Die-manjifieke-ontwaking-van-Mel-

Uittreksel: Die manjifieke ontwaking van Mel

Hoofstuk 1

Skitterende ster. Dis sy, ja

KOOP HIER | BUY HERE
Wanneer die lewe jou omwentel is die wéét binne-in jou. Vir Mel is haar eie melkweg skitterend. Sy het wat sy wil hê, sy is wie sy wil wees. Sy maak die reëls en sy dra nie maskers nie, want sy is in beheer. Maar skielik maak ’n veel groter ster haar verskyning: Isabella, ʼn ongevraagde toevoeging tot die gesin. En boonop besef Mel dat haar beroepskeuse as mediese suster ʼn ode was aan haar oorlede ma. Susterwees was dalk haar ma se passie, maar is dit regtig hare? Mel maak gereed om uit haar einste, skitterende melkweg te verskiet. Dit is ʼn waagstuk, iets wat só nie haar ding is nie. Die ontdekkingsreis vat haar na ʼn wêreld wat sy nog altyd vermy het, tussen mense wat nie haar dam se ganse is nie. By die flats van Belhar kom sy tot die besef dat die dam dalk nie hare is nie, maar dat sy tog, teen haar verwagting, inpas by die ganse. Sy ontmoet ’n jeugwerker met tatoes en ʼn skaatsplank wat baanbrekerswerk onder die jeug doen. Sy leer Llewellyn, haar stiefsuster se grootste aanhanger, beter ken en wys hom sy is nie so upstairs soos hy gedink het nie. Mel ontdek haarself en ʼn wêreld buite haar eie reëls. Moet sy kies tussen wie sy was en wie sy kan wees? Of is daar plek vir Mel die skateboarder, die biker en die kelner in haar melkweg?

Snap! En daar het sy dit nou: nuwe bloed in hulle huishouding en die skouspel wat daarmee saamgaan.
Nogal deur Gita se toedoen. Ontwykende Gita wat so losgemaak is van die res van hulle. Op dié tydstip kyk sy wat Mel is, nog die kat uit die boom. Losgemaak leef lyk vir haar alte veel na ontduiking van verantwoordelikheid.
Maar hoe sy oor dié verandering in die Welsh-mallemeule voel, sal net die tyd kan leer.
Haar lewe was taamlik na aan perfek tot nou. Die ducks-in-a-row-tipe ding. Sy doen waarvoor sy lief is, sy bly waar sy graag wil, sy is haar pa se oogappel en waarskynlik ook haar ma s’n. Boonop het sy en Gita ʼn hele paar van die stiefsusterplooie uit hul verhouding gestryk. Nog nie almal nie, bygesê, maar darem in ʼn mate. Dinge lyk beslis rooskleurig in die Mel-melkweg. Nes sy verkies. Sy is in beheer. Soos altyd. En nou dié . . . ligte opskuddinkie; dit is wat Isabella Bruwer se koms is. Die stiefsuster wat Gita laasjaar ontdek het toe sy haar biologiese pa gaan opsoek het.
Nóg ʼn opskuddinkie, hoewel minder dramaties, dank vader, is dat sý, Mel Welsh, uitgevat in groen, hare elegant saamgevat in haar nek, voor die kansel staan. Kid you not! Wie sou kon dink dat sy enigsins as strooimeisie voor Gita se kansel sou staan? Dat Gita háár sou kies, maar bowenal dat haar stiefsuster sou instem tot ʼn lewenslange verbintenis. Verbintenisse is immers só triviaal in die Gita-sfeer.
Boonop, langs háár; Isabella Bruwer. Hierdie nuwe, sprankelende bloed geklee in dieselfde skakerings as haar eie uitrusting. Snap! Saamgevatte blonde hare – snap. Jimmy Choo’s . . . Snap.
Isabella is blykbaar só gewoond aan ʼn klomp susters dat sy vir haar wat Mel is, ewe nonchalant by haar versameling gehark het. So asof sy saamgehark wíl wees. Wat dié halfsuster van Gita nie in berekening bring nie, is dat Mel Welsh dikteer. En dié perd laat haar nie opsaal nie. Gita kan saam in haar nuwe halfsuster se amperse familiekooi spring as sy wil, maar dié mense is nie deel van haar persoonlike sfeer nie. Sy het vir Gita gewaarsku om nie in haar verlede te gaan delf nie, maar toe: dié opgrawing. Vlermuisnes, as sý moet sê.
Pleks Gita tevrede was met wat hulle twee reeds gehad het. Ma-Lana en Pa-David is genoeg. Nou sit hulle opgeskeep met ʼn patologiese sustersoeker van Gita se oorlede biologiese pa wat saam met ʼn ander vrou en hul kind weggeloop het. Mel is lus en gooi haar hande in die lug om die onvergenoegdheid in haar wese vry te laat.
“Lyk ek nog reg? Voel of my hare losgly.” Isabella fluister langs haar oor. So gemaklik, só vertroulik, dat Mel se nekhare skoon kriewel. Isabella druk-druk aan haar hare. Isabella het blykbaar besluit Mel se verwantskap aan Gita bind hulle twee ook saam. As Mel haarself toegelaat het om dit te doen, het sy nou haar oë gerol.
Sy loer vlugtig na Isabella se hare. “Jy’s fine. Jou hare hou mooi.”
“Oukei, dankie.” Isabella kan skaars die opgewondenheid uit haar stem hou, Mel kan dit hoor. “Ek vertrou jou oordeel. Jou hare is altyd perfek.”
Mel het agtergekom Isabella ag haar as die modekenner, die fashionista en skoonheidskundige van die gesin. Al die dinge wat nog altyd deel van haar lewe was én moes wees omdat sy wat Mel is Ma-Lana verafgod het. Sý daarenteen, ervaar die situasie meer soos ʼn lastige vlieg wat om ʼn perfek gebraaide tjoppie bly draai. Onmiddellik skud Mel dié onbillike gedagte van haar af. Isabella is darem nie regtig soos ʼn vlieg nie. Allermins. Of is sy?
“Waar draai hulle so?” fluister Isabella weer by haar oor.
Genade tog! Dié keer rol Mel inderdaad haar oë, reg in Brian, broer van die bruidegom, se opsommende blou blik vas.
“Tsk,” ontsnap die klankie feitlik onhoorbaar oor haar lippe, maar Isabella is naby genoeg om te hoor.
“Wat’s fout?” Sy klink regtig lus vir gesels. Nie die regte tyd of plek nie.
“Niks nie,” byt Mel ongeduldig af met ʼn skewe kyk na Isabella. Daar is iets van Gita in Isabella. Daarvoor het hul gedeelde Ierse voorsaat nogal gesorg. Selfde ligte gelate. Selfde seeblou oë. Een se lokke is wel rooi, een blond, maar die ooreenkoms is tog iewers in die trekke verskuil.
Terwyl Mel die jonger meisie se hare bekyk, wonder sy of haar eie hare ooit kan kersvashou by dié amper-Ierse sensasie. So ongesiens moontlik leun Mel stywerug agteroor om na haar refleksie in die moederkamervenster te kyk. Sy kan nie lank kyk nie, net ʼn glimpie, maar sy is tevrede. Die kroon is sensasioneel. Tensy die moederkamer ʼn leuen vertel en die glas ʼn verwronge beeld terugkaats, is hulle waaragtig ʼn snap.
Ongeduldig klop sy met haar skoenpunt op die klankdempende rooi mat. Hoekom draai bruide altyd so? As dit háár troue was, het sy stiptelik op die afgespreekte tyd voor die kansel gestaan. Daar is immers ʼn program om te volg.
Mel betrap Brian se oë op haar ongeduldige toon en sy hou haar voet stil. Aan dié broer kon sy nog nie vat kry nie. Hy is vriendelik, duidelik intelligent, maar sy sukkel om hom te plaas. Hy is so effe tussen die boom en die bas wat voorkoms betref. ʼn Rowwe diamant as sy gaaf wil wees. Sy kry so al die gevoel hy is nie een van haar dam se ganse nie. Tatoes en motorfietse het haar nog nooit aangestaan nie. En Brian Fagan en sy motorfiets is blykbaar aan die heup vas, om nie te vergeet van die lewenslange letsels op sy boarms nie. Sy verkies ʼn man soos haar pa: statig, kalm, wys en suksesvol. En die reëls waarvolgens sý leef, word nie gebuig nie. Tog vind Gita aanklank by Brian. Sy het selfs al Brian se motorfiets trotseer.

KOOP HIER | BUY HERE
Wanneer die lewe jou omwentel is die wéét binne-in jou. Vir Mel is haar eie melkweg skitterend. Sy het wat sy wil hê, sy is wie sy wil wees. Sy maak die reëls en sy dra nie maskers nie, want sy is in beheer. Maar skielik maak ’n veel groter ster haar verskyning: Isabella, ʼn ongevraagde toevoeging tot die gesin. En boonop besef Mel dat haar beroepskeuse as mediese suster ʼn ode was aan haar oorlede ma. Susterwees was dalk haar ma se passie, maar is dit regtig hare? Mel maak gereed om uit haar einste, skitterende melkweg te verskiet. Dit is ʼn waagstuk, iets wat só nie haar ding is nie. Die ontdekkingsreis vat haar na ʼn wêreld wat sy nog altyd vermy het, tussen mense wat nie haar dam se ganse is nie. By die flats van Belhar kom sy tot die besef dat die dam dalk nie hare is nie, maar dat sy tog, teen haar verwagting, inpas by die ganse. Sy ontmoet ’n jeugwerker met tatoes en ʼn skaatsplank wat baanbrekerswerk onder die jeug doen. Sy leer Llewellyn, haar stiefsuster se grootste aanhanger, beter ken en wys hom sy is nie so upstairs soos hy gedink het nie. Mel ontdek haarself en ʼn wêreld buite haar eie reëls. Moet sy kies tussen wie sy was en wie sy kan wees? Of is daar plek vir Mel die skateboarder, die biker en die kelner in haar melkweg?

Om haar gedagtes van die onnodige gewag af te lei dwing Mel haarself om na die meesleurende klanke van Darius, Gita se internasionaal befaamde bruidegom, se tjello te luister. Voor haar op die kerkbanke sit meegevoerde, geduldige gesigte. Haar pragtige ma heel voor. Elegant en tydloos soos altyd. Hulle oë ontmoet en die glimlag wat hulle deel, is net hulle sʼn. Hulle twee het ʼn band wat bloed nie kan koop nie. Vir hulle is bloed wat dikker is as water, net ʼn mite.
“Jy en jou ma is baie erg oor mekaar,” fluister Isabella weer. Sy moes hulle blik onderskep en reg geïnterpreteer het. “ʼn Geestesharmonie. Ek en my ma het dit ook,” glimlag sy selfvoldaan.
“Dis waar, ja. Ons is diep gebind.” Mel weet presies wanneer die eerste draad in haar en Ma-Lana se tapisserie geweef is. Die onthou koester sy al van sy tien jaar oud is. Toe Ma-Lana daardie eerste aand ná sy en haar pa getroud is, langs haar op die bed kom sit het, het Mel geweet: Ma-Lana is ʼn geskenk van Bo. Haar pa het altyd by haar kom sit, maar daardie aand was dit haar nuwe ma. Ma-Lana het oor haar hare gestreel. Haar aanraking was sag soos ʼn ma s’n moet wees. Mel onthou dit, want ʼn ma se aanraking was toe haar grootste behoefte. “Jy’s nou ook myne, Mel. Ons is gekies vir mekaar.” Ma-Lana se woorde was salf oor ʼn wond wat al te lank rou was. Strelend. Salwend. Mel het nie gewonder wat Gita dink of voel nie. Sy het net Ma-Lana se geskenk daar en dan met albei hande gegryp en haar stiefmoeder as haar eie toegeëien. Sy was nie van plan om ooit weer te laat gaan nie. Sý sou veg vir Ma-Lana. Nou besef sy dis hoekom sy en Gita so gesukkel het om mekaar te vind. Gita het op die kantlyn gaan staan terwyl sy wat Mel is, haar weg na die middelpunt van hul bestaan gebaan het.
“Ek en my ma is net so na aan mekaar,” herhaal Isabella toe Mel nie reageer nie. “Al deel ek haar met drie susters en ʼn niggie, jy weet mos.” Ja, Mel weet. Kruks van die saak is: Gita het na haar verlore pa gaan soek, toe ontdek sy ʼn gelukkige gesin, onbewus van hulle Welsh-klomp se bestaan. Isabella is die enigste wat Gita met ope arms aanvaar het, haar selfs Kaap toe gevolg het.
Mel loer na haar polshorlosie. As Gita nog enigsins langer draai, lê Isabella sweerlik haar hele familiestamboom uit en daarvoor sien sy waaragtig nie kans nie. Sy stel nie regtig belang om van ʼn boheemse, seegodinagtige ma en suksesvolle susters te hoor nie. Gita het genoeg vertel en tóé al het dit haar koud gelaat. Die troumars moes al tien minute gelede begin het! Weer ontmoet haar oë Brian se bloues en sy kyk weg. Oukei, sy hou die tyd dop, maar dit het niks met hom te doen nie.
Uiteindelik. Haar pa wink van agter in die kerk. Halleluja! Die fluitspeler langs Darius sien dit ook, fluister iets in Gita se bruidegom se oor. Darius lig sy strykstok effens en die ander twee musikante langs hom kom orent met hul instrumente gereed. Die stilte wat daal, is gelaai met afwagting. Koppe draai en dan kry die trio voor haar weer lewe. Die klanke resoneer deur haar lyf. Triomfantelik kondig fluit, viool en tjello die bruid se koms aan.
“Sjoe, dis besonders dat ʼn bruidegom sy bruid op só ʼn dramatiese wyse kan verwelkom.” Isabella se stem loop oor van trots.
Mel knik. Sy moet toegee, dit is besonders. Sy het immers niks minder van haar aanstaande swaer verwag nie. Sy is bly vir Gita. Regtig. Sy glimlag om te wys sy is.
Darius sit só dat hy Gita se gang in die paadjie af kan volg. Gita in kant en satyn is iets om te aanskou. Vandag is Gita self ʼn godin uit ʼn ander wêreld danksy háár toedoen, natuurlik. As sy die keuse van ʼn trourok aan Gita oorgelaat het, het Gita waarskynlik in ʼn groen of pienk skepping in die paadjie afgewals.
“Gita lyk só gelukkig en julle pa baie trots,” fluister Isabella lustig voort.
Darius se vingers speel die troumars terwyl sy oë Gita volg. Mel loer na Ma-Lana, sy lyk net so bekoor deur Gita, so in haar skik. Gewoonlik is dit Mel wat goedkeuring in Ma-Lana se oë sien, maar vandag het Gita die bordjies verhang. Vir die eerste keer in ʼn lang tyd is dit Gita se beurt om te skitter; die vrye, ongebonde Gita, altyd aan’t fladder soos ʼn voëltjie wat nie sitplek kan kry nie en nou uiteindelik sitplek het. Ma-Lana is in ekstase. Mel haal diep asem, skielik oorbewus van die klopping in haar hart. Sy kyk af na die roomkleurige lint, swierig om die enkele tulp in haar hande gebind. Haar palms is klam asof dit syself in die paadjie is.
Die musiek stop. Darius gee sy tjello aan Brian wat plegtig nader tree om dit te vat. Daarna vat Darius sy bruid se hand by Pa-David. Gita glimlag onbevange. Soen hul pa. Nie ʼn sweempie van senuwees of twyfel by haar te bespeur nie. Haar rooi hare is getem in ʼn losserige Spaanse knoop skuins agter haar oor. Vry, soos wat sy is.
Gita het haar nogal toegelaat om te help beplan, aanvanklik net raad gevra en uiteindelik feitlik alles aan Mel toevertrou. ʼn Opskudding op sy eie, in ag genome sy en Gita was tot onlangs nog olie en vuur.
Mel se oë ontmoet dié van haar pa en sy glimlag vir hom, haar allernaaste mens. Hy knipoog vir haar. Nie ʼn gewone oogknip soos in ʼn ek-en-jy-deel-iets oogknip nie. Dis ʼn knip met deernis, een wat aan simpatie grens. Mel frons. Waar kom dít vandaan?! ʼn Skokgolfie stu deur haar. Kry hy haar dan jammer? Onmoontlik. Haar pa weet tog sy weet wat sy doen. Hy ken haar deur en deur en jammerte het sy nog nooit nodig gehad nie. Het sy nie reeds op agt al na sý welstand omgesien toe haar ma oorlede is nie? Is dit nie sy wat altyd reggestaan het om hom gelukkig te maak nie? Dikwels ʼn glimlag op haar gesig ten koste van haarself gesit het nie? Is dit nie sý wat hom en Ma-Lana al die jare op die hande gedra het nie? Oukei, en hulle vir haar. Maar die feit is: Mel Welsh is nié bejammerenswaardig nie. Vir alle praktiese doeleindes is sy ʼn twintigste eeuse Joan of Arc. Mel Welsh staan vir niks en niemand terug nie. Sy is doelgerig. Vreesloos.
Sy knipoog terug. Net sodat hy weet.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS