Jeanette_Ferreira_Bloedlelie

Uittreksel: Bloedlelie – Jeanette Ferreira

“Dit is baie duidelik ( die volledige outeursaantekeninge bewys dit) dat daar baie deeglike navorsing gedoen is om Magdalena se storie te vertel. Sy was ‘n gewone vrou wat twee mans op bykans dieselfde wyse moes afstaan en het in armoede in Potchefstroom gesterf. Nie Piet Retief of Dingaan kom as engeltjies uit die storie uit nie – ‘n realistiese siening van Retief se hardkoppige arrogansie en Dingaan se uiters onvoorspelbare persoonlikheid sal baie oë oopmaak.

Ek is nie ‘n liefhebber van geskiedkundige fiksie nie maar hierdie boek het my geboei van die begin tot die einde. Dit help ook as so ‘n boek in uitstekende taal en met baie kleur geskryf word.” – Rina Coetzee Gous‎ op Lekkerleesboekrak

Agtergrond

KOOP HIER | BUY HERE
Die bloedlelie bloei soos ’n mens wat liefhet of ly In die somer van 1838 vertrek die Voortrekkerleier Piet Retief en sowat 100 man na die Zoeloekoning Dingaan om oor grond vir die trekkers te onderhandel. In die laer by Doornkop wag sy vrou Magdalena op hulle terugkeer. Die afloop van hierdie sending na Dingaan is wyd opgeteken as die Slag van Bloedrivier. Byna 180 jaar later is Hanna op soek na wat ook al Magdalena nagelaat het. Vroeg in hierdie soektog loop Hanna haar vas in ’n plaasmoord waarvoor sy nie antwoorde het nie. Bitter min is bekend oor Magdalena en haar lewe ná 1838, buiten haar brief in 1841 aan haar skoonfamilie. In Pietermaritzburg staan haar huisie vandag nog, nou ’n klerewinkel. Kort voor haar dood in 1854 besoek ’n handelaar haar in Potchefstroom en staan in sy boek ’n paragraaf aan haar af. Al wat ons het, is vandag en elke mens vertel ’n storie anders. Van ver af is niks soos dit vir ons lyk nie. “Bloedlelie is ’n merkwaardige en belangrike roman uit die pen van ’n vaardige, gesoute skrywer. Verskriklike en weersinwekkende gebeure sowel as hedendaagse politieke kompleksiteite en strydpunte word met ’n seker hand uitgebeeld. Tegelykertyd is hierdie roman die verhaal van Magdalena Retief, die grootliks onbesonge vrou van Pieter Mauritz Retief.” - Helene de Kock

Laat in die jaar 1837 is die Voortrekkerleier Piet Retief van sy staning Doornkop naby die huidige Estcourt af na Port Natal, die huidige Durban; laasgenoemde toe nog net die gehuggie van ’n paar Engelse handelaars. Van daar af is hy na die Zoeloekoning Dingaan se militêre vesting Umgungundglovu om te onderhandel oor grond vir die Voortrekkers. Dingaan het volgens die traktaat wat later opgestel is, ingestem “to resign unto him [Retief]” die grond vanaf die Umzimvuburivier tot aan die Tugela en so ver noord as wat die Voortrekkers die grond kan benut. Die voorwaarde is dat Retief eers die beeste wat Sikonyela van Dingaan geroof het, by hom moet gaan afneem en terugbring Umgungundglovu toe.
    Retief stem in. Dingaan stuur Zoeloehelpers saam om die beeste uit te ken en te help aanjaag. Retief en sy manne kry Sikonyela in sy vesting naby die huidige Harrismith daartoe om die geroofde beeste uit te keer, asook die perde en gewere wat hulle by Sikonyela gevind het. Daarna is Retief terug Doornkop toe om eers die perde en gewere onder die trekkers te gaan opveil.
    As goewerneur slaan hy sy medetrekleiers Gerrit Maritz, Andries Hendrik Potgieter en Piet Uys se waarskuwings in die wind dat Dingaan nie te vertrou is nie. Laat in die Januarie van 1838 is Retief met sewentig vrywilligers en sowat dertig agterryers vir die tweede keer vort na die Zoeloekoning se vesting. Onder hulle is sy stiefseun Abraham Greijling uit sy vrou Magdalena se eerste huwelik. Retief het trouens soveel vertroue daarin dat dié tweede sending na Dingaan veilig is en goeie betrekkinge sal vestig, dat hy sy en Magdalena se twaalfjarige seun Klein Piet saamneem en daar tel ook drie ander jong seuns onder die lede van die kommissie. Die Engelse handelaar Thomas Halstead van Port Natal tree as hulle tolk op.
    Hoewel die Britse sendeling Francis Owen, wat sy sendingstasie digby Umgungundglovu gevestig het, dit eienaardig vind dat Dingaan grond aan Retief toesê wat hy reeds aan die Engelse handelaars beloof het, laat Retief hom nie daardeur van stryk bring nie. Hy is ook nie ongerus oor die Engelse handelaarseun William Wood, tydelik as tolk in sendeling Owen se diens, se waarskuwing nie. By Umgungundglovu aangekom met die geroofde beeste, bied Retief die traktaat, opgestel deur Jan Bantjes, vir Dingaan aan vir ondertekening.
    By Doornkop wag Retief se vrou Magdalena, sy kinders (waaronder die bekende Debora), stief- en skoonkinders en die res van sy groter wordende trekgeselskap op sy terugkeer, waarna hulle die grond wat aan hulle beloof is, in besit sal neem. Die sendeling Erasmus Smit, wat op Retief se inisiatief as die trekkers se leraar bevestig is, en dié leraar se vrou Susanna is ook onder hulle.
    In die jaar 1838, waarin die trekkers groot beproewinge moet oorkom, is Andries Pretorius uit die Kolonie laat kom, hoewel hy reeds voorberei het om by hulle aan te sluit.
    Wat ons van Magdalena Retief – née Greijling, gebore De Wet – weet, is hoofsaaklik dat sy Piet Retief se vrou was en met hom getroud is ná die oorlye van haar eerste man Jan Greijling. Sy vestig haar in 1839 in Pietermaritzburg – vroeër Boesmansrant – en daarna, ongeveer 1842–1843, in Potchefstroom. Die Nederlandse handelaar Jacob Stuart besoek haar in 1852 in Potchefstroom en staan ’n paragraaf in sy later gepubliseerde boek oor die “Hollandse Afrikanen” aan haar af.
    Byna honderd en tagtig jaar later reis Hanna saam met haar man Adriaan op die trekkers se spore langs.

(i)

KOOP HIER | BUY HERE
Die bloedlelie bloei soos ’n mens wat liefhet of ly In die somer van 1838 vertrek die Voortrekkerleier Piet Retief en sowat 100 man na die Zoeloekoning Dingaan om oor grond vir die trekkers te onderhandel. In die laer by Doornkop wag sy vrou Magdalena op hulle terugkeer. Die afloop van hierdie sending na Dingaan is wyd opgeteken as die Slag van Bloedrivier. Byna 180 jaar later is Hanna op soek na wat ook al Magdalena nagelaat het. Vroeg in hierdie soektog loop Hanna haar vas in ’n plaasmoord waarvoor sy nie antwoorde het nie. Bitter min is bekend oor Magdalena en haar lewe ná 1838, buiten haar brief in 1841 aan haar skoonfamilie. In Pietermaritzburg staan haar huisie vandag nog, nou ’n klerewinkel. Kort voor haar dood in 1854 besoek ’n handelaar haar in Potchefstroom en staan in sy boek ’n paragraaf aan haar af. Al wat ons het, is vandag en elke mens vertel ’n storie anders. Van ver af is niks soos dit vir ons lyk nie. “Bloedlelie is ’n merkwaardige en belangrike roman uit die pen van ’n vaardige, gesoute skrywer. Verskriklike en weersinwekkende gebeure sowel as hedendaagse politieke kompleksiteite en strydpunte word met ’n seker hand uitgebeeld. Tegelykertyd is hierdie roman die verhaal van Magdalena Retief, die grootliks onbesonge vrou van Pieter Mauritz Retief.” - Helene de Kock

Daar is ook ander reisigers onderweg.
    “Hy sny sommer oor die dubbelstreep verby,” grom Adriaan. “Jy weet, dit maak my so die hel in.”
    Die swart Merc se eienaar het sy sportvoertuig laat registreeras JACO1 ZN. Sy kuif staan regop in die wind en die spieëllense van sy donkerbril flits in hulle rigting terwyl hy verbyseil, vinger in die lug. Die vuurwa se agterliggies flikker drie keer. Wat dit moet beteken, is nie duidelik nie.
    Hanna beaam dat die windgat opgeneuk moet word terwyl sy haar oë oophou vir die afrit waarna die boer verwys het. Daar is ook so baie Doornkoppe en Doringrante en Doringberge en Doringnekke op die internet. Geen moderne kaart vermeld Doornkop as gedenkwaardigheid nie. Om uit te vind waar dié Doornkop is, het ’n soekery afgegee.
    Adriaan was daardie tyd nie juis hulpvaardig nie: “Daar iewers oos van die Drakensberg.”
    Hy, die historikus cum argeoloog, sedert onlangs ook spesialisgetuie in grondeissake.
    “Ja, Hanna. Die Groot Trek en veral die mites rondom Piet Retief was ’n vervelige spul wat later by my ore uitgeloop het. Ek het in Afrikageskiedenis gespesialiseer.”
    “Retief was ook van Afrika. Die vierde geslag Hugenote.”
    “Nou toe.”
    Sy was nie seker of hy gehoor het nie.
    Maar hy het. Ná ’n afstowwery in die oorlaaide boekrakke van sy studeerkamer het hy ’n eksemplaar van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek II uit sy rak getrek, sy kop laat sak en haar oor sy bril aangekyk. “Bronne, nè?”
    Daardie boek het breedvoerig oor Piet Retief uitgewei maar nie eens die staanplek Doornkop vermeld nie.
    Die ligging daarvan het Hanna uiteindelik opgespoor in so ’n dunnerige slapbandboekie van Jan C. Visagie, Voortrekkerleiers en trekroetes. Niemand traak vandag meer oor waar die Voortrekkers gestaan en getrek en verdwaal en hulle liederlik vasgeloop het nie, net die Erfenisstigting; dit is hulle embleem voor in die boek. Daarin staan van Doornkop dit is ’n rant/berg wat geleë is langs die teenswoordige pad tussen Frere en Winterton. Per e-pos kon die goeie professor Visagie haar ook nie verder help oor hoe om daar te kom nie. Toe kry sy dit op die internet, in breë trekke wat daar aangegaan het, ’n paar aanwysings oor hoe om te ry en die koördinate.
    Dit was twee weke gelede, voor sy en Adriaan weg is Pretoria toe. Vanoggend op pad terug, net ná Harrismith, het Adriaan daardie koördinate een kyk gegee en gesê: “Ag nee, man, daar is nie ’n plek soos 29 Y-072685 nie. Wat sê die aanwysings wat ons gewoond is? Bel die boer aan wie die plaas behoort; daar is mos ’n nommer vir hom.”
    Hulle is meer as welkom, het die boer haar verseker, daar is ’n monument wat al ’n paar keer gevandaliseer is maar hy en sy seun onderhou dit so goed moontlik. Hanna moet maar net die aanwysings volg, presies soos sy dit nou vir hom gelees het.
    Die pad agter hulle was toe al warm en ver en Adriaan nie in die beste van buie nie. Wat te verstane is ná hy elke dag van die weke wat hulle in Pretoria was – vir ’n grondeissaak wat eers teen die einde van die jaar voorkom, ná die een wat sommer nou een van die dae kom – op soek gegaan het na inligting uit die argiewe. Nadat hy tussen die nuwe straatname in die moederstad – wat ek soos die palm van my hand ken, jy weet, Hanna – verdwaal het op pad argief toe. En nou weer, op pad na Retief se staning toe omwille Hanna se hebbelikheid om meer van Magdalena Retief te wete te kom.
    Desjare was die grond waaroor Retief met die Zoeloekoning Dingaan gaan onderhandel het nie gekaart nie. Dit was net die stuk aarde vanaf die Umzimvubu tot wes aan die Tugela en noord tot so ver as wat die Hollandse emigrante (dié wat vandag die Voortrekkers genoem word) dit kon gebruik. Dit is ’n helse groot stuk aarde, reken Adriaan, en al het dit destyds grootliks onbewoon gelê, kan hy nie dink hoe Retief kon dink Dingaan sal dit sommer aan hom oorteken nie. In ruil vir ’n klompie beeste wat in elk geval Dingaan s’n was en wat Retief net by Sikonyela moes gaan afvat. Nou sit hy al weer met die Groot Trek, Adriaan nou. Mens kom ook nie daarvan weg nie.
    Ewenwel, Adriaan het gery soos sy gelees het van die drukstuk op haar skoot af. Dit het hulle heeltemal van koers af op ’n westelike sypad laat beland, daarna op die Estcourt-Noord en toe weer op die Estcourt-Suid. En terug tot op die Estcourt-Noord-afrit. Toe Hanna ten einde raad weer die boer op die plaas Doornkop bel, sê hy nee, daardie aanwysings klink nie vir hom reg nie. Draai om, dis heeltemal die verkeerde rigting, ry terug op die hoofweg Pretoria toe en draai af by die D52.
    “Goed, ons is nou weer sewe kilometer noord van die Estcourt-Noord.”
    “Sewe? Hy het gesê dit is die D52.”
    “Dit is inderdaad die D52, my liewe Hanna.”
    Hanna het nie ’n benul of hy reg is nie want sy het nêrens ’n bordjie of iets gesien nie.
    Ná hulle kilometers ver oor die nat pad vol poele deurgedring het tot dieper in die Natalse vlaktes oos van die Drakensberg, loop daar ’n trop beeste oor die pad. Een koei mis uitdruklik voor sy op haar tyd padgee.
    Soms jaag Adriaan soos die satan self en ry op ’n stadige kar se stert in die regterbaan, ander kere raak hy aan die droom en vergeet hoe stadig hy ry. Om daarop te antwoord kan net ’n maar-jy en maar-jy-ook afgee. Adriaan hou niks daarvan dat iemand iets oor sy bestuurdery sê nie. Hierdie keer het hy egter sy pas afgeskaal vanweë die beestrop, die stofpad en die spitsie wat op die horison begin opdoem het.
    “Sou dit nou die plek wees?” verwonder hy hom soos hulle nader kom.
    Dit lyk so.
    “Probeer jou maar indink, jong.” Hy gooi ’n wye draai om die monumentjie, sprei só ’n skoot vuil water oor die gedenkwaardigheid. “Jy wou dan nou so graag kom kyk.”
    Hanna klim in ’n plas water af en die modder syg deur haar Salomons dat tot haar secret socks en haar tone nat word. Sy los dit. Hier staan sy nou uiteindelik.
    Anderkant die monumentjie is ’n plaashek met kettings toegewoel, ’n digte heining struike en ’n sinkdak net-net daaragter sigbaar. ’n Hond blaf. Iewers dreun ’n trekker. Aan die noordwestekant van die plaats ter herdenking van die Retief-trek lê ’n taamlike hoogte. Dit kan seker vir ’n kop deurgaan, so ’n lang platte. Die monument is van plaaslike klip en sement. ’n Langwerpige blad met ’n klippilaar in die middel, vier witgeverfde klippe op elke hoek en omhein tot so op heuphoogte. Wie dit wil vandaliseer, sal maklik kan, dis nie ’n magtige struktuur nie.
    “Hoekom sal enigiemand nou iets wil vernietig waarvan so min mense weet?” mompel Adriaan.
    Die monument staan omtrent so hoog soos ’n man te perd. Hanna sukkel om haar ’n groep ruiters op hierdie vlakte in te dink, manne vol geesdrif en goeie wil op pad na Dingaan om ’n traktaat oor grond vir die trekkers te onderteken. Nog minder kry sy die idee van ’n verontruste Magdalena Retief wat daagliks in die geloof die horison fynkam vir die triomferende terugkerendes.
    Naas die bouseltjie hol ’n trop tarentale af pan toe. As daar op hierdie platte aarde die moontlikheid van ’n laagte is, lê dit daar in die blinkigheid wat ná die lang, landswye droogte volgeloop het toe die reën deur die genade uiteindelik uitgesak het. Langsaan lê ’n tamaaie miershoop; dit lyk skoon soos ’n mens, die ding.
    Iewers roep ’n spookvoël.
    Aan die voet van Doornkop het die bejaarde boer agter die heining om sy werf verskyn. Hy groet rustig.
    Die Van der Walts stel hulle aan hom voor.
    Op Hanna se paar vrae oor reënval en koue en hitte antwoord hy dat dit maar so-so is en kyk nie juis in haar rigting nie. Koud ook soms, ja. Wanneer die Drakensberg se spitse wit is, moet jy weet daar kom ’n paar bibberdae, dan is dit weer oor. Meesal is dit egter ’n heerlike klimaat. Die Natalse nat hitte begin eers wanneer mens laer af seekant toe beweeg.
    Hanna sê hom hulle wou net kom kyk hoe dit hier lyk en baie dankie.
    “Julle het seker goed voorsorg getref teen plaasaanvalle?” Adriaan skop teen ’n klip; vandag is dit tog nie meer snaaks om so iets te vra nie.
    Die boer kyk op sy stewels af. “Ons het want daar was vroeër twee aanvalle. Maar toe ons laas jaar net voor Kersfees aangeval is, is my vrou vermoor.”
    Daar suis ’n stilte tussen hulle in toe die boer groet en omdraai. Die hond wat saam met hom gedraf het, staar hulle van agter die draad aan en wys tande voor hy omvlie en saam met sy baas wegdraf.
    Hanna neem ’n paar foto’s van Doornkop en die verspreide doringbome wat so mild lyk op die einder. Sy probeer haar oriënteer na die jaar 1838, einde Januarie, om presies te wees. “Op pad na Dingaan toe is Retief-hulle mos eers ietwat suid om by Gerrit Maritz se laer aan te gaan?”
    “Soontoe, ja,” wys Adriaan. “Neem ’n foto van die horison daar. Dan kry jy darem ’n idee van wat Magdalena Retief kon sien terwyl sy hulle staan en agternakyk het. Ek soek solank vir jou ’n klip.” Hy begin rondsoek en tel ’n lekker grote op, wat hy inlaai vir haar versameling by die huis.
    Sy bêre haar kamera en hulle pak weer die grondpad aan.
    “Hoeke soort mens was sy, dié Magdalena?” wil Adriaan darem weet.
    “Glo lief en goed.”
    “Dis wat gewoonlik gesê word van mense wat dood is. Ek kan net dink die vrou was taamlik dik vir haar man oor die trippie waarteen hy gewaarsku is. Maar sy sou hom en sy manne darem seker afgesien het toe hulle die oggend hier weg is. Is daar niks oor haar in die bronne wat ek jou gegee het nie?”
    “Niks. Sy was net Piet Retief se vrou. Hulle dogter Debora het wel onsterflikheid verwerf toe sy haar pa se naam teen ’n klip naby Harrismith in die Vrystaat gaan skryf het.”
    “By Kerkenberg, ja.”
    Vandag sou Debora Retief oor daardie daad van historiese belang afkeurende boodskappe op haar Facebook-blad moes verdedig. Vandalisme.
    “Ek wou vir ons Cola Lites agter uit die viertrek se yskas gehaal het maar ek dink ons hou sommer by die eerste Ultra of Inn of Stop wat ook al stil op pad na die gastehuis toe. Wat sê jy, Hanna?”
    Dis ’n Ultra met ’n Kentucky en ’n Wimpy om van te kies. Skoon toilette, al moet Hanna haar staal teen die reuk van menslike uitskeiding wat hierdie plekke kenmerk.
    Nou vir die Kentucky. Halfpad soontoe toe hol die skoonmaakvrou haar in. “Sisi, sisi, jou donkerbril. Hy lê daar by die wasbak!”
    “Eisj, dankie, thank you, mama, ngyiabonga khakulu.” Die laaste deel is amper al wat Hanna in Zoeloe kan sê.
    Adriaan gaan eers die viertrek vol brandstof maak. “Twee dytjies en twee vlerkies vir my, seblief. En van daai lekker koolslaai wat hulle maak.”
    Net ’n boudjie vir haar. Een groot bak vir al twee van daai lekker koolslaai en een klein bakkie vir haar van die minder lekker Griekse slaai, wat meer na slaaiblare as tamatie en fetakaas lyk. Hanna kan nie sonder groente leef nie, sy kry onttrekkingsimptome. Geen tjips nie, daar is reeds ’n deeglagie om die hoenderstukke. Dokter Naidoo. Gewig. Adriaan se hart.
    Voor en agter haar in die ry staan mense wat ruik na sweet, ook vroue in kopdoeke en swesjarompe, kinders wat slaptjips begeer. Toeriste wat Duits en Italiaans praat. Op die trappies voor Kentucky sit kinders in vodde; hulle speel ’n klipspel en roep in Zoeloe.
    Adriaan staan met sy hande op die ruit van ’n glimmende swart BMW met die bestuurder en praat toe sy uitkom. Hy en die man gesels nog ’n bietjie voor Adriaan aankom viertrek toe.
    “Sharp, sharp!” gil die blink motor se eienaar Adriaan deur die afgeslane sondak agterna, blaas terselfdertyd ’n bol rook uit sy sigaar. En swierig: “Ahoi!” Toe trek hy die Gatsby-pet laag oor sy oë en jaag onder die rookwolk uit.
    By die aansluiting met die hoofweg sidder die vuurwa, dit beef soos ’n renperd, swig rakelings voor ’n aankomende swaarvoertuig in, brul toe links op die hoofweg af, suid, Durbs toe.
    “Oudstudent van my wat nou hoog op is in die Kantoor van die Premier van KwaZulu-Natal,” verduidelik Adriaan terwyl hy inklim. “Jis, die hoender ruik lekker. Hy sê hy sal my bel, hy het gróót jobs, gróót geld, any cultural work.”
    “En dink jy hy sal? Jou bel?”
    Hy proes en steek in die ry ’n sigaret aan. Voor elke besoek aan die kardioloog suig hy pepermente en gorrel met spoelmiddel. Met elke besoek roep dokter Naidoo donker dae op: You want to die early, Mister Derwalt? You want to enter my surgery in a wheel chair and all? The choice is yours, Mister Derwalt. This smoking and all.
    Wat Adriaan betref, maak hy egter reeds toegewings om sy sukkelende hart te akkommodeer. Iewers moet mens ’n streep trek. Hy draai die ruit effens af sodat die rook nie die kajuit vol hang nie. “Kyk net daar hoe vinnig verander die weer,” beduie hy met sy ken. “Ek sê jou, dit reën voor ons by die gastehuis is.”
    Sulke vaal vlae wat oor die panne en vleie begin swiep. Friesbeeste wat dit verduur of bloot verder wei teen die sluiers wat die buie voor die horison aftrek. Stoetperde wat vorentoe storm en skeute water uit die plasse opjaag. Langs die pad strompel ’n gesin geboë onder plastieksakke aan. ’n Afgeleefde bakkie wip deur ’n dam water in die pad en ruk tot stilstand. Uit die veld kom ’n ruiter gejaag, deftig met jokkiepet en baadjie, soek haastig skuiling onder ’n afdak. Fabrieke wat rook uitblaas. ’n Minibus wat teëspoed gekry het. Dis seker die bestuurder onder die sambreel by die opgeslane kap; die insittendes is onsigbaar agter toegewasemde ruite.
    “Ons draai hier regs op die 68!” roep Hanna bokant die bui se gedreun op die dak. “Die B&B-plek wat ek op die internet bespreek het, is so ses kilometer buite Estcourt!”
    Dié kry hulle maklik. ’n Klipgooi van die 68 af lê die cottages daar voor jou naas die hoofhuis.
    Deur die reën roep die eienaar hoe welkom hulle is en dat hulle by nommer 5 moet parkeer, hy kry hulle daar. Toe spring-spring hy deur die gras wat te lank geword het en wag hulle onder die beknopte afdak in, waar Adriaan die viertrek inmaneuvreer en vir sy sigarette voel.
    Hier en daar help die eienaar ’n pakkie en ’n tas gryp en gaan sluit die voordeur oop. Hanna hoor nie wat hy en Adriaan gesels terwyl sy vir haar aptekie in die viertrek se ingewande soek nie.
    Die man waai koebaai en hou haar dop oor sy skouer op pad na sy huis toe. Sy wuif sy aanbod van ’n sambreel weg. Reën is sy gewoond. Haar kleintydnaam onder Modjadji se mense was Mabula: Kind van die Reën. Inmiddels hou sy ’n koerant oor haar kop en nael vir die cottage se groen deurtjie.
    Laatmiddag bedaar die buie en die son is darem nog daar. Uit die vieslike bloekomboom roep ’n vleiloerie. Hy loe-loe-loe desperaat, waar’s sy maat, hoe lank, hoe lank gaan sy nog wegbly? En toe, wragtag, ’n sielige duif ook wat trapplek onder die geut soek.
    “Asof dit help dat hulle die mure verder bemis,” brom Adriaan gesellig.
    Hulle gaan sit by die stoeptafeltjie en staar na die steilte voor hulle, so ’n kliprant, klipkop, nie duidelik teen die son nie. Rondom hulle is daar nie ’n teken van lewe nie.
    Ná die reën hang daar ’n aartsdroefheid oor die steengeboutjies op Estcourt se platteland. Die bome drup steeds en tussen die donker wolke op die horison lyk die son soos ’n wond wat kwaad ingekry het. ’n Haan suiker verby agter ’n hen aan. Die hen is vasbeslote om weg te kom.
    Toe is dit weer stil.
    “Gaan pluk maar vir ons ’n veldblom of twee,” stel Adriaan voor. “Jy hou mos daarvan om dit in ’n glasie voor ons bed te sit. Noudat die reën weg is, gaan soek ek gou ons boeke agter in die viertrek.”
    ’n Sprinkaan met bont bene. ’n Enkele ou spierewit lelietjie, sy weet nie wat nie. Dit is haar vonds. Sy tap ’n glasie water in en maak die lelie daarin staan. Die ding sak sommer gou inmekaar, die kelk slap oor die rand.
    “Ag wat, Johanna,” lag Adriaan en sit hulle boeke op die sitkamertafeltjie neer. Hy lig die Mr Price-kussings van blink materiaal, deurwerk met blinker blinkertjies, skop aan die rietjies in wat lyk na die fabrieksweergawe van ’n etniese vaas, bekyk die afdrukke van lank gerekte vroue in doeke met iets op die kop teen die bloedbevlekte hemel agter hulle. Toe kom gee hy haar ’n innige druk. “Ons gaan dit oorleef.”
    Hulle poging om nuus te kyk is onsuksesvol omdat hulle voorganger in nommer 5 op ’n musiekkanaal ingeskakel het en nie Hanna of Adriaan vertroud is met verstellings op TV nie want hulle het nie so ’n toestel in hulle huis nie. Minute lank is hulle uitgelewer aan ’n platinummeisie wat jubel, eers oor die dag wat kom, toe oor haar geskeurde jeans. ’n Kaalkopman volg haar op. Met kettings behang, praatsing hy oor die rollin’ sista’ wat hom wakker hou voor Adriaan die regte knop raakklap.
    Op die teerpad waarvan hulle vanmiddag in die reën afgedraai het, jaag eenstryk karre verby. Daar moet ’n lelike knik in die pad wees want die enjins se gebrom word telkens deur ’n doef onderbreek, gevolg deur die sjoesj van water wat spat.
    “Jy weet, Adriaan, ons is omtrent net twintig, dertig tree van die pad af en daar is nie tralies by hierdie voordeur nie. As iemand dit nou in sy kop kry om hier af te draai, ons selfone en kontant en ons viertrek te vat, bedoel ek.”
    “Die ou wat hierdie plek besit,” hy lig sy ken in die rigting van die hoofhuis, “het my vanmiddag sommer reguit gesê hulle gaan hier verkoop en terugtrek na hulle plasie toe naby Grahamstad.” Hy drentel hande in die sakke deur die plek. “Vraag is net, wie gaan nou sy geld op hierdie winskoop sit? Moenie bang wees nie, ou gogga. Ek het darem vir Liefie hier.” In die hoek waar hy hulle tas neergesmyt het, gaan klop hy teen die bult wat die pistool maak.
    Dit ruik na leegstaan en mufheid in die kombuisie se hoeke. Maak sy ’n kas oop, walm die reuk van Handy Andy en insekdoder uit. Op die werksoppervlak vis sy die Kentucky uit die pakkies, werk uit hoe die mikrogolfoond funksioneer en verlang na hulle huis onder die bome in die Noordkusdorpie waar hulle woon. Hierdie stilte en koue, hierdie onherbergsaamheid. Dit is nie ’n plek waarin ’n vrou in vertwyfeling agtergelaat wil word nie.
    Adriaan buk oor die drukstuk in ’n rolbinder wat sy saamgebring het. “Waar kry jy dié? In 1854 verskyn, nogal.”
    “Van die internet afgetrek en gedruk.”
    Hy knik in sy skik. “Ek sou darem graag die oorspronklike een wou hê. Maar wat gaan jy hierin oor Magdalena Retief kry?”
    “Jacob Stuart het Magdalena in Potchefstroom gaan opsoek, in 1852 eers, veertien jaar ná sy op Doornkop vir Piet gewag het.”
    “Potchefstroom?” Hy suig verbaas aan sy sigaret. “Maar sy is mos saam met die res van die Retief-trek af Pietermaritzburg toe? Is haar graf dan nie ook daar in die Voortrekkerbegraafplaas nie?”
    “Nee, sy is in Potchefstroom begrawe. Bronne, nè?”
    Die sigaretrook draal dak toe terwyl hy deur die drukstuk blaai, so hier en daar lees. “H’m. Hierdie Jacob Stuart was ’n Nederlandse handelaar. Dié nasie is maar suinig. Moenie alles vertrou wat hy skryf nie.”
    Tog, die man het alles so noukeurig beskryf in sy boek. Om in Potchefstroom te gaan soek vir sy spore, sal nie help nie. Die plek is teenswoordig ’n nes gastehuise met lae dakke en volvoermatte, Spaanse boë inderhaas oor die voordeur se lae dak aangebring, akkerbome, takeaways en suipplekke. Studenteverblyf vir die plaaslike universiteit met uithangborde wat Huis Bolyf sê. En kunste. Aardklop. Of Aartklop. You will suffer for art.
    Stuart het die weduwee trouens twee keer daardie jaar besoek, met net ’n maand of wat tussenin, waarin die seisoen ongemerk begin draai het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS