Jan_Vermeulen_Asem_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: Asem – Jan Vermeulen

EEN

KOOP HIER | BUY HERE

’n Aangrypende grootwordverhaal oor verslawing, tweede kanse en wat dit beteken om jouself waarlik te vind. ’n Kragtoer van ’n boek wat nooit die leser met maklike antwoorde onderskat nie. Asem hoort op elke tiener se boekrak.

“Ek dink nie ek sal iemand kan doodmaak nie,” sê Barries. Hy sit langbeen op sy bed met sy rug teen die muur. Sy blouswart Gibson-kitaar lê dwarsoor sy bene. Hy suig aan die laaste lewe van sy slowboat en prop dan die stompie in ’n leë Red Bull-blikkie. “Maar ek gaan vir my pa genoeg rottegif ingee dat hy vir ’n paar dae sal krul van die pyn.”

“Jy’s nie ernstig nie!” Lizette se donker hare wip soos sy haar kop swaai.

Om vir haar en Floris en Theo sitplek te maak, het Barries sy rugsak van die bed afgeskop. Sy boeke, pennesakkie en kosblik het deur die lug gespat en lê nou tussen die hoop vuil klere op die vloer gestrooi.

Hy beduie na die tas wat langs die bed lê: “Kyk self, ek het die gif ingepak. Dis sy Kersgeskenk van my af.”

Lizette gryp hom aan die pols. “Barries!”

“Hy wou my nog nooit gehad het nie,” sê hy. “Wat ek nog nie weet nie, is hóékom nie. Maar glo my, ek sal hom laat praat.” Hy koggel die kitaar se hoë E-snaar met ’n plektrum. “My pa weet nie watse pyn op hom wag nie.”

Floris het die gewoonte om sy oë vinnig te knip as hy oor iets praat wat vir hom ernstig is. Dit is asof sy oë hakkel. “So, jy het besluit jy gaan tog na hom toe?”

“Net om te gaan wraak neem.”

Floris knipper sy oë heftiger. “As jy te veel gif ingooi, gaan hy dalk doodgaan.”

“Sal nie skade wees nie.”

“Was hy dan so erg?” Floris het ’n probleemvel. Puisies bult oor sy wange en voorkop.

“My pa is ’n monster.” Barries pluk ’n bondel mineurklanke uit die snare. “Monsters verander nie.” Die blou liggies van die klankversterker hopdans. “Rotte sal altyd rotte bly.”

Die luidsprekers in die hoeke van sy kamer dreun so hard dat dit voel of die klankgolwe die dun woonstelmure laat vibreer.

“Maar mense is nie rotte nie,” sê Lizette. “En jy lyk nie soos iemand wat vandag verjaar nie.”

KOOP HIER | BUY HERE
Barries Barnard haat sy pa. 
Hy dagdroom gereeld oor die dag wanneer hy wraak gaan neem.
Dit is waarvoor hy die pakkie rottegif in sy tas bêre.
Nie genoeg om sy pa dood te maak nie. Net genoeg om hom ’n paar dae lank te laat krul van die pyn.
Om hom terug te betaal vir al die kere wat hy dronk was. 
Die kere wat hy hom kleintyd geslaan het. 
Al die kere wat hulle moes trek.
En omdat hy hom en sy ma net so gelos het.
Sy pa gaan betaal vir die jare se vernedering. Hy sal betaal met pyn soos hy nog nooit in sy lewe geken het nie. Hy sal leer ’n mens spel “pyn” met ’n y soos ’n tweetandvurk.
Maar ’n wilde partytjienag en ’n onderonsie met een van die mees berugte dwelmhandelaars in Gauteng dompel Barries se lewe onverwags in chaos. Hy en sy vriende ry ’n verkeerskonstabel om, terwyl hulle onder die invloed van drank en dwelms is. Skielik lyk dit of al sy pelle en selfs sy meisie teen hom draai. En die polisie gee Barries geen ander keuse nie – as hy uit die tronk wil bly, moet hy ses weke lank op ’n plaas gaan bly, naby ’n Oos-Kaapse kusdorpie in die middel van nêrens.
By sy pa.
In ’n eenvoudige kliphuis met ’n buitetoilet sonder ’n deur, leer Barries ná twaalf jaar vir die eerste keer sy pa ken. Stadig maar seker besef hy die bottel brandewyn onder die matras is nie die enigste – of die donkerste – geheim wat sy pa wegsteek nie. 
En toe Barries een nag ’n halfverdrinkte hond red wat tussen die rotse vassit – en in die proses byna self verdrink – is dit die begin van ’n reis na heelword wat hy sukkel-sukkel moet aandurf saam met die man wat hom die heel seerste gemaak het.
’n Reis om vry te word en weer te leer asemhaal.
In hierdie aangrypende grootwordverhaal vir tieners takel die gesoute jeugboekskrywer Jan Vermeulen moeilike temas kaalvuis. Dit is ’n boeiende storie oor verslawing, tweede kanse en wat dit beteken om jouself waarlik te vind. ’n Kragtoer van ’n boek wat nooit die leser met maklike antwoorde onderskat nie. Asem hoort op elke tiener se boekrak.

Wenner van LAPA-jeugromankompetisie
Asem was die eerstepryswenner van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2015. Hier is twee van die beoordelaars se mening oor die roman:

* “’n Grinterige, uitdagende en bowenal hoopvolle jeugverhaal wat jou tot op die laaste bladsy boei. Barries se smeulende woede en selfvernietigingsdrang word net so eerlik en oortuigend soos sy pad na herstel uitgebeeld. Hierdie is ’n moet-lees-boek.” 

* “’n Interessante blik op dwelmverslawing, families en wat ’n mens eintlik uit die lewe wil hê.”

“Ja-nee.” Theo hou ’n kamma-mikrofoon na Barries toe uit. Hy is die aantrekliker een van die twee broers, ’n jaar ouer as Floris, met ’n gladde, bruingebrande gesig en steroid-bolyfspiere. “Sing liewer vir ons. Dames en here, die punk hunk van Houghton, Barries Barnard!”

Toe hy deur sy tande fluit, doen Floris en Lizette dieselfde en klap hard hande.

Barries slaan die snare met sy plathand en sing onmusikaal: “Eksamen is amper verby. Nog ’n goor jaar val in die asdrom. Nog ’n goooooor jaar dryf in die drein.

“Barries,” sê Lizette toe hy ophou sing, “jy’s nie die enigste een wie se pa nie meer by hulle bly nie. Ek ken hope ander mense wat in dieselfde bootjie as jy is. En hulle beplan nie om hulle pa’s rottegif in te gee nie.”

“Regtig?” Hy verstel aan ’n snaar. “En het hulle pa’s hulle gereeld met sy belt se buckle pak gegee toe hulle vyf jaar oud was?”

“As mens se pa dronk is, weet hy nie altyd wat hy doen nie,” sê sy.

“Dis seker so, maar het hulle pa’s ook weggeloop? Vergeet hulle pa’s ook hulle verjaardae? Nie ’n kaartjie nie. Nie ’n selfoonboodskap nie. Niks. Soos in elke jaar vir elf jaar vergeet.”

“Maar hy het dié jaar onthou,” herinner sy hom. “Hy wil hê jy moet kom kuier. Sê dit nie vir jou iets nie? Dalk voel hy sleg oor als.”

“Wel, ek val nie vir sy skielike bad feelings nie. Wanneer ek klaar is met hom, vat ek my ma se nooiensvan.”

“En wat noem ons jou dan?” wil Theo weet. “Nog Barries, of word dit Nellie?”

“Ha-ha-ha. Flou grappie.”

Lizette stoot die kitaar van Barries af en spring wydsbeen op sy skoot. “Nee, kyk, nou het ons genoeg gehad van Barries Jammerbal.”

Sy soen hom diep in die mond.

Hy stoot sy hande teen haar benerige rug onder haar T-hemp in, maar dan vlieg die kamerdeur oop. Lizette wriemel rooi in die gesig na die voetenent van die bed en trek haar klere reg sonder om op te kyk.

“Ma moet klop!” Barries waai woes met ’n kussing.

“Naand, tannie Vera,” groet Floris en Theo in tandem.

“My woonstel stink na rook,” kla sy. “En tel op jou vuil klere. Mens val oor alles hier binne. Magtag, Barries.”

Hy stamp ’n venster oop. “Dis omdat ons woonstel ’n duiwehokkie is.”

Sy ruk haar kop agteroor soos altyd wanneer sy haar vererg. “Ja, ’n ultramoderne duiwehok. Jy is ondankbaar.”

“Tannie lyk sexy soos altyd,” vlei Theo haar.

Sy druk aan haar hare en trek die pante van haar netjiese swart langbroekpakkie styf. “Ek gaan uit vanaand. Hier is vir julle pizzageld.” ’n Paar blou note beland in Barries se hand.

“Nee, Ma! Ons gaan klub toe.”

“Julle gaan altyd klub toe.”

“En ons vat die Mercedes.”

Sy verkleur. “Oor my dooie liggaam.”

“Dis my verjaardag!”

 “Maar dis my kar.”

Theo steek sy hand op. “Moenie worry nie. Ek is legal en ek het my eie wiele.”

Haar selfoon lui. Sy pluk die foon uit haar sak en antwoord terwyl sy uit die kamer loop.

“Maak toe die deur!” skel Barries agterna. Toe sy dit nie doen nie, skop hy self die deur toe. “Dis seker weer my pa wat bel. Dan maak sy altyd so.”

Theo fluit sag deur sy tande. “Jou pa is ’n fool. As ek hy was, het ek elke aand na haar toe gekom.”

Floris se oë knip-knip. “So, jou pa bel haar, maar praat nooit met jou nie?”

“Dit is net die laaste maand dat hy gereeld bel, maar dis nou ék wat nie met hóm wil praat nie. Hoekom sal ek nóú, ná al die jare, met hom praat?”

“Ons beter waai en gaan klaarmaak,” sê Theo. “Ons kry julle oor ’n uur op die hoek.”

Lizette haal haar selfoon uit. “Laai my by my huis op, maar maak dit oor ’n uur en ’n half. Ek stuur gou vir my ma ’n boodskap om my te kom haal.” Terwyl sy tik, sê sy: “Jou ma het ’n cool foon. Jy moet haar vra waar koop sy die cover met die rose op.”

Met die blonde broers uit die pad, sluit Barries sy kamerdeur en druk haar agteroor op sy bed. Hy soen eers haar fyn neus en dan soen hy haar dun lippe oop terwyl sy hande doelgerig onder haar T-hemp teen haar uitstaan-ribbebene na die sagter, voller vlees kruip. Sy knie wikkel tussen haar bene in.

“Barries, wag. Jou ma …”

Hy smoor haar beswaar met nog soene en probeer om haar jeans van haar af te skil.

Sy gryp sy hande vas en kyk in sy oë. “Het jy iets?” vra sy kortasem.

Hy sien die trek van genot diep in haar donkerbruin oë en sê: “Ek sal versigtig wees.”

“Nee!”

“Hoekom nie?”

“Is jy mal? En jou ma is anyway nog hier.”

“Later vanaand dan?”

Sy druk hom ferm weg en rol met mening onder hom uit, steek haar T-hemp in, trek haar jeans se ritssluiter toe en maak die belt vas. Haar nek is vol rooi kolle uitgeslaan. “Jy is anders die laaste tyd.”

“Hoe anders?”

“Ek weet nie. Jy is supermoedswillig, of so iets. Asof jy vir niks kan wag nie.”

“Theo kan ook nie meer vir jou wag nie. Hy soek jou ook.”

“Is dít hoekom jy so is vandag?”

“Nee, maar dit krap my as Theo dink alle meisies sal oopmaak vir hom, selfs jy en my ma.”

“Sies, Barries. Wat dink jy van my?” sê sy terwyl sy sy kamerdeur oopsluit. “Buitendien, hy’s jou pel.”

Hy stap saam met haar uit en hulle ry in die hysbak die tien vloere ondertoe.

“So, wanneer gaan jy na jou pa toe?” vra Lizette.

 “Ek weet nie presies nie. Miskien volgende week as ons klaar geskryf het. Miskien gaan ek nie eens nie. Ek sal nog sien.”

“Ek sal jou mis.”

Hy druk haar vas en soen haar terwyl sy hande briekloos baljaar.

“Los net die gif hier,” sê sy so tussendeur.

Buite die woonstelblok wag hy by haar op die sypaadjie tot haar ma se rooi Volvo geluidloos tussen die rumoer van toeters en uitlaatstelsels uitgly en by hulle stilhou. Die ruite is donker sodat hy niemand in die kar kan sien nie, maar hy wuif nogtans. Die motor sluk Lizette in en verdwyn weer in die verkeer.

Terug in die hysbak stuur hy vir haar ’n WhatsApp: Luv u 4ever.

In die woonstel kry hy sy ma waar sy haar nat hare voor die spieëltafel droogblaas. Die kamer ruik na badsout en lyfroom.

Hy gaan sit agter haar op haar bed en kyk na haar in die spieël.

Is sy kwaad of is sy hartseer? wonder hy. Haar oë kan niks wegsteek nie, maar hy kan ook nie altyd verstaan wat hy in hulle sien nie. Partykeer lyk dit of sy wil huil as sy na hom kyk. Partykeer lyk dit of sy hom enige oomblik gaan klap.

Sy draai en draai haar lokke met die borsels en blaas met die haardroër.

“Wanneer gaan jy ophou met jou daggarokery?” vra sy onverwags toe die haardroër stil word.

“Het Ma enige gebreekte bottelnekke gesien? Is my vingers vol geel vlekke?”

“Daar’s niks met my neus verkeerd nie.”

“Ma het Theo se rum and maple geruik.”

“Strooi, man.” Sy wring haar hare met ’n borsel en begin weer blaas.

“Sal Ma ooit met iemand baie jonger vry?” vra hy bo die lawaai van die haardroër. “Soos met Theo.”

Sy blóós. “Ek moet erken, hy lyk soos Barbie se Ken, maar ek speel nie meer pop nie.” Terwyl sy na hom in die spieël kyk, hou sy die haardroër gerig op ’n dik string hare in ’n borsel. “As julle móét klubs toe vanaand, probeer om nie te rook nie.”

“Almal doen dit om happy te voel, Ma. En dagga is anyway nou legal. Daar’s niks daarmee fout as jy dit reg gebruik nie.”

“Niks fout daarmee nie? Barries, wanneer laas kon jy ’n goeie langafstand doen?”

“Asof ek kan help dat ek asma kry.”

“Asma?” Haar wange vat vlam. “Jy het so min asma as wat ek swanger is.”

“En die krampe in my bene –”

“Is alles simptome van jou daggarokery,” voltooi sy die sin vir hom. “Ek sweer jy gebruik nooit meer die trappe nie, want jou longe is al opgebrand.”

“Tien verdiepings!”

Die haardroër vlieg eenkant toe, die borsels bly in haar swart lokke hang. “En jou krieket? Hoekom is jy uit die eerste span gegooi?” Sy maak haar Indiese juwelekissie oop, maar haar hande bewe so dat sy die glimmende juwele laat uitspat.

Die langhaarman wat hulle uit die foto op die rakkie langs die spieëlkas dophou, glimlag asof hy die gesprek geniet.

“En ek sidder as ek aan jou rapport dink.”

“Ma gaan altyd aan oor niks en dis regtig irriterend.”

Sy kyk lank na hom in die spieël voor sy sê: “Jy klink nou nes jou pa. Asof ek die een met die probleem is.”

“Moenie my met hom vergelyk nie!” Hy klap die foto van die rakkie af en storm op die balkon uit.

Houghton se stadsliggies golf soos ’n gloeiende oseaan voor hom uit. Hy gaan staan teen die balkonmuurtjie en hang oor die reling. Tien verdiepings laer lok die bodem van ’n afgrond.

Is daar ’n God? wonder hy. Sal Hy my laat vlieg as ek oor die balkon spring? Sal Hy kom as ek roep?

Hy hang ’n paar minute lank so oor die balkon tot ’n geritsel langs hom hom laat skrik. “Nelson!” Sy African Grey wat in ’n draadhok hier in ’n donker hoekie sit, skud sy vere reg. “Flippit, Nelson, ek het vergeet van jou. Ek wou jou vanmiddag invat, ek sweer.”

“Barries?” Sy ma staan agter hom op die balkon. Haar swart hare is golwend droog. Hy ruik haar parfuum. Sy het ’n wynrooi aandrok met ’n lae hals aan, en ’n oormaat goue juwele. “Barries, jy sal nie kop uittrek nie, nè? Jy sal nog na hom toe gaan?”

Hy leun terug teen die balkonmuurtjie. “As ek gaan, sal dit net vir ’n paar dae wees, want ek haat hom. As ek daardie man vanaand in die hande kon kry … ek sweer ek sal al sy ribbes tot in sy longe inskop.”

“Jy kan nie met so ’n gesindheid gaan nie. Magtag, Barries.”

“Dan bly ek net hier.”

“Nee.”

“Ma praat van my gesindheid. Wat van syne? Die bliksem het my met sy belt stukkend geslaan, al het Ma ’n interdik teen hom gehad. Of jok Ma vir my oor die interdik?”

“Nee, natuurlik jok ek nie. Ek het maar net … ek was partykeer jammer vir hom. Daarom het ek hom nie … ek het hom nie elke keer aangegee as hy sy hand vir jou gelig het nie.”

Barries sak af teen die balkonmuurtjie tot op die koue sementvloer. “Praat Ma sleg van my by hom? Ek bedoel, weet hy dat ek partykeer dagga rook? Vertel Ma vir hom van die moeilikheid by die skool? En weet hy ek speel lead-kitaar?”

“Die meeste daarvan.”

“Ek het altyd vir hom kaartjies gemaak. Ma hét dit vir hom gepos, nè?”

“Natuurlik. Dalk het hy dit nie gekry nie. Dit kon in die pos weggeraak het.”

“Come on, Ma.” Hy staan op van die balkonvloer en lig Nelson se hok van die haak af.

Sy raak aan sy arm. “Ek voel onrustig oor vanaand. Ek wil nie hê jy moet saam met Theo-hulle gaan nie. Daai twee broers is ’n slegte invloed op jou.”

“Ma sal moet aanvaar hulle is my beste vriende. Oom Charles is ’n prokureur en die tannie ’n dokter. Wat kan dan so verkeerd met hulle wees?”

Sy hou hom sterker aan sy arm. “Probeer jy moedswillig wees? Probeer jy my straf?”

Hy ruk los, hang Nelson se hok binne en gaan stort.

Toe hy voor die spieël in sy kamer afdroog, kyk hy homself in die oë. Hulle is grysblou, soos sy ma s’n. Hy’t haar donker hare, hoewel syne glad teen sy kop geskeer is. Hy het haar maer gesig. Selfs haar atletiese lyf, net growwer en sterker. Nie so gespierd soos Theo nie, maar darem nie te sleg nie.

Op ’n rak agter hom sien hy sy skaakbekertjies. Teen die muur hang ’n hele paar Man of the Match-toekennings vir krieket en ’n handvol medaljes vir atletiek, meestal vir landloop en padwedlope. Hy besproei sy lyf met 24/7, klim in sy Levi-jeans en trek ’n stywe T-hemp en sy Pumaskoene aan. Dan gaan fluister hy teen Nelson se hok: “Ek wens ek het jou vlerke gehad, maar ek is bly ek sit nie soos jy in ’n hok nie.”

“Magtag, Barries,” antwoord Nelson. “Magtag, Barries.”

“Jy skeep hom af,” sê sy ma agter hom.

“Ma weet ek wou eerder ’n hond gehad het.”

“En jy weet ons mag nie honde in die woonstel aanhou nie. Nie eens kleintjies nie.”

“Ek moet nou gly. Geniet Ma se aand, met wie ook al.”

“Barries!” Sy tree voor hom in. “Ek weet nie hoe lank ek nog sal kan uithou met al my stres oor jou nie.”

“Wat is dit tog nou weer?”

“Ek is ernstig, iemand sal my moet help dat ek jou kan help. Hoor jy my?”

“Moenie so aangaan nie!”

“Probeer vanaand nugter huis toe kom sodat ons verder kan praat.”

“Ek sal probeer. Baai.” Hy stoot haar opsy en dan verkas hy, sonder ’n druk of ’n soen soos hy weet sy graag sou wou hê.

In die besige straat koop hy by die kosstalletjie ’n bultende sakkie daggakoppies. By die apteek koop hy ’n pakkie kondome, Chlorettes en soet suiglekkers.

In die hoek sit ’n Kersvader langs ’n plastiekboom vol flikkerende liggies en hou hom dop. Hy hou die pakkie kondome so dat die Kersvader kan sien. “Kon mens die goed in Oom-hulle se tyd ook koop?”

Die man gluur hom stil aan.

“Gaan huis toe, Oom. Dis nog nie eens Desember nie. Gaan speel met jou kinders.”

Toe hy op die sypaadjie uitstap, hou Theo se lemmetjiegroen Opel Kadett langs hom stil. Hy duik agter in, reg in Lizette se arms. Sy het ’n kort denimrompie en swart sykouse aan met swart stewels wat tot by haar knieë reik.

“Styf sit,” sê Theo oor sy skouer. “Ons gaan tel ons meisies ook op.” Floris sit langs hom. Sy gesig is met onderlaag beplak om die pers puisies te probeer kamoefleer.

Barries fluister in Lizette se oor: “Ek het Ultra Thins gaan koop.” Hy tik op die boksie in sy sak. “Theo sê mens kom nie eens agter dat jy dit aanhet nie.” Hy soen haar nek en sleutelbeen terwyl die Kadett deur die aandverkeer vleg. “Vanaand doen ons dit, nè?” fluister hy, sy hand hoog tussen haar gladde dye. Hy voel haar broeiende hitte. “Jy kan my regtig gelukkig maak vanaand.”

“En wat sal jou gelukkig maak?” Sy haal die pakkie kondome uit sy sak. “Dít?”

Hy herkou aan haar vraag. Wat sal hom gelukkig maak? Wanneer Paul Barnard krul en sweet van onophoudelike pyn, soos ’n mishandelde donkie in die nag soebat wanneer hy om vergifnis smeek. Wanneer hy vir daai man in sy gesig kan sê: “Chill, jy is van nou af niks meer van my nie. Jy was nog nooit.”

Dan sal hy kan huis toe kom en aangaan met sy lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS