Die ier se ultimatum

Uittreksel: Die Ier se ultimatum

EEN

KOOP HIER | BUY HERE
Brian O’Connor is ’n man wat weet wat hy wil hê én hoe om dit te kry. Hy draai elke vrou om sy pinkie, maar het nog nooit sy hart verloor nie – totdat hy Misha Malan ontmoet.

Misha lees die laaste paar paragrawe voor haar op die rekenaar en kyk dan af na haar verloofring. Sy kan dit nie help nie, elke liefdestoneel laat haar na Michael verlang. Sodra sy oor die held en heldin in haar verhaal skryf, vervaag die storiekarakters en word hulle Misha en Michael.
Haar lyf ruk toe haar selfoon lui. Haar goue labrador draf tot waar haar selfoon op die kombuistoonbank lê en kyk met ’n laggende, oop bek na haar.
“Ek het gehoor, dankie, Buddy,” sê sy.
’n Warm gloed trek deur haar toe sy Michael se stem hoor. “Ek verlang na jou. Waarom kom jy nie vir ’n paar weke Johannesburg toe nie?” vra hy.
Misha byt op haar onderlip. Deksels, die versoeking is groot. “Ek sal graag wil kom, maar ek het Petro belowe dat my manuskrip oor ’n maand klaar sal wees.”
“Ek kan nie verstaan waarom jy jou so afsonder nie. Ons kon nou by mekaar gewees het as jy nie jou modelloopbaan weggegooi het om stories te skryf nie.”
Misha sug. Al weer die ou argument. Wanneer sal hy vrede maak met haar leefwyse?

“Ek hou van my skrywery. Ek het meer as genoeg geld gemaak toe ek ’n model was en daarom kan ek dit nou bekostig om voltyds te skryf. Buitendien verkoop my boeke goed, veral in Europa.”
“As jy dan moet skryf, kan jy dit netsowel hier in Johannesburg kom doen.” Die irritasie lê nou vlak in sy stem.
Haar keel trek toe. “Michael, jy weet dis nie so eenvoudig nie. Ek hou van my huis.”
Hy bly ’n oomblik stil. “Jy besef seker dat dinge sal moet verander as ons eers getroud is.”
“Natuurlik.”
Daar is ’n swaar gevoel in haar binneste nadat hulle gegroet het. Dis soms asof sy in twee geskeur word. Die een deel kan nie wag om Michael se vrou te word nie, maar die ander deel sukkel om te aanvaar dat sy ná die troue haar houthuis sal moet prysgee en in Johannesburg gaan woon.
Haar selfoon lui weer.
“Jy moet jou lyf so gou moontlik hier in die Kaap kry, my darling,” babbel Petro, haar uitgewer. “Ek het wonderlike nuus, maar ek sê niks voor jy hier is nie.”
“Jy weet ek kan nie nou Kaap toe vlieg nie. Jy’t self gesê my roman moet oor ’n maand klaar wees.”
“Girl, as jy weet wat ek weet, klim jy nou op ’n vliegtuig. Dis die kans van ’n leeftyd.”
Misha sug. Petro hou daarvan om dramaties te wees. “Wat is aan die gang?”
“Jy gaan agt glorious weke op ’n eiland sit en skryf, dis wat!” roep Petro uit. “Is dit nie fantasties nie?”
“En wie gaan nogal vir my uitstappie betaal?”
“My mond is toegezip. Ek het al klaar meer gesê as wat ek mag. Ek het vir jou ’n vliegkaartjie Kaap toe bespreek. Jy vlieg môreoggend agtuur. Ek sal jou op die lughawe kry en na my woonstel toe vat. Die ou wil jou al môreaand sien. Seweuur in die Pink Palace langs die Waterkant. As jy nie daar is nie, gaan jy jouself nooit, ooit vergewe nie. Sien jou môre.”
“Wag eers, ek . . .”
Misha staar na haar selfoon. Petro het sowaar afgelui. Sy frons. Petro raak maklik opgewonde oor ’n storm in ’n glas water, maar sy sal nie van haar verwag om haar skryfwerk te onderbreek as dit nie regtig dringend is nie.
Wat van Michael? Sy het nou net vir hom gesê sy kan nie by hom gaan kuier nie. Hy gaan beslis nie beïndruk wees as hy hoor sy rits skielik van Knysna af Kaap toe nie.


Sy tel haar selfoon op. Dalk moet sy vir Petro terugbel en sê dis buite die kwessie, sy kan nie haar boek nou los nie. Sy kies Petro se nommer op haar adresboekie, maar huiwer toe sy die belknoppie moet druk.
Dis asof iets haar keer, asof die gode dit bestem het dat sy Kaap toe moet gaan. Dít sal Michael natuurlik nie verstaan nie. Hy heg nie veel waarde aan haar intuïsie nie. Volgens hom is dit niks anders as verbeelding nie.
Sy sit haar selfoon weer neer. “Kom, Buddy.” Sy moet see toe, waar sy helder kan dink.


Die labrador staan gretig op toe sy deur toe stap. Die kat op die rusbank gluur hom vies aan toe sy waaiende stert haar tref.
Misha glimlag en vryf oor die kat se swart-en-wit pels. “Ons is nou terug, Sheila.”
Sy het gedink dis al wat sy nodig het. Haar kat en haar hond en haar rekenaar. En buite die bome en die see. Tot Michael haar ewewig vir altyd kom versteur het.
Sy het hom verlede jaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn ontmoet waar hy sy ouers se maatskappy, Farao’s Jewels, se uitstalling behartig het.
Nadat sy die hele oggend in haar uitgewer se warm tent gestaan en boeke teken het, het sy tussen die malende menigte na ’n oop stoel by ’n straatkafeetjie gaan soek.


En skielik was hy daar, sy swart oë vasgenael op haar.
“Jy kan my stoel kry. Ek sal staan en drink as jy belowe om my nie weg te jaag nie,” het hy aangebied.
“Jy red my lewe,” het sy geglimlag.
En van toe af was hulle Misha en Michael. Pasmaats, later verloofdes.
Misha trek die houthuis se deur agter haar toe. Iewers vorentoe, waar die voetpad tussen die blougroen bome verdwyn, blaf Buddy opgewonde.
Nog voor sy tussen die laaste bome kom, hoor sy al die dreuning van die branders. Sy stap tussen die laer struikgewasse aan die rand van die woud deur tot waar die eerste duinesand fluweelsag onder haar kaal voete meegee.
Noudat die skole weer begin het, is die strand byna verlate. Buddy draai stertswaaiend om drie kleuters wat vissies in ’n rotspoel soek.
Misha gooi haar handdoek op die sand oop. Op warm dae soos vandag trek sy sommer by voorbaat haar swemklere aan, net ingeval sy vinnig in die see wil gaan afkoel.


KOOP HIER | BUY HERE
Brian O’Connor is ’n man wat weet wat hy wil hê én hoe om dit te kry. Hy draai elke vrou om sy pinkie, maar het nog nooit sy hart verloor nie – totdat hy Misha Malan ontmoet.

Sy ry die volgende oggend ná ontbyt. Op pad lughawe toe gaan laai sy die diere by haar ouers se huis in George af. Laatmiddag, toe die vliegtuig in Kaapstad land, begroet die suidooster haar met sy gewone geesdrif.
In die lughawegebou val Petro haar behoorlik om die hals. “Dis goed om jou te sien! Ek was bang jy gaan nie kom nie.”
“Ek hét amper nie. Jou storie klink maar baie deurmekaar.”
Hulle ry reguit na Petro se woonstel in Tuine. Petro sien haar by die voordeur af. “Maak jou tuis, my darling. Ek moet terug kantoor toe, maar ek sal jou betyds kom haal vir vanaand se meeting.” Sy beduie in die rigting van die kombuis. “Jy kan enigiets eet wat in die yskas is, behalwe as daar groen goed op groei. Baai!”


Misha kyk die skraal figuur agterna tot sy in haar afgeleefde motortjie klim en die stadsverkeer met ’n angswekkende spoed tegemoetjaag.
Sy hang haar klere in die kas in die spaarkamer op en gaan maak vir haar koffie.
Met die eerste oogopslag lyk die inhoud van die yskas glad nie belowend nie. Die kaas is wit gemuf en die tamaties oud en vol rimpels. Sy kry darem ’n stuk salami wat nog in ’n redelike toestand is. Die brood in die broodblik is gelukkig ook nog vars. Sy maak vir haar ’n toebroodjie en gaan sit in die sitkamer en eet.


Sy het skaars klaar geëet toe die voordeurklokkie lui. Sy kyk deur die loergaatjie. Voor die deur staan ’n vreemde man met ’n pampoengeel T-hemp aan. Hy het ’n sak oor sy skouer en daar is ’n tas op die grond langs hom.
Sy maak seker dat die veiligheidskettinkie ingehaak is voor sy die deur op ’n skrefie oopmaak. “Goeiedag?”
“Are you Petro?”
Die man klink soos ’n buitelander, waarskynlik Iers.
“Nee, ek is ’n vriendin van Petro. Sy’s nie nou hier nie,” verduidelik sy in Engels.
“Petro het gesê ek kan maar hier kom bly terwyl ek in die Kaap is,” sê die vreemdeling met ’n aksent wat vir haar nou beslis Iers klink.
Misha byt op haar lip. As hy dink sy gaan hom sommer laat inkom, maak hy ’n fout.
“Wag ’n bietjie, asseblief.” Sy stap kamer toe en skakel Petro se nommer op haar selfoon.
“O, hel, ja,” sê Petro, “ek het skoon vergeet om vir jou te sê die Ier kom vir ’n rukkie by my bly. Hy’s ook ’n skrywer. Sy agent ken een van my base en hy het gevra of ek hom sal oppas terwyl hy in die Kaap is. Laat die man tog inkom. En voer hom, asseblief, as jy iets kan opspoor wat eetbaar is.”
Misha stap terug voordeur toe. Sy druk die deur toe en skuif die kettinkie los. “Kom maar in.” Sy’s nie juis lus om vreemde mans geselskap te hou nie.
Die man het dik, roesbruin hare. Yslike, afgeleefde tekkies steek onder sy jeans uit. “Dis ’n mooi plek,” sê hy terwyl hy rondkyk.
Misha reageer liewer nie. Die man is óf besonder beleef óf swaksiende. Petro se woonstel lyk soos ’n laslappiekombers wat inderhaas aanmekaargeflans is. Oud en nuut, deftig en informeel, alles vorm deel van die chaotiese geheel.


Die man sit sy tas en sak neer en steek ’n allemintige hand na haar uit. “Ek is Brian O’Connor van Dublin.”
Misha herken die naam onmiddellik. Sy het al heelparty van sy boeke gelees en nogal gehou van die humor en warmte in sy verhale.
Haar hand raak weg in syne. “Ek is Misha Malan.”
“Misha, wat ’n mooi naam.” Sy breë glimlag laat kuiltjies aan weerskante van sy mond keep.
“Dankie.” Die man het ongewone oë. Turkoois. ’n Kombinasie van see en bos.
“Waar kan ek my tas bêre?”
Misha frons. Daar is net een spaarkamer en dié kan sy tog nie deel nie. “Los dit maar eers hier tot Petro kom.” Sy kyk na die sofa. “Ek dink jy gaan hier slaap.”
Die volgende oomblik strek Brian O’Connor van Dublin hom sonder meer op die sofa uit. Sy groot voete hang oor die onderpunt.


“H’m, ek gaan lekker slaap.” Hy beduie na ’n droomvanger van wol wat van die dak af hang. “Ek gaan goeie drome droom ook. Die droomvanger gaan al die nagmerries vang.” Hy kom regop. “Petro het gesê ek moet in die yskas kyk vir kos.”
“Daar’s ongelukkig net salami en brood.”
“Dit klink perfek. Waar’s die kombuis?” “Kom, ek sal jou wys.”
In die kombuis pyl hy reguit op die yskas af en haal die salami en botter uit. “Net jammer hier’s nie bier nie. ’n Paar pinte Guinness sou nou goed gesmaak het.”
Misha glimlag skeef. “Ek kan darem vir jou koffie maak.”
“Dit sal lekker wees, dankie, maar moenie moeite doen nie. Ek sal self regkom.” Hy maak links en regs kaste oop tot hy die broodblik, ’n bord en ’n mes opgespoor het. “Ek is gewoond daaraan om in die kombuis te help. Ek was die oudste van sewe kinders.” Hy kyk vraend na haar. “Kan ek vir jou ook ’n toebroodjie maak?”


Misha skud haar kop. “Nee, dankie, ek het nou net geëet.”
Misha beskou die Ier terwyl hy werskaf. Dis nogal vreemd om ’n man so handig in die kombuis te sien. Michael is heeltemal kombuissku, iets wat al ’n paar keer tot onenigheid tussen hulle gelei het wanneer sy alleen moet kos maak en opruim.
“Waar’s die bekers?” vra die Ier.
“Hierso.” Misha haal vir hom ’n koffiebeker uit. “Die koffie en suiker is langs die ketel. Jy sal maar koffieverromer moet ingooi, die melk in die yskas is suur.”
“So ja.” Hy kyk ingenome na die toebroodjie op sy bord. “Waar gaan ons sit?”
“Jy kan hier by die tafel sit, of in die sitkamer, nes jy wil. Ek gaan kamer toe. Ek moet . . . e . . . goed gaan doen.”
“Watse goed?” Sy turkoois oë kyk dwarsdeur haar verskoning.
“Ek gaan vanaand uit. Ek moet my klere gaan regkry,” rek sy die waarheid.

“Ek gaan saam met jou.”
Misha staar na hom. “Ekskuus?”
“Ek gaan saam met jou. Vanaand. Petro het gesê die mense van die program wil ons ontmoet.” Hy maak hom by die kombuistafel tuis. “Sy het gesê jy gaan ook op die eiland skryf.”
“Ek het nog nie finaal ingestem nie.”
Hy haal sy skouers op. “Jy sal dom wees as jy nie gaan nie.”
“Ek neem nie halsoorkop besluite nie. Ek wil eers presies weet wat aangaan.”
“Soms moet ’n mens net spontaan wees.”
“Ek verkies dit om ingeligte besluite te neem.”
“Dis omdat jy bang is.” Die Ier vat ’n groot hap van sy toebroodjie.
“Ek is g’n bang nie.” Sy trek haar skouers agtertoe. “Sit jou bord en beker in die wasbak as jy klaar is.” Voor hy kan reageer, draai sy om en stap kamer toe.
Sy gaan lê op die bed en maak haar oë toe. Twee seegroen oë verskyn voor haar. Deksels. Sy maak haar oë weer oop. Dalk moet sy ’n boek gaan soek om te lees.
Terwyl sy deur Petro se boekrak snuffel, hoor sy die Ier in die kombuis. Dit klink of hy skottelgoed was. Hy fluit ’n deuntjie. Dit klink soos “Danny Boy”.
Sy haal ’n paar boeke uit die rak en stap terug kamer toe. Sy het skaars begin lees of haar oë val toe.


Sy word wakker toe Petro haar skud. “Opstaan, darling. Brian tap vir jou badwater in.”
“Brian?” Dan onthou sy. “O ja, die Ier.”
“Einste. Hy’s ’n regte gentleman.”
Misha kry haar badgoed bymekaar en stap badkamer toe. Iemand het vir haar skuim in die water in gegooi. Dit was seker Petro. Sy sak tussen die geurige borrels weg.
Terug in die kamer trek sy ’n dieprooi rok aan. Sy grimeer en bekyk haar dan in die spieël. Die rok vou glad en blink om haar liggaam en haar kort hare lê soos blinkswart veertjies om haar gesig.
Petro en Brian wag in die sitkamer. Die Ier se oë gly bewonderend oor haar figuur. Voor sy hom kan systap, haak hy by haar en Petro in. “Ek is ’n baie gelukkige man. Ek gaan vanaand die twee mooiste vroue aan my sy hê.”
“Jy lyk self stunning,” koer Petro terwyl hulle voordeur toe stap.
Misha beskou hom onderlangs. Sy diepblou hemp span om sy breë skouers en laat sy oë meer blou as groen lyk.


Petro bestuur met haar gewone onverskrokkenheid, maar bring hulle tog veilig tot by die Pink Palace. Hulle stap na ’n privaat sitkamer toe.
“Misha en Brian, dis nou Ozwald Phele, jul fairy godfather,” stel sy hulle in Engels aan ’n lang, aantreklike man met ’n blink bleskop voor wat in die hoek van die sitkamer vir hulle wag.
“Ek is bly om jou te ontmoet, Misha.” Die man se breë glimlag stel haar dadelik op haar gemak.
Die twee mans skud ook hand. Hulle is ewe lank, maar Brian is stewiger gebou, merk Misha op net voor hulle gaan sit.
“Ons gaan ’n realiteitsprogram maak met die naam Love Story,” verduidelik Ozwald in Engels. “Julle is twee van agt romanseskrywers wat wêreldwyd gekies is om vir agt weke saam op Mauritius te gaan skryf.”

“Absoluut fantasties . . .” prewel Petro oorkant Misha. Dit lyk asof sy in ’n beswyming is.
Daar is ’n opgewonde krieweling in Misha se maag. “Dit klink interessant, maar presies hoe gaan dit werk?”
“Elke skrywer kry die kans om binne agt weke ’n nuwe liefdesroman te skryf,” antwoord Ozwald. “Die kykers sal deurentyd kan sien hoe julle skryf en hoe jul boeke vorder. Hulle sal jul verhale saam met ’n span onafhanklike uitgewers beoordeel. As hulle van jul stories hou, bly julle. As jul stories hulle nie beïndruk nie, stem hulle julle uit. Ná die tweede week sal die eerste skrywer uitgestem word, daarna een skrywer per week. Die een wat die langste bly, sal ’n halfmiljoen dollar wen.”
Die Ier fluit sag deur sy tande. “Dis baie geld.”


Misha byt op haar onderlip. Sy wonder wat Michael gaan sê as hy hoor sy gaan moontlik agt weke lank saam met vreemdelinge op ’n eiland bly.
Sy glimlag in Ozwald se rigting. “Ek sal graag eers rustig hieroor wil dink en jou môre laat weet.”
Petro se oë rek. “Wat is daar om oor te dink? Dink net aan die blootstelling. Jou boeke gaan soos soetkoek verkoop.”
Misha staar na die tafel voor haar. Sy behoort die geleentheid met al twee hande aan te gryp. Tog wil sy haar besluit eers met Michael bespreek.
“Gee vir my jou telefoonnommer, dan bel ek jou môreoggend,” sê sy vir Ozwald. “Ek moet net eers daaroor gaan slaap.”
“Jou drome sal die antwoord gee,” sê die Ier onverwags. Misha kyk na hom. Sy akwa-oë vang hare vas. “Moontlik,” sê sy.
As dit maar so eenvoudig was.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS