter hom. Die blonde Sharnelle Hough kom sit langs hom op die trappe. Hulle gesels. Én gesels. Dit word ’n lang, moeilike gesprek.
Naderhand is sy fisiek en emosioneel uitgeput. Die man wil niks hoor nie, niks begryp nie, wil net nie end kry nie. Moedeloos draai sy haar kop weg. Die volgende oomblik sluit sy sterk arm van agter om haar keel.
Die geweld van die drukking maak haar onmiddellik duiselig.
Aaaa, die klein slet verloor haar bewussyn. Nou moet hy gou speel, besef die moordenaar. Tussen die absurde wit en swart satynstrikkies, geheg aan die wit traliewerk onder die reling, is dit asof alles in ’n droom gebeur. Hy bind die nylontou om die rooi plastiek van die trapreling op die eerste verdieping vas.
Maak ’n lus.
Die man sleep sy prooi na die tou, sit die lus om haar nek.
Sy is aan die bykom. Soos ’n bokkie in ’n wip begin sy spartel. Die man slaan haar met die vuis teen die bolyf. Nog ’n hou teen die regterslaap. Dit stuit haar gestoei vir ’n paar oomblikke.
Nou is hy in beheer. Hy benut die voorsprong om haar oor die trapreling te skuif en stadig te laat afsak. Toe sy hang, draai hy om en loop weg. Hy wil nie sien hoe Sharnelle sterf nie.
Die meisie is heeltemal buite haarself van paniek en desperaatheid toe die man eenvoudig omdraai. En wegstap. Al kleiner word. Stywer en stywer trek die tou om haar nek. Geen geluid kom uit haar keel nie. Onmoontlik om te skree.
Is hier niemand wat my kan help nie? Waar is Marna? W-waar …? Met haar laaste bietjie krag probeer sy die harde, gladde strop om haar nek lostrek om die hel van die drukking te verlig. Die riempies om al vyf haar regtervingernaels skaaf stukkend … dié om drie van die naels aan haar linkerhand ook. In die gestoei krap sy haar regterkaak stukkend. ’n Skraap van sowat twee sentimeter.
Sharnelle se longe brand. Sy kry nie gehoes nie. G’n lug, g’n nêrens, g’n niks. Nooit gaan sy haar stiefboetie sien grootword nie. Donker die newels wat naderskuif en haar oorval. Dit duur etlike minute voordat die maalkolk van die dood haar ook intrek.
Haar sewentien jaar op aarde is verby. Niemand vanaand hier om haar uit die swart gat die lig in te trek nie. Nie haar boesemvriendin of haar ouers nie.
Die jongmeisielyf is reeds slap. Die koue, die wurging uur na uur aan die trapreling voel sy nie meer nie. Net haar voete hang weerskante van een van die fietse.


Saterdag 26 Mei 2018,
03:42

Die moordenaar talm nog in die koshuis. ’n Hele ruk wag hy ’n ent van die trappe totdat hy seker is sy slagoffer is dood. Goed. Nou gaan dit lyk of Sharnelle haar eie lewe geneem het. Maar hy moet seker maak.
Hy tel haar selfoon op wat by die trapreling lê. Hy maak die WhatsApp-toepassing oop en stuur ’n boodskap vir haar pa. Dit moet lyk of sy self die boodskap gestuur het. Of sy nog leef.
Nou moet die moordenaar al sy spore doodvee. Dit duur ’n rukkie. Om 04:17 stuur hy nóg ’n boodskap van Sharnelle se foon aan haar pa: Pappa ek is jammer ek en Marna sal van die plek af weggaan.
Great. Nou sal almal dink die twee meisies was onafskeidbaar tot die dood toe, en dat hulle besluit het om saam hul eie lewens te neem.
Wegkom. Nou. Gou. Die moordenaar skarrel uit die koshuis. Alles doodstil. Die vroegoggendlug is koud teen sy gesig. Hy haas hom na sy bakkie wat ’n ent van die koshuis onder ’n boom geparkeer staan.


Saterdag 26 Mei 2018,
04:30

Brandon Victor slaap vas in sy kamer in die Hoërskool Stella se seunskoshuis. Hy is ’n sterk geboude, sportiewe matriekseun. Wanneer hy glimlag, steek sy reëlmatige stel wit tande mooi af teen sy blasbruin vel, bruin oë en bruin hare.
Brandon weet nie Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, vir wie hy skaars vier uur tevore naggesê het, is dood nie. Hy en sy rugbymaats slaap almal vanaand in die koshuis omdat hulle vroegoggend al Koster toe ry vir ’n rugbydag.
Sharnelle, die nuwe liefde in sy lewe, en Marna slaap alleen in die meisieskoshuis omdat hulle saam met die seuns Koster toe wil ry. Sharnelle wil sommer ook by haar ma, wat op dié dorp woon, gaan kuier. En Sondag wil Brandon haar vra om amptelik sy meisie te word.
Brandon het laatnag nog by die meisies gekuier. Hulle het die koshuismoeder gevra om die traliehek by die koshuis se ingang oop te hou, want iemand sou klere kom afgee. Brandon en die blonde Sharnelle kon hul hande nie van mekaar afhou daar in die koshuiskamer nie. Hulle het gevry, hande vasgehou en sy het selfs puisies op sy rug uitgedruk.
Die vrolike laatnagkuier en koffiedrinkery is egter bederf toe Sharnelle se selfoon gelui het. Sy was huiwerig om te antwoord en het die foon se luidspreker aangesit sodat Brandon die gesprek ook kon hoor.
Ná die selfoongesprek was sy ontsteld, maar wou niks weet daarvan dat Brandon by haar en Marna bly nie.“Nee, netnou kry ons moeilikheid,” het sy nog beswaar gemaak. Min wetende.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS