Die duiwel maak my hart so seer

Uittreksel: Die duiwel maak my hart so seer

EEN

KOOP HIER | BUY HERE
Dis 1981 en die maand is Januarie. Wie is so duiwels om die Van Biljons so te teister? Dit is soos die plae van Egipte – maar het reeds met die eersgeborene se dood begín. Dis ’n hartseer saak. ’n Saak van gebed. En dit is ’n saak vir Ludo Labuschagne, die anti-held (hy is ook anti-werk en anti-verantwoordelikheid) wat uiteindelik sy doel in die lewe vind: om raaisels op te klaar. Weg met gewone polisieprosedures. Weg met forensiese toetse, selfone, die internet, CCTV-kameras, GPS en die ander dinge wat regte speurwerk vervang het. Weg met alles wat jy geleer het om te verwag ...

Hoe was dit?” vra ek toe ek van haar afrol en my lê aan die ander kant van die bed begin kry.
Met groot oë: “Jy’s nie veronderstel om te vra nie!”
Sy hou haar maar net so. Min dinge skok Yolanda. Haar bruinblonde hare is wild om haar kop, tog behou dit die kommetjiesvorm. Sy wou nog nie die Purdey-haarstyl prysgee nie, al het die meisiemens van The New Avengers lankal aanbeweeg.

Yolanda klop haar kussings sodat dit uitpof en leun daarteen terug. Sy trek die laken wat ons so verrinneweer het tot net bokant haar tepels, met ’n fatsoenlikheid wat jy nooit ’n minuut gelede nog by haar sou vermoed het nie. Gooi ’n deel daarvan terloops oor my onderlyf.
Ons lê ’n rukkie en nadink oor ons sondes. Of ek in elk geval. Ek kom agter ek is besig om haar houding na te aap, verander subtiel van posisie en betrag die toegetrekte gordyne. Daar is net genoeg van ’n spleet dat ek kan uitmaak met hoeveel toewyding die middagsonnetjie nog sy ding daar buite doen.

Dis net ek wat sweterig is. Yolanda was nie verniet op skool drie jaar agter mekaar kaptein van haar hokkiespan nie.
Ek onthou sy was bang sy sou onfiks raak wanneer sport eendag nie meer so ’n groot deel van haar lewe is nie. Op 24 is daar nog nie so ’n gevaar nie.
Al is dit so warm, kon ons nie ’n venster oopmaak nie, kon ons? Die bure het nie net ore nie, maar nog groter neuse en dis permanent op standby om in ander se sake gesteek te word. Yolanda-hulle se bure is ook ons s’n; ons huis is skuins oorkant die straat. Dit mag ’n pragtig boomryke gebied wees, hierdie gegoede deel van Bellville in die noordelike voorstede van Kaapstad, maar soms voel dit meer na ’n plattelandse dorp, so stil is dit in Boston met sy lang, lang, breë strate. Die kamerdeur is net so toe soos die venster en as daar dalk nog ’n luggie deur die huis trek, kan dit nie vir ons lafenis bring nie.
Daar buite doen die ander mense van 14de Laan steeds wat mense maar doen op die eerste dag van ’n jaar. Hopelik grotendeels beskaafde dinge, maar net soos in 1980 sal dinge aanhou gebeur soos hulle moet.

Tonight the super trouper lights are gonna find me
Shining like the sun (su-p-per trou-p-per)
Smiling, having fun (su-p-per trou-p-per)
Feeling like a number one

Die Sanyo-radio/kassetspeler op die bedkassie aan Yolanda se kant is sag gedraai, maar nou het ek my asem terug en hoor ek dit duideliker. Langs die speler staan die lava lamp en half gehipnotiseer kyk ek hoe dit verander van rooi na oranje na geel na lemmetjie na groen. Sy het nog altyd van mooi goed gehou.

Abba doof uit en Radio 5 se DJ begin nonsens praat.
“Jy is doodseker jou ma slaap?” vra ek.
Sy lag. “Bietjie laat om nou te wil weet!”
“Sjuut!”
“Sjuut!” maak sy weer haar oë groot en wriemel onder die laken. Na seks het sy altyd matelose energie, asof dit net ’n opwarmingsoefening was en die hokkiewedstryd nog kom.
“Ek vra maar net.”
“Relax, Ludo.”
“Dit sal nie vreeslik snaaks wees as . . .”
“As jy nie wil hê sy moet iets hoor nie, moet jy dalk nie soos ’n lokomotiefie hyg nie.”
“Ek hyg g’n nie!”
“O, nie? Hnghn, hnghn!”
“Solank ek nie daai gesig trek nie.”
“Ek het haar twee van die pille ingegee. Net een in die aand is genoeg om haar heeltemal uit te zonk. Oukei?”
“Oukei.” Ek kyk hoe ’n strepie sonlig by die spleet inbeur soos ’n pel wat vir die lava lamp wil kom kuier.
“En het sy ander kere wakker geword en kom kyk?”
My beurt om te lag. “Kan jy jou voorstel . . .”

Dan sou ek nie nou hier gelê het nie. Haar ma vergeet baie dinge, maar dit sou te veel gevra wees.
Ons lê en dis rustig en als, maar natuurlik het ek nie dieselfde rustigheid in my nie. Noudat die groot kanonne klaar geskiet het, maak die intimiteit my benoud. Maar ’n ou maak nie pas klaar met ’n meisie en pluk sy klere aan en loop nie. Selfs Barry Krige wat saam met my Basics gedoen het, sou dit geweet het.

Barry Krige wat lief was om in die kaserne se gang af te skree: “No muff too tuff, we dive at five!” Wat gepraat het van die Swart Gevaar en wat ons vir Volk en Vaderland moet doen, so tussen die trekke aan sy Gunston, en dan geklink het nes die ooms in uniform wat op skool tydens die Jeugweerbaarheid-periode met ons kom gesels het.
Arme Barry. Geskiet iewers op die Grens waarheen hy so haastig op pad was. By wie het ek nou weer gehoor hy is daar dood? Jy weet nie altyd of sulke stories waar is nie.
Is dit rêrig al drie jaar sedert ek met Basics begin het? Het gevoel of die tyd in die army nooit gaan einde kry nie.

It’s been too long since we took the time
No-one’s to blame, I know time flies so quickly
But when I see you darling
It’s like we both are falling in love again
It’ll be just like starting over

Iewers roep ’n voël.
“En Hentie?” vra ek.
Dadelik skuif ’n wolk voor Yolanda se oë in.
“Jy weet hy draf nooit minder as twintig kilo’s nie, tensy dit reën.” Sy draai weg van my, so effens. Voor sy die laken hoër trek, word ’n baie mooi tepel ontbloot. So effens. “En dan doen hy push-ups en sit-ups in die park en God weet wat nog alles. Ek sal verstom wees as hy voor vyfuur inklok.”
“Oukei.”
Dis tipies van Hentie. Alles word oordoen.
“Ludo,” kry haar stem byt, “Hentie is nie jóú probleem nie. As jy wil waai, moet jy waai.”
“Nee, ek lê nou lekker.”

Ek dwing my linkervoet tot stilte toe ek besef dit wikkel-wikkel.
Hoe lank al? Dis tog waar: Ek lê lekker. Ek hóéf nie altyd iets te dóén nie.
Voor Yolanda was ek ’n virgin. Dit moes in die eerste oomblikke baie obvious gewees het, maar dit het nie gelyk of sy iets agterkom nie.
Gou het alles egter begin vlot, regtig gou, binne ’n minuut. Haar lyf is soos die slimste kind in die klas; die vraag word nog geformuleer, dan steek dit al hand op. Met haar hoef jy dit nie so stadig te vat soos wat dokter Jan van Elfen se Liefde en Seks in die Huwelik my laat verstaan het nie. Daardie twee vreugdes is skynbaar slegs getroudes beskore, maar hoe anders moes ek uitvind wat om te doen?

O, maar nóú weet ek: die wat, en waar, en met hoeveel druk, en dan is die reaksie ’n gegewe. Ek is vry om op my eie orgasme af te stuur en wanneer dit amper sulke tyd is, kan ek maar weet Yolanda is ook in die pylvak.
En nou het ek weer te veel in daai rigting gedink. Hierdie slag is die roering onder my kant van die laken nie by my voete nie.
Maar dis te gou om ’n tweede ronde te wil inisieer.
Hoewel sy nie sou nee sê nie.

Dalk dink sy dan ek soek net een ding.
Maar ek het opgehou sweet, dus sou dit nie gross wees ás ons nou weer . . .
“Party mense het darem ’n raw deal,” laat sy hoor.
“Waar val jy nou uit?”
“Partykeer dink ek net die noodlot het sy mes in vir sekere mense.”
“Uh-huh.” Ek wonder of sy na haarself verwys, of dalk haar ma. Of Hentie.
Sy gaan voort: “Hulle van is Van Biljon. Ek glo nie jy ken hulle nie, al woon hulle actually hier naby, in 16de Laan. Dis ook nie mense wat ék ken nie, of altans, net die een suster. Ek het haar al een of twee keer ontmoet. Twee keer, vinnig. Hanlie. Sy’s ’n vriendin van Antoinette. Jy weet, Antoinette Carstens? Altans, hulle het ’n ruk lank saam verpleeg. Dit herinner my, sy verjaar komende Maandag – Antoinette nou. Daar’s die aand ’n partytjie by haar huis, ’n garage party. Ek beter iets koop en ek het nog glad nie gedink . . .”
“Yolanda.”
“Hmm?”
“Die mense? Die Van Biljons?”
Sy frons. “Ek kon sien Hanlie het per ongeluk iets laat val, maar toe wil almal hoor. Ag, Ludo, slegte goed tref hulle aanhoudend. Check, enige huishouding kry af en toe swaar. Maar hulle is in ’n heel ander liga. Dit het begin met die seuntjie wat dood is. ’n Ongeluk. So vier maande terug, dink ek. En van daar af is dit die een ding op die ander. Toe raak die dogtertjie se kat weg – net weg. Sy was ontroosbaar. Kwajongens wat ’n klip deur ’n venster gooi. Ek dink nie ek het die volgorde reg nie. Die hondjie se pels was in ’n stadium die ene teer, sodat al sy hare afgeskeer moes word. Een van die plat klippe op die voorste trappie het ook nog losgekom. Die dogtertjie het seergekry, maar dit kon glo erger gewees het.”
“Klink rof,” merk ek op. Met sulke besonderhede in die lug is dit duidelik dat hier nie ’n tweede ronde kom nie.
“Dalk het ek nie eens alles genoem nie. Party mense kry net swaarder as ander, maar dis . . . byna supernatural, jy weet. Hoe soveel goed met iemand kan gebeur. In hulle case net soos hulle begin vergeet van ’n ding, dan is daar iets nuuts.”
“Uh-huh.”
Interessant, maar dis ander mense se probleme.
“Nou ja . . .” Sy draai na my toe, sit haar hand op my maag en laat dit sentimeter vir sentimeter onder die laken inkruip. “En wat het ons hierso?”
Die kerkhorlosie gee die eerste van wat vier slae gaan wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS