Bernette_Bergenthuin_Die_Lewe_Vir_Beginners_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Die lewe vir beginners -Bernette Bergenthuin

CARLA EN STUYVESANT

Een

CARLA – JOHANNESBURG, 1990

KOOP HIER | BUY HERE
’n Storie van begin, weer begin en óórbegin ... Carla Kasselman se lewe val uit mekaar nadat haar man reg in eie hande neem, ’n onnoembare daad pleeg en die skuld op haar pak. Hy neem alles van haar af weg, eers haar babaseuntjie, en daarna pers hy haar af om hul blonde krulkopdogtertjie af te teken. Lewensmoeg en sonder hoop vlug sy na Sannasklip, ’n eenvoudige Weskusdorpie waar die eksentrieke tante Doreen haar op haar voete help. Die lewe raak weer draaglik, en aangenaam voorspelbaar, totdat ’n weerbarstige grootwildjagter se Landie sonder brandstof voor haar voordeur gaan staan. Carla ontdek dat die lewe bestaan uit probeer en wéér probeer, en dat die liefde nie wag op ’n uitnodiging nie, maar hom ongenooid tuis maak wanneer hy so voel. Meer as twintig jaar later sien sy weer haar dogter, maar Mignon is gebroke, verslae en sonder ’n wil om voort te gaan. Carla bring haar saam Sannasklip toe, maar sal haar verhouding, en die dorp se kalm ekwilibrium Mignon se donkerte kan absorbeer? Hoe is dit dan dat sy nie die bedorwe, depressiewe entjie mens wat net soos sy lyk, herken nie? Skuldgevoelens en verwyte verteer ma en dogter en dreig om hulle te verswelg. Is daar lig aan die einde van die tonnel? Of dalk binne Sannasklip se vuurtoring waar die aantreklike besigheidsman, Bernard Bartman, besig is om ’n restaurantkoninkryk te vestig? Mignon ontdek dat sy meer is as die lappop wat haar pa geskep het en dat sy in staat is om lief te hê en liefgehê te word. Vergifnis word onvermydelik en die verlede se donker geheime verloor hul krag.

“Hou net op huil!” Carla kyk moedeloos na die babaseuntjie in die wiegie. Hy huil nou al vir ’n uur sonder ophou, sy gesiggie woedend rooi. Sy staan ’n tree terug en kyk na haar baba. Daar is iets fout met hom, sy voel dit, sy weet dit net. Meinhardt sê sy is paranoïes, dat hierdie gevoel ’n nadraai van die swangerskap is.

“Mamma?”

Carla voel die handjie aan die soom van haar rok trek en kyk af. “Ja, Mignon?”

“Mamma, ek is honger.” Die kind kyk haar met groot blou oë aan, haar blonde haartjies in wilde krulle om haar kop ná haar middagslapie.

“Wag net ’n bietjie, Mignon. Kom ons kyk of Boetie sal ophou huil.”

Die dogtertjie staan op haar tone in ’n poging om te sien wat in die wiegie aangaan, besef kennelik dat sy te kort is en steek haar hande uit dat Carla haar moet optel. “Ek wil hom kyk.” Mignon kyk vir ’n rukkie asof vasgenael na die skreeuende kleintjie en draai dan op Carla se heup sodat sy na haar kan kyk. “Hy huil.”

Dit is asof die stelling haar oor die rand stoot en Carla voel hoe die knop in haar keel na haar oë beweeg. “Ek weet.”

Mignon begin wriemel en Carla sit haar neer. Sy skraap al haar moed bymekaar en tel klein Meinhardt op. Soos sy gevrees het, skreeu hy harder. Dit is nie ’n gewone skree nie, maar ’n hoë, skril klank wat deur been sny. Paniek en magteloosheid trek lam deur haar lyf. Daar is iets fout met hierdie kind.


Dit is al donker toe Meinhardt by die huis kom. Aan sy gesigsuitdrukking kan sy sien dat hy ’n moeilike dag op kantoor gehad het. “Naand.” Hy groet haar met die gebruiklike pikkie op haar wang. “Slaap die kinders al?”

Carla knik. Sy weet dat tydsberekening alles is as dit by Meinhardt kom. Sy moet hom net eers kans gee om van sy baadjie en das ontslae te raak voordat sy begin praat. Sy probeer belangstelling toon terwyl hy vertel van sy dag op kantoor. Naderhand wring sy haar hande saam in ’n poging om beheer oor haar tong te behou, maar net nadat sy opgeskep het, glip die woorde vanself uit haar mond. “Daar ís iets fout met klein Meinhardt. Ek het ’n noodafspraak by die pediater gekry vir môre elfuur, hulle maak vir ons plek. Dit is dokter Greyling by die Sunninghill-kliniek.”

Hy kyk haar vir ’n oomblik net aan en skud dan sy kop vies. “Hierdie paranoia maak my mal, Carla. Daar is niks fout met die kind nie.”

Hoe sal jy weet? wil sy hom toesnou. Jy is nooit hier nie! Maar sy haal diep asem in ’n poging om kalm te bly. “Hy het heeldag sonder ophou gehuil, Meinhardt. Nie ’n gewone huil nie, so ’n hoë, histeriese gehuil. Mignon het nooit so ’n geluid gemaak nie. Dit is vreeslik.”

KOOP HIER | BUY HERE
’n Storie van begin, weer begin en óórbegin ... Carla Kasselman se lewe val uit mekaar nadat haar man reg in eie hande neem, ’n onnoembare daad pleeg en die skuld op haar pak. Hy neem alles van haar af weg, eers haar babaseuntjie, en daarna pers hy haar af om hul blonde krulkopdogtertjie af te teken. Lewensmoeg en sonder hoop vlug sy na Sannasklip, ’n eenvoudige Weskusdorpie waar die eksentrieke tante Doreen haar op haar voete help. Die lewe raak weer draaglik, en aangenaam voorspelbaar, totdat ’n weerbarstige grootwildjagter se Landie sonder brandstof voor haar voordeur gaan staan. Carla ontdek dat die lewe bestaan uit probeer en wéér probeer, en dat die liefde nie wag op ’n uitnodiging nie, maar hom ongenooid tuis maak wanneer hy so voel. Meer as twintig jaar later sien sy weer haar dogter, maar Mignon is gebroke, verslae en sonder ’n wil om voort te gaan. Carla bring haar saam Sannasklip toe, maar sal haar verhouding, en die dorp se kalm ekwilibrium Mignon se donkerte kan absorbeer? Hoe is dit dan dat sy nie die bedorwe, depressiewe entjie mens wat net soos sy lyk, herken nie? Skuldgevoelens en verwyte verteer ma en dogter en dreig om hulle te verswelg. Is daar lig aan die einde van die tonnel? Of dalk binne Sannasklip se vuurtoring waar die aantreklike besigheidsman, Bernard Bartman, besig is om ’n restaurantkoninkryk te vestig? Mignon ontdek dat sy meer is as die lappop wat haar pa geskep het en dat sy in staat is om lief te hê en liefgehê te word. Vergifnis word onvermydelik en die verlede se donker geheime verloor hul krag.

Hy sit sy mes en vurk geïrriteerd op sy halfvol bord kos neer. “Babas huil, Carla. As jy nie kans sien om ons kinders groot te maak nie, sê net so. Niemand is onvervangbaar nie.” Hy kyk haar stip en sonder apologie aan.

Carla se hart ruk. Sy stoot haar stoel agteruit en begin koorsagtig die tafel opruim. Sy moet hier klaarkry sodat sy in haar ateljee kan kom. Sy moet verf. Sy moet uiting gee aan hierdie vrees, nee, hierdie wete dat iets vreesliks verkeerd is. Met haar baba. Met haar huwelik. Al wat reg is, is Mignon.

“Dit help nie jy hardloop weg nie!” agtervolg Meinhardt se stem haar gangaf, maar sy luister nie. Voor die halfvoltooide doek gaan sy staan. Dit is ’n deurmekaarspul van takke en rankplante. ’n Donker prentjie. Sonder om daaroor te dink, bring haar hande dit wat haar brein wou ontken op die skildery aan: ’n Biesiemandjie, geseël met pik. En binne in ’n baba. Sy dink die baba is dood.


“Mevrou, Dokter is gereed vir u.” Die ontvangsdame het ’n uitdrukking van onuitputlike geduld op haar gesig geplak.

Carla kyk oor haar skouer na waar Mignon saam met ander kleuters in ’n afgeskorte area speel. Sy staan op en hang haar handsak oor die stootwaentjie se handvatsel. “Dankie.”

Die pediater is ’n ouerige man met ’n deurleefde gesig en Carla voel onmiddellik aan dat sy hom kan vertrou. Bloot die manier waarop hy sy hand na haar uitsteek en om die lessenaar stap om na Meinhardt in die waentjie te kyk is gerusstellend. Asof sy eindelik ’n bondgenoot in hierdie krisis gevind het.

“Mevrou Kasselman, kom ons kyk na die mannetjie. U het oor die foon aan my dame verduidelik dat hy nou so twee maande oud is. Moeilike babatjie, verneem ek?”

Carla knik, haar keel ineens te dik om te praat. “Hy . . .” sy maak ’n beweging met haar hand. “Daar’s iets fout.”

Die dokter knik. “Kom ons kyk.”

Die onrus groei in haar buik terwyl hy die klein lyfie ondersoek wat weer styf trek soos hy skreeu. Die dokter se bewegings raak stiller en die vrees kom sit koud om haar hart. “Wat is dit? Wat is fout?”

“Is hy behandel vir geelsug ná geboorte, Mevrou?”

Carla skud haar kop. “Hy is natuurlik gebore, soos my dogtertjie. Ons is ná ’n dag in die hospitaal ontslaan. Hulle het gesê alles is reg.”

Die spesialis knik. “Ek gaan vir u ’n voorskrif gee met toetse wat nou dadelik gedoen moet word, u kan hom sommer nou afneem na die patoloë toe, ek sal laat weet dat hulle u vinnig moet help. Kom ons kyk eers wat die uitslag is voordat ons gevolgtrekkings maak.” Hy trek die babapakkie behendig oor die armpies en beentjies en plaas Meinhardt in haar arms.

“Dokter, wat dink jy is dit? Wat is die ergste wat dit kan wees?”

Sy gesig verstil. “Geelsug wat nie behandel word nie, kan tot breinskade lei, Mevrou. Ons sal voor die einde van die dag weet wat die mannetjie makeer.”


Die baba skreeu blou moord terwyl die suster sy bloed trek. Mignon het geweier om in die pediater se speelarea te wag en Carla kan hoor hoe sy buite in die wagkamer met die ontvangsdame gesels. Meinhardt is in ’n vergadering toe sy van die tiekieboks af na sy kantoor bel en sy ontvangsdame belowe om so vinnig moontlik vir hom te sê om hospitaal toe te kom.

“Ek wil piepie,” lig Mignon haar in toe sy met die uitgeputte babalyfie in haar arms uit die spreekkamer stap.

“Ek weet nie waar . . .”

“Ek gaan nou piepie.”

“Mignon! Wag, kom ons vra die tannie waarheen ons kan gaan.” Sy sukkel met die kleuter wat toenemend veeleisend raak en die baba en die stootwaentjie deur die steriele gange van die hospitaal. Breinskade? Is dit moontlik? Hy is effe vroeg gebore, ’n week of twee, niks om oor bekommerd te wees nie. Hy was gesond. Perfek. Sy kyk na die slapende gesiggie. Wat het met haar gesonde baba gebeur?


Vyf ure later sit sy en Meinhardt met die twee kinders in dokter Greyling se spreekkamer.

Hy het reeds die toetsresultate ontvang en bestudeer. Hy praat in groot woorde en verduidelik dan dat kleintjies se lewers nie geelsug kan hanteer nie. Dat dit soms vanself weggaan, maar dat klein Meinhardt s’n behandel moes word. Dit is nooit gediagnoseer nie. Dit het ontwikkel, vererger, vernietig. En sy brein aangetas. Hulle perfekte seuntjie het breinskade. Hy sal nooit ooit normaal wees nie.


Verwyte lê die hele huis vol toe sy en klein Meinhardt ná twee nagte in die hospitaal tuis kom. Mignon is ’n handvol, kermrig en moeilik.

“Ons sal hieroor moet praat,” sê sy terwyl hulle aandete probeer eet.

“Wat is daar om oor te praat? Die kind se lewe is verby.” Meinhardt kyk nie na haar nie, bepaal hom net uitdrukkingloos by sy kos.

“Hoe kán jy dit sê? Jy het self vir die dokter gesê dat ons alles in ons vermoë sal doen om hom te help. Om vir hom ’n normale lewe te gee. Dit is ons kind, Meinhardt. Bloed van ons bloed.”

Sy gesig bly strak. “Wat moes ek sê, Carla? Dat al my drome vir die kind in daardie spreekkamer gesterf het?” Hy vryf met ’n bewerige hand deur sy hare.

Carla laat haar kop in haar hande sak. Daar is niks wat sy daarop kan sê nie.


Iewers in die vroeë oggendure hoor sy die baba huil. Die skreeuklankie ontsenu haar nie meer nie, sy weet nou wat dit is. Maar dit ontstel haar. Ontstem haar heeltemal. Sy tel hom uit sy wiegie en hou hom vir ’n oomblik teen haar vas voordat sy hom begin voed. Dit is haar skuld, as sy vroeër reageer het, kon hulle dit gekeer het. Hy sou ’n normale seuntjie kon wees wat ’n bal kan skop en kattekwaad aanvang. Dit is alles haar skuld.

Hy raak teen haar bors aan die slaap en sy wens dat hy vir altyd so klein kan bly. Want terwyl hy so klein is, kan sy hom beskerm. Vrees kruip teen haar ruggraat op terwyl sy na haar slapende kind kyk. Die wêreld is klaar op sy kop in Suid-Afrika. Dit is duidelik dat net die sterkste gaan oorleef in hierdie tyd van verandering. Watse kans staan jy, klein Meinhardt? Watse lewe wag op jou?

Vroegoggend word sy wakker. Dit is tyd vir die baba se volgende voeding. Sy hoor iewers in die huis Mignon se vrolike gebabbel, die kind staan ook saam met die hoenders op. Vreemd, sy voel eintlik kalm vanoggend. Sy het sommer in die babakamer verder geslaap gisteraand. Sy kon haar verbeel het, maar sy kan sweer dat Meinhardt iewers deur die nag ’n draai kom maak het. Hy sal leer om die situasie te aanvaar. Hulle sal leer om daarmee saam te leef.

Sy staan op en gril vir die koue teëls onder haar voete. “Môre, grootseun,” begin sy met die baba praat, “is jy al honger?”

Sy gesiggie is van haar af weggedraai. Half onder die kombers in. Vreemd. Hy slaap nooit só nie. Sy steek haar arms uit om hom op te tel en die eerste ding wat sy registreer, is hoe koud hy is. “Meinhardt?” Sy ruk die babalyfie uit die wiegie en voor sy weet dat sy dit weet, besef sy: Haar baba is dood.


Die begrafnis is tragies. Tantes huil ontroosbaar, Mignon verstaan nie mooi wat aan die gang is nie. Sy het nog nooit permanente verlies in haar lewetjie ervaar nie. Carla voel niks. Sy voel self dood. Sy kyk tersluiks na Meinhardt langs haar en sy dink hy voel dieselfde. Net hulle twee weet dat die baba breinskade gehad het. Daar was nog nie kans om vir iemand daarvan te sê nie. En nou, dit is nou totaal en al irrelevant.

“O Heer, my God,” trek die tantes, “as ek in eerbied wonder . . .”

“Die Heer het gegee en die Heer het geneem,” sê die dominee.

Het Hy? Of het iemand anders? Carla! Die gedagte bekruip haar vanuit ’n diep donker plek waar sy hom weggebêre het. Sy onderdruk die vermoede vandat sy die baba se dooie liggaampie in haar hande gevoel het. Haar kind is nie aan natuurlike oorsake oorlede nie. Sy dink haar kind is vermoor.


Weke gaan verby waarin Meinhardt stiller raak, meer en meer onttrek. Mignon vra aanvanklik gereeld na die baba, maar aanvaar naderhand dat hy nou in die hemel woon. Sy kry ’n nuwe pop by Meinhardt en noem hom Boetie. In Carla groei die onrus. Daar is ’n nadoodse ondersoek op die baba gedoen. Wiegiedood. Geen merke op sy lyfie of om sy mond wat op versmoring kan dui nie. Maar die vermoede wyk nie. Dit gebeur, Mevrou, het die patoloog haar bewoë meegedeel. Ons weet nie waarom nie, maar dit gebeur.

“Hoe was jou dag?” vra sy een aand toe Meinhardt van die werk af kom. Hierdie stilte moet end kry.

Hy lyk effe verbaas, maar antwoord tog. “Dit was so-so. CorPulsu groei, die mense stel belang om by ons te belê, dit is wat belangrik is.”

“Sit solank, ek bring die kos.” Oukei, Carla, jy moet hierdie ding nou reg hanteer. Daar is ’n kans dat hulle hierdie huwelik kan red, maar dan moet sy die waarheid weet.

“Bobotie, jy het dit lank laas gemaak.” Meinhardt lyk tevrede.

“Jou gunsteling.” Sy kry dit reg om te glimlag. “Meinhardt,” begin sy toe sy gaan sit het. “Ek dink die hele tyd aan daardie aand. Aan die baba. Ek dink nie dat hy self ophou asemhaal het nie. Ek weet dit klink vergesog, mal selfs, maar ek moet weet: Was jy in die kamer daardie aand? Ek het my verbeel dat ek jou hoor inkom het.”

Meinhardt se gesig word wit. “Carla, met watse speletjie is jy hier besig?” Sy oë vernou. “Is dit skuldgevoelens wat jou nou kamtig agterdogtig maak?” Sy mond vertrek in ’n wrede glimlag toe sy stilbly. “My liewe vroutjie, as iemand die baba vermoor het, was dit jy.”

“Wat?” Skokgolwe beweeg deur haar hele lyf. “Ek was sy ma, Meinhardt! Ek moes hom beskerm, ek sou nooit, nooit iets doen om hom seer te maak nie.”

Hy eet sy kos oënskynlik rustig klaar, sit sy mes en vurk langs mekaar op sy bord en klad sy lippe met ’n servet. “Jy het dan sy dood geskilder, Carla. As jy beweer dat die baba vermoor is, is jy die hoofverdagte.”

Haar oë rek. “Meinhardt, die baba in die skildery kan net so wel slaap. Ek het net uiting gegee aan my ontsteltenis oor . . . oor alles wat met hom gebeur het. Ek het hom nie vermoor nie.”

Meinhardt trek sy skouers op. “Kyk maar self of ’n hof jou glo. Ek sal kan getuig van jou nageboortedepressie, die feit dat die baba te veel was vir jou. Toe jy uitvind dat hy breinskade het, dat hy nooit ’n normale lewe sal kan lei nie, dat hy vir altyd, áltyd jou probleem sal bly, het jy die voor die hand liggende uitweg gekies. Jy het hom in sy slaap versmoor.”

Die lewe tap uit Carla voor die ontsteltenis, die walging suur in haar keel opstoot. Meinhardt het ’n einde aan die situasie gemaak, dit weet sy nou. Sy hardloop asblik toe en voel die stuiptrekkings deur haar beweeg. Haar man het haar kind vermoor. En hy gaan vir almal sê dit was sy.

“Ek wil ’n egskeiding hê, Carla. Daar is niks van hierdie huwelik oor nie. En jy gaan vir my een gee. Jy gaan ook vir Mignon vir my gee, sy hoef nooit te weet wat haar ma aan haar boetie gedoen het nie, behalwe natuurlik as jy weier om te skei. Jy sal ’n behoorlike skikkingsbedrag ontvang. Jy sal maklik ’n nuwe lewe elders kan begin. Wanneer Mignon oud genoeg is, kan sy self besluit of sy jou wil sien.”

“Meinhardt?” Sy kyk na die aantreklike gesig wat ineens wreed lyk onder die skerp elektriese lig. Kan dit die man wees met wie sy getrou het? Hy het reeds een kind van haar af weggeneem, nou vat hy die enigste wat sy oorhet.

“Carla, jy het nie werklik ’n keuse nie. Dink aan Mignon, geen dogtertjie verdien om groot te word met ’n ma in die tronk nie. Dit sal haar vir die res van haar lewe agtervolg. Jy kan dit alles verhoed. Aanvaar net die skikking, jy doen dit vir Mignon, vir niemand anders nie.”

“Jy het my baba vermoor, Meinhardt. Jy het jou eie kind vermoor.” Woede neem ineens van haar besit. “Jy kon eenvoudig nie aanvaar dat hy spesiale sorg nodig gaan hê nie, jy kon nie aanvaar dat hy, as jy na my geluister het, ’n gesonde kind sou gewees het nie. En toe kies jy die lafhartige uitweg. Dit is wat jy is, Meinhardt, ’n lafaard, en as jy dink dat ek vir Mignon by jou gaan los, maak jy ’n groot fout.”

“Mamma, julle raas.” Mignon staan in die kombuisdeur in haar pienk nagklere, haar slaappop in haar een hand.

“Mignon, gaan slaap, ons gesels net ’n bietjie,” troos Meinhardt. Toe die kind huiwer, staan hy op en tel haar op sy heup. “Kom, ek sal vir jou ’n storie lees, dan slaap jy sommer vinnig weer. Mamma het baie goedjies om oor te dink hier in die kombuis.” Asof hy nadink, draai hy om. “Mignon sal altyd veilig wees by my, Carla. Ek sweer dit.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS