Zelda_Bezuidenhout_As_Mens_Geluk_Kon_Proe_Uittreksel_Excerpt

Uittreksel: As mens geluk kon proe – Zelda Bezuidenhout

Aptyt

KOOP HIER | BUY HERE
NAASWENNER VAN LAPA SE JEUGROMANKOMPETISIE 2017!

Soms is geluk soos ’n vergete peperment in jou skoolbaadjiesak.

Toe Arnelia en haar ma van Kaapstad na Potchefstroom verhuis, besluit sy dit is die ideale geleentheid om die draaiboek van haar lewe te herskryf. ’n Nuwe dorp en ’n nuwe skool is die perfekte geleentheid om haarself te heront-werp. ’n Nuwe blaadjie om te slaan. Operasie Nuwe Arnelia. Oprah sal trots wees.

Ongelukkig loop haar planne sommer uit die staanspoor skeef toe sy by die skool se entrepreneursdag pens en pootjies neerslaan met arms vol kos. Boonop is daar ’n groepie meisies wat duidelik vasbeslote is om die lewe vir haar moeilik te maak.

Dankie tog vir nuwe vriende soos Dineo en Ilana wat die daaglikse dramas van haar lewe ietwat draagliker maak.

En dan is daar Dewald. Die donkerkop-boerseun met die skewe glimlag wat weet hoe om crêpes suzette, tiramisu en uiekonfyt te maak. Hy laat Arnelia se hart vreemde dinge doen, al weet sy hy sal nie twee keer na ’n meisie soos sy kyk nie. 

Toe Dewald se lewe egter onverwags op sy kop gekeer word, gryp Arnelia en haar vriende in. Danksy ’n ou goudgeel kombi, ’n winkelpop genaamd Saartjie en ’n klomp fantastiese resepte begin hulle ’n mobiele snoepie by die skool. Die Snoeperheroes het die skool op hol met allerlei opwindende pousekos en prettige idees.

Maar toe Arnelia uit die bloute ’n groot rol in die skool se produksie van Hairspray losslaan, word haar nuwe vriendskappe tot die uiterste beproef, en sy word gedwing om haar moeilike verhouding met haar pa reguit in die oë te kyk …

’n Heerlike tienerverhaal propvol humor en deernis, wat bewys dat geluk dikwels in die klein dingetjies skuil.

Dit het so vinnig gebeur, dat ek ná die tyd min daarvan kon onthou. Daar was die reuk van Cobra-vloerpolitoer, die skielike meegee van die aarde onder my voete. ’n Bord, ’n glas, ’n skinkbord, kos en koeldrank het in stadige aksie deur die lug getrek en (so het dit vir my gelyk) ’n sekonde of twee botstil tussen hemel en aarde gehang … voordat dit met ’n hengse gekletter die grillerige teëlvloer van die eetsaal getref het.

Later het Dineo vir my vertel dat dit soos ’n baie morsige Picasso-kunswerk gelyk het – die hartseer hompe macaroni- en-kaas, blertse tamatiesous en verdwaalde stukkies slaai wat soos join-the-dots in die pappery ronddryf. Dineo se ma is ’n kunskurator in die stad. ’n Kunskurator, sover ek kan aflei, is iemand wat ’n hele verhaal in een rooi spatsel op ’n skilderdoek kan lees, en daai rooi spatsel dan ten duurste aan iemand kan verkoop wat reeds soortgelyke groen en pers spatsels het wat in hulle huis hang.

Wat ek wél ontstellend goed kan onthou, is die wrede simfonie van minstens eenhonderd stemme – meisies én seuns – wat binne sekondes oorgeskakel het van gedempte giggels na volskaalse piepie-my-natskaterlag. Ek onthou ook die warm gloed wat soos kits-masels op my wange uitgeslaan het. En hoe my oksels begin jeuk het van pure verleentheid.

Niks vermaak ’n onvolwasse gehoor soos iemand wat soos ’n os neerslaan nie. Veral as daai iemand ’n nuwe meisie is wat actually ’n bietjie soos ’n os lýk.

“Actually is nie ’n Afrikaanse woord nie, Nolla,” sê my ma terwyl ek later die dag vir haar die skouspel met my kenmerkend dramatiese flair beskryf.

Soms wens ek sy kan net vir vyf minute nie ’n taalpuris wees nie. Net ’n ma wat simpatiek luister na haar enigste dogter se verslag oor die slegste dag van haar kort lewe. Maar dis seker te veel gevra. Die twee diep kepe tussen haar oë is ’n teken dat sy besig is om breinratte te verwissel en regmaak vir een van haar preke.

“Jy’s oukei, Nolla,” troos Ma terwyl sy Ina Paarman se laekalorie-slaaisous oor die tuna gooi. “Jy is méér as oukei.”

KOOP HIER | BUY HERE
NAASWENNER VAN LAPA SE JEUGROMANKOMPETISIE 2017!

Soms is geluk soos ’n vergete peperment in jou skoolbaadjiesak.

Toe Arnelia en haar ma van Kaapstad na Potchefstroom verhuis, besluit sy dit is die ideale geleentheid om die draaiboek van haar lewe te herskryf. ’n Nuwe dorp en ’n nuwe skool is die perfekte geleentheid om haarself te heront-werp. ’n Nuwe blaadjie om te slaan. Operasie Nuwe Arnelia. Oprah sal trots wees.

Ongelukkig loop haar planne sommer uit die staanspoor skeef toe sy by die skool se entrepreneursdag pens en pootjies neerslaan met arms vol kos. Boonop is daar ’n groepie meisies wat duidelik vasbeslote is om die lewe vir haar moeilik te maak.

Dankie tog vir nuwe vriende soos Dineo en Ilana wat die daaglikse dramas van haar lewe ietwat draagliker maak.

En dan is daar Dewald. Die donkerkop-boerseun met die skewe glimlag wat weet hoe om crêpes suzette, tiramisu en uiekonfyt te maak. Hy laat Arnelia se hart vreemde dinge doen, al weet sy hy sal nie twee keer na ’n meisie soos sy kyk nie. 

Toe Dewald se lewe egter onverwags op sy kop gekeer word, gryp Arnelia en haar vriende in. Danksy ’n ou goudgeel kombi, ’n winkelpop genaamd Saartjie en ’n klomp fantastiese resepte begin hulle ’n mobiele snoepie by die skool. Die Snoeperheroes het die skool op hol met allerlei opwindende pousekos en prettige idees.

Maar toe Arnelia uit die bloute ’n groot rol in die skool se produksie van Hairspray losslaan, word haar nuwe vriendskappe tot die uiterste beproef, en sy word gedwing om haar moeilike verhouding met haar pa reguit in die oë te kyk …

’n Heerlike tienerverhaal propvol humor en deernis, wat bewys dat geluk dikwels in die klein dingetjies skuil.

Ek staar mistroostig na die grein van ons ou kombuistafel – deurgeskrop en deel van my grootwordjare soos Maltabellapap en die Comedy Channel. Dis juis die ding, dink ek. My ma wéét nie. Ek kry dit al vir vyftien jaar reg om haar te flous. Ek is nié oukei nie. Ek is so ver van oukei af, dat Oukei netsowel ’n ander planeet kon wees. Die Planeet Oukei. Waar die cool mense bly.

“Oukei is nie ’n Afrikaanse woord nie, Ma,” mompel ek droogweg.

“Wel, daar is jy verkeerd, Nolla,” sê my ma amper triomfantlik. “Die woord is ’n paar jaar gelede amptelik by ons Afrikaanse leksikon ingelyf. Dit is darem wonderlik dat ’n taal so ’n léwende ding is.”

Ma is nou op dreef. Sy swaai die houtlepel soos ’n septer rond terwyl sy die wonder van Afrikaans besing. Stukkies vis spat die wêreld vol.

Ek hou nie van tuna nie en ek wens sy wil my nie “Nolla” noem nie. My naam is Arnelia, ’n hibriednaam afgelei van Arnold en Cornelia, my oupa en ouma Van Zyl se name. Wie doen so iets? vra ek jou. Wie flans name saam soos wat ander mense toebroodjies maak? ’n Bietjie van dit, ’n bietjie van dat. Verdien ek nie my eie, soliede, alleenstaande naam nie? Kon ek nie maar die eerste Anna of Sylvia in die familie gewees het nie?

Nee, ek moes Arnelia wees. Sodat hulle my nooit “Arnelia” kon noem nie, maar “Nolla”. Die naam van iemand wat vyftig jaar ouer is as ek en êrens op ’n klein dorpie winkelrakke pak. Of dalk die troetelnaam van ’n liggaamsdeel waaroor mens net fluister.

Ek stoot my vurk lusteloos in die gryspienk vis rond. My hele wese wil witbrood met appelkooskonfyt hê. Die goeie soort met regte appelkose in, afgesluk met ’n sjokolade-Steri Stumpie. Veral omdat vandag se middagete saam met my waardigheid op die eetsaalvloer beland het.

Ek moes gewéét het niks sou verander net omdat ek en Ma na ’n ander provinsie getrek het nie. Drie dae by die nuwe skool en almal op Potchefstroom weet reeds dat ek ’n loser is. You can run, but you can’t hide.


In ons vodde ou Honda wat skaars by die treklorrie kon byhou op pad na ons “nuwe lewe” in die noorde, het ek en Ma desperaat aan die droom bly klou. Kliphard saam met Cheap Trick gesing: “Mama’s alright, Daddy’s alright, they just seem a little weird”, terwyl ons nek-are soos rocksterre s’n gebult het en ons om die beurt slukke uit die groen Stanley-fles geneem het. Padkoskoffie met kondensmelk. “The breakfast of champions,” het Pa altyd gesê toe hy nog deel van ons lewe was.

Iewers tussen Springfontein en Bloemfontein het ek besluit om die draaiboek van my lewe te herskryf. Ja, dis iets wat mens kan doen.

Ek was eendag onder die spaarkamerbed besig om skelm Milo net so droog uit die blik te eet, toe Ma en ’n tranerige tannie Leina van langsaan ingekom het. Hulle het die deur toegemaak en op die bed kom sit, min wetend dat ek met my skurwe Milo-tong ’n paar sentimeter onder hulle boude aan’t asem ophou en ore spits was. Ek moes die hele treurmare van tannie Leina se jongste liefdesteleurstelling aanhoor. Maar iets het my daai middag vreeslik beïndruk; hoe dapper sy aan die einde van haar ontboeseming gesnik het: “Ek gaan die draaiboek van my lewe herskryf, Lente. Nes Oprah sê mens kan. Dis nog nie te laat nie!”

Miskien het dit Ma ook beïndruk, want skaars drie maande later was ons op pad na die openingstoneel van ons eie splinternuwe fliek. Of dalk is “sirkus” ’n beter woord. As ek reg getel het, sou Potchefstroom die sesde dorp wees waarheen ons sou trek in my bietjie meer as nege jaar op skool. Maak self die som.

Nadat ons by Springfontein se padstalletjie gestop het en Ma ’n hele klomp vetplantsteggies by die eienaar gebedel het (dorre aarde, sluk my in – ons nuwe woonstel het dan nie eens ’n tuin nie), het ek my notaboek uitgehaal en my meesterplan begin uitwerk, sommerso op my knieë in die skommelende ou Honda.

Operasie Nuwe Arnelia

Arnelia: Die Make-over

Arnelia: Take Two

Met my oë op skrefies om die laatmiddagson te probeer filtreer, het ’n nuwe Arnelia van Zyl in my kop begin vorm aanneem. Arnelia: ’n jong vrou met ’n duistere verlede. ’n Eksotiese Kaapse meisie met wilde rooi hare, wat in die middel van die termyn by ’n skool in Noordwes aankom. Wat sou die rede hiervoor wees? Is sy dalk ’n vlugteling? Deel van ’n kriminele hervestigingsprogram? Die liefdeskind van twee bekendes? Natúúrlik is sy ’n bietjie mollig. Sy moes gewig aansit vir haar rol in ’n fliek oor bulimie. In die fliek speel Jennifer Aniston haar ma. Maar eintlik mag sy nie daaroor praat nie. Bekendes bewaar hulle privaatheid soos goud.

Teen die tyd dat ons deur Kroonvaal se tolhekke gery het, het ek ’n nuwe, opwindende persona vir myself uitgedink. ’n Nuwe draaiboek begin skryf, nes Oprah gesê het mens kan.


Die eerste paar dae by die nuwe skool was nie te sleg nie. Ek het dadelik al die spelers herken. As mens so baie rondtrek soos ons, raak jy later goed gekonfyt daarmee. Die kinders in my klas kon netsowel etikette gedra het wat sê: “Prinses”, “Jock” of “Emo”.

Hier en daar was iemand wat ek nie in my liasseerstelsel kon bêre nie. Soos Dewald Fourie.

Ek het hom onmiddellik raakgesien, omdat hy die soort cool is wat net iemand kan wees wat eenhonderd persent oorspronklik is. Mense wat nie probéér om iets te wees nie, maar sommer net is wie hulle is.

Ek kan jou byvoorbeeld waarborg Dewald se naam is nie opgemaak uit ander name nie. Dewald is nié die seun van Deborah en Oswald nie. Hy is lank en donker en stil, met ’n skewe glimlag wat lyk asof hy dit nie eintlik gebruik nie, maar net toets. Asof hy dit by James Franco geleen het vir die dag en nog nie presies weet hoe dit werk nie.

Hy is natuurlik ook die soort ou wat nooit twee keer na ’n gemmerpokkel sonder sosiale vaardighede sal kyk nie. Want hy woon in Dewaldistan, een van die coolste plekke op Planeet Oukei.

Ek dink die ander kinders het aanvanklik gedink ek is nogal interessant. Ek was ten minste ’n vars briesie in die vaal klaskamerlandskap: ’n ronderige melkwit rooikop met ’n naam wat soos ’n medisinale salf klink.

Ek het my selfs verbeel ek sien hoe Dewald geamuseerd glimlag toe ek die tweede dag per ongeluk my “pennesakkie” in die wiskundeklas oopmaak.

Soos almal, het ek ’n pennesakkie vir penne en passers en uitveërs. Maar ek het ook ’n identiese sakkie vir eetgoed. ’n Meisie raak honger. En ek het lae bloedsuiker.

Hier gaan ek ’n nuwe blaadjie kan omslaan, het ek gedink. Niemand op hierdie dorp weet van die liefdesbrief wat ek aan myself geskryf het en wat per ongeluk op my vorige skool se iCloud beland het nie. Of van Ma se simpel tradisionele Van Zyl-familieresep – Cream Cracker-koekies – wat nooit op enige skoolbasaar verkoop nie. Niemand hier weet dat ek eintlik ’n loser is nie.

Ongelukkig het alles gister verander.

Gister het ’n oudleerder, die suksesvolle eienaar van ’n onthaalmaatskappy, met die graadtiens kom gesels oor entrepreneurskap. Aan die einde van haar praatjie het sy vir ons ’n verrassing gehad: ’n lekker tienerbuffet in die koshuis se eetsaal, kompleet met Marvel Comicsservette, oulike jong kelners met superhero-mantels, en gunstelinge soos pizza, mac-en-kaas, piepklein burgers … selfs brownies vir poeding.

Ma sê altyd geld laat goeie mense se koppe uithaak. Sy het honderde stories om dit te staaf. Wel, ek dink kos laat mý kop uithaak. Tot gister kon ek dit redelik goed regkry om presies die regte hoeveelheid misterie rondom my te skep.

Op die eerste dag het ek vriende gemaak met Dineo en Ilana. Hulle het baie vrae gevra. Op die vraag oor waar ek vandaan kom, het ek geantwoord: “Ag, hier en daar. Ek beweeg baie rond.” Dineo en Ilana het met geligte wenkbroue na mekaar gekyk.

Dit is belangrik om altyd in die enkelvoud na jouself te verwys. Toe ék in Kaapstad gewoon het … ék eet gereeld sushi vir aandete. Sodra jy “ons” sê, sien almal jou as deel van ’n vervelige, voorstedelike prentjie. Mamma, Pappa, Sussie en Boetie.

Ek moet myself krediet gee: Die eerste drie dae by die skool het ek inderdaad ’n nuwe draaiboek vol moontlikhede vir myself geskryf.

Ek het my later verbeel almal kyk onderlangs na my met ’n mengsel van nuuskierigheid, afwagting en selfs ’n tikkie bewondering. Ek was Arnelia van Zyl, gesofistikeerde wêreldburger.

Dit was vóór Entrepreneursdag. Of soos ek verkies om daaraan te dink, “Die einde van Die Eerste Toneel”. Byklank: dramatiese orrelmusiek.

Want dit was die dag toe ek die gedekte superherotafels van Cool & Catchy Catering in die eetsaal gesien het. Tafels wat gekreun het onder alles wat vir my onweerstaanbaar is. Dit was asof my nuwe persona se batterye nét daar afgeloop het. Dit is toe die misterieuse, volronde rooikop, Arnelia van Zyl, plek gemaak het vir Honger Neelsie, een van die minder gawe byname wat ek oor die jare verdien het.

Honger Neelsie het onmiddellik op die macaronien- kaas se goudbruin kors gefikseer. Skottels en skottels daarvan. Die melkskommels met sjokoladeskaafsels en blinkrooi kersies. Die drie soorte sliders met tuisgemaakte burgerfrikkadelle. Brownies wat oopbars van neute en pure lipleklekkerte.

Honger Neelsie het geduik om eerste by die borde uit te kom. Mens kan maar sê ek het binne sekondes wêreldburger verruil vir hamburger. Mét al die trimmings.

Eers nadat ek my skinkbord hoog gestapel het met minstens twee van alles, het ek besef dat ’n hele paar verbaasde gesigte my aankyk asof ek van Planeet Nieoukei kom. En dis min of meer dieselfde oomblik wat matrone Deetlefs se blinkgepoleerde vloer my splinternuwe skoolskoene gewys het wie’s baas. Een voet het gegly, toe die ander een. Eers toe ek soos ’n patetiese blou blop in die middel van die morsige kos-Picasso lê, het ek besef my lewe is verby.


Nou is dit Vrydag. Die dag nadat Arnelia van Zyl vir altyd in Honger Neelsie verander het. Moontlik het ek nou ’n splinternuwe bynaam. Vreetzilla. Of dalk Sliderwoman. Ma het nie vanoggend verstaan dat dit vir my onmoontlik is om vandag skool toe te gaan nie. Sy het eenvoudig my kosblik met die gewone ses Provitas en ’n appel gepak, my ’n drukkie gegee en gesê: “Vandag gaan beter wees, Nolla. Jy sal sien.”

Yeah, right.

Ek stap met swaar skuifelvoete van die kar tot by die skoolhek terwyl ek stip na my blinknuwe skoolskoene staar. Die skoene wat my gister so lelik gedrop het – letterlik. Ek durf nie opkyk nie. Elke smalende gesig sal my aan gister se fiasko herinner.

Net voordat ek by die hek indraai, loop ek amper in ’n stowwerige paar seunskoene vas. Die een skoen staan nonchalant met ’n negentiggrade-hoek teenoor die ander een.

“Jammer,” mompel ek en kyk verleë op, al langs die lang lyf op tot by die gesig onder die welige swart krullekuif. Die skoene, die lyf, die gesig … alles behoort aan Dewald Fourie. Ek sien dat hy tog besluit het om James Franco se glimlag vir homself te vat. Hy stal dit nou skamerig uit saam met ’n ry perfekte wit tande.

Dewald se oë doen ’n klein vonkeldansie. “Dankie vir gister se vertoning,” sê hy. “Dit is nogal cool om ’n meisie te ontmoet wat actually eet.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS