As_jy_van_moord_droom

Uittreksel: As jy van moord droom

Twee vroue voor middernag

KOOP HIER | BUY HERE
Auth unexpected return: Unauthorized

Dis ’n donker en stormagtige nag toe die voordeurklokkie se geskrei die stilte versplinter. Op hierdie oomblik het sy twintig jaar gewag, maar die geluid laat Erin nogtans wip. Die muurhorlosie wys skuins voor middernag toe haar lewe wéér deur haar vingers glip en aan skerwe spat.

Die gangmure haal asem; die huis swel en trek saam soos ’n ribbekas. Die verweerde gangmatjie skuif in stadige aksie onder haar voete verby. Die horlosie se rukkerige sekondewyser het vasgevries.

Die nat wind loei om die hoeke van die huis en druk die twee ongenooide gaste min of meer by die voordeur in, ongepoets. ’n Kiertsregop ouer vrou en ’n verslonste, jonger vrou, ernstig oorgewig en kop onderstebo, kaalvoet.

Die ouer vrou is Albertina January. Haar gesig het sy seker vyftien jaar laas gesien.

Die gesette jonger vrou hou ’n verslete leersak vas. Haar hare lyk verslaap. Haar breë gesig is onleesbaar, asof daar niemand tuis is agter die amandelvormige oë nie. Daar is ’n skeur in haar rok. Winkelhaak, dink Erin.

Die koekoekhorlosie slaan twaalfuur.

Besonderhede verdring die geheel. ’n Beeld uit ’n stokou nagmerrie wil-wil vorm aanneem, maar dan los die pixels op. ’n Lang, yskoue nael gly oor haar ruggraat.

“Mevrou De Ridder, Erin. Jammer vir die laat uur. Jy onthou my seker van destyds, Albertina January. Ek kom in my private hoedanigheid. Dis ’n sensitiewe saak; ek kan my werk verloor.”

Erin kyk soos deur ’n verkyker. Sy sien die besorgde bruin oë, die groot moesie. Die jare was nie genadig nie. Sweet op Albertina se voorkop. Hoekom pêrel sweet? Hoekom nie ryskorrel nie?

Sy weet wat kom, want sy het al in hierdie presiese oomblik gestaan, in drome. As ek die tyd presies hier kon vries, hoef die volgende oomblik en al die oomblikke daarna nie te gebeur nie, dink sy. Maar dis heeltemal te laat. As sy die tyd kon vries, moes sy dit jare gelede al gedoen het.

In hierdie oomblik beduie Albertina na die bedremmelde jonger vrou.

“Hulle het haar op ’n moordtoneel aangetref. Eergister. Wel, nie op die toneel nie, op die perseel. Ek wil nie te veel besonderhede gee nie, maar dis ’n Chinese gang leader, drug lord, wat tereggestel is, in sy sitkamer in Milnerton. Ons het haar in die buitekamer gekry; sy is daar aangehou, wil dit lyk. Ek het gister met haar gesit, heeldag, maar sy praat nie, sy rook net.

“Nou, laat ek met die deur in die huis val. Ek het jou mos daardie tyd gesê ek is een van die klein persentasie mense op aarde wat nooit, ooit ’n gesig vergeet nie, maak nie saak van veroudering, gewigstoename of -verlies nie – dit lê in die simmetrie, die afmetings tussen die gelaatstrekke . . .”

Albertina January skep asem. Die volgende woorde uit haar mond hoor Erin eers nie. Dis een van die goed wat sy aangeleer het. Haar maag weet vooraf wanneer nuus moeilik verteerbaar gaan wees en dan slaan haar ore eenvoudig toe.

Sy sien die vrou se lippe beweeg, sonder klank. Eers toe die lippe weer stil is, hoor sy die naklank van haar mededeling: “En ek herken haar. Sy is . . . Maryna.”

Ghongs, sirenes, mishorings en treinfluite deur die stowwerige tonnels van haar brein. Rooi ligte wat flikker en verdof.

Vir twintig jaar is daar kleefplastiek om haar hart. Nou stoei verskillende weergawes van die werklikheid om die oorhand te kry, soos kanale op ’n TV. Sy kyk nou deur die verkeerde kant van die verkyker en sien op die einder die twee vroue – roerlose spikkels. Kort en dun. Lank en dik.

Maryna?


KOOP HIER | BUY HERE
Auth unexpected return: Unauthorized

Sy lê op haar bed, rusteloos soos elke nag die afgelope twintig jaar. Êrens moet ’n mens gaan lê en die nag uit die pad kry. Sy is horisontaal, maar sy kon net sowel op haar voete wees. Haar kop is aan die brand. Dit knetter in haar ore. Die huis is stil en sy kan nie meer die mure se asemhaling hoor nie. Het die koekoekhorlosie ophou tik?

Daar is lig agter die vuilpienk gordyne. Dis oggend. Sy het nie geslaap nie, maar sy het uit ’n ou nagmerrie wakker geskrik, pens en pootjies binne-in ’n nuwe een.

Die kombuis is wit en steriel, soos elke oggend. Hier is geen plek vir krummels of emosies nie. Sy buk af en loer na die vol bottel Jameson langs die Sunlight Liquid in die wasbakkas. Dit doen sy die afgelope ses jaar elke dag. Dis soos ’n byltjie in ’n glaskas: in case of emergency, break glass. Sy rook nie eens meer nie.

’n Egalige gesnork kom uit Maryna se kamer. Die vreemdeling is daar geïnstalleer, asof vanselfsprekend. Wel, daar ís nie nog slaapkamers nie. Albertina het haar stewig gedoseer met ’n mengeldrankie tablette.

En nou lê die dag voor.

Erin se vinger skakel die ketel aan.

Twintig jaar gelede was Maryna en die vier ander meisies se gesigte elke dag in die koerant, op die melkbottels. En oral teen die mure van die huis. Sy het op ’n dag al die foto’s weggepak en Maryna onthou soos sy was voordat sy ses was. Die jare daarna, amper drie maal sewe maer koeie, het nie gebeur nie.

In die bot gesig van hierdie vreemdeling het sy niks gesien wat sy herken nie. Geen kriesel bekendheid nie. Maar, as dit sy is, as dit sy sou wees, wat kan ’n mens verwag, ná soveel jare en wie weet watter onmenslikhede?

Al die jare weet sy in haar vesels haar kind is nie dood nie. Sy weet dit in die klein, roerlose ure van die nag. Maar die spesifieke dag van weersiens het sy haar anders voorgestel, wanneer sy ooit (in die eindelose nag) daaraan gedink het: hart en baarmoeder wat saamtrek, vreugde, blinde verligting. En nou? Doodsheid.

Haar grys sokkies stap na Maryna se kamer, waaruit saagsnorkgeluide kom. Haar voet vermy die krakerige plank net voor die deur. Haar hand stoot die deur saggies oop. Die kamer was gisteroggend nog presies soos dit was toe Maryna die laaste oggend skool toe is: die pienk duvet netjies reggetrek, die sagte speelgoed wat veg vir elmboogspasie op die laaikas, die geraamde plakkaat van die Powerpuff Girls. Iets tussen ’n snik en ’n snork stol in Erin se keel. Waar was julle, Powerpuffs? Waar was supermagte en ingryping? ’n Mens leer jou kind dat sy weerbaar is, dat sy mag het, ’n sê het, waardevol is. Dis verkeerd. Sy word op ’n dag gesteel soos ’n toevallige honderdrandnoot wat rondlê, weerloos, soos ’n skaap wat wei.

Nou ruik die kamer na kruie en sweet. En die vreemdeling lê Maryna se enkelbedjie vol, op haar rug, soos ’n uitgespoelde walvis. Soos Alice in Wonderland wat die sampioen geëet en die kamer ontgroei het.

Erin se oë zoem in en registreer elke detail. Dis ’n register van verlies. Dis soos ’n nabyskoot van ’n lyk in TV-reekse. Die figuur op die bed se mond is oop en sy snork gaffelrig. Haar tande is gevlek. Sy makeer ’n oogtand. Haar gesig is grys, haar yl hare natgesweet. Haar pofferhande is in vuiste saamgeklem. As sy Maryna is, is sy ses en twintig. Sy lyk ouer. Kan ’n lewende mens so bleek wees?

En toe sien sy wat sy nooit weer nié kan sien nie: om die mond en die neus – ’n snedige trekkie van Bert se ma, Cilla. Die vrou wat haar jong lewe vergal het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

SOSIALE MEDIA

VOLG ONS