Bloedfamilie_Elsa_Hamersma

Uittreksel: Bloedfamilie

Een

Jakes

KOOP HIER | BUY HERE
Daar word twee moorde in een week in die Brink-familie gepleeg. Die moordenaar laat ñ boodskap by die eerste moord wat die vinger na die familie wys. Wie is dit en waarom moor hy of sy?

Dit is vir hom ’n beproewing om vandag die feesviering van sy broerskind se troue by te woon. Van Jaco hou hy, dis nie die probleem nie. Sy broer is. Wat hom betref, is Bart ’n veragtelike mens en hy vermy hom sover hy kan.

Dit is ’n soel middag in Pretoria en dit was warm in die kerk. Jakes voel ongemaklik in die donker pak en rem geïrriteerd met sy vinger aan die kraag van sy hemp, want alhoewel dit al heelwat later is, is dit steeds drukkend warm. So asof ’n storm broei. Hy sou graag die das wou weggelaat het, maar dit is ’n elegante affêre en daarsonder sou hy nie reg aangetrek wees nie. Dit besef hy waar hy eenkant op die gras staan en na die gaste kyk. Die meeste van hulle staan in groepies op die terras en in die groot portaal van die lokaal waar die onthaal gehou word. ’n Vrou lag uitbundig en nog een naby Jakes gee ’n gemaakte gilletjie, skynbaar van vreugde om ’n bekende te sien. Omtrent almal het ’n glasie in die hand om die tyd te verwyl totdat die bruidspaar, die nuwe meneer en mevrou Brink, en hulle ouers van die fotosessie af terugkom.

Hy ken seker nie ’n kwart van die mense nie. Daar is baie vreemdes tussen die twee honderd gaste en hy is dankbaar daaroor, want dit is soos ’n buffer tussen hom en Bart. As dit ’n klein, intieme troue was, net die Brinks, byvoorbeeld, sou hy planne gemaak het om weg te gaan – maan toe, as dit nodig was. Hy glimlag skeef by die gedagte, maar weet dit is waar. Toe Jaco hom gevra het om die heildronk op sy ouers in te stel wou hy dadelik weier. Gelukkig het Jaco hom oor die selfoon gevra om op sy troue te praat en kon hy dus nie die misnoeë op sy gesig sien nie. Hy het dadelik gesê hy kan nie openbare toesprake hou nie; dit was die maklike antwoord. Jaco het hom egter met e-posse en selfoonboodskappe gebombardeer en op sy gevoel gespeel, gesê dat hy die enigste Brink is wat dit kan doen, totdat hy uiteindelik toegegee het. Dié bitter beker sou hy tot op die bodem moes ledig, ter wille van sy ma, Cecile en ook Jaco, wat geen benul het wat ’n opoffering hy van hom gevra het nie.

Jakes kan Jaco nie kwalik neem nie. Die jonger geslag Brinks weet immers nie wat alles in die verlede gebeur het nie en verstaan min van die familie-intriges. Jakes het nog nooit sy eie kind vertel van jare gelede se dinge nie en Bart sou beslis nie geheime uit daardie tyd met sy seuns gedeel het nie. Oor party goed praat mens nooit weer nie. Wat sê die Bybel van die sondes van die vadere: tot in die derde en vierde geslag. Hy wil nie daardie pad loop nie.

KOOP HIER | BUY HERE
Daar word twee moorde in een week in die Brink-familie gepleeg. Die moordenaar laat ñ boodskap by die eerste moord wat die vinger na die familie wys. Wie is dit en waarom moor hy of sy?

Ten spyte van die hitte is dit ’n mooi namiddag en hy vind tog plesier daarin om na die skoonheid van die omgewing te kyk. Die lokaal vir die onthaal hier op ’n gholflandgoed is spesiaal gebou en ingerig vir luukse huweliksfeeste soos vandag s’n. Dit staan glimmend wit te midde van grasperke en blombeddings in die gloed van die son se laaste strale. Geld kan die beste koop en die Barnards het hulle geld goed bestee, moet hy toegee. Toe die son oor die naaste rant verdwyn, lyk die gebou vir hom soos ’n Griekse tempel wat hy op die internet gesien het. Seker die suile wat die hoë dak dra. ’n Griekse tempel in Pretoria.

Solank die huwelik net nie in ’n Griekse tragedie ontaard nie.

Die skielike beweging van die gaste maak hom bewus daarvan dat die kelners die hoë dubbeldeur oopgemaak het, maar Jakes is nie haastig nie. Hy het vroeër gesien dat hy saam met sy dogter, asook sy twee susters, Babsie en Poppie aan een tafel naby die hooftafel geplaas is. Babsie se vriend en Poppie se seun sit ook by hulle. Net hulle ses.

Tydsaam baan hy sy pad na die tafel terwyl hy kyk na die mandjies vol somerblomme wat van die balke afhang. Op die tafels is orgideerangskikkings in roes en pienk op olyfgroen tafeldoeke geplaas en dit is ook die kleure van die strooimeisies se rokke.

Die bruid se pa is ’n bekende psigiater en haar ma ’n onkoloog. Renée is hulle enigste kind. Sy het in ’n bevoorregte huis grootgeword en is glo die appel van haar ouers se oog. So hoor hy by sy skoonsuster wat reken dat Renée moontlik soveel liefde gekry het dat sy dalk die onmoontlike van Jaco gaan verwag. Jakes is skepties oor sulke inligting. Hoe kan vreemdelinge ooit weet wat agter die toe deure van ander mense se huis aangaan? Die beste wat hy kan doen, is om versigtig optimisties te wees dat die huwelik sal werk. Wat hy sover van Jaco se nuwe vrou gesien het, is dat sy plat op die aarde is en sonder fieterjasies. Sy het fisioterapie gekies as loopbaan en werk hard om ’n sukses daarvan te maak. Dit hoor hy by Jaco, die verliefde bruidegom.

Toe hy by die ronde tafel naby die hooftafel kom, gaan hy dadelik sit. Die gestaan buite het sy bene nie goed gedoen nie. Die dik boomstompe wat hy vir bene het, pyn gou as hy te lank staan. As die bruidspaar tog nou net wil kom, want hy het op die koop toe ’n polsende hoofpyn van die spanning oor die toespraak wat hy moet maak. Hy sou graag nou ’n pynpil wou drink, maar hy sal moet wag vir die voorgereg. Op sy leë maag kan hy dit nie waag nie, want dan sal sy maagseer hom opkeil. Intussen bly hy ver van die drank af.

Hy vroetel in sy bosak en kyk na die papiertjie waarop hy die toespraak geskryf het. Dit was moeilik om voor te berei, al het Jaco baie spesifiek gesê dat dit kort moet wees. Die bruilofsgaste wil nie na eindelose lofredes of grappe luister nie en ’n paar woorde sal genoeg wees. Die meeste van die gaste kom van die bruid se kant af en ken nie hulle Brinks, die bruidegom se familie, nie. Jakes se plig is om iets oor Jaco se ouers te sê en daarna die heildronk in te stel.

Die opdrag is makliker gesê as gedaan. Wat kan hy van Bart sê? Goddank word daar nie van hom verwag om sy broer se lof te besing nie. Bart is bekend of berug, afhangende van met wie jy praat. Party mense dink hy is uiters suksesvol, ander dink hy is die grootste skelm op twee bene. Jakes het saam met hom grootgeword en hy weet presies wie en wat Bart is. Die probleem is dat hy dit nie kan sê nie.

Gelukkig het hy vir sy skoonsuster, Cecile, ’n baie sagte plekkie en baie respek. Daardie deel van sy toesprakie sal nie moeilik wees nie.

Sy oë rus op die vyf leë stoele om die tafel. Binne minute sal baie van sy naaste familie daar sit. Dit sal die eerste keer in ’n lang ruk wees dat soveel van hulle saam by een geleentheid is. Bart, Cecile en Jaco, die bruidegom, sit natuurlik saam met die skoonfamilie aan die hooftafel. Ma Kat ook, want sy is die bruidegom se ouma. Aan die kleiner tafeltjie waar hy nou alleen wag, sal Poppie, sy oudste suster en haar seun, Thys, elkeen ’n stoel vul. In die gewone loop van sake sien hy nie te veel van Poppie nie. Dit pas hom goed, want hy kan haar net in klein dosisse hanteer. Thys is ’n ander saak. Hy is intelligent en het ’n goeie kennis van die geldmark en die wisselkoers. Sake waaroor hulle lank kan gesels. Sy suster Babs sit ook by hulle en daaroor is hy bly. Hy en Babs het nog altyd onder een sambreel geboer en haar vriend, dokter Piérre Verwey wat by hulle sal sit, is ’n welkome toevoeging tot hulle tafel. Die laaste stoel, die een langs hom, is natuurlik bespreek vir die punt van sy hart, sy enigste ooilam, Bethany.

Hy ruik sy dogter se bekende parfuum voordat haar koel lippe ’n soen op sy kaal kop plant en langs hom inskuif. “Hulle het die plek verskriklik mooi versier, nè, Pa? Ek dink my neef Jaco kan sy ou skoene agternagooi. Dié Renée-girl kom uit ’n classy familie.”

“Dis baie mooi en in goeie smaak, Bethany,” antwoord hy. “En moenie tannie Cecile se aandeel buite rekening laat nie.” Hy sug. “Maar, asseblief, as jy eendag trou, laat almal net in gewone, ontspanne drag kom. Sommer sandale en kortbroeke.”

Sy lag. “En Pa lyk dan so grênd met die pak en die das wat ek met soveel sorg uitgesoek het!”

Hy lag half verleë saam. “Het jy reggekom met ouma Kat?”

“Ja, wat. Ons het mos gereël vir ’n helper. Ek het die rolstoel agter in ons minibus gelaai, soos ons met Ma maak, en toe was dit maklik om haar by die kerk en hier by die onthaal van die parkering af te stoot. Sonder die rolstoel sou dit gesukkel het.”

“Hoe lyk sy vanaand vir jou?”

“Bietjie deurmekaar,” antwoord Bethany bondig. “Miskien erger as gewoonlik. As daar baie mense en lawaai is, dink ek dit maak haar meer verward. Sy het nou-nou vir my gesê sy kan nie wag om met Oupa te dans nie.”

“Sy dink soms ek is Oupa omdat ek ook so lank en kaalkop is soos my pa was.”

“Hulle moet my maar doodskiet wanneer ek so funny en vergeetagtig raak. En dan is sy soms weer by en praat land en sand oor alles en nog wat. Veral die verlede. Dit kan mos nie lekker wees om so te lewe nie, Pappa? Ek bedoel, wat het sy om na uit te sien?”

“Jy weet mos wat hulle sê: As jou kop so deurmekaar is, ontmoet jy elke dag nuwe mense en eet elke dag nuwe disse. Sy lyk nie vir my desperaat ongelukkig nie. En die dokter sê sy is nog in ’n relatief vroeë stadium van die siekte.” Dit is bedoel om die erns van Bethany se woorde ligter te maak. “Die probleem is dat dit vinnig erger kan word.”

“Dankie tog dat daardie aftreeoord ook ’n versorgingseenheid het. Dis moeilik . . . ek bedoel, ons het klaar vir Ma. Ons sou nie na haar ook kon gekyk het nie. Dink Pa tannie Poppie of tannie Babs sou haar kon oppas?”

“Nee. Ek sou dit ook nie van my twee susters verwag het nie. Waar sy nou is, is die mense opgelei om met pasiënte te werk wat demensie het. En ek dink selfs hulle sukkel party dae om reg te kom met van die moeiliker pasiënte. Tannie Poppie en tannie Babs is nie een ingerig of opgelei om ouma Kat te hanteer nie.”

Dit lyk nie asof Bethany verder oor dié onderwerp wil gesels nie. “Ek weet nie hoe Paul dit oor sy hart kon kry om nie na sy broer se troue te kom nie. Al was dit net ter wille van sy ma. En tannie Cecile sou dit so waardeer het.”

Hy het heimlik simpatie met Paul, daarom voel hy ongemaklik. “Londen is ver.”

“’n Paar uur op ’n vliegtuig.” Sy wink die kelner nader en vat ’n glas sap vir haar en een vir Jakes. “Ons hou mos nie saam Kersfees soos ander families nie. Daarom dink ek hy moes die moeite gedoen het om te kom. Al het hy en sy pa issues, is dit mos nie Jaco se skuld nie. Paul het after all net een broer en hopelik trou hy net een keer.”

Jakes antwoord nie. Hy het ook net een broer. After all.

“Is Pa reg vir die ding? Die toespraak?”

“Ja, wat.” Hy wil nie laat blyk hoe hy daarteen opsien nie en sy weet hoegenaamd nie hoe moeilik die situasie vir hom is nie.

“Ek wens Mamma wou kom, net die een keer. Ek weet sy het probleme, maar ek kan nie verstaan hoekom sy nie darem net familiegeleenthede bywoon nie. As ek, soos sy, in ’n kinderhuis grootgeword het en nie eens weet wie my bloedfamilie is nie, sou ek vreeslik in my man se familie opgegaan het.”

Jakes kyk met vertedering na sy mooi dogter. As hy haar tog net in ’n glaskas kon toesluit waar niemand haar ooit kan seermaak nie. Hy lag egter net en druk haar hand. “Daardie slim kop van jou is vanaand besig met te veel goed waarvan jy nie weet nie en nie verstaan nie. Jy kan nie ouma Kat, jou ma of jou neef Paul se gedagtes lees nie, daarom help dit nie om jou te bekommer oor wat hulle doen en nie doen nie. En onthou net altyd, jou ma gaan op in haar familie: ek en jy.”

“Naand, naand!” Sy suster Poppie se stem kondig skril haar aankoms aan.

Poppie buk oor en klapsoen Bethany en Jakes wat beide nog in die proses is om orent te kom.

Thys staan agter sy ma en kom meer bedaard as sy vorentoe om hulle te groet. “Lekker om julle te sien.”

Jakes is geamuseer toe hy na sy suster kyk, maar hy onderdruk die glimlag wat reeds aan sy mondhoeke pluk. Poppie het skynbaar nog nie agtergekom dat sy oud geword het nie. Sy is twee en sestig, maar haar vel is sakkerig en vol plooie. Vanaand het sy nie goeie keuses gemaak nie en lyk sy vir hom soos ’n Kersboom in haar kort grasgroen rokkie. Sy is gebore met dieselfde roesbruin hare as wat sy ma het, maar vandat sy begin grys word het, laat sy haar hare bloedrooi kleur. Om alles te kroon hang daar twee baie blink, lang oorbelle aan haar ore wat vir Jakes soos Kersversierings lyk.

“Lyk ek vir jou mooi?” vra sy toe sy sien hy kyk na haar. “Thysie het vir my die geld gegee vir die rok, want ek het niks gehad om aan te trek nie. En jy weet Jaco se skoonfamilie is deftige mense.”

“Nee, ek sien jy het ’n nuwe rok,” antwoord Jakes diplomaties en maak asof hy nie sien hoe Bethany haar oë rol nie.

Poppie se Thys is meer soos sy pa. Sober van geaardheid. Nog ’n rede waarom hy so van hom hou.

“Het jy nie ons niggie gaan oplaai nie?” vra hy vir Poppie.

“Nee. Ek weet nie eens of Jaco vir Vicky genooi het nie, want dalk was hy bang om sy nuwe skoonfamilie te skok. Maar was sy ongeskik met my! Toe ek vra of sy genooi is, het sy gesê sy gaan lê liewer op die pad en wag vir ’n motor om oor haar te ry voordat sy na ’n funksie toe gaan waar Bart is. Dis lelik, nè? Maar ek dink sy het net nie ’n rok gehad om te dra nie. Sy sukkel maar met geld.” Sy kyk om haar rond. “Waar’s kleinsus Babsie?”

“Ek het haar in die kerk gesien, maar daarna het sy verdwyn,” antwoord Bethany.

Poppie gaan op die stoel sit. Dit blyk ’n moeilike taak te wees en die rok skuif hoog op terwyl sy haar gemaklik maak.

“Was Babs se kêrel by haar?”

Bethany glimlag. “Piérre? Ek weet nie of mens van ’n kêrel praat op hulle ouderdom nie, maar ja, ek het hom gesien. Hulle is goeie vriende en dis lekker om te sien tannie Babs het uiteindelik iemand wat vir haar omgee. Sy lyk so gelukkig deesdae.”

“Hoog tyd, sê ek vir Thys. Die arme mens was nog altyd alleen. So ’n lang vrou sukkel mos maar en ek sê altyd sy het nie gekies om so lank te wees nie. Babs en Jakes het die Brinks se lengte geërf en dis soos dit is. Ek meen, ek was net gelukkig dat ek na ma Kat se kant van die familie geslaan het.” Sy kyk Bethany op en af asof sy haar nog nie vantevore gesien het nie. “Jy is self nie juis kort nie, maar deur die genade nie so lank soos Babs nie. Seker omdat jou ma kort is, maar dan weer, ons weet niks van jou ma se familie en of daar nie ook lang mense tussen hulle was nie. Kyk nou vir Thysie. Ek is so maer soos ’n kraai, maar hy slaan na sy pa se mense, die Buyse. Hy sal maklik baie dik word as hy nie oppas nie. Ek kan sien hy kry al klaar ’n boep.”

Jakes sluk vinnig aan sy sap voordat hy haar iets toesnou. Hoe is dit dat party mense net nooit leer om ’n wag voor die mond te sit nie? Kan Poppie nie sien hoe ongemaklik haar opmerkings Bethany en Thys maak nie? Geen wonder Meisie sien nie kans om sosiaal met sy familie te verkeer nie. Weeshuiskind ofte nie, mens het nie sulke mense in jou aangetroude familie nodig nie.

Bethany se voorkop keep in ’n frons, maar voordat sy iets kan sê, vra Thys haar of sy nie iets wil drink nie. Hy roep die kelner nader en sy bestel ’n glas witwyn. Hyself bestel ’n dubbel whiskey.

Poppie se mond gaan oop, maar Babsie en haar vriend kom by die tafel aan en groet almal.

“Jammer!” Babsie kyk boetvaardig na haar broer en suster. “Piérre ken ’n hele paar van die mediese mense wat hier is en hy wou net gou groet en my aan hulle voorstel.”

“Jy lyk mooi, Babs,” sê Jakes en hy bedoel dit. Sy suster is inderdaad ’n lang vrou, maar elegant. Sy dra nie uitspattige klere soos Poppie nie, want sy hou nie daarvan om die aandag op haar te vestig nie.

“Cecile het my na haar kleremaakster toe gevat,” fluister sy vir hom toe sy langs hom gaan sit.

Jakes kry Piérre nogal jammer, want die man se stoel is tussen Babsie en Poppie en hy sal die hele aand na Poppie se gebabbel moet luister.

Die driemanorkes slaan oor na die troumars en almal staan op.

“Hier kom die bruidspaar,” sê Poppie luidkeels, asof die ander mense nie weet wat aan die gebeur is nie.

Die bruid en bruidegom kom hand aan hand deur die tafels aangestap na die hooftafel toe.

“Dankie tog. Nou sal hulle seker kos bring!” vervolg Poppie net so hard.

Jakes wens die aand om, maar dit voel asof alles teen ’n slakkegang gedoen word. Hy kyk kort-kort op sy horlosie, maar anders as gewoonlik kruip die minute verby. Uiteindelik is die hoofgereg klaar bedien en die heildronk op die bruid se ouers afgehandel. Toe die seremoniemeester aankondig dat die bruidegom se oom nou die heildronk op Bart en Cecile Brink sal instel, voel hy soos ’n renperd wat uiteindelik die hek voor hom sien oopgaan.

Hy stap met swaar treë die entjie na die hooftafel af, stel die mikrofoon met behulp van die seremoniemeester hoër en kug voordat hy begin. “Dames en here.” Hy kyk oor die see van onbekende gesigte voor hom, weg van Bart en Cecile af. “Jaco is die oudste kind van ’n samevoeging soos hierdie een waarvan ons vanaand getuies is, tussen my broer Bart Brink en Cecile, die dogter van Paul Lambrecht. Ek is gevra om Bart en Cecile aan julle voor te stel, alhoewel die meeste van julle seker reeds met hulle kennis gemaak het.” Hy haal diep asem en kyk weer oor die mense wat almal skynbaar aandagtig luister. “Cecile is ’n besigheidsvrou van formaat, soos haar pa, die bekende Paul Lambrecht was. Sy is die eienares van Katarinas, oorspronklik ’n gordynwinkel wat my ma, Katarina, begin het, maar wat later ook bekend geword het vir uitstekende binnehuisversiering. Cecile het die besigheid verskuif, uitgebrei en na nuwe hoogtes geneem. Sy is ’n vrou om mee rekening te hou en het onlangs ’n toekenning gekry as Besigheidsvrou van die Jaar in Pretoria. Haar kinders ken haar egter as ’n liefdevolle en toegewyde ma.” Hy byt op sy tande vir die moeilike deel van die toespraak. “Bart is ook ’n besigheidsman, ’n ontwikkelaar wat in meenthuise en winkelkomplekse spesialiseer. Jaco en sy broer, Paul, wat ongelukkig nie die troue kon bywoon nie, se grootouers en hulle ouers is en was dus besigheidsmense. In hulle huis het die gesprekke om rugby gedraai, afgewissel met besigheid, sê Jaco my. Daarom is dit nie vreemd dat al twee seuns hulle op een of ander manier in die besigheidswêreld begewe het nie. Die mense wat Jaco in die wêreld gebring, gevorm en grootgemaak het, is Bart en Cecile Brink en ek vra u nou om julle glasies te lig op die ouers van die bruidegom. Op Cecile en Bart!”

Meer kan hy nie lieg of toesmeer nie. Wat hy kon, het hy verswyg. Hy is natgesweet toe hy gaan sit en drink die glas sodawater voor hom op die tafel dadelik leeg. Daarna maak hy die glas sjampanje waarmee hy die heildronk ingestel het ook leeg en wink die kelner nader. Môre sal hy die gelag betaal, want alkohol werk nie goed met sy artritis nie. Nou het hy egter die verdowing nodig.

Eers heelwat later, toe die nuwe egpaar die dansbaan geopen het, Bart en die bruid se ma op die dansvloer is en Bethany by die groep jonger mense aangesluit het, stap hy na die hooftafel toe waar sy ma sit. Hy soen haar op haar wang en voel haar papiersagte vel onder sy lippe. “En hoe gaan dit met my mooiste Ma?” vra hy kamma tergend terwyl hy hoop dat sy nie so deurmekaar is soos Bethany gesê het nie.

Sy kyk hom ’n oomblik vertwyfeld aan en hy maak hom reg vir die ergste.

“Dit gaan goed met my en met jou, my kind?” vra sy.

Hy ontspan onmiddellik en gaan sit op Bart se oop stoel. “Dit gaan goed met my, veral omdat ma Kat die oudste kleinkind se troue kan bywoon.”

“Nou hoekom sal ek dit nie bywoon nie?” vra sy verbaas. Toe leun sy vertroulik oor na hom. “Hy is ’n mooi man, nè? Ons kind.”

“Hy is.”

“Ek is net jammer hy het nie met Bettie getrou nie. Ek is baie lief vir haar. Maar dit sal nie werk nie, nè?”

Cecile is terug van die dansbaan af en het die laaste opmerking gehoor. “Nee, ma Kat, Bethany is wonderlik, maar hulle is mos neef en niggie.” Sy knipoog vir Jakes. “Daar is nie ’n prys vir die een wat kan raai wie ouma Kat se witbroodjie is nie, nè?”

Jakes verander die onderwerp vinnig. “Dis ’n baie mooi troue, Cecile. En jy lyk besonder goed vanaand. Ek kan amper nie glo jy is die bruidegom se ma en nie sy ouer suster nie!”

“Toemaar, ou vleier,” lag sy en word toe ernstig. “Baie dankie dat jy ingestem het om die heildronk in te stel en dit so . . . diplomaties gedoen het.”

“Kom ons gaan dans,” sê ma Kat en begin wankelrig uit die stoel opstaan. “Dit klink my dis ’n wals.”

Jakes staan vinnig op en keer dat sy val. “Ek kan nie meer dans nie, Ma. Ek sukkel met my bene en die spatare.”

“Ja, Jakob, ek sien dit al lankal aankom dat jou gesondheid dit nie gaan hou nie. Jy werk heeltemal te lang ure.” Sy gaan weer moeisaam sit. “Ons sal die hoekwinkel moet verkoop.”

Hy en Cecile kyk vir mekaar. Dis ongelooflik hoe vinnig ma Kat se verstand van redelik helder na deurmekaar kan spring.

“Gaan Bethany haar terugvat na die aftreeoord toe?” wil Cecile weet.

“Nee. Sy kan gerus nog bietjie partytjie hou. Dis my ma en ek sal haar terugvat.” Hy kyk op sy horlosie. “Om die waarheid te sê, ek dink dis tyd vir ons om te gaan. Dit word laat en Ma moet in die bed kom.” Hy is dankbaar vir dié verskoning, maar hy het nie rekening gehou met sy ma nie.

Sy vou haar arms en stoot haar ken uit. “Ek gaan nêrens voordat ek nie van die troukoek gekry het nie. Ek wil ’n stukkie hê om onder my kopkussing te sit vannag. Dan . . . gaan ek iets droom.”

“Hulle gaan binne enkele minute die koek sny,” sê Cecile dadelik. “Hoekom sit ons ma Kat nie in die rolstoel en dan stoot ons haar nader vir die geleentheid nie?”

“Goeie plan. Daarna sal ek haar terugvat.”

“Ek sal gou kyk waar die helper van die oord is. Hy kan haar solank in die rolstoel kry.”

Hy knik. “Ek gaan gou vir Poppie en Babs sê om my ma te kom groet.”

Hy is amper by die tafel waar sy susters steeds sit, toe hy in Bart vasloop.

Bart is rooi in die gesig, ’n duidelike teken dat hy reeds te veel gedrink het en hy frons onvriendelik toe hy Jakes sien. “Kon ook maar nie een vriendelike woord oor my sê nie, nè? Net van die besigheid en my vrou se toekenning en hoe fantasties die Lambrechts is.”

“Geluk met jou seun se troue,” sê Jakes harderig, tree nader aan sy broer sodat hulle skouers amper raak en laat sak sy stem. “Ons gaan nie hier in ’n bekgeveg betrokke raak nie. Wees jy liewer dankbaar oor alles wat ek nié van jou gesê het nie, want anders het die Barnards dogter en al lankal op die vlug geslaan.”

Die ingehoue woede in sy stem moes Bart twee keer laat dink het, want hy hap na lug en wieg terug op sy hakke. Jakes gebruik die geleentheid en draai om. Hy loop hom amper vas in Babsie wat intussen nader gekom het.

“Dankie dat jy kalm gebly het, Jakes. As hy te veel gedrink het, dink hy nie wat hy doen nie en ons wil tog asseblief nie op Jaco se troue ’n onaangenaamheid hê nie,” fluister sy. Sy haak by hom in en lei hom terug na die tafel toe. “Bly net koelkop. Die Barnards is grênd mense. Die laaste ding wat ons wil hê, is dat hulle dink hulle dogter trou in ’n kommin familie in.”

“Jammer om die een te wees wat die slegte nuus vir jou gee, maar dis presies wat Renée doen.” Hy tik op sy horlosie. “Dis laat. Ek wag net dat Ma troukoek kry, dan gaan ek haar terugvat. Sal jy vir Poppie sê sodat julle haar kan groet voordat ek ry?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS