Bloedbande

Uittreksel: Bloedbande

KOOP HIER | BUY HERE
Elke huis het sy kruis. Speurder-sersant Luna Joubert van die Stellenbosch polisiediens word gestuur om die eienaardige dubbele moord op die eienaar van ’n kwekery en sy vrou te ondersoek. Die De Winters is beide met ’n skerp voorwerp aangeval, maar daar was geen teken van ‘n struweling of enige getuies om sin te maak van die voorval nie. Terwyl Luna sukkel om ’n moord sonder verdagtes of leidrade op te los, maak Mike Grant weer sy onverwagte verskyning. Hierdie keer is hy op ’n geheime sending onder die geledere van ’n plaaslike dwelmsindikaat. Ten spyte van sy nuwe voorkoms vind Luna dit onmoontlik om nie die deur oop te maak wanneer hy klop nie. Soos Mike homself in die onderwêreld ingrawe, begin Luna op tone trap om haar eie raaisel op te los. Was die De Winters wie almal dink hulle was? Weet die kinders dalk meer as wat hulle voorgee? Wat gaan aan by die studentehuis oorkant die straat? En wie is die man in die sportmotor wat so op die buitewyke van haar ondersoek beweeg? Om antwoorde te kry sal Luna die donkerte en als wat daarin skuil moet trotseer. Bloedbande is die vierdie boek in Jeanette Stals se Luna Joubert-reeks.

Sy hande is lig op die Mercedes se stuurwiel. Hy draai dit behendig een, dan ander kant toe. Die egte leer onder sy vingers voel goed. Dit bevestig hy is in beheer. Hy kan doen feitlik net wat hy lus het want hy kan dit bekostig.
Hy kyk skuinsweg na die jong man langs hom. Nog ’n rede om trots te wees. Hierdie aantreklike knaap met die bos swart hare is sy seun. Lyk ook na hom – beslis bloed van sy bloed. Nog jonk, maar goed op pad om ’n man te word. Sowat ’n jaar gelede het hy begin skeer, met ’n ordentlike skeermes. Hy masturbeer waarskynlik gereeld. Maar hy het nog baie om te leer . . .
“Een van die beginsels in ons bedryf is: Moet niemand vertrou nie.”
Die seun se oë kreukel. “Ook nie vir jou nie, Dad?”
“Die tweede beginsel: Moenie emosioneel raak oor mense nie.”
“Praat Dad nou van my en jou, of soos van ’n serious girlfriend?” Hy grinnik. “Wel, ek het nie een nie. Nog nie.”
“Mooi. Hou dit eers net so.”
“En die derde beginsel? Alles kom altyd in drieë, het jy eenkeer gesê.”
“Always watch your back.”
Die sagte dreuning van die groot masjien vul die ruimte tussen hulle. ’n Outomatiese ratkas maak dit soveel makliker, jy kan aandag gee aan meer as net bestuur. En dis duidelik die seun besef hoe gelukkig hy is om in hierdie luukse lewe te deel.
“Dad . . . Miskien moet ek liewer daar by julle in Kylemore gaan bly.”
“Nee. Dis beter hier in Stellenbosch. Dis waarvoor ek die huis gekoop het.”
Hy sal die seun nie meer lank onder sy duim kan hou nie. Hy sal moet begin goeie redes vir sy besluite gee. “Dis naby jou skool. Gerieflik ook, met alles wat jy vir my doen.”


Een

Speurder-sersant Luna Joubert kyk af na die twee mense op die teëlvloer – lyke. Ses jaar in hierdie beroep en sy het al heelwat gesien, maar nog nie soveel bloed soos hier nie.
Sy sluk die naar wat in haar keel opstoot, terug.
Kophou, Luna.
Voor haar voete lê ’n man en vrou, elk in hul eie rooi poel op die wit teëls.
Dokter Small, die forensiese patoloog, sal kom bevestig dat hulle dood is, maar dis blote formaliteit. Die lykswa word hier benodig.
Die twee mense is enkele meters van mekaar met ’n skerp voorwerp om die lewe gebring. Die vrou het kort hare wat uitpof om haar kop en gedeeltelik oor haar gesig val. Bolyf in die plas bloed, lê sy half onder die oorhang van die toonbank. Met die val daar beland, of skuiling probeer soek? Waarskynlik geval, want met so ’n wond . . . Haar liggaam is inmekaargetrek, een hand onder haar ingevou en die ander arm gestrek. Die hand is oop, palm na bo asof sy verwag iemand gaan iets vir haar gee. Maar sy sal nooit weer enigiets ontvang nie.
Luna gly haar oë oor die vrou se lyf en bene. Sy het ’n gemaklike langbroek aan met ’n los hemp bo-oor, tekkies aan die voete. Voor die aanval het sy seker tuis ontspan, was miskien met peuselwerkies besig.
Die wit tekkies is stowwerig, gronddeeltjies kleef aan die sole.
Kort tevore buite? Dalk in die tuin gewerk.
Luna neem ’n paar tree na links en kyk na die vloer agter die toonbank. Bloedspore tot by die agterdeur. Daarnaas ook grondspore, minder gedefinieer.
Waarskynlik die vrou s’n. Die huis is netjies; mens sou verwag sy sou haar voete afgevee het. Of sy het nie kans gehad nie . . .

KOOP HIER | BUY HERE
Elke huis het sy kruis. Speurder-sersant Luna Joubert van die Stellenbosch polisiediens word gestuur om die eienaardige dubbele moord op die eienaar van ’n kwekery en sy vrou te ondersoek. Die De Winters is beide met ’n skerp voorwerp aangeval, maar daar was geen teken van ‘n struweling of enige getuies om sin te maak van die voorval nie. Terwyl Luna sukkel om ’n moord sonder verdagtes of leidrade op te los, maak Mike Grant weer sy onverwagte verskyning. Hierdie keer is hy op ’n geheime sending onder die geledere van ’n plaaslike dwelmsindikaat. Ten spyte van sy nuwe voorkoms vind Luna dit onmoontlik om nie die deur oop te maak wanneer hy klop nie. Soos Mike homself in die onderwêreld ingrawe, begin Luna op tone trap om haar eie raaisel op te los. Was die De Winters wie almal dink hulle was? Weet die kinders dalk meer as wat hulle voorgee? Wat gaan aan by die studentehuis oorkant die straat? En wie is die man in die sportmotor wat so op die buitewyke van haar ondersoek beweeg? Om antwoorde te kry sal Luna die donkerte en als wat daarin skuil moet trotseer. Bloedbande is die vierdie boek in Jeanette Stals se Luna Joubert-reeks.

Die grondspore mag ook wees van die persoon wat ingekom, die moorde gepleeg, en toe met bebloede skoene van die toneel gevlug het. Luna buk om die gapende wond aan die vrou se keel van nader te bekyk. Die witterige deel waar die vel ooptrek moet die tragea wees. Sy kan haar indink hoe iemand met mening na die vrou se keel gekap het; hoe die mes deur die keel sny . . . Doelgerig, wreedaardig.
Die een wat hier aan die werk was, was woedend. Met die terugswaai van die mes het ’n streep rooi druppels oor die toonbank se ligte oppervlak en ook teen die kant af tot by die vloer gespat.
Die metaalagtige reuk van vars bloed raak te erg en Luna kom regop. Sy sou wou padgee, vars lug gaan soek. Maar sy bly, want die reuk skerp ook haar sintuie op. Sy wil begin jag maak op die geweldenaar.
Sy het grootgeword as ’n beskermde, enigste kind wat ure deurgebring het in ’n tuin met baie voëls en inheemse plante. Haar hond en kat was haar maats; hulle het gedeel in haar sprokieswêreld van dwergies, feetjies en helder kleure.
Sewe jaar gelede het sy haar verloofde in die bed betrap met haar vriendin. Sy sluit toe by die polisie aan en leer die donker kant van die mensdom ken. Meer as donker . . . ook totaal verrot. Net verlede week het sy so ’n ondersoek voltooi. ’n Jong dwelmverslaafde wat sy ouers al vir jare treiter en uitbuit, hulle omtrent in hul eie huis gyselaar gehou het. Eers toe die pa aan ’n hartaanval beswyk en die ma met ’n gebreekte arm teenoor die dokter bieg, het alles op die lappe gekom.
Luna kyk weer af na die twee lyke. Geen twyfel nie – die pienk en rooi van haar sprokies het ’n ander skynsel en betekenis gekry. Haar eie verbeelding het ’n nuwe koers ingeslaan, ook ’n snykant bygekry. En sy vertrou op hierdie verhoogde instink; as speurder is dit ’n handige stuk gereedskap in haar arsenaal.
Aan die sitkamer se kant van die toonbank lê die man op sy rug. Kuiertuinery lees die logo op sy reënbaadjie se bors. Met die eerste oogopslag sou mens kon dink hy lyk ontspanne. Maar aan sy regterhandpalm is ’n diep sny en waar sy arms by die moue uitsteek, is nog snymerke. Hy het die aanvaller probeer afweer, waarskynlik verbete terugbaklei voor die mes sy lyf binnegedring het. Die onderste deel van sy hemp en jeans is deurweek van die bloed.
Konstabel Meyer, ’n boepmaag veteraan van vlak in die vyftig, kom langs Luna staan. “Ek was net by die apteek hier naby toe die oproep kom. Was gou hier, maar niks gehelp nie. Dadelik gecheck vir ’n hartklop. Niks. Wie ook al die kerfwerk gedoen het, het nie gespeel nie.”
“That’s for sure.” Smilo, ’n jong Xhosa-vrou kom met ’n kamera in haar hand nadergeloop. Met ’n noupassende, bont langbroek en ’n top wat tot onder haar heupe reik, lyk sy soos iemand op pad na ’n gesellige aand by vriende. Maar Luna het haar leer ken as ’n uitstekende fotograaf met ’n oog vir detail.
Smilo kyk af na die vloer en toe met ’n verbouereerde laggie op na Luna. “Die rooi patroon op die wit agtergrond sal ’n fotograaf se droom wees,” sê sy in Engels. “As dit nou vir ’n kunsuitstalling was,” kwalifiseer sy gou.
“H’m. Miskien ’n fotograaf se nagmerrie, ja.”
Smilo knik. “Laat ek aan die werk kom.”
Luna staan weg, gee die vrou kans om haar kamera gereed te kry.
Watter duiwel was hier aan die werk? En het die donker mag al heeltemal padgegee? Daar het nóg iets hier in die oopplanvertrek agtergebly, meer as net die metaalagtige reuk van bloed . . .
Luna draai terug na konstabel Meyer. “Hoe laat was dit toe jy hier kom?”
“So halfdrie se kant, Sersant. Of miskien nader aan drieuur.”
Kan hy nie meer spesifiek wees nie? Boonop kyk hy ingenome na haar asof hy pas ’n deurbraak met hierdie vae inligting bewerkstellig het.
“Die persoon wat gebel het, was nog hier?”
“Twee seuns, ja. Erg geskok. Die oudste is die een wat gebel het. Sy jonger boetie het omtrent geruk soos hy bewe. ’n Groot seun, maar hy kon nie ’n woord uitkry nie. Heeltemal buite homself, die arme kind.”
Luna knik om te wys sy neem kennis van wat hy sê, maar Meyer maak nou praatjies en feite is wat sy nodig het.
Sy loop na waar Smilo begin foto’s neem. “Ek soek foto’s van alles, Smilo. Al die bloedspatsels en presies waar die lyke lê. Gebruik jou maatstok langs die rye spore daar na die agterdeur toe. En neem hierdie smeersel op die toonbank ook af.”

KOOP HIER | BUY HERE
Elke huis het sy kruis. Speurder-sersant Luna Joubert van die Stellenbosch polisiediens word gestuur om die eienaardige dubbele moord op die eienaar van ’n kwekery en sy vrou te ondersoek. Die De Winters is beide met ’n skerp voorwerp aangeval, maar daar was geen teken van ‘n struweling of enige getuies om sin te maak van die voorval nie. Terwyl Luna sukkel om ’n moord sonder verdagtes of leidrade op te los, maak Mike Grant weer sy onverwagte verskyning. Hierdie keer is hy op ’n geheime sending onder die geledere van ’n plaaslike dwelmsindikaat. Ten spyte van sy nuwe voorkoms vind Luna dit onmoontlik om nie die deur oop te maak wanneer hy klop nie. Soos Mike homself in die onderwêreld ingrawe, begin Luna op tone trap om haar eie raaisel op te los. Was die De Winters wie almal dink hulle was? Weet die kinders dalk meer as wat hulle voorgee? Wat gaan aan by die studentehuis oorkant die straat? En wie is die man in die sportmotor wat so op die buitewyke van haar ondersoek beweeg? Om antwoorde te kry sal Luna die donkerte en als wat daarin skuil moet trotseer. Bloedbande is die vierdie boek in Jeanette Stals se Luna Joubert-reeks.

Wat sou dit wees? Dis meer as druppels, maar ook nie ’n handafdruk nie. Het die moordenaar die bebloede wapen hier neergesit? Om wat te doen?
“Foto’s uit alle hoeke, Smilo, want ek twyfel of die spatdeskundige hier gaan uitkom.”
Smilo knik en Luna kyk terug na die lyke op die vloer. Stel haar opnuut oop vir wat sy sien; absorbeer daarmee saam die energie in die vertrek en probeer haar die drama indink wat afgespeel het.
Dit moes vinnig gebeur het. ’n Wasplant staan ongedeerd in ’n porseleinpotjie op die toonbank. Die droograk langs die wasbak bevat ontbytskottelgoed. Alles is op hul plek, niks is gebreek, geen meubels rondgestoot of omgekeer nie. Nêrens is enige teken van ’n worsteling nie.
Net die lyke en die baie bloed.
Die enigste ding wat wel opval, is ’n laai langs die stoof wat oopstaan; effe skeef, asof haastig oopgeruk.
Sy loop nader en kyk binne-in. ’n Eierspaan, soplepel en braaitang tussen kleiner items. Niks wat enige waarde in ’n rooftog kan hê nie. Was iemand paniekbevange op soek na iets vir selfverdediging? Of miskien ’n aanvalswapen? Miskien was hy oorhaastig om weg te kom van die toneel en wou bloot die indruk van ’n rooftog skep. Indien wel, oortuig dit glad nie.
Die agterdeur gaan oop en luitenant Johan Botha kom met ’n frons op sy gesig binne. Ligte hare staan regop bo sy voorkop en hy buk effens toe hy onder die kosyn deurgaan om by voorbaat voorsiening te maak vir sy lengte.
“Ek sien geen teken van ’n inbraak nie.”
“Ook nie van ’n gestoei hier binne nie,” beaam sy.
“Waar’s die kinders nou?” wil Botha weet.
“Die tweeling is by die bure. Die ouer seun sit buite in sy kar. Hy kon nie wag om hier uit te kom nie.”
“H’m. Niks gaan ooit weer vir hierdie familie dieselfde wees nie.” Johan se somber gesig wys dat sy kinderjare sonder ’n pa letsels gelaat het. Hy is Luna se halfbroer. Hulle het dieselfde pa en dié is weg van Johan se ma toe hy nog ’n seuntjie was. Het daarna met Luna se ma getrou. Ook Johan se ma het weer getrou, met ’n Botha, en haar seun se naam laat verander.
Synde ’n hele paar jaar jonger as Johan, het Luna niks van hierdie geskiedenis geweet nie. Albei haar ouers is nou reeds oorlede en sy het aanvanklik geskop teen die gedagte dat sy familie van Johan Botha is, maar sy het intussen soveel respek vir hom gekry, sy kan haar skaars ’n lewe sonder hom indink.
“Môre is Woensdag,” word hy weer saaklik. “Die jonger twee sal seker nie skool toe gaan nie. Mens moet al drie kinders inkry vir volledige onderhoude.”
“Ja. Ek gaan sommer nou bietjie met die twee jonges hier langsaan gesels. Ook seker maak die buurvrou het niks gehoor of gesien nie.”
“Jy moet ’n prokureur inkry vir die minderjarige kinders. Hul voogde . . .” Hy lig sy hande in ’n gebaar van “jy weet mos”.
“Net gesels, Botha. Dit sal nie ’n ondervraging wees nie.”
Johan se oë dwaal oor die woonkamer en kom onvermydelik terug na die lyke op die vloer. “Wat ’n gatslag. Nóg ’n donners onnodige moord.”
“Alle moord is onnodig.”
“H’m. Rowers wat betrap word, dink nie so nie.”
“Jy dink dit was roof?” vra sy en toe hy sy skouers ophaal: “Iets hier voel net nie vir my so nie.”
“Dan is ek nie veronderstel om hier te wees nie.”
“O, ek dog Bruwer het vir jou gesê om ’n ogie oor my te kom hou, keer dat ek droogmaak?” Haar ligte spot ten spyt, wil sy regtig weet of dit die geval is.
Johan kyk na haar en sy mond trek op ’n plooi. “Is jy nou paranoïes, of wat?”
Sy gee ’n laggie. “Was nog altyd. Net nie so dat jy dit agterkom nie.”
“Dis wat jy dink.”
Luna se selfoon lui en sy haal dit uit haar sak, kyk van wie die oproep kom.
Dis Mike en sy druk die foon dood.
Johan kyk met ’n ligte frons tussen sy oë na haar, maar hy vra nie, want hy steek nie sy neus in haar sake nie. Oomblikke later lui sy eie selfoon.
“Hallo Mike,” antwoord hy. “Goed dankie. Jy?” Hy luister ’n oomblik. “Nee, sy’s oukei, net besig met ’n lelike moordsaak. Ja, ek het haar so pas gesien. Nee, glad nie. Sy konsentreer seker net op werk, jy ken haar mos.” Hy luister weer. “Ja, ek sal haar sê. Mooi bly.”
Hy kyk op. “Mike sê hy kan jou nie in die hande kry nie. Vermy jy hom?”
Luna wys deur die vertrek. “Jy sê self ek’s besig.”
“Hy raak dalk moeg om agter jou aan te draf, Luna.”
Haar maag trek op ’n knop. “Dis honderd persent sy keuse.”
“Nee, Joubert, dis jóú keuse. Of jy hom ’n kans wil gee.”
Sy draai weg. “Ek gaan nou eers met die kinders praat.”
Johan reageer nie.
Sy gaan by die voordeur uit, trek eers haar handskoene en booties uit en sit dit in haar sak voor sy by die hek onder die sperlint deur buk na die oprit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS